Verkiesingsfokus: Inwoners, sakelui stem met hul voete

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

In dié artikel neem ek die kwessie van die komende munisipale verkiesing en die uitwerking daarvan op munisipaliteite, as belangrike lewensruimtes en ekonomiese terreine, onder die loep. Plaaslike verkiesings is op talle vlakke van veel groter belang as nasionale verkiesings. Dit hou direkte gevolge vir die lewensgehalte en welvaart van mense in hul plaaslike ruimtes in.

Die belangrikheid van plaaslike verkiesings

Munisipaliteite is immers die naaste en bekendste gesig van regering, want dit is waar mense leef, werk en sake doen. Die gehalte van ʼn munisipaliteit se bestuur en dienslewering kan mense se vooruitsigte verbeter of kelder. In dié opsig troef plaaslike omstandighede meestal nasionale beleid.

Dit is ook daarom dat plaaslike verkiesings veronderstel is om die belangrikste verkiesings in ons demokrasie te wees. Helaas is dit egter nie. Ons stelsel van proporsionele verteenwoordiging het in dié opsig ʼn groot tekortkoming: dat die kies van plaaslike verteenwoordigers oorgelaat word aan politieke partye eerder as die mense self. Selfs die wykskandidate wat veronderstel is om die partye se mag te temper, dans meestal na die partye se pype, veral wanneer daar oor belangrike kwessies besluit moet word.

Dié ongelukkige dominering van politieke partye se belange laat toe dat een van die belangrikste teenwigte vir munisipale wanbestuur en vergrype, naamlik die verantwoordbaarheid van amptenare aan hul plaaslike gemeenskap, grootliks omseil word. Korrupsie, veral in ANC-geledere, vier hoogty omdat betrekkings grootliks op grond van patronaatskap verdeel word en nie altyd op grond van wat die inwoners van ’n munisipale gebied verlang nie.

Dit het daartoe gelei dat mense wat nog nooit deel van ʼn munisipaliteit se gemeenskap was, of eintlik enige belangstelling in die gemeenskap se probleme toon nie, aangestel is om hulle te verteenwoordig. Dit het tot afwesige wykverteenwoordigers, swak dienslewering, betogings en dalende vertroue gelei.

ʼn Aanname onderliggend aan dié gebrekkige stelsel is dat amptenare, ver van die betrokke gebiede af, beter beplanning en ontwikkeling as die inwoners van ʼn munisipale gebied self kan doen.

Amptenare in Pretoria, lede van die provinsiale wetgewers of parlementslede in Kaapstad kan die beste bedoelinge hê om wette en beleid te skep om die mense in byvoorbeeld klein Karoodorpies se lewe ten goede te verander, maar as dit nie met die werklikheid op grondvlak strook nie, is dit as’t ware betekenisloos, of erger, selfs ʼn struikelblok.

Die meeste mense volg nie eens wat in die parlement aangaan nie, omdat dit vir hul daaglikse lewe feitlik irrelevant is. Hulle gee egter wel om as daar straatligte of rioolwerk is wat nie werk nie, as daar slaggate in die paaie is waarop hulle ry, of as hul drinkwater vuil en ondrinkbaar is.

Dit is juis hoekom daar so iets soos munisipaliteite is. Munisipaliteite is veronderstel om magte en besluitneming tot so na moontlik aan die gebiede en mense wat daardeur geraak word, af te wentel.

Die grootste verval

Paradoksaal is munisipaliteite ook waar die meeste verval plaasgevind het sedert die koms van demokrasie. Met die uitsondering van die Wes-Kaap, Gauteng en dalk ook KwaZulu-Natal is munisipale bestuur in Suid-Afrika op ’n uiters treurige vlak. Verreweg die meeste munisipaliteite in die Vrystaat, Mpumalanga, die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes is disfunksioneel en steier onder diensleweringsprobleme en finansiële probleme.

