Verreikende aborsie-uitspraak in die VSA

Betogers voor Amerika se hoogste hof
(Foto: Brandon Bell/Getty Images via AFP)

Vir Christene was Vrydag 24 Junie ʼn vreugdevolle dag en vir die VSA oor die algemeen was dit ʼn geskiedkundige datum. Op dié dag het die hoogste Amerikaanse hof met ʼn meerderheid van ses regters teenoor drie besluit dat aborsie geen grondwetlike reg is nie en dus ook nie verhewe is bo die wetgewing van die deelstate nie.

Die veelbesproke uitspraak van die “Roe vs. Wade”-saak in 1973, wat aborsie tot basiese grondwetlike reg verhef het en uit die jurisdiksie van die deelstate geneem het, is daarmee ná amper 50 jaar tersyde gestel. Die argument van die meerderheid van die regters was dat hulle uit die VSA se grondwet geen reg op aborsie kan aflei nie en dat dit nie deur die reg op gelykheid en persoonlike vryheid gedek word nie.

Die artikel wat hier ter sprake is, no. 14, gaan oor die gelyke regte van burgers, veral met die oog op die bevryding van slawe. Om daaruit die reg op aborsie af te lei soos dit in 1973 geskied het, was vergesog. Aborsie self word nie in die grondwet genoem nie, maar was ten tye van die opstel van die grondwet in elk geval iets wat onwettig was en nooit as fundamentele reg beskou is nie.

Die uitspraak kom egter nie onverwags nie. Reeds in Mei het ʼn nuusbron vertroulike inligting laat uitlek dat die hoogste hof oorweeg om die “Roe vs. Wade”-uitspraak tersyde te stel. Die uitspraak beteken egter nie dat aborsie nou in die VSA onwettig is nie; dit beteken effektiewelik dat elke staat self daaroor moet besluit.

In praktyk beteken dit dat die VSA in hierdie vraagstuk in twee gedeel gaan word: konserwatiewe Republikeins-beheerde state in die sentrum en die suide wat aborsie gaan inperk en liberale Demokraties-beheerde state in die weste en noordooste waar dit steeds wettig bly. Daar word gereken dat sowat die helfte van die VSA se 50 deelstate aborsie nou aan bande sal lê. Texas en Missouri het dit onmiddellik ná die uitspraak gedoen. Sekere state het reeds wetgewing deurgevoer, maar is deur die “Roe vs. Wade”-uitspraak verhoed om dit in te stel.

Die eintlike rede hoekom die “Roe vs. Wade”-uitspraak weer opnuut bekyk is, was ʼn besluit van die staat Mississippi om aborsie ná die 15de week van swangerskap te verbied waarna ʼn pro-aborsiegroep dié besluit in ʼn hof gedaag en lede hulle op die grondwetlike reg op aborsie beroep het. Só moes die hoogste hof ondersoek instel of daar iets soos ʼn grondwetlike reg op aborsie bestaan en die uitspraak van 1973 weer bekyk.

Soos verwag kan word, was die reaksie op die uitspraak baie uiteenlopend. Voor die hofgebou het skares van pro-lewe- of pro-aborsie-ondersteuners saamgedrom en óf gevier óf betoog. Die Demokrate en hulle prominente verteenwoordigers, soos pres. Joe Biden, speaker Nancy Pelosi en oudpres. Barack Obama, het almal hulle ontsteltenis uitgespreek en weerstand aangekondig. Oudpres. Donald Trump was verheug. Hy self het ʼn enorme aandeel aan die uitspraak deur die benoeming van drie konserwatiewe regters tot die hoogste hof tydens sy termyn, wat die besluit moontlik gemaak het.

In praktyk sal aborsieklinieke in sekere deelstate nou sluit, terwyl vroue wat aborsies wil hê na die liberale state sal reis. Hierdie uitspraak sal waarskynlik die groot vraagstuk vir vanjaar se mediumtermynverkiesing wees en albei kante mobiliseer. Dit is deel van die groter konteks van die kultuuroorloë oor morele vraagstukke. In die afgelope tyd het die links-liberale kant bykans elke veldslag gewen en feitlik alle sentrums van mag beheer. Hierdie uitspraak is dus vir behoudendes ʼn baie nodige oorwinning. Dit is ook te danke aan die pro-lewe-drukgroepe, wat bygedra het dat aborsie op die agenda bly en dat wetgewerlede hulle daarvolgens posisioneer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andrew ·

En nou brand alles want die “mob” kan eenvoudig nie vat om te verloor nie. Daai land het n baie groot idiliogie problee wat nog lank nie verby is nie. Maar hier is ook n paar wat vreeslik kerm, soos die klomp op RSG. Aborsie is nie in die VSA se kostitusie in-geskryf nie, anders as die dood straf in SA wat wel in die konstitusie aangeteken is (net so korreksie op julle stelling). Al wat nou gebeur is die mense kan gaan stem om dit te verander in stede van 7 mense wat namens almal besluit . Maar hulle brand eerder die wereld af. Die bank wat gelaai was deur liberale regters moes anvaar word vir 50 jaar, nou dat dit anders om is moet die wereld sommer net vernietig word. Kinderlik en pateties eintlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.