Verpligte inenting kan weerstand verhoog, entprogram kortwiek

Dirk Hermann.

Ope brief deur dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit:

Geagte menere Adrian Gore [uitvoerende hoof van Discovery], Piet Mouton [uitvoerende hoof van die PSG-groep] en uitvoerende hoofde van Suid-Afrika

Covid-19 gaan nog lank met ons wees en ons is nog nie naastenby by absolute antwoorde oor die virus nie. Korttermyn-oorhaastigheid kan die langtermynhantering van die virus benadeel. Dit vereis wysheid en alle kante moet waak teen uiterstes.

Verpligting is een so ʼn uiterste maatreël. Enige verpligting van die staat en ʼn algemene oorkoepelende verpligting van werkgewers gaan weerstand verhoog eerder as om entstofopname te versnel.

Aan die ander kant is die statistieke internasionaal oorweldigend dat entstowwe wel die risiko rondom Covid-19 op alle vlakke afwentel. Niks is absoluut nie, ook nie entstowwe nie. Daar gaan nog mense wees wat siek word, ernstig siek word, asook by uitsondering sterf.

Daar is ook nog onsekerhede oor die aansteeklikheid en virus-oordrag van mense wat ingeënt is. Waaroor daar nie onsekerheid is nie, is dat dit risiko’s afwentel. Entstowwe is dus ʼn belangrike faktor in die stryd teen die pandemie.

Suksesvolle entstoflande het byna almal beslis dat entstowwe nie verpligtend is nie.

Uit die 20 lande wat tans die hoogste inentingskoerse in die wêreld het, het slegs drie entstowwe wesenlik vir werkers verplig.

Selfs as dit kom by hoërisikoberoepe, soos gesondheidsorg, het 65% van die top-20 lande nie eens inenting vir die beroepe verpligtend gemaak nie. In lande soos die Verenigde Koninkryk is inenting slegs verpligtend gemaak vir mediese personeel wat met ouer mense werk.

Mense se vermoë om ʼn inkomste te verdien en hul gesinne te versorg, is slegs in Italië, Frankryk en Griekeland wesenlik volgens inentingstatus aangetas.

Die debat oor verpligte inenting is in alle lande gevoer, terwyl die lande wat die hoogste inentingskoerse kon behaal feitlik deur die bank ʼn sterk standpunt vir vrywillige inenting handhaaf – en dit is nie bloot toevallig nie – hulle is nie doeltreffend ten spyte van vrywilligheid nie, maar juis as gevolg daarvan.

Denemarke en Portugal het van die begin van hulle inentingsveldtogte af dit duidelik gemaak dat hulle nie inenting verpligtend gaan maak nie en dat jy nie jou werk kwyt sal wees as jy jou nie wil laat inent nie.

Hierdie regerings het die vertroue van hul burgers behou en dit sodoende reggekry dat mense hulle vrywillig in massas laat inent. Albei lande het inentingskoerse van oor die 95% vir ouer volwassenes bereik, met algeheel vrywillige inenting.

Denemarke toon dat ten einde ʼn suksesvolle inentingsprogram van stapel te stuur, vertroue van absoluut kritieke belang is. Vertroue word verkry deur deursigtige kommunikasie – deur byvoorbeeld van die begin af oop en eerlik oor die moontlike newe-effekte van inenting te wees.

Die enkele grootste aanduider van entstofaanvaarding is dus vertroue en nie verpligting nie, en daarom is dit kritiek noodsaaklik om vertrouensvlakke so hoog moontlik te hou.

In Suid-Afrika is daar met reg ʼn groot vertrouensbreuk met die regering. Mense vertrou die regering met min dinge. Daar is dus ook by baie mense ʼn onderliggende wantroue in die regering se inentingsproses.

Vertroue kan nie verplig word nie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die gebrek aan vertroue in die regering impliseer dat die regering so vinnig moontlik uit die pad moet tree ten einde instellings wat meer vertroue inboesem, toe te laat om ʼn rasionele, nie-polariserende debat oor entstowwe en inenting te voer en sodoende met aansporings, vertroue en goeie inligting meer mense ingeënt te kry voor die volgende golf Suid-Afrika tref.

Die entstofdebat is reeds een van die mees polariserende debatte in die wêreld en verpligting gaan dit net vererger.