Die ouditeur-generaal (OG) se laaste ronde van ouditmenings het getoon dat die finansiële bestuur van munisipaliteite in hierdie provinsies, wat al vir ’n geruime tyd swak is, besig is om selfs verder agteruit te gaan. Die meeste het baie lae Bloudruppeltellings (wat die gehalte van drinkwater aandui), hoë misdaadvlakke (selfs op die platteland), baie armoede, lae inkomstevlakke en hoë werkloosheid (veral onder die jeug).

Te oordeel na mediaberigte en die OG se verslae, is daar ook heelwat korrupsie op plaaslike vlak regdeur die land en dit is slegs die ore van die seekoei, omdat die media oor baie gevalle nie berig nie.

Munisipaliteite en die sakesektor

Hierdie tendense is kommerwekkend omdat goeie munisipale bestuur kardinaal vir werkskepping, sosiale bestendigheid en sakevertroue is. Sakelui wil nie in dorpe woon of besighede bedryf waar daar grootskaalse munisipale verval, burokratiese rompslomp en onbevoegdheid is nie. Dit bemoeilik handel en sakelui sal migreer na waar die plaaslike omstandighede gunstig is vir handelstoestande om te gedy.

Ongelukkig wag baie munisipale bestuurders net op geld van die provinsiale of nasionale regerings af. Dit is uiteraard problematies aangesien die geld wat ontvang word meestal nie van meriete of objektiewe metings soos markprestasie afhang nie. Daarom rus heelwat burgemeesters, munisipale bestuurders en ander mense wat by die bestuur en ontwikkeling van munisipaliteite betrokke is, op hul louere. Inwoners van munisipale gebiede word daardeur ʼn groot onreg aangedoen.

Tog is daar baie te sê vir die moontlikheid om munisipaliteite as opwekkers van welvaart en ontwikkeling te beskou. Wanneer magte werklik na mense en hul verantwoordbare munisipale bestuurders afgewentel word, skep dit ʼn geleentheid vir kompetisie tussen streke, wat sinvolle plaaslike beleid en ontwikkeling kan aanjaag.

Eerder as om bloot te wag vir geld van die provinsiale en nasionale regerings af om uitgawes te dek en projekte aan te pak, kan bemagtigde mense hulle eerder beywer vir doeltreffende munisipale gebiede waar die vrye mark toegelaat kan word om werk en welvaart te skep. Dit benadruk die belang van die plaaslike verkiesings en die regte plaaslike verteenwoordigers vir Jan Alleman.

Daar is byvoorbeeld onontginde toerismepotensiaal in talle arm munisipaliteite in die land. Die private sektor moet gelok word om daardie potensiaal ongehinderd te ontsluit en sodoende werk te verskaf. Kortom, die plaaslike sakesektor moet bemagtig word om munisipale gebiede se ekonomieë te stimuleer eerder as dat die staat meer belasting wil hef en oral wil inmeng.

Die Wes-Kaap is ’n sprekende voorbeeld van wat verrig kan word as daar goeie, skoon en natuurlik minimale regering op munisipale en provinsiale vlak verskaf word. Terwyl buitelandse beleggers Suid-Afrika die rug toekeer weens mark-onvriendelike beleidstellings, swak beleidstellings en korrupsie, floreer Wes-Kaapse munisipale gebiede soos Stad Kaapstad weens die teenoorgestelde redes.

Inwoners en beleggers stem met hul voete. Dit is hoekom daar so ’n groot bevolkingsgroei in Wes-Kaapse munisipaliteite is. Kaapstad lok nie net vername bedryfspesialiste, internasionale beleggers en multinasionale en plaaslike maatskappye nie, maar ook baie gewone mense uit die Oos-Kaap en elders in die land maak Wes-Kaapse munisipale gebiede hul tuiste omdat die munisipale verval en probleme elders in die land so diepgaande is.

Meer geskoolde en ongeskoolde arbeid, asook ’n groeiende aantal entrepreneurs, is natuurlik ’n groot aanwins vir die Wes-Kaap en ander goed bestuurde munisipaliteite. Andersyds is dit ’n afwaartse spiraal vir daardie munisipaliteite waar veral jongmense en sakelui vlug op soek na beter geleenthede asook minder korrupsie en verval.

