Verlore of gesteelde vuurwapens: Jou 5 stap-aksieplan

hein-gonzales-2018-04

Hein Gonzales. Foto: Anne Grace Photography/Verskaf.

Deur Heinrich Gonzales

Jy kom een aand tuis ná ’n lang dag se werk, net om te besef dat jou vuurwapen nie meer in sy holster is nie. Jy hardloop dadelik motor toe om uit te vind of dit nie dalk uit die holster geglip het nie, maar die vuurwapen is nêrens te vinde nie. Dit is belangrik om dadelik ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000 (wet no. 60 van 2000 – hierna “die Wet”) en die toepaslike regulasies daarin op te tree.

  • Lees die volledige wet op die SAPD se webwerf.
  • Lees die regulasies op die SAPD se webwerf.

Artikel 120(11) van die Wet plaas ’n onus op die houer van ’n vuurwapenlisensie of ‑permit, of wat goedkeuring het om ’n vuurwapen te besit, en enige ander persoon wat in beheer van ’n vuurwapen was, toe dit verlore geraak, gesteel of vernietig is, om dié verlies, diefstal of vernietiging binne 24 uur nadat jy van die verlies, diefstal of vernietiging bewus geword het, by die naaste polisiekantoor aan te meld.

Sou jy versuim om aan artikel 120(11) te voldoen, kan dit tot strafregtelike vervolging lei, met die moontlikheid van gevangenisskap van tot 10 jaar ingevolge Skedule 4 van die Wet.

Ingevolge artikel 35 van die Suid-Afrikaanse Grondwet het jy die reg tot ’n prokureur van jou keuse om jou met dié proses te help. Jy het ook die reg tot swye, en enigiets wat jy sê kan en sal teen jou in ’n geregshof gebruik word. Jy geniet ook die reg teen selfinkriminasie, en jy is onder geen verpligting om ’n beëdigde verklaring af te lê waarin jy jouself kan inkrimineer nie. As alles van- hierdie wetgewing en verpligtinge in ag geneem word, is dit belangrik om die regte prokureur te kry om jou deur die proses te lei.

  • Lees die Grondwet op die departement van justisie se webwerf.

Jou 5 stap-aksieplan

1)         Jy moet jou strafregprokureur wat in vuurwapenverwante sake spesialiseer, onmiddellik kontak. Dit is uiters belangrik. Hou altyd in gedagte dat jy slegs 24 uur het om die verlore of gesteelde vuurwapen aan te meld.

2)         Verduidelik kortliks aan jou prokureur die feite rakende die geval. Dit kan telefonies gedoen word. Wees eerlik met jou prokureur – hy is jou beste vriend. Jou prokureur sal so gou moontlik ’n afspraak met jou maak, onderworpe aan die 24 uur-tydperk. As die 24 uur bykans verstreke is, moet jou prokureur onmiddellik optree en jou met die nodige ondersteun, selfs ná kantoortyd.

3)         Jou prokureur sal ’n volledige konsultasie met jou oor die aangeleentheid hê en ’n konsep A1-polisieverklaring namens jou en in oorleg met jou instruksies opstel. Dié beëdigde verklaring sal slegs die nodige bewerings bevat om die vuurwapen as gesteel aan te meld. Onthou: Jy hoef nie die polisie in hul ondersoek by te staan nie, en jy het die reg om stil te bly.

4)         Ná stap 3 moet jy en jou prokureur na die naaste polisiestasie gaan en die vuurwapen as gesteel aanmeld. Onthou weer: Dit moet binne 24 uur gebeur ná jy agtergekom het dat die vuurwapen gesteel of verlore is.

5)         Die polisiebeampte sal ’n dossier aanlê en jou A1-verklaring, wat deur jou prokureur opgestel is, daarin liasseer. As die polisiebeampte begin om vrae oor die feite en agtergrond van die gebeurtenis te vra, sal jou prokureur die beampte inlig dat jy reeds ’n beëdigde verklaring ingedien het en niks het om by te voeg nie. Polisiebeamptes vis soms na meer feite om jou te inkrimineer.

