Verootmoediging: Towerstaf of noodkreet?

It’s Time- nasionale biddag (22 April 2017) Foto: Dr. Michael Mol (Verskaf aan Maroela Media deur die organiseerders)

Deur ds. Jannie Bisschoff

Die gebedsbyeenkoms van 22 April 2017 in Bloemfontein lê agter die rug en daar sal sekerlik nog lank gegons word oor die invloed daarvan in mense se lewe en in ons land as geheel. Die algemene indrukke van diegene wat dit meegemaak het, was positief. Hulle ervaring is dat die Here teenwoordig was en werklik mense se lewe aangeraak het. Hulle verklaar: Die Woord het gespreek, die mense is opgeroep tot en gelei in verootmoediging en daar het gebede opgegaan vir ons land en vir ons nasie. Daarom was dit goed.

Daar hét sekere dinge op daardie dag gebeur en daar is sekere dinge gesê waarmee ons as gerefomeerdes heelhartig kan saamstem. Daar is egter ook ander dinge en woorde waarmee ons nie heeltemal akkoord kan gaan nie. Dit is egter nie die doel van hierdie artikel om op elkeen van hierdie dinge, goed of dalk minder goed, afsonderlik in te gaan nie. Ons wil eerder poog om sekere breë lyne vanuit die Skrif te trek om ons aan die dink te sit oor hierdie gebeurtenis en die implikasies daarvan. Of ons dit wil weet of nie, dit het ’n uitwerking op elkeen van ons se lewe – of jy nou daar was of nie.

Is die oproep tot ’n gebedsdag geoorloof?

Die eerste vraag wat ons daarom moet probeer beantwoord, is of so ’n saamtrek geoorloof is volgens God se Woord. Daar is heelwat verskillende menings op sosiale media gelug. Dié wat daarvoor is, sê dat so iets ’n uitbouing van die gemeenskap van die gelowiges is en hulle haal Bybelverse aan om hulle standpunt te staaf. Dié wat daarteen is, verklaar dat elke gelowige ewe goed op sy of haar eie of in ’n kleiner groep soos by ’n plaaslike gemeente, ook kan bid. Ook húlle haal Bybelverse aan om die standpunt te staaf.

Hoe moet ons dan daaroor oordeel? Daar is te veel voorbeelde van soortgelyke gebeurtenisse in die Bybel waarop die seënende hand van God gerus het om dit sommer net van die staanspoor af te skiet. Om maar net ’n paar voorbeelde te noem: Dink aan die stad Ninevé in die tyd van Jona, en hoe hulle tot bekering gekom het in antwoord op die prediking van die profeet en so die oordeel van die Here afgewend het. Dink ook aan die tyd van Esra en Nehemia, hoe die volk berou gehad het oor hulle sonde en ’n nuwe verbond met God gesluit het. Dink aan Johannes die doper en hoe die skares gestroom het om deur hom gedoop te word.

Ware verootmoediging

Tog sien ons in die genoemde voorbeelde en elders dat daar sekere vereistes is vir die seën van God. Dit gaan oor die motiewe waarom so ’n dag gehou word en ook die uiteindelike gevolge daarvan.

In elkeen van hierdie gevalle is die motivering vir verootmoediging die feit dat daar teen God en sy wet oortree is. Daar is teen God gesondig en aangesien Hy as God die enigste aanspraak op mense se lewe het, word daar in berou tot Hom genader.

Die gevolge is dan ook telkens grootskaalse, sigbare en lewensveranderende bekering. Die stad Ninevé het volgens die algemene gebruike destyds rouklere aangetrek en gevas as teken van berou. Die Jode het in Esra en Nehemia se tyd die heidense vroue uit hulle midde verwyder as bewys dat hulle hul tot God bekeer het. Die bekeerlinge van Johannes is gedoop om te wys op die sonde wat afgewas is. Hartgrondige bekering lewer getuienis van mense se harte wat eerstens op God gerig is. Dít is ware verootmoediging. God wys nie die een wat in opregtheid tot Hom nader weg nie. Die noodkreet van ware  verootmoediging smeek saam met Dawid in Psalm 51: Wees my genadig, o God … delg my oortredinge uit.