Slotwoord

Hoe dit ook al sy, verkiesings is deel van ons politieke landskap en ’n werklikheid waarmee ons moet leef. Daar sál ná elkeen pro rata-wenners en -verloorders wees. Terwyl daar nooit volmaaktheid sal wees nie, is dit van die allergrootste belang wié wen en verloor en tot watter mate.

Ondanks die kiesstelsel se gebreke, moet die kiesers ten minste verteenwoordigers verkies wat die vrye mark die beste steun en die plaaslike sakesektor se belange op die hart dra. Hul eie lot hang daarvan af. Hulle moet ook diegene wat korrup is, en werkgeleenthede en welvaart wegdryf deur die sakesektor en inwoners as ’n melkkoei te gebruik, straf met hul stemme.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Koos ·

Mense moet meer opgevoed word oor hoe demokrasie werk. My area is die DA in beheer maar die plek verval en die raadslid hou nooit publieke vergadering om klagtes of versoeke van die inwoners te kry nie en pleks daarvan om te kyk wat die VF se kandidaat alles vir die wyk doen stem almal weer vir die DA in die hoop dat hulle die ANC sal ontstel wat nie gebeur nie en ons sit weer vir vier jaar met ‘n raadslid wat net ‘n tweede inkomste soek en niks vir die area beteken nie en dit is my opinie van ‘n gemors de stem.

Hendrik ·

Nie enige politieke party/kandidaat het met ons gemeenskap onderhandel nie. Daarom gaan ons gemeenskap nie stem nie. Niemand kom kyk na ons belange nie en hoekom moet ons iemand instem wat net die kussings warm hou die volgende 5 jaar en ‘n lekker salaris trek nie. Ek kan nie dink hoekom politieke partye/kandidate nie met gemeenskappe kom onderhandel nie. Ek praat nou nie van ‘n politieke vergadering hou nie maar werklik om die tafel sit en met die verkose gemeenskapsleiers praat nie. Praat politieke partye ooit met GPF/skoolrade/kerkleiers ens van die gemeenskappe? Nee ek dink nie so nie! Hulle kry net ons stem as hulle met ons kom onderhandel. Onderhandel om ons gemeenskap te kom dien en verteenwoordig by die raadsale.

Loeis ·

Munispaliteite se werk is om munispale dienste te verskaf – raadslede hoef nie deel van een of ander politieke party te wees om hul werk goed te kan doen nie. Dit is eintlik jammer dat dinge op hierdie vlak so verpolitiseerd is. Dit is die mense wie gekies word, nie die party nie, wat die sukses van dienslewering bepaal.

Beleidsbesluite is die werk van LPs wie in die parlement aan debatte deel neem (of slaap, in sommige gevalle). Munispale verkiesings het wel ‘n groot invloed om beleid/politiek: takke van partye kies hul verteenwoordigers en hulle is dan die mense wie – hopelik as verteenwoordigers van die mense se behoeftes – die trappe kan klim.

‘n Ander belangrike saak is dat mense in ‘n geografiese gebied of wyk deur hulle stemme aan ‘n party ‘n mandaat gee om daardie party se beleid in hulle gebied te implementeer (in die praktyk werk dinge ongelukkig heel anders).

Intussen sit met ons met swak raadslede van veral die regerende party.

Pieter Groenewald van VF+ som die omvang van die probleem goed op:
http://www.vfplus.org.za/media-releases/og-se-verslag-wys-anc-kan-nie-op-plaaslike-vlak-regeer

Henry ·

Ek woon in een van die sogenaamde spogdorpe van die Wes Kaap waar die DA reeds vir twee termyne aan bewind is.
Ons dorp is vrot van die slaggate, water wat nie deur die betrokkenes betaal word nie, loop in die informele gebiede se teerstrate af wat eweneens deur wit belastingbetalers betaal is, ‘n moskee in ‘n wit woongebied vir hoogstens 100 Muslems is deur die DA dorpsraad goed gekeur, ens ens ens.
Nee wat die DA en hul bokspringende Swart Serpers ka’ ma’ los!!!
My huis en pelle stem nie vir die spul nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.