Vernuwing en verandering verg juis tradisie

tradisieDaar is ’n cliché in omloop, nou reeds vir jare. Dit lui dat die beroep op (of aansluiting by) die tradisie ons verhinder om nuut te dink.

Die vooronderstelling waarop die cliché rus, is dat “tradisie” en die “nuwe” mekaar uitsluit. In die mate waarin ons by die tradisie aansluiting soek, sluit ons onsself vir die nuwe toe. As ons dus onsself vir die nuwe wil oopstel, word gesê, moet ons met die tradisie wegdoen.

Ten minste drie argumente kan help om bogenoemde te ontmasker vir wat dit is, naamlik ’n blote cliché.

Die eerste argument hou verband met die klimaat waarin bogenoemde cliché floreer. Dit is ook die klimaat waaruit gepoog word om met die tradisie weg te doen.

Hoewel diegene wat genoemde cliché lustig inspan en so voorgee om voorspraak vir die nuwe te maak, word ironies genoeg deur ’n dodelike verveligheid onderlê. Hoekom?

Ons tyd is ’n tyd waarin alles vloeibaar word. Alle grense moet deurbreek en verskuif word, elke vastigheid moet padgee. Almal word daarom ook deur openbare woordvoerders, bemarkers, praatjiemakers, nonsenspraters en wat nog opgeroep om “’n verskil” te maak. Met laasgenoemde word meestal bedoel dat ons met die ou grense moet breek, sodat plek vir die nuwe gemaak kan word. (En die verbruiker nogmaals dieper in sy sak moet gryp).

Geen wonder dat die sosioloog, Zygmunt Bauman, die afgelope jare ’n reeks boeke gepubliseer het waarin die woord “vloeibaarheid” gebruik word as sleutel om ons tyd te verstaan nie. Alles is vloeibaar, ook ons eertydse verbintenisse, ons oeroue lojaliteite, ons tradisies uit vergange tye. Hulle moet plek maak vir die nuwe.

’n Reuse-ironie onderlê egter die kultuur van vloeibaarheid, en ook diegene wat hulself geroepe voel om dit met ’n magdom clichés in beskerming te neem.

Hoe sterker alles aan verandering onderwerp word, hoe nader beweeg ons aan ’n nulpunt van beweeglikheid. Vanweë die ooraanbod van die nuwe, dreig alles met ander woorde om in stasis vas te val. Dit rus op ’n oeroue insig: As alles verander, neig hulle na ’n punt van volledige identifikasie: hulle word ‘dieselfde’.

Geen wonder dat ons tyd, te midde (of juis as gevolg) van sy hiper-veranderlikheid, deur ’n diepe verveling onderlê word nie. Die clichéagtige voorspraak vir die nuwe is eintlik ’n voorspraak daarvoor om dieselfde te bly.

Maar dit bring ons by die tweede punt. Om werklik verandering te hê, is die onveranderlike ook nodig. Verandering is slegs moontlik by grasie van sy verskil met die onveranderlike.

’n Ander manier om dit te sê, is dat die tradisie dit vir ons hoegenaamd moontlik maak om te verander. Sonder tradisie kan daar nie verandering wees nie. Laasgenoemde spruit uit die eenvoudige feit dat die nuwe ’n maatstaf moet hê met behulp waarvan hy na homself as “nuut” kan verwys. En waar anders sal ons dié maatstaf kry as vanuit die tradisie?

Derdens, anders as wat clichémakers glo, is die tradisie nie soos ’n lemoen wat ons – nadat dit leeggesuig is – kan wegsmyt nie. Inteendeel, die tradisie is ’n onuitputlike bron. As jy nuut wil skep, moet jy dit altyd weer uit die fonteine van die tradisie gaan haal.

Kyk maar na die voorbeelde van skeppende figure uit ons eie tyd. (Of uit elke ander tyd). Hoekom is hulle skeppend, hoekom kan hulle nuut dink en doen? Omdat hulle van die tradisie ontslae geraak het? Nee, hulle dink en doen nuut, omdat hulle telkens weer die tradisie gaan lees, telkens weer nuwe insigte uit die oue opdiep, telkens die tradisie herinterpreteer.

’n Eietydse voorbeeld hiervan is Jacques Derrida, seker een van die mees skeppende figure uit die 20ste eeuse filosofie. Alhoewel Derrida nie as ’n “konserwatiewe” denker beskou kan word nie (verteenwoordig dit ’n ironiese kant van sy denke?), was sy skeppende werk ’n regstreekse gevolg van die feit dat hy telkens weer die tradisie van filosofiese denke herbesoek, herlees en herinterpreteer het. Daarom dat hy ook denkers vanuit die tradisie soos Plato en Hegel as “onuitputlik” beskou het.

Volgens bogenoemde cliché is Plato en Hegel figure wat ons lankal reeds moes agtergelaat het. Indien Derrida hierdie voorbeeld moes nagevolg het . . .

Moet ons die oue agterlaat om die nuwe raak te sien? Nee, laasgenoemde is ’n blote cliché. Ervaring leer ons dat presies die teenoorgestelde waar is. Sonder die oue kan daar nie iets soos die nuwe wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.