Verkiesingsuitslae as barometer in ’n snelveranderende wêreld

turkye-staatsgreep1

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Behalwe vir Suid-Afrikaners wat volgende maand na die stembus gaan, is die 2019-kalender volgepak met interessante verkiesings. Drie verkiesings het onlangs plaasgevind en in al drie gevalle het dit belangrike gevolge vir streeks- en selfs internasionale politiek. Die belangrikste van die drie was die plaaslike verkiesing in Turkye. Sedert ’n nuwe presidensiële stelsel verlede jaar in Turkye in werking getree het, bestaan daar vrae oor die gesondheid van die Turkse demokrasie.

Recep Tayyip Erdoğan regeer sedert 2003 in Turkye. Weens ’n sterk ekonomie kon Erdoğan oor die afgelope vyftien jaar voortdurend nuwe politieke mandate by kiesers kry en al hoe meer mag vir homself toeëien. In 2017 was Turkye nog die vinniggroeiendste ekonomie onder die G-20 lande. Deesdae het die land enorme ekonomiese probleme.

Hoewel Erdoğan se Regs- en Ontwikkelingsparty steeds die gewildste party in Turkye is, het hulle in die naweek se verkiesing die burgemeestersposisie in talle belangrikste stede soos Ankara, Istanbul en Antalya verloor.

Erdoğan en sy party het oor die afgelope paar jaar ’n harder Islamitiese hoek begin volg en het stelselmatig hul fokus weg van die Weste verskuif. Dit alles terwyl Turkye ’n groot vlaag van sekularisering beleef en die meeste jongmense in Turkye pro-Westerse gesind is. Erdoğan sal eers weer in 2023 op die stembrief verskyn en sy party het ’n baie groot meerderheid in die Turkse parlement, maar die naweek se verkiesing het getoon dat genoeg Turke bereid is om ’n waarskuwing aan Erdoğan te rig.

Nie ver van Turkye af nie, eintlik net anderkant die Swartsee, het kiesers in die Oekraïne selfs nóg ’n harder boodskap vir politieke leiers gehad. Die komediant, Volodymyr Zelensky, het die eerste ronde van die land se presidentsverkiesing gemaklik met byna ’n derde van die stemme gewen. Die sittende president, Petro Poroshenko, het skaars tweede geëindig met minder as 18% van die stemme.

Die Oekraïne is die tweede armste land in Europa en strompel reeds vir jare voort van die een krisis na die ander. Korrupsie, die probleme met geweld in die ooste van die land en die voortdurende getoutrekkery tussen die Weste en Rusland het kiesers in dié land so kwaad gemaak dat hulle vir ’n komediant met geen politieke ervaring gestem het nie.

In Slowakye het ’n liberale politikus, Zuzana Čaputová, die presidentsverkiesing in haar konserwatiewe land gewen. Hier het die kiesers ’n waarskuwing aan konserwatiewe politici gerig dat korrupsie nie geduld sal word nie.

Verlede maand se provinsiale verkiesing in Nederland het ’n harde waarskuwing aan die huidige regeringskoalisie gestuur dat die huidige vlakke van immigrasie en die omvang van die politieke burokrasie nie meer geduld sal word nie. ’n Nuwe regse party het van nêrens gekom en eerste geëindig.

Terwyl ’n mens nie te veel in enkele verkiesingsuitslae moet lees nie, is dit tog in Europa en ook elders, soos Turkye, duidelik dat kiesers toenemend bereid is om uit protes te stem in ’n wêreld waar al hoe meer mense voel politici luister nie na hulle nie. Die Europese verkiesing volgende maand gaan waarskynlik ’n voortsetting hiervan wees.

Die protesstem in Suid-Afrika se nasionale verkiesing gaan moontlik ook hoër as in die verlede wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jerry ·

Die rekordgetal partye wat geregistreer het vir SA se verkiesing dui daarop dat protes teen die ANC aanklank vind by waarskynlik opportuniste, hoofsaaklik vanuit revolusionere geledere wat te ver agter in die ry staan en nie sommer n deel van die ekonomiese koek sal kry nie. Uit die teenrevolusionere geledere sal dit egter absoluut onsinnig wees om addisionele opposisie partye te stig, selfs deur opportuniste. Die teenrevolusioneres sal nie ook uit protes teen hulle partye draai nie, hulle gaan ten spyte van die afwesigheid aan noemenswaardige resultate, weer vir dieselfde partye stem, omrede hulle weet dat dit nou maak of breek tyd is vir al die redes hoekom hulle in die eerste plek vir n spesifieke party gestem het. Dit beteken dat die ANC, revolusionere steun gaan afstaan aan nuwe revolusionere partye en nie noodwendig aan teenrevolusionere partye soos die DA, Cope en ACDP (behalwe vir Vytjie Mentor) nie! Nuwe Afrikanerpartye sal n besliste negatiewe invloed he op die VF se strewe na meer kiesers, alhoewel bruin kiesers darem daarvoor behoort op te maak. Ek hoop ek is verkeerd, maar ek het so n spesmaas dat die VF dalk in die moeilikheid kan wees mbt wit kiesergetalle. My “gut feeling” se vir my “iets” is besig om skeef te loop.

Veritas ·

Jerry, jy is reg met jou spesmaas dat dinge nie lekker gaan vir die VF+ nie. Afrikaners besef nou dat ‘n Afrikanerparty, dit is tog wat die VF+ is, nie lewensvatbaar is nie. Daar kleef ‘n stigma van blanke baasskap aan die party en niks gaan dit verander nie.
Die party wat, na my beskeie mening, die meeste gaan baat by die onderverdeeldheid in beide die regerende en hoofopposisie partye, is COPE. Mosioua Lekota is weer in beheer van sake en dit is die enigste party wat openlik moedertaal onderrig en gelyke werksgeleenthede voorstaan. Daarby is COPE ook teen die ‘Onteiening Sonder Vergoeding’ plan van die ANC, EFF en BLF.

Dries du Toit ·

Ai tog gaan die Afrikaner nou weer n swart politieke party sterker maak soos wat hulle die DA gebou het tot dat hulle besef het dat dit n vreeslike mors van tyd was. Kom ons bou eers aan n party wat ons verseker weet ons christelike beginsels en belange ondersteun. Laat ons getel word en daarna kan ons uit n posisie van sterkte met partye soos Cope saamwerk oor gedeelde beginsels

Veritas ·

Nou maar Dries. Om watter rede sou ek vir die Mulderparty syem? Net omdat ek ‘n Afrikaner is? Jammer ou maat maar vir dié ouens stem ek nie eers as hulle die enigste party is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.