Towerstaf-verootmoediging

Ons hoor egter ook in die Bybel van soortgelyke samekomste wat nie met die regte motiewe gehou is nie en daarom ook nie die gewenste uitwerking in mense se lewe gehad het nie. ’n Sprekende voorbeeld hiervan vind ons in Jeremia 34. Juda was in ’n benarde posisie. Die Babiloniërs het Jerusalem beleër en daar was geen hoop nie. So doen die volk onder leiding van koning Sedekia ’n gelofte aan die Here, want hulle weet Hy is al Een wat hulle kon red. Hulle belowe dat hulle alle volkseie slawe sal vrylaat in die hoop dat die Here hulle sou verlos. Dan vind daar klaarblyklik ’n wonderwerk plaas: Die Babiloniërs pak op en trek weg om ’n aanval vanuit Egipte af te weer.

Dit word egter baie gou duidelik dat die volk nie met die regte motiewe tot God genader het nie. Wanneer die gevaar verby is, laat hulle nie op hulle wag nie en maak weer die slawe diensbaar. Van ware verootmoediging en bekering was daar dus geen sprake nie. Dit het nie vir hulle gegaan oor die feit dat hulle teen God gesondig het nie, maar oor die nood waarin hulle verkeer het. Hulle sondige motiewe word deur hulle dade blootgelê. Hulle het verootmoediging gebruik as ’n wyse om God te probeer manipuleer. Hulle wou ’n towerstaffie swaai en die vingers klap sodat alles weer maanskyn en rosegeur kan wees. Tot hulle skok kom die volk agter dat God nie jou speelmaat is nie wanneer Hy Jeremia na hulle stuur met die boodskap dat die oordeel vir seker op pad is.

Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?

In ons beredenering van 22 April se dag van verootmoediging moet ons daarom dalk ook maar saam met die Engelse sê: “The proof of the pudding is in the eating.” Ons kan nie tot in mense se harte sien nie. Ons kan nie bepaal wat die motief is waarmee elkeen wat by hierdie dag betrokke was, dit gereël of bygewoon het nie.

Tog sal daardie motiewe wel met verloop van tyd duidelik word. As dit werklik tot eer van God gedoen is met ware verootmoediging as oogmerk, sal berou en bekering op groot skaal sigbaar word in veranderde menselewens in hierdie land. Dit sal mense wees wat anders optree by hulle huise,  werkplek, skole of universiteite. Dit sal mense wees wat God eerste stel op elke terrein van die lewe en sy wil soek en ook doen. Daardie verandering sal voortduur al sou ons omstandighede wonderbaarlik oornag verbeter. Dit sal nie ewe skielik verflou omdat die nood nie meer so groot is nie. En selfs ook al sou die Here besluit dat ’n aansienlike tyd van beproewing en swaarkry steeds vir ons voorlê, sal mense bly hoop en vertrou en tot God se eer lewe.

Die probleem is dat dit lank kan vat voordat ons sal weet of die saad wat gesaai is gesonde plante voortgebring het wat goeie vrugte dra. Wat maak ons tot dan?

Daar is een uitvloeisel wat van dag een af in mense wat waarlik tot verootmoediging gedring is se lewe na vore behoort te kom. Ons kan nie wag tot die volgende massa-byeenkoms voordat ons weer die gemeenskap van die gelowiges opsoek nie. Dit is in die gemeenskap van die heiliges wat ons die volle omvang van Christus se liefde leer ken en vervul word tot al die volheid van God (Ef. 3:19). Dit is die beginsel dwarsdeur die Skrif. In die kerk lewe ons deurlopend saam as liggaam van Christus en so word verootmoediging, aanbidding, vergifnis en alles wat daarmee gepaardgaan ’n lewenswyse en nie net ’n sporadiese gebeurtenis nie. Laat ons die instelling wat God self gegee het, gebruik om in die genade te groei.

