Verpligte inentings sal nie werk nie, maar…

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

In talle lande met ’n liberaal-demokratiese stelsel is daar ’n – soms heftige – debat oor hoe die koronavirus beveg moet word.

Verreweg die meeste mense stem saam dat inentings die pad is om te loop. Slegs ’n klein groep ideologies besete mense klou aan die bewysbare leuen vas dat dit ’n manier vir die owerheid is om jou gedagtes en daaglikse optrede te manipuleer.

In lande waar die inentingsprogram al ver gevorder het, verloop die geveg teen die virus relatief goed.

In Nederland, waar ek tans woon, is 83% van die bevolking bo 18 jaar al ingeënt (omdat ek aan kanker ly, het ek selfs drie inentings ontvang). Tog is die infeksiesyfer met die aanbreek van herfs (mense bly meer dikwels binne bymekaar) weer aan’t styg, en dis interessant om die patroon te lees.

Tot 90% van die siekes wat weens die koronavirus in die hospitaal opgeneem word, is nié ingeënt nie. Ook ingeëntes, blyk dit uit die syfers, kan die virus opdoen (en ander daarmee besmet), maar veel minder as diegene wat die inenting ontvang het – en dan neem die siekte verreweg meestal die vorm van ’n ligte verkoue aan.

Hoe nou verder? Feit is immers dat die oningeëntes steeds ’n gevaar vir die openbare gesondheidsituasie inhou.

Is dwang ’n opsie? Ek onthou toe ek ’n kind was, in die jare vyftig en sestig van die vorige eeu, was dit verpligtend om jou teen siektes soos polio en pokke te laat inent. Ouers wat dit geweier het, kon vervolg word.

Volgens wat ek onthou, was dit nooit ’n vreeslik verdelende saak nie. In ons omgewing was dit vanselfsprekend dat ouers hul kinders teen sulke siektes wou behoed.

Wat is dan die prinsipiële verskil met verpligte inentings teen die koronavirus? Ja, destyds was dit hoofsaaklik kinders wat ingeënt is; nou is dit volwassenes. Maar dít is ’n práktiese verskil, geen prinsipiële een nie.

Nogtans sien ek nie dat verpligte inentings in die praktyk sal werk nie. Dit gaan vir groot ophef sorg, juis die soort wat ons nie soek nie.

Daar is wel ’n uitweg. Dit is dat alle ingeëntes ’n soort bewys kry dat hulle ingeënt is.

Hier in Nederland kry jy ’n app op jou selfoon, wat bekend staan as ’n QR-kode. Dit is glo nie vervalsbaar nie, en dien as bewys dat jy ingeënt is.

Waaroor nou gepraat word, is dat jy daardie QR-kode nodig het om tot openbare ruimtes toegelaat te word – gimnasiums, kerke, teaters, restaurante, noem maar op. As dit blyk dat jy sónder inenting byna slegs tuis of in die buitelug mag kom, is die redenasie, sal selfs korona-skeptici maar by wyse van spreke oor hul eie skaduwee spring en die inenting toelaat.

Dit is ook ’n rigting wat in Suid-Afrika gevolg kan word. Enersyds laat jy mense dan toe om self vir of teen die inenting te kies, maar jy word wel duidelik in ’n bepaalde rigting gedruk.

Vryheid is nie – en was nog nooit – ’n absolute begrip nie. Ek kan nie my vryheid gebruik om iemand anders aan te rand, te bedrieg of dood te maak nie.

Mý vryheid eindig naamlik waar jóú vryheid begin. Jou vryheid om nie aangerand, bedrieg of vermoor te word nie weeg swaarder as my vryheid om daardie soort dinge wel aan jou te doen.

Jou vryheid om nie ingeënt te word nie, weeg minder swaar as my reg om nie deur jou aangesteek te word nie. Dat jy nie gedwing word om jou te laat inent nie, het meer te make met die gebrekkige vermoë van die staat om dwang toe te pas as met die feit dat my regte in dié geval voorrang bo joune moet geniet.

Hoe ook al, die wetenskap is duidelik daaroor: Inentings teen die koronavirus werk weliswaar nie 100% nie, maar wel voldoende om die pandemie hok te slaan. Dan moet genoeg mense hulle egter aan inentings onderwerp.

Kom ons los die praatjies oor vryheid om nié ingeënt te word nie. Gebruik maar net jou gesonde verstand en laat jou inent! Dis die regte ding om te doen.

  • Die meningstuk is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.