Verpligte Covid-inenting sneuwel in Duitse parlement

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Kort nadat Olaf Scholz in Desember verlede jaar Duitse kanselier geword het in ʼn koalisie tussen sy Sosiaal-Demokratiese Party (SPD), die Groenparty en die liberale Vrye Demokrate (FDP), was een van sy eerste projekte ʼn verpligte inentingsbeleid teen die koronavirus vir almal bo 18 jaar.

Die openbare opinie was destyds grootliks ten gunste daarvan: die korona-epidemie was al vir twee jaar die oorhoofse tema en die nuwe minister van gesondheid, Karl Lauterbach, was wyd bekend as voorstaander van die drastieste maatreëls teen korona, trouens, hy het nooit oor enigiets anders gepraat nie. Almal wat skepties was oor die inenting is deur die hoofstroommedia afgemaak as aanhangers van samesweringsteorieë en natuurlik as regs, die mees vernietigende oordeel in die openbare debat. Boonop het Oostenryk in Januarie vanjaar met ʼn groot meerderheid in die parlement vir verpligte inenting gestem. Scholz wou in die eerste kwartaal van 2022 die parlementstemming oor die verpligte inenting deurvoer. Behalwe vir die Alternative für Deutschland (AfD) wat slegs 10% van die setels in die parlement het, en enkele lede van die FDP en die Linksparty, was almal ten gunste van die verpligte inenting.

Sedertdien het baie gebeur wat die oorhoofse prentjie totaal en al verander het: die Omikron-variant, wat in Desember verlede jaar sy verskyning gemaak het, het geblyk redelik skadeloos te wees, en boonop is die bestaande entstowwe ondoeltreffend daarteen. Daar was ook toenemend melding gemaak van nagevolge van die inenting. Meer en meer burgers het begin betoog teen die koronamaatreëls en die voorgenome verpligte inenting. Dit was ʼn wydverspreide verskynsel in bykans elke dorp en stad, heeltemal vreedsaam en, anders as wat die media beweer het, geen ekstremiste nie maar meesal mense uit die middel van die samelewing. Verder het Oostenryk, wat as voorbeeld gebruik is, stilletjies die toepassing van die verpligte inenting opsy geskuif omdat dit nie die toets van die grondwetlike hof sou weerstaan nie. Al hoe meer lande het die korona-maatreëls opgehef omdat dit nie meer as nodig geag is met die Omikron-variant nie. En, dalk nog belangriker, die oorlog in Oekraïne het die fokus verskuif. Vrees vir ʼn derde wêreldoorlog, asook skielike prysstygings en tekorte, het die vrees vir korona op die agtergrond geskuif.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Scholz en Lauterbach wou nou haastig hulle geliefkose projek deurvoer. Die probleem daarmee was dat hulle geen meerderheid in die regeringskoalisie het nie, omdat aansienlike dele van die FDP huiwerig is om die inenting af te dwing, immers is die party verbind tot individuele vryheid. Dus is besluit om die stemming ʼn gewetensaak te maak, wat elke parlementslid van die partydissipline ontbind. Die hoop van die regering, oftewel die SPD en Groenes, was om die nodige meerderheid vanaf lede van ander partye te kry as hulle dan geen eie regeringsmeerderheid het nie. Die aanvanklike voorstel van ʼn groep parlementslede uit die SPD en Groenes om die inenting van 18 jaar af verpligtend te maak, is laat vaar omdat daar aanduidings was dat dit geen meerderheid sou kry nie. Daarom is as kompromis die verpligte inenting van diegene 60 jaar en ouer voorgestel, met verpligte berading vir elke burger.

Tans is sowat 75% van die bevolking geënt. Daar was nog drie ander voorstelle van verskeie groepe in die parlement: ʼn register van ingeëntes en ʼn verpligte inenting indien die getalle later die jaar sou optel; geen verpligte inenting nie, maar ʼn verskerping van die inentingsveldtog; geen verpligte inenting en afskaffing van die reeds bestaande verpligte inenting vir werknemers in die gesondheidsbedryf. Die lede moes dus apart ja of nee stem vir elke voorstel.

Na ʼn lang debat is tot stemming oorgegaan en die uitkoms was ʼn verpletterende nederlaag vir die regering: Van die 736 lede het slegs 296 ten gunste daarvan gestem en 378 daarteen (met die res buite stemming of nie deelgeneem nie). Feitlik net lede van die SPD en Groenes het vir die verpligte inenting gestem, die oorwegende meerderheid van die koalisievennoot FDP en feitlik alle lede van die opposisiepartye het daarteen gestem. Ook die ander voorstelle kon geen meerderheid kry nie.

Vir kanselier Scholtz en minister Lauterbach is dit ʼn groot persoonlike nederlaag en wys dit dat hulle invloed en oortuigingsvermoë beperk is. Scholtz het na die nederlaag aangekondig dat hy hom berus by die uitslag en geen verdere aanloop tot ʼn verpligte inenting sal onderneem nie. Die meeste nootmaatreëls is reeds op 1 April vanjaar teësinnig opgehef, alhoewel enkele provinsies dit behou het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

“Why do the protected need to be protected from the unprotected by forcing the unprotected to use the protection that did not protect the protected in the first case? Imagine a vaccine so safe you have to be threatened to take it for a virus so dangerous you have to be tested to see whether you have it or not”

Michael ·

The answer is MSM propaganda funded by governments worldwide

Johann101 ·

Not funded by governments, but by big pharma… & bill gates, george soros ext. and government officials all over the world, even spineless wimp ramaphosa and his cabinet are in their pockets…

annie ·

Selfs Hitler het bietjie meer vuma uitgestraal as dié leier, maar Duitsland het nog maar altyd vaal en wild probeer kombineer. Gelukkig vir hom, Mr Johnson, die Kanadese beau en die Franse katelknapie is die oorlog van bozar Zolly-007 aan die opneem om hulle naam op die oorlogsfilm te verewig… Ons hoop vir hul part hul bydraes gaan nie verlore tydens editing nie.

Hendrik Daniël ·

Wêreldwyd is die weeklikse C19-sterftes steeds so laag as wat dit laas aan die begin van die pandemie was (Johns Hopkins).
Die 10 grootste bydraers op nuwe daaglikse gevalle of sterftes is die volgende lande (Worldometer). Hulle het almal hoê vol-inentingspersentasies (buiten Rusland se 50%, Our World in Data):
Duitsland(75.4%), Suid-Korea(86.8%), Rusland(50.0%), Japan(80.0%), Frankryk(77.8%), Australië(82.9%), VSA(65.8%), Italië(79.3%), VK(73.6%), Viëtnam(79.2%), Tailand(72.1%), Brasilië(75.7%), Griekeland(73.3%), Hongarye(64.3%).
Merkwaardig dat geen land met baie lae inenting onder een van hierdie slegste 10 nuwe gevalle of sterftes tel nie.

quartus ·

bravo !! nou moet ons dit net nog plaaslik verander na nie-verpligtend !

Andrew ·

En so begin die omkeer. Nou gaan daar baie “resentment” begin ontsaan by die ge-entes wat eintlik nie wou spuit nie maar gedwing gevoel het want hy/sy was bang om sy werk te verloor. Wat die hele ding uitgewys het is hoe maklik manipuleerbaar die weste se mense eintlik is, en hoe sterk vuis china oor sy burgers het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.