Verrotting in die SAPD: Die saak vir persoonlike vuurwapenbesit

Deur Ian Cameron

Ian Cameron.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het by ‘n punt gekom waar ‘n mens dit met ‘n uitgespoelde skeepswrak sou kon vergelyk as ons kyk na die volgende:

Gedurende die afgelope byna 30 jaar is daar meer as ‘n halfmiljoen moorde in Suid-Afrika gepleeg. Dit neem jaarliks ​​met ongeveer 1 000 moorde per jaar toe. Dit is tragies om te sien hoe die SAPD, ‘n eens magtige wetstoepassingsinstansie, nou ‘n diens op sy knieë geword het weens korrupsie, politieke inmenging en die verlaging van standaarde. Die polisie is natuurlik nie die enigste instansie wat die skuld moet kry nie, want die suksesvolle vervolging van misdadigers is minder as 20%. Dit op sigself is ‘n groot skandaal vir die Nasionale Vervolgingsgesag – en ’n bespreking vir ‘n ander dag.

Bheki Cele, minister van polisie, se jongste aanslag op wettige vuurwapeneienaars – wat natuurlik sportskieters, jagters en versamelaars insluit – moet baie kommerwekkend wees vir elke wetsgehoorsame Suid-Afrikaanse burger.

Afgesien van Cele se korrupsieskandale as nasionale polisiekommissaris meer as ‘n dekade gelede, moet hy ook verantwoordelikheid neem vir ‘n groot deel van die agteruitgang in die SAPD ná die Jackie Selebi-era. Cele het duisende polisiekadette tot die polisiekollege toegelaat – dít ná drie remediërende opleidingregstellings, sommige selfs vier, nadat hulle nie die assesseringstoetse geslaag het nie. Dit is in stryd met die manier waarop dit moes gebeur waar ‘n kadet se “kontrak” met die polisie beëindig moes word ná twee mislukkings.

Verder het Cele die aanstelling van uniformdraers vir die FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 deurgedruk. Duisende kadette het “gekwalifiseer” en is in polisiegeledere toegelaat sonder dat die betrokke sielkundige ondersoeke voltooi is. Sedertdien het geweld in polisiehuishoudings ook aansienlik toegeneem, maar die dra van vuurwapens is nooit verbied nie.

Dieselfde interne ouditverslag waar hierdie kwessies geopper is, bevat verdere verdoemende bewyse van agteruitgang in die polisie se opleidingsgeledere in Suid-Afrika.

Die verslag het aangedui dat byna 50% van vuurwapendraende wetstoepassers van die SAPD in die Oos-Kaap nie bekwaam was om vuurwapens te dra nie. Tog, baie van hulle kan op grond van hul ervaring as bekwaam beskou word, en mag waarskynlik hardwerkende eerlike mans en vroue in blou uniforms wees, maar die afgelope paar jaar het die polisie dikwels nie eens ammunisie gehad om hul jaarlikse oefenskiet te doen nie.

Dis skokkend dat slegs 5-10% van die SAPD se begroting aangewend word vir misdaadintelligensie. As diegene wat aan die stuur is, egter erns maak van die voorkoming van misdaad, kan hierdie syfers veel hoër wees. Tog word die begroting vir BBP-beskerming vir senior staatsamptenare jaarliks verhoog. Dit beteken dat wetsgehoorsame belastingbetalers moet betaal vir gewapende beskerming vir regeringsamptenare, terwyl dieselfde regeringsamptenare belastingbetalers wil ontwapen.

Tussen 2010 en 2018 het die aantal polisiereserviste in Suid-Afrika met meer as 80% afgeneem – prakties gesproke beteken dit dat meer as 60 000 polisiereserviste nie meer hul gemeenskappe kan beskerm nie. Hierdie reserviste kos die regering baie minder as permanente lede terwyl hulle dieselfde mag as enige gewone polisielid kan en mag uitoefen. Hul teenwoordigheid in gemeenskappe het altyd ‘n groot invloed gehad in die daaglikse bekamping van misdaad. Dit is hartseer dat hierdie kapasiteit verlore gegaan het weens ‘n gebrek aan belangstelling, wil of politieke steun, of ‘n kombinasie daarvan.

Een polisiebeampte het my selfs vertel dat toe hy na die skietbaan vir die jaarlikse oefenskiet gegaan het, ’n ander beampte nie eens ammunisie in die magasyn kon laai nie omdat die magasyn in die wapen vasgeroes het. Daar kan natuurlik talle redes daarvoor wees, maar die feit bly staan dat die beampte nié die wapen in ‘n lewensgevaarlike situasie kon gebruik nie, en ook nie eens aan die jaarlikse oefenskiet kon deelneem nie.

Cele het in die parlement erken dat die polisie in minder as sewe jaar meer as 10 miljoen rondtes ammunisie verloor het en meer as 5 000 vuurwapens. Volgens ‘n polisieverslag van 2019/’20 verloor die SAPD jaarliks ​​ongeveer 700 vuurwapens. Stel jou voor dat elkeen van dié vuurwapens in een moord gebruik is… moet ‘n polisiebeampte dan nie verantwoordelik gehou word vir elke vuurwapen wat verlore gaan nie?

Die beskuldigde voormalige polisiebeampte, Chris Prinsloo, het ook erken dat hy gehelp het om meer as 9 000 vuurwapens, wat in polisiebesit was, aan bendes in die Wes-Kaap te voorsien. