Vernietig die skyn van die kwaad, mnr. die President

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die onverkwiklike saga rondom die CR17-presidensiële veldtog se befondsing is steeds in volle swang. Vir gewone Suid-Afrikaners is dit duidelik dat die Openbare Beskermer (OB) haar mes in het vir pres. Cyril Ramaphosa en van sy ondersteuners, veral Pravin Gordhan en Derek Hanekom. En die gelekte inligting oor die donateurs en ontvangers van sommige van hierdie fondse laat ’n hele klompie vrae ontstaan.

Die president se kantoor (en die ANC) hou voet by stuk dat daar niks verkeerd was met die veldtog en sy befondsing nie, dat die ontvangstes en uitgawes behoorlik geoudit is en dat geen wet, parlementêre regulasie of kode oortree is nie. En tegnies is hulle reg, en ’n hele aantal kommentators en regskenners het dit reeds bevestig. Daarby is dit duidelik dat die OB se ondersoekmandaat net geld vir openbare fondse en dat sy dus geen reg gehad het om die CR17-veldtog se fondswerwing te ondersoek nie – ten spyte van haar argument dat sy in die geval van “geldwassery” wel ondersoekmag het. Dis ook so helder soos daglig dat die OB, om die minste te sê, uiters selektief in haar ondersoeke is, en dat dit amper uitsluitlik op die Ramaphosa-kant van die ANC fokus en die Zuptas in vrede laat (woordspeling met opset).

’n Mens kan daarby voeg dat die OB volhou dat die inligting oor die donateurs en begunstigdes wat sy by die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica) verkry het, regmatig was en dat sy dit nie aan die media gelek het nie. Maar die vraag wat knaag, is hoedat Fica afskrifte van e-poskorrespondensie in sy besit sal kry.

Dit lyk of Fica ten minste nie die enigste bron is nie, wat die OB se vorige verbintenis met die Staatsveiligheidsagentskap na vore bring.

’n Ander interessante vraag is wat sou gebeur as ’n hof bevind dat sy geen bevoegdheid gehad het om die CR17 te ondersoek nie (omdat dit nie oor openbare fondse gegaan het nie) en die hof haar verslag daarom ongeldig bevind? Dan is daardie inligting reeds in die openbare domein – en dus onregmatig bekom. Dit is waarskynlik om hierdie rede dat die hooggeregshof die Ramaphosa-aansoek toegestaan het om die inligting te verseël totdat die saak oor die wettigheid van die bekom van die inligting voor die hof kom.

Maar ongelukkig is dit nie hier waar die saak se belangrikheid eindig nie. Die ervare en eerlike SAKP-leier Jeremy Cronin (en ’n Ramaphosa-ondersteuner) skryf onlangs dat dit ’n “saak van ernstige kommer is” dat DA-leier Musi Maimane se leierskapsveldtog R100 miljoen ingesamel het en dat dit “hoogs problematies” is dat die CR17-veldtog amper ’n halfmiljard rand ingesamel het. Volgens hom is hierdie “besigheidsgeld” in partypolitieke veldtogte egter iets heel anders as om die staat van miljarde rande te stroop.

Die erkende politieke kommentator en skrywer Ralph Mathekga skryf in dieselfde week dat “ons onlangs verbyster is” deur die hoeveelheid geld wat vir CR17 ingesamel is en wonder wat daarmee betaal is en wat die verwagte opbrengs vir donateurs was.

Die punt wat hierdie kommentators en baie Suid-Afrikaners maak, is dat as mens die president van ’n land is wat daardie land uit die moeras van staatskaping en korrupsie moet lei – en waar die verwagting is dat jy amper eiehandig die probleme moet oplos – dan weeg ander faktore swaarder as regstegniese argumente. Dan gaan dit oor eerlikheid en openheid en integriteit. Dan skiet die (geldige) argument dat geen wet of regulasie oortree is nie, tekort.

’n Mens kan verder gaan en sê dat as jy ’n ANC-ondersteuner is en jy het ’n president wat sy hele veldtog daarop gebou het om anders te wees as die staatskapers en korruptes, dan verwag jy meer as regstegniese argumente. Dan weeg wat jy as presidentskandidaat vooraf gesê het, swaarder.

Die meeste donateurs sou vir twee redes geld aan CR17 geskenk het: hulle het Cyril Ramaphosa vertrou om ’n goeie president te wees en hulle het besef dat dit in Suid-Afrika se belang is dat die Zuptas se greep van staatskaping verbreek moet word. Die meeste van hulle het waarskynlik gevoel (en voel steeds) dat hulle waarde vir hul donasie gekry het. Hulle vind dit waarskynlik jammer dat die vertroulikheid van die donasies verbreek is, maar daaroor het hulle nie slapelose nagte nie.

Wat die uitgawes betref, soos in die gelekte inligting na vore kom, is dit duidelik dat ’n hele rits indiwidue en organisasies geld ontvang het. Van die indiwidue is gewoon voltyds in diens geneem as veldtogbestuurders. ’n Mens het ook die talle advertensies oor die CR17-veldtog op TV en in die koerante gesien. Die oorspronklike Sunday Times-artikel beweer dat sekere donasies eers ná die Nasrec-konferensie gemaak is en dat nie al die fondse bestee is nie. Die res is reeds in ’n reeks rekenings belê, waarskynlik vir gebruik in toekomstige veldtogte.

