Verreikende besluite tydens EU-spitsberaad geneem

Die vlag van die Europese Unie. (Argieffoto: pixabay)

Op die onlangse spitsberaad van die Europese Unie (EU) is verreikende besluite geneem oor die aanvaarding van nuwe lidlande.

Veral weens morele druk deur Oekraïne, wat ʼn dapper stryd teen die veel magtiger buurland Rusland veg, het die EU-leiers besluit om aan Oekraïne kandidaatstatus te gee. Moldawië het ook kandidaatstatus gekry, omdat die land eweneens deur Rusland bedreig word en ʼn moontlike volgende teiken is. Die nuwe toedrag van sake is teweeg gebring deur ʼn besoek van die drie leiers van die belangrikste EU-state, Duitsland se Olaf Scholz, Frankryk se Emmanuel Macron en Italië se Mario Draghi aan Volodymyr Zelensky, president van Oekraïne.

 

Die kandidaatstatus beteken dat die lande nou uit die koue ingelaat word in die wagkamer, voor hulle eendag ingenooi word in die hoofhuis van EU-lidmaatskap. Die tyd in die wagkamer kan egter baie lank wees, omdat kandidaatlande eers aan talle voorwaardes moet voldoen voor hulle EU-lede kan word, soos geen bestaande konflikte met buurlande nie, ʼn hoë vlak van demokratiese ontwikkeling, lae skuldvlakke en geringe korrupsie. Oekraïne en Moldawië voldoen tans aan geeneen van die voorwaardes nie en sou onder normale omstandighede nie nou al kandidaatstatus gekry het nie.

Talle Balkan-state, soos Noord-Masedonië, Albanië en Montenegro, het al sedert 2004 kandidaatstatus en daar is geen vordering nie. Twee lande is veral teleurgesteld dat hulle dié keer oorgeslaan is: Bosnië-Herzegowina en Georgië, wat nog steeds buite in die koue is en nie eens kandidaatstatus het nie. Bosnië wys daarop dat die land ten spyte van sy ingewikkelde etniese samestelling sedert die einde van die Bosnië-oorlog in 1995 vreedsaam is en dat ander voormalige deelstate van Joegoslawië, naamlik Slowenië en Kroasië, lankal lede is.

Die bestaande EU-lede is egter huiwerig om hulle unie verder te vergroot: die oorblywende kandidate en moontlike kandidate is almal lande wat ekonomies ʼn verdere las op die ekonomies sterk lande soos Duitsland, Frankryk, Nederland en die Skandinawiese lande plaas. Boonop is dit ook lande wat onder mekaar nog talle onopgeloste grens- en minderheidskonflikte het. Bulgarye byvoorbeeld blokkeer die lidmaatskap van Noord-Masedonië oor die behandeling van die Bulgaarse minderheid en beweer selfs dat Masedonië geen reg tot staatskap het nie, omdat dit in die 19de eeu deel van ʼn groot Bulgariese ryk was. Ook Griekeland het voorbehoude om historiese redes en het daarom daarop aangedring dat die land, wat eintlik Masedonië heet (soos ook ʼn Griekse provinsie), sy naam moes verander na Noord-Masedonië. As ʼn mens egter die kriteria waarmee die Balkan-state tans uitgesluit word as maatstaf neem, soos korrupsie, mafia-agtige strukture, onstabiele politiek, onopgeloste grensvraagstukke, hantering van minderhede ensovoorts, dan moes Roemenië en Bulgarye ook nie deel van die EU geword het nie.

Oekraïne vervul tans bitter min kriteria en is net weens die simpatie oor die oorlog tot kandidaat gekies. Macron het egter reeds koue water op die entoesiasme gegooi en gewaarsku dat dit dekades kan neem voor Oekraïne ʼn volwaardige lidland kan word. Vir Frankryk − tans oppervlakgewys die grootste land van die EU en bevolkingsgewys nommer twee na Duitsland − hou Oekraïne, anders as die reeks klein Balkan-lande, ook ʼn bedreiging in weens sy grootte: 45 miljoen mense en 603 000 vierkante kilometer, wat dit dan oppervlakgewys die grootste staat van die EU gaan maak. Die land sal ook vir baie lank ʼn netto ontvanger van EU-fondse wees.

Die EU sit lankal met ʼn onoplosbare dilemma om twee dinge te wil wees wat mekaar uitsluit: dit kan óf ʼn soort federale superstaat uit ekonomies sterk en polities gevestigde liberale demokrasieë met dieselfde doelwitte en kultuur wees en die periferie afkap; óf dit kan ʼn al hoe groter kontinentale streeksorganisasie wees wat uiteindelik die hele vasteland Europa beslaan, maar sal hom dan net tot enkele punte van samewerking beperk en elke lidland se soewereiniteit respekteer, soos byvoorbeeld ander streeksorganisasies soos die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies (Asean), die Afrika-Unie (AU) en die Organisasie van Amerikaanse State (OAS). Om beide te wil wees, al hoe nouer en al hoe groter, sal uiteindelik tot die inploffing van die EU lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Rusland speel die EU soos ‘n klavier terwyl China hande klap. Die EU benodig dringend goedkoper energie en grondstowwe – alles wat China nou in grootmaat by Rusland kry! Die geskiedenis sal die stommiteite van Biden en NAVO uitwys, wat deur hul optrede reg in China se hande speel. Myns insiens is Europa met sy gryswordende bevolkings op die lang afdraande pad.

Groen Ghoen ·

KB, die oplossing is om van die afgeleefde Koue Oorlog fanatici in die VSA ontslae te raak. Rusland is nie die groot gevaar nie, maar China. Maar, die geld van die wapenhandelaars wat nou oes en skep sal dit nie toelaat nie.

Anel ·

Ek sou dink dat die EU die Okraine sou smeek om lid te word! Soos wat daar aangegaan word is Okraine die land wat die hele wêreld van kos, brandstof en nog meer voorsien het. Hulle moet mos skatryk wees! Of verstaan ek nou verkeerd? Dis dan hoekom pryse nou by ons die hoogte in skiet! Wonder ook maar net!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.