Gesonde debat oor hierdie saak is goed. Dit is wonderlik om mekaar te kan wys op die positiewe dinge wat op 22 April gebeur het en gesê is. Dit is egter ook noodsaaklik om mekaar in liefde te kan wys op dit wat nie Skriftuurlik was nie sonder om emosioneel te raak oor jou persoonlike belewenis daarvan. Tog dink ek ons moet ophou stry oor wie reg of verkeerd is en eerder elkeen persoonlik in opregtheid saam met die tollenaar bid: O God, wees my, sondaar, genadig (Luk. 18:13), en as ons van ons knieë af opstaan, elke dag en oral vir God gaan lewe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Wouter ·

Niemand was histeries nie. Dis juis die kalmte wat my geraak het. Of jy voor massas bid of een alleen. Daar is nie n verkeerd nie. Dit gaan oor ons gesindheid en opregtheid van elke individu.

Alida ·

Dankie Wouter die stilte en die ooptes op daardie plaas was vir my genoeg. Daar was positiewe mense nie pessimiste nie.

Gerhard ·

Massa histerie. Jy is reg. Al was almal kalm, daar is die rede waarom hulle daar was massa histerie.

Adriaan ·

Dis waar Ds, as dit ‘n samekoms van verootmoediging “ware berou” was en daar opreg soos die tollenaar gebid is en daar geen valse profesieë of woorde van laster gespreuk is nie kan die land daar by baat as dit die Vader se wil is..

Nico K ·

Wonderwerke gebeur Maar die baie belangrike woorde van Adriaan hierbo is: As dit die Vader se wil is. En vir die mense wat daar was. As dit julle geloof versterk het, kan daar niks mee verkeerd wees.

Louis ·

Hoop dit is die draaipunt en dat die kerke weer sal vol wees op sondae en soos daar in bloemfontein bymekaar gekom was en almal daar deel was van die gemeenskap van die gelowiges so ook sal terug keer na die kerk toe en deel word van die Liggaam. Ons lewe moet weer die vrugt van die gees ten toon stel naamlik Liefde verdraagsaaheid vriendelikheid teenoor almal en veral teenoor ons mede gelowiges

Kosie. ·

Die Blanke Suid Afrikaner is leierloos. Hulle is uitverkoop en voel verlore. Om saam met mekaar die aangesig van die Here te soek, is die mees logiese ding om te doen. Om saam met mekaar, “volk sondes” te belei, soos die afgewaterde gelofde dag, kan regverdig word. Om tot God in eerbied en smeking te roep vir hulp en leiding, was die regte ding om te doen. Ek vra vir al die kerke (sommige het selfs geweier om oor die bidag op 22 April te praat, soos bv. die leraar van n groot kerk in Alberton waarvan ek n lidmaat is) om saam met God geroepde mense meer massa byeenkomste vir die Afrikaner te reel todat God vir ons n leier sal aan wys wat hierdie geliefde land van ons weer sal herstel. En ons n regeering het wat na God se wil sal regeer. Stenig my maar, ek is oud maar ek pleit vir die volgende geslag Afrikaners. Tot God al die eer.

mariki van Heerden ·

Ek is so moeg van die “Suid Afrikaanse” se hoogs teologiese gesprekke. Jesus het gese ons moet soos kindertjies word. SA is reeds met die rug teen die muur. Hoeveel meer voordat die geleerdes besef hulle moet hulself verootmoedig voor die Here. Die Here weerstaan die hoogmoedige. Stop dit en geniet die lieflike samesyn van die gelowiges. Vergeet n slag van jouself en dink aan die wat die Here so nodig het. Ek het net goeie dinge gehoor van die byeenkoms. Paulus se self wat maak dit saak as dit vir eie gewin is, Jesus word verkondig.

Adriaan ·

Ons moet almal geleerdes(ondersoek die skrifte) van die Bybel wees, soos Jacobus sê draers van die Woord en nie net hoorders nie.
Petrus vermaan teen Paulus se briewe en sê dat “die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” 2 Petrus 3:16
Sodat ons in die laaste tyd nie mislei kan word nie, as ons beweer dat die Woord (Bybel) die Waarheid is moet ons dit meer daagliks lees as Facebook, watsapp ens.
Hy het ons ‘n “manual” gegee bestudeer dit, dis die minste wat ons kan doen..

Erna ·

Prys die Here Jesus Christus vir ‘n man soos Angus, ek prys die Here vir die 22 April ek prys die Here vir ieder en elk wat daar was en in eenheid tot God genader het en namens onself en ook die hele land omvergifnis gevrae het. God het gehoor! God seen Suid-Afrika! Ek dank God in Jesus Naam vir die reen wat Hy vir ons in die Kaap gegee het net daarna!

