Verkiesingslesse: EFF-radikalisme verwerp en ’n sege vir konsentrasie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Suid-Afrika se sesde plaaslike verkiesing is agter die rug en daar is inderdaad tekens dat die politieke landskap besig is om sekere veranderinge te toon. Die politiek is weliswaar op die oomblik baie interessant.

Kennelik was die stempersentasie baie laag met net sowat 30% van geregistreerde kiesers wat uiteindelik op 1 November gaan stem het. Daar is heelwat lesse om uit die verkiesing weg te neem, maar ek sal net ’n paar uitlig.

  1. Verwerping van die EFF se radikalisme en die ANC

(Foto: Reint Dykema)

Sedert die EFF op die politieke toneel verskyn het, het hul manewales en ekstremisme die media van heelwat inhoud voorsien. Maar soos enigiets neem die belangstelling en genot in enigiets (in hierdie geval goedkoop sensasie) af indien dit oordoen word en veral as dit destruktief begin raak en die publiek dit afkeur. Daarom het die media en groot dele van die breë publiek nie net belangstelling in die EFF verloor nie, maar toenemend hul weersin in hulle begin toon.

Die EFF het wel beter as in 2016 se plaaslike verkiesing gedoen, maar swakker as in 2019 se algemene verkiesing. Partye moet darem konsekwent groei en presteer – ongeag aan watter soort verkiesing hulle deelneem. Dit blyk asof hulle ’n plafon bereik en hulself polities geïsoleer het. Indien die EFF te naby aan die ANC beweeg, gaan hulle heelwat van hul kiesers vervreem omdat diesulkes ’n anti-ANC-stem wil uitbring maar nie vir die DA of ander partye wil stem nie.

Bowendien het die ANC se lojale kiesers weggebly omdat hulle nie vir ander partye wil stem nie en nie gelukkig is met die ANC se wanregering nie. Hul steun het tussen 2019 en 2021 se verkiesings met ’n allemintige 11% gedaal tot by 46%, ofskoon hulle steeds vorentoe die meeste munisipaliteite sal beheer. Die vraag is egter of die ANC, wat in wese nie nou skielik beter sal regeer nie, weer in die toekoms hul ondersteuners na die stembus sal kan lok. Cyril Ramaphosa het dit in 2019 reggekry, maar selfs hy kon dit nie nou doen nie.

  1. Konsentrasie is belangrik en nie noodwendig groei nie

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Gekonsentreerde steun is belangriker in plaaslike verkiesings as steun wat verspreid is. Die IVP het met sowat 3% tussen 2019 en 2021 gegroei en dus die hoogste groei van alle partye aangeteken. Wat nog meer belangwekkend is, is dat hulle dit in een streek in ’n provinsie kon doen (die noorde van KwaZulu-Natal). Hiermee het hulle daar alleenbeheer oor talle munisipaliteite bekom en dus die politieke landskap van die provinsie drasties gewysig.

Groei is wel belangrik, maar as dit van ’n lae basis af is en boonop verspreid voorkom, is dit nie juis polities voordelig nie. Dit gee jou dalk meer verteenwoordiging, maar help dit regtig jou kiesers as jy steeds net ’n breukdeel van die 100% van ’n raad uitmaak? Daar sal nou koalisies volg, maar jy kan hoogstens ’n noodsaaklike maar steeds net junior vennoot vir ’n groter party wees. In plekke waar die ANC se oorheersing steeds sterk is en waar die EFF ook goed doen, is dit veral problematies en ontmagtigend.

  1. Die DA, VF+, ActionSA en die IVP kan tevrede voel

(Foto: Reint Dykema)

Die DA se woelinge oor die laaste twee jaar is nou al oorbekend. Ná ’n daling in hul steun in 2019 vergeleke met vorige verkiesings is daar ondersoeke gedoen waarna sekere swart leiers en ander die party verlaat het. Afrikaanse kiesers was nog steeds kwaad oor sekere gebeure en flaters onder Mmusi Maimane se leierskap en dit het in die tussenverkiesings se uitslae gewys. Alle peilings het gewys dat die DA tot onder 20% in vanjaar se verkiesing sou daal en tog het hulle op hul 2019-vertoning verbeter deur met meer as een persentasiepunt te groei. Hulle het in hierdie verkiesing bykans die helfte van die ANC se steun ingepalm – wat nogal histories is sedert 1994.

Dieselfde geld vir die IVP wat in hul hartland skoonskip gemaak en hul algehele steun aansienlik opgestoot het. Hoewel die VF+ sowat dieselfde steun as in 2019 ingepalm het, het hulle stewige groei sedert 2016 se plaaslike verkiesing getoon. Hulle het nou ’n nuwe basis om verder te groei. Die nuweling, ActionSA, het in hul eerste verkiesing amper soveel steun in ses munisipaliteite ingepalm soos wat die VF+ landwyd op hom verenig het. Weereens kan hulle hierdie steun gebruik om die deurslaggewende vennoot in koalisies in belangrike metro’s te wees.

  1. Die OVK was nie reg hiervoor nie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

As ’n burgerlike waghond het AfriForum se lede en personeel as waarnemers in verskeie streke opgetree. Terwyl ons wel voel dat die verkiesing meestal vlot verloop het, was daar mildelike rede tot kommer. Baie mense wat vanjaar geregistreer het (veral tydens September se registrasienaweek) se name was op stemdag nie op die kieserslyste nie. Party kiesers was skielik op ander plekke as waar hulle al jare stem, geregistreer. In beide gevalle kon ’n groot klomp mense nie stem nie.

Die stelsels was ook dikwels en op verskeie plekke buite werking en dit het die stemmery vertraag. By sekere lokale het die stembriewe vroeg al opgeraak – ondanks die feit dat die OVK oor die kieserslyste beskik om te sien hoeveel mense iewers geregistreer is. Covid-19 het uiteraard sekere uitdagings geskep, maar dis ook nie die OVK se eerste verkiesing nie en hierdie foute kon sekerlik al uitgestryk gewees het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

EFF het dan die meeste gegroei van al die partye sedert die 2016 verkiesing. Wel effe swakker gedoen as in 2019 (baie partye het swakker gedoen).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.