Werkgewers kan ʼn positiewe rol speel. Werkgewers kan hulle vertrouensverhouding gebruik om werknemers aan te moedig om ingeënt te word. Verpligting gaan egter geensins help met vertroue nie.

Werkgewers wat werknemers wil verplig, erken ʼn gebrek aan vertroue. Dit is eerder nou tyd om vertroue te herstel en nie vertrouensbreuke te vergroot deur werknemers se vryheid van keuse weg te neem en te dreig met ontslag indien hulle kies om nie ingeënt te word nie.

Die aanwysings van die departement van indiensneming en arbeid se uitgangspunt is juis dat algemene verpligting nie wenslik is nie. Ná behoorlike ontleding kan vir uitsonderings voorsiening gemaak word. Sekere dele van die mediese sektor kan so ʼn voorbeeld wees.

Selfs in die uitsonderingsgevalle moet gepoog word om voorsiening te maak vir die werknemers wat steeds kies om nie ingeënt te word nie.

Sekere werkgewers verhef nou die uitsonderings tot uiterstes.

Verpligting neem nie net die keuse van diegene weg wat wil kies om nie ingeënt te word nie, maar ook die keuse vir dié wat wel ingeënt wil word. Niemand maak meer keuses nie, almal word verplig. Die interne oortuiging dat dit die regte ding is, word weggeneem. Almal word ingeënt omdat hulle moet.

Covid-19 gaan egter nog lank met ons wees. Daar gaan nog variante en veranderlikes wees wat moontlik nog ingrypings en opofferings in die toekoms gaan vereis. Indien die oortuiging vervang word met ʼn verpligting, gaan dit in die toekoms net moeiliker raak.

Werkgewers se taak is om werknemers met goeie betroubare inligting toe te rus. Dit moet moontlik en maklik gemaak word om ingeënt te word, en daarna moet die werknemer uit eie keuse kies.

Solidariteit het besluit om nie sy eie werknemers te verplig nie, om hulle goed in te lig en om inentings by die werkplek moontlik te maak en/of om vervoer te verskaf na plekke wat entstowwe doeltreffend toedien. Die gevolg is ʼn inentingskoers van 86%, en ʼn groot deel van diegene wat nie ingeënt is nie, het onlangs Covid-19 gehad en is dus nog natuurlik immuun.

Niemand by Solidariteit word verplig nie en daar word op geen manier teen enigiemand gediskrimineer nie. Daar is egter vertroue en mense kan ook kies om ingeënt te word, of nie.

Werkgewers wat ʼn algemene oorkoepelende benadering volg wat alle werkers verplig, skep nie net weerstand teen die entstofprogram nie, maar is aan die verkeerde kant van die wet. Hulle skep ook verdeling binne die personeelkorps en ʼn sekere deel van hulle werknemers word as gevaarlik en ʼn bedreiging gebrandmerk. Solidariteit het ʼn omvattende regsmening hieroor ingewin.

Ons sal nie huiwer om hierdie uiterste benadering van sekere werkgewers in die hof te toets nie. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie bevestig dat verpligting van entstowwe ongrondwetlik is en sal dit self ook oorweeg om regstappe namens werknemers in te stel. Selfs die voormalige waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi, het haar uitgespreek teen die idee dat mense gedwing moet word om ingeënt te word. Dit sluit natuurlik aan by pres. Cyril Ramaphosa se onderneming dat niemand gedwing sal word nie.

In ʼn grondwetlike demokrasie, met ʼn staat wat geneig is tot sentralisering en magsvergrype, moet daar versigtig omgegaan word met die inbreuk maak op grondwetlike regte en ontneming van vryheid van keuse. Entstowwe is ʼn intieme proses waar ʼn vreemde stof in jou liggaam ingespuit word. Mense se vrese moet erken en met goeie inligting besweer word. Om die regering vatplek te gee om die reg op liggaamlike integriteit aan te tas en mediese prosedures af te dwing, skep gevaarlike historiese presedente. Die vraag is nie waar dit, te midde van ʼn krisis, begin nie, maar waar dit gaan eindig. Veral in gevalle waar hierdie prosedures op mense afgedwing word “vir hulle eie beswil” is dit ʼn donker pad waarop ʼn mens nie eens jou voet wil sit nie. Werkgewers is nie veronderstel om die klimaat daarvoor te skep nie. Die langtermynpresedent kan tot groot skade lei.