John ·

Hoekom is die byeenkoms nie in ‘n stadion gehou nie, maar op ‘n plaas? Sou dit nie baie meer mense die geleentheid gegun het om dit by te woon nie of gebruik Buchan juis die plaas-atmosfeer weens die emosionele konnotasie vir die Afrikaners? Hoeveel boere was daar teenoor dorpsjapies en hoeveel ryk boere met vliegtuie… laasgenoemde is ‘n interessante aspek, want dit lyk of dit juis ryk boere is wat telkens spog-spog ‘in’ vlieg in die hoop dat die oom se spesiale gebede hul lekker lewe van glo voorsien-aan-die-massa-hongeres gaan laat voorduur in teen stelling met die van die ‘sondige’ arm wittes wat vir meer as twee dekades al die veranderinge aan die bas voel… En tog bly glo…

Harrie ·

Is dit makliker om aanhoudend kritiek te kewer en fout te vind as om deel van ‘n moontlike oplossing te wees?As jy glo en wil deelneem doen dan so.As jy nie wil deelneem nie of nie glo nie, hou dan verby.Gaan braai of gaan vang vis.Maar staak tog net die geweldige religieuse motiverings en ontledings toe? Seblief? Dit raak nou bietjie afgesaag.

Louw ·

Lees ‘n bietjie Jesaja 58. Dit is wat ons moet doen. Maar dit is lekkerder om geld op ons self te spandeer. Hoeveel mense kon geseën gewees het met al die geld wat die dag spandeer is. Hoeveel mense sou die liefde van die HERE dan tasbaar aangevoel het.

HEVW ·

Nou sal ons maar moet wag en sien wat is die invloed op die kerk. Dit sal die antwoord wees. Hoop van harte op positiewe verweikkelinge.

Tewis ·

Ek glo nie daar is enigsin fout om so saam te aanbid nie ons doen dit reeds elke sondag en ons predikant bid viralle volke .
Ek vra net vraag , die Heilige Gees is reeds uitgestort en dit het eenkeer gebeur in Handelinge .
Wat ek wil weet hoekom sal die Heilige Gees met rukwind opkom en so ook mense se goed rond waai , God praat mos net deur sy woord en dit is al . My Heilige Gees wat God is sien ek nie so werk nie , Kyk maar in die tuin in die stilte van die aanwind . Elia wat ook volk bymekaar gebring het , God kom in stilte en rustigheid na Elia . Dit is amper asof net sekere mense uitgekies word om so winderige aankoms te kry van die H G , mens moet maar passop daar is mos net een sonde onvergeefbaar. Verder het God grense bepaal en gereeld hoor ek Angus praat van ons moenie grense sien nie , asof as jy nou Christen word jy blind word vir die grense deur God bepaal Hand 17 :26 , 27 en Dan 2:43 . Ek bid maar 1Tim 21-7 , want God is en bly in beheer en plaas konings en heersers en mense waar hy wil ….

Charleen ·

In hierdie artikel word daar in “liefde” maar eintlik baie fyn onkruid gesaai.

Veritas ·

Al die verskille, geskille en verskeidenheid kerke is bloot ‘n gejaag na wind. Enigeen wat glo dat Christus die enigste ware Seun van God is en daardeur gelei word deur die Heilige Gees, sal die ewige lewe be-erwe. Almal wat Hom as verlosser aanneem en Sy naam aanbid, se plek is reeds deur Jesus by Sy Vader gereed gemaak. Om Christen te wees stel min eise maar sekere predikers en kommentators wil reëls en regulasies neerlê wat dit feitlik onmoontlik maak om ‘n Christen te wees. Die wedergebore Christen word nie deur wette en regulasies gelei nie maar deur die Heilige Gees. Al wat ons hoef te doen is om ons harte vir Hom oop te maak en die Heilige Gees sal die res doen. Maklik en lekker. Dankie Jesus.

