Verkiesingsveldtog in Brasilië neem ’n dramatiese wending

brasilie

Roi de Janeiro in Brasilië. Foto: Agustín Diaz/Unsplash.com

Op 7 Oktober kies die tamaai groot Brasilië ’n nuwe president, kongres, goewerneurs en munisipale verteenwoordigers. Indien geen kandidaat die volstrekte meerderheid kry nie, sal daar op 28 Oktober die uitklopronde wees. Dit kan ’n nuwe era inlui na meer as ’n dekade onder die sosialistiese Arbeidersparty en 2 jaar van ’n ongewilde oorgangsregering. Die Brasiliaanse politiek loop egter nie lynreg en voorspelbaar nie, maar met talle onverwagse draaie.

Tans regeer ’n soort sentristiese oorgangsregering uit verskillende partye, met mnr. Michel Temer van die Brasiliaanse Demokratiese Beweging as president. Mnr. Temer is self nie weer verkiesbaar nie en is in elk geval beter met agterkamerooreenkomste as met ’n verkiesingsveldtog.

Mnr. Temer het daarin geslaag (seker ook maar uit opportunistiese oorwegings) om die lang en toenemende korrupte bewind van die Arbeidersparty, wat van 2002 tot 2016 geduur het, te beëindig. Hy en sy party was in ’n koalisie met die Arbeidersparty, maar het oorgegaan tot die opposisie en die president, mev. Dilma Rousseff, in ’n staat van beskuldiging geplaas en haar ná ’n taai en uitgerekte proses in 2016 ontsetel. Ook mnr. Temer word van korrupsie beskuldig, maar kon deur sy parlementêre meerderheid sover teen vervolging beskerm word. Hy was egter nooit gewild in die bevolking nie en sy party se kandidaat, mnr. Henrique Meirelles, het feitlik geen kans om deur te dring na die uitklopronde toe nie.

Die gewildste politikus bly mnr. Luis Ignacio (Lula) da Silva, president van 2003 tot 2011 en mev. Rousseff se charismatiese voorganger. Hy is weens korrupsie veroordeel (hy het groot somme geld ontvang vir hom en sy party, onder andere, van die konstruksiemaatskappy Odebrecht en die staatlike oliemaatskappy Petrobras) en sit nou in die tronk.

Hy bly, ondanks sy veroordeling, baie gewild by groot dele van die land se bevolking, veral die armes wat dankbaar is vir sy welsynsbeleid wat talle van hulle uit absolute armoede opgehef het, al was dit onvolhoubaar en het tot Brasilië se ekonomiese krisis bygedra. Die hof het egter einde Augustus beslis dat mnr. Silva weens sy veroordeling nie as kandidaat kan staan nie. Of hy sy persoonlike gewildheid op sy party en die se kandidaat Fernando Haddad kan oordra, bly ’n ope vraag.

Dit maak van mnr. Jair Bolsonaro van die Sosiaal-Liberale Party die voorloper in die peilings. Mnr. Bolsonaro is ’n evangeliese Christen met ’n uitgesproke opinie en ’n voormalige militêr wat veral Brasilië se misdaad-epidemie wil uitroei, die ekonomie op Trump-manier aan die gang wil skop en wet en orde wil terugbring. Hy is wel al vir geruime tyd ’n kongreslid, maar word gesien as iemand wat ’n einde bring aan die geykte politieke bestel waarvoor die burgery toenemend moeg raak. Dit help ook dat daar nog nooit ʼn korrupsiesaak teen hom was nie. Sy steun is veral onder jongmense.

Dinge het onlangs dramaties verander toe mnr. Bolsonaro tydens ’n openbare optrede deur ’n klaarblyklik linksgesinde aanvaller met ’n mes gesteek en ernstig beseer is. Dit lyk asof hy die aanslag gaan oorleef, maar of hy weer tot die veldtog kan terugkeer, is twyfelagtig. Hy kan wel nou onverwagse simpatiestemme kry en die kanse is nou nóg beter dat hy sal deurdring tot die uitklopronde, waar hy teen een van verskeie linksgesinde kandidate sal staan van wie daar tans nog geen duidelike voorloper is nie.

Die sluipmoordpoging was, interessant genoeg, op dieselfde dag (52 jaar gelede) toe dr. HF Verwoerd in die Suid-Afrikaanse parlement ook deur ’n sluipmoordenaar met ’n mes doodgesteek is.

Mnr. Bolsonaro verteenwoordig die Brasiliaanse weergawe van regse populisme, wat orals in die Weste aan die groei is, terwyl sentrumregse en sentrumlinkse partye ongewild raak. Die tradisionele teenstander van die Arbeidersparty was altyd die sentrumregse Sosiaal-demokratiese Party (die naam is hier verwarrend), wat veral deur die stedelike middelklas ondersteun is en wat onder normale omstandighede ʼn goeie kans op ’n oorwinning sou hê. Vir hul kandidaat, Geraldo Alckmin, word egter hoogstens 10% steun voorspel en die kanse lyk tans klein dat hy sal deurdring na die uitklopronde toe. Moontlike teenkandidate van mnr. Bolsonaro in die eindronde sal mnr. Haddad van die Arbeidersparty, mev. Marina Silva van die Volhoubaarheidsnetwerk, ’n soort Groenparty of Giro Gomez van die linkse Demokratiese Arbeidersparty wees. Dit sal dus na alle verwagting ’n tweestryd tussen duidelik regs en duidelik links wees.

Nadat politici en partye vir dekades oorpragmaties en onideologies geraak het, is daar deesdae orals in die wêreld weer ’n nuwe smaak vir leiers met ’n duidelike rigting.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Liberaal ·

Die globale elite hou nie daarvan dat die meerderheid vir hulleself begin dink nie. Die globale elite gebruik liberale massamedia om te vertel wat om te dink, kyk maar na die brasiliaanse massamedia en CNN in amerika, en die flieks van vandag. Brasilie se massas word baie maklik voor vertel wat om te dink deur sokker, net soos die Afrikaners deur rugby beheer was tot oorgawe. Ons supperryk heersers is slim.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.