Ek is bekommerd oor werkgewers wat die regering se agenda meer getrou as die regering self uitvoer. Die regering dink nog verpligting, dan voer sekere werkgewers dit al slaafs uit.

Natuurlik moet die gemeenskap vir mekaar omgee en mekaar nie blootstel nie. Dit moet egter nie afgedwing word nie. Daardie kultuur moet geskep word. Daar moet ook genuanseerd daarmee omgegaan word. Sommige mense het nog natuurlike immuniteit, ander se risikovlakke is baie laag en nog ander het unieke mediese redes, maar almal het ʼn keuse. Daar moet nog baie navorsing gedoen word en dit wat vas is, word kort-kort weer as veranderlik bevind. Solidariteit se ervaring is dat die gemiddelde Suid-Afrikaner verantwoordelik en nugter is en na betroubare inligting smag.

(Argieffoto: Unsplash)

Wat ek hier vra, is ʼn genuanseerde en wyse benadering en nie ʼn absolute, diktatoriale benadering nie. Dit geld veral vir die staat, maar ook vir werkgewers van groot ondernemings.

Werkgewers wat werknemers met ʼn oorkoepelende benadering verplig om entstowwe te neem, moet vir geen oomblik dink hulle bewys Suid-Afrika se entstofprogram ʼn guns nie. Hulle verhoog weerstand, verdiep verdelingslyne, verhard verhoudings en neem die keuse om vir entstowwe te kies ook weg. Hulle maak van entstowwe ʼn plig en nie ʼn wil nie; hoe langer Covid-19 voortduur, hoe moeiliker gaan dit word om entstowwe af te dwing.

Die beter alternatief is om ʼn vertrouensverhouding te versterk, goeie inligting te gee en werknemers toe te rus om ʼn keuse te maak. Soos wat jy jou werknemers met jou onderneming en werklading vertrou, vertrou hulle ook met hierdie keuse.

Ek doen, namens Solidariteit, ʼn beroep op elkeen van julle om nie die entstofprogram in Suid-Afrika te benadeel deur absolute standpunte en ʼn ongenuanseerde oorkoepelende benadering rakende entstowwe nie.

Ek heg by hierdie skrywe die jongste bygewerkte verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) aan. Die verslag werk net met getoetste data en bevind dat entstowwe risiko’s baie afwentel, maar ook dat verpligting geen waarborg vir ʼn suksesvolle entstofprogram is nie – inteendeel, dit sal teenproduktief wees.

Almal wil uit die pandemie kom. Ons moet seker maak ons doen dit saam en daarvoor is wysheid nodig. Uiterste standpunte aan enige kant bied nie volhoubare antwoorde nie. Daar is ongelukkig nie kortpaaie nie. Kortpaaie kan baie lank word. Dit is ʼn lang pad waarop ons mekaar gaan nodig hê. Die langer, volhoubare pad is ʼn pad van vertroue. Dit is die pad wat ons saam moet loop.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cryptogruppe

Uitstekende artikel. Die maatskappye wat gene-veranderende inspuitings toelaat, sal dan waarskynlik na die tweede prik se doeltreffendheid taan, vereis dat ‘n derde, vierde geneem word.

Charles

My weerstand kan nie nog hoër nie…

Biltong

Dis onwaarskynlik dat die betrokke uitvoerende hoofde sal omdraai, want dit beteken hulle sal die “humble pie” moet eet. En dit sal n helse gespot afgee. Op amper alle gebiede in die lewe is dit wys om maar die kat eers goed uit die boom te kyk. Moet maar nie te vinnig op n bandwagon spring nie.

Jaco

Verplig die inenting en kry net finaal KLAAR met hierdie inperking nonsens van maskers, handreiniger en beperkings op besighede. My ervaring is dat meeste mense wat so teen verpligte inenting is, óók dieselfde mense is wat so kla oor al die nonsens reëls van inperking.

annie

Dirk klink baie seker dat die pandemie nog vir lank met ons sal wees. Diegene wad groot gewag maak van die vername rol van entstof tov die beëindiging van die virussiekte ook. Maar daar bestaan geen bewyse dat covid vir ‘n onbepaalde tyd gaan aanhou muteer nie. Dit is bloot spekulasie. Baie erger gevaarlike uitbrake van pandemies het in ons lang verlede gekom en gegaan. Geloof in die rol van die Opperhand het volgens Bybelse geskrifte ‘n einde gebring, maar ons is deesdae mos baie slimmer as die mense van destyds.