Gevolgtrekking:

Ná die vuurwapen as gesteel aangemeld is, sal die SAPD heel moontlik ’n strafregtelike klag teen jou aanhangig maak en dadelik begin om die saak te ondersoek en jou heel moontlik aankla ingevolge artikel 120(8) van die Wet:

Artikel 120(8) stipuleer die volgende:

“(8) ‘n Persoon is skuldig aan ‘n misdryf indien hy of sy-

 (b)     ‘n vuurwapen verloor, of andersins besit verloor van ‘n vuurwapen, weens daardie persoon se versuim om – 

  •  die vuurwapen weg te sluit in die voorgeskrewe kluis, brandkamer of toestel vir die veilige bewaring van ‘n vuurwapen;
  • redelike stappe te doen om die verlies of diefstal van die vuurwapen te voorkom terwyl die vuurwapen aan sy of haar persoon was of onder sy of haar regstreekse beheer; of
  • die sleutels van sodanige kluis, brandkamer of toestel in veilige bewaring te hou.”

 Nadat die polisie die dossier aangelê het, word ’n ondersoekbeampte aangewys om die saak te ondersoek, waarna die dossier na die beheerstaatsaanklaer geneem word om oor die saak te besluit. Jou prokureur sal skriftelike vertoë oor die meriete van die saak opstel, wat toepaslike wetgewing en regspraak insluit om die vervolgingsgesag te oortuig om nie met vervolging voort te gaan nie. Indien die vervolgingsgesag besluit dat daar wel ’n prima facie-saak teen jou bestaan, sal hulle jou aankla en vervolg vir die nalatige verlies van ’n vuurwapen. As die vervolgingsgesag van mening is dat daar redelike twyfel bestaan dat jy suksesvol vervolg gaan word, sal die klagte teruggetrek word.

Dit is uiters belangrik dat jy jou prokureur skakel sodra jy agterkom dat jou vuurwapen gesteel of verlore is. Moenie self na die polisiestasie toe gaan en die wapen as gesteel of verlore aangee nie, en moenie jou eie beëdigde verklaring daaroor aflê nie. Dit is hoogs waarskynlik dat jy in jou self opgestelde beëdigde verklaring iets kan noem wat later in ’n strafregtelike saak teen jou gebruik kan word. Maak seker jy altyd jou strafregprokureur se telefoonnommer op jou selfoon gestoor het in geval van ’n krisis ná ure.

Ingevolge artikel 4 van die Wet kan daar ’n direkte gevangenisstraf van tot en met 5 jaar teen jou opgelê word as jy op grond van ’n oortreding ingevolge artikel 120(8) van die Wet skuldig bevind word. Daar is baie op die spel en die risiko’s is ernstig. Kry die regte advies van die spesialiste op die gebied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AW ·

Do I understand correctly….. With the assistance of my attorney…… We Manipulate the truth….in order not to be prosecuted for my gross negligence in loosing my fire arm and or my negligence that caused my firearm to be stolen..

Unless I understand this artical wrong???

Wayne ·

AW . Manipulating the truth still remains the truth, not so ? It is just to try and keep the authorities from prosecuting you unnecessarily. For instance : Negligence cannot be admitted, but proven . You say that everyone ” loosing ” ( sic ) a firearm is negligent or grossly negligent ? Might not be the case good sir . That is why you need an attorney.

Brett ·

Is vuurwapens nie eiendom vir doeleindes van aerikel 25 van die Grondwet nie?

AW ·

Allow me to refrase….
we only write in the statement what we want the police to know… and thereby deliberately refrain from stating the “Truth” in respect of my “contrabution” as far as the Negligence loss of my firearm are concerned…. or the theft of my firearm as a result of my negligence….

The police to my understanding investigate and submit the Docket to the DPP for decision-making as far as prosecution….

However i have no idea as to how the Criminal Justice system works and are open to correction…

Wayne ·

AW kom ek verduidelik vir jou in Afrikaans . Dit wat jy in jou verklaring sit , sal teen jou gebruik word . Daar is Ad Infinitum voorbeelde van wapens wat verloor word , maar nie noodwendig nalatige verlies was nie . Daarom het jy swygreg . Daarom dat mense regsgrade het . Gebruik daardie regte . Of gaan onnodig tronk toe .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.