John ·

Uitlanders skaak ons land en skynbaar ook geleidelik ook ons gemeentelede. Uncle Zim se nuwe lidmate kan nie meer kollekte by hul ‘tydelike’ gemeentes gee nie, nee, hulle spaar vir die Ingelse oom se volgende kinkel ~ sodra sy volgende boek op die rak kan verskyn (in Zim-Engels sodat die Afrikaners opgevoed kan word). En weer word die velde geskeer, gekam en getoilet vir die swart tent en die geroskam van Afrikaners tot onderdanigheid onder ‘n emosionele geklap van oom-uncle se skerp sweep, terwyl vliegtuie saggies neersak vir die grootse okasie. En weer tuis kla pa vewoed omdat die skole so verengels en sy arme bloedjies… ly onder Engels, Engels in die skole en die (tent?)kerke…. Skynbaar kan enigiets opgedis word as die waarheid in die buitelug met almal lewensmoeg en in beswyming weens die skielike te veel suurstof… Tewis was nog by…. sterk boertjie…

Regtig?! ·

“Wys op dinge wat nie Skriftuurlik was nie”?! Asseblief tog! Daar was massa aanbidding gewees tot ons God…wow!wow! Hoekom moet mense alles wil ontleed, ander terreg wys en hulle eiertjie lê? Dit het nie gegaan oor Angus of enige ander mens nie…dit het oor God gegaan en ons mense in massa wat weer op ons knieë is voor Hom…hoe dit hoort en ons enigste redding! Hou op die splinter in ander se oë soek en gaan op jou knieë vir jou en ander se redding.

Adriaan ·

As jy sê dat jy Sy naam aanroep en selfs duiwels uitdryf, profeteer en wonders doen in Sy naam, sê Christus self in die berg predekasies in Matthéüs 7 as jy nie die wil van die Vader doen nie sal jy nie die ewige lewe beërf nie.
Speuke 28:9 sê as jy jou oor van die wet af draai kan jou gebed ‘n vervloeking wees!
Ons is vry van die vervloeking/oordeel van die wet, maar uit die wet weet ons wat sonde is en om die Vader se gebooie te onderhou is volgens Johannes hoe ons liefde aan Hom bewys en Hebreërs sê as ons in sonde volhard moet ons pasop dat daar nie meer ‘n offer vir dit sal wees nie..
Christus sê vir die verlamde om sy bed op te tel en nie weer moet sonding sodat daar dalk iets erger moet hom moet gebeur nie, ens. Daar is te veel voorbeelde..
Dis hoekom ons skuldig voor Hom staan en net uit Sy genade (wat ons lei tot ware geloof deur die HG) gered kan word en dis waarom ons volk in die situasie is..
Daarom moet ons soos die Israel van die Ou Testament in verootmoediging voor Hom kniel en vir vergifnis vra en nie in verwaandheid daarop aangedring nie..

Adriaan ·

As jy in Hom glo sal jy soos Hy wil leef..
En Hy was sonder sonde..

Boland ·

My lewe het verander na its time.Vir my was dit n ongelooflike dag.Hou op om oor alles negetief te wees.As jy niks positief kan bydra nie bly dan liewer stil.Dis tyd dat ons weer positief raak oor ons land.

Charlotte ·

Is die aantal mense wat bymekaargekom het in Bloemfontein nie vir julle ‘n bewys van ons volk se desperaatheid dat iets aan die situasie in ons land gedoen moet word nie? Hoekom na Angus gaan luister as jy in jou kerk kan bid? Omdat ons lankal nie meer in die kerk kry waarna ons soek nie! Hoekom neem nie een enkele dominee/pastoor/leier die inisiatief om so Biddag te reël nie? Hulle kan nie! So groot geleentheid is te veel moeite en reëlings vir hulle om hul kosbare tyd aan af te staan……tyd wat vir hulle GELD beteken. Die kritiek op Angus dui eintlik net op jaloesie van die kerk se kant af…… Hoekom kritiseer niemand die biddae vir reën nie? Omdat dit gelei word deur kerkleiers dalk? SA kan doen met nog ‘n hele paar biddae soos die ‘It’s Time’ een….waar almal teenwoordig net een doel voor oë gehad het….om te bid! Uit die hart en sonder voorbehoud wou almal bid…..mense, die behoefte is groot!!!