Die spesifieke doel van elke uitgawe is egter nie duidelik nie, en dit is een van die bekommernisse onder gewone Suid-Afrikaners. Die vraag is: het CR17 ook gedoen wat die Zupta-kant by Mangaung en Nasrec gedoen het, naamlik om met bruin koeverte in kattebakke die afgevaardigdes se stemme te koop? Dit mag onwaarskynlik klink, maar gewone Suid-Afrikaners se hoop op Cyril Ramaphosa maak dit noodsaaklik om enige twyfel hieroor en ander sake uit die weg te ruim.

President Ramaphosa is dit daarom aan sy donateurs en interne ANC-ondersteuners, maar belangriker nog, alle goed bedoelende Suid-Afrikaners verskuldig om méér te doen as om vol te hou dat hy niks onwettigs gedoen het nie. Dit weet ons. Maar onder hierdie omstandighede moet hy méér deursigtig, méér eerlik en méér openlik wees as wat die reg en die reëls verwag.

Hy moet die ouditverslag van CR17 bekendmaak, maar hy moet ook ander besonderhede bekendmaak, veral waarvoor die grootste deel van die uitgawes gebruik is. Sulke deursigtigheid sal geen skade vir donateurs meebring nie – hul name is reeds in die openbare domein. Dit sal ook geen skade vir legitieme ontvangers wat hard aan die veldtog gewerk het, meebring nie. Hul name is meestal ook bekend en hulle kan goed voel dat hul harde werk suksesvol was.

Om só die skyn van die kwaad uit die weg te ruim, sal onnoembare voordele vir die land en president Ramaphosa hê. Goed bedoelende Suid-Afrikaners (ook buite die ANC) sal weer en groter hoop kry dat ’n nuwe daeraad inderwaarheid voorlê. Dit sal hulle motiveer om meer te doen om die land te laat werk en slaag – ten spyte van die negatiewes en die pogings van die Zuptas om dit te ondermyn.

President Ramaphosa het Donderdag in die parlement ’n vooruitbeplande vraetydsessie. Kom ons hoop hy gebruik dit om die skyn van die kwaad te vernietig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piper ·

hoe pas sars in die prentjie. is daar nie skenkingsbelasting, inkomstebelasing, btw. ens. ens betaalbaar nie?

Jerry ·

Ek stem saam dat dit goeie advies aan CR is om die skyn van die kwaad te vernietig en daarmee saam om die politieke wil ten toon te stel om n president vir alle Suid Afrikaners en groepe te wees. Tot dusver faal hy as n president vir alle Suid Afrikaners omrede hy tans net op sy blaker sit en toelaat dat SA in n duidelike en onaanvaarbare rigting beweeg ten einde die ANC te verenig en verdien hy as president om van alle kante af “genail” te word tot tyd en wyl hy ware staatsmanskap begin wys! Sy vertragingstaktiek met kommissies, ondersoeke, vervolgings, regstellings en die versuim vir die opbou van die ekonomie is om die minste te se, onrusbarende en misleidende vertoon wat n al hoe gunstiger klimaat skep vir nasionalisering gepaardgaande met totale de-kolonisering! In sy poging om die ANC te verenig, bestaan die politieke wil om ter goeder trou op te tree vir alle Suid Afrikaners, virseker nie!

Arak ·

Geagte meneer die skrywer, Cyril was nie ‘n slagoffer nie, hy is die bron van die korrupsie. Hy het die CR17 beursie bestuur om maatjie om te koop. Volgens jou was dit “nie onwettig nie”, regtig? In watter wêreld was dit nie onwettig nie. Bring vir my asseblief die regskenner wat sê dit was wettig, want daardie regskenner is ‘n leuenaar. Hou op om Cyril vir ons voor te hou as een of ander slagoffer van die OB. Ek vir een is baie dankbaar dat sy die gemors oop krap. Dalk tyd dat die SAID begin kyk of alle belastings op die geld betaal is, of is hulle te besig om ons gewone mense te ondersoek? Hoe kan jy vir ons vertel Cyril is nie uitverkoop aan die buiteland as die fondse van die CR17 se oorsprong uit die buiteland is nie. Hy word besit deur die buiteland en is nie waardig om die land se president te wees nie. Soos die engelsman sê: “Follow the money”.

Dirk Breytenbach ·

Stem gootliks saam met die artikel maar hoe rasionaliseer mens die ongekende manier van stemme werf- met koeverte vol geld? So kan ek myself mos met ‘n miljard of twee vir enigiets verkiesbaar stel en gewaarborg wees om suksesvol te wees of ek nou verdienstelik of ‘n uitvaagsel is. Ek is seker te konserwatief in my denke om verby leierskap, integriteit, verdienste en kennis te kan kyk wanneer dit by die kies van leiers kom. Verder keur politieke kommentators oor die hele spektrum die betalery stilswyend goed want sover het niemand juis ‘n bohaai daaroor gemaak nie. Help my asb. om te verstaan mens is nooit te oud om te leer nie!

Dries du Toit ·

Arak dit is presies so wat jy daar se. Dit moet ook nie uit die oog verloor word dat Theuns Eloff n geharde Dakar ganger was en goeie bande met Ramaphosa gesmee het en altyd nog die goeie in Ramaphosa se strategie wil sien. Dom astrant is seker nie die woord nie

Nouja ·

Koeverte storie en onse presid kom al van die kween af hy was net in toe gaan kuier hy daar en sy oorhandig koevert aan hom. ? :-$

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.