Louw ·

En as ek probeer kry ek miskien 5 mense bymekaar. Maar hy het mos ‘n naam en ‘n paar miljoen om sulke goed te doen. En dan herhaal hy goed van 10 jaar terug, net met nuwe name, en ons glo hom alhoewel niks wat hy toe gesê het gebeur het nie. Jy kry dalk nie in jou Kerk wat jy soek nie, want dit wat hulle jou gee wil jy nie hoor nie. Ons wil mos aan ons ore gestreel word. Hoeveel mense in nood kon ek gehelp het met die geld wat almal spandeer het daardie dag. En ek kon seker ‘n paar duisend gekry het om die verlossingsboodskap te glo deur Jesus se voete en hande te wees. Maar dit gaan mos oor MY. EK wil dit so hê, Gaan lees Jesaja 58 en Mattheus 25: 31-46. Dit is ons roeping. Om ‘n verskil in mense se lewens te maak, nie om “profete” ryk te maak nie.

Gerhard ·

Le die fout by jou kerk of by jou? Wat gaan nou gebeur na AB nou gebid en gepreek het wat nie gebeur as jou predikant dit doen nie en hoe gou gaan dit gebeur? Ek wil graag weet sodat ons kan sien hoe lank hou die hier.

Burger ·

Daar was geleentheid om jou hart vir Jesus te gee. Daar was geleentheid om op jou kniee saam met ander kulture te bied. Mense is genees. As die tradisionele kerke nie waarde heg aan die kern aspekte van ons geloof nie , moet daar nog meer sulke dae wees.

Ria de Waal ·

Ek huil oor artikels soos hierdie.

Van die laaste woorde wat Jesus gesê het voordat Hy opgevaar het, was dat Hy Heilige Gees (Sý Gees) sal stuur en dat ons sy getuies sal wees.

Daar is getuienis op getuienis van mense wie se lewe aangeraak is deur Jesus op 22 April 2017. Ek is een van hulle. Oor en oor getuig mense dat Jesus by hulle kom stilstaan het. Hulle harte gehoor het. Hulle vrese stilgemaak het. Om ‘n lewende VERHOUDING met Vader, Seun en Heilige Gees te mag hê en te ervaar en te geniet … dít is “the proof of the pudding.”

Ma ·

Lukas 15 :1-10 praat van di groot vreugde in die hemel oor een sondaar wat tot bekering kom. Ek glo dat by di saamtrek daar wel ten minste een was en die wat dit net op sosiale media beleef het dalk ook ten minste een. So ek weet dit was die moeite werd. Buitendien om meer as een in die naam van Jesus Christus bymekaar te kom daar is Hy. So sal di kaf van die semels geskei word . Massa histerie of towerstaf , maak nie saak , Angus het op die bybelse manier visgevang.

Hendri en kie ·

Genoemde geleentheid, goed en wel vir diegene wat gevind het wat hulle begeer het en te vind.

Hartverskeurend dat so groot behoefte na verootmoediging bestaan so pas en direk na die afgelope Paasfees…. waar was julle die vorige naweek? Tussen die branders,,,,, of oppad na erens. Was jou radio of tv aangeskakel? Of het jy gehoor wat jou buurman van jou sportsman se prestasie dink….. lekker langs die braaivleisvuur. lekker musiek

Of het jy die geleentheid gebruik om alles bietjie afgeskakel. Jou volle aandag te skenk aan JOU verootmoediging in JOU kerk. Gaan dank vir JOU verlossing. Jy is jou eie kerk. Ek wil glo dit is hoekom dit nie werkdae is sodat ons onverdeelde trou en erns van ONS Christelike geloof man maak. Dis ongelukkig nie vakansiedae nie. Of is dit? Ons moet mos kersfees dieselfde doen. Tradisie. Ons eie. O wee!. My klere vir kerk haal nooit die paklysie nie. Jy kies self om te vlug met vakansie weg van jou kerk wanneer jy juis daar moet wees.

Daar is geleenthede. Jou eie geleenthede. Gebruik wat jy het ten volle, en bid met dieselfde gesindheid soos jy 22 April 2017 gebid het op jou kniee, met verwagting. Ek glo jy sal VREDE sal oor en uit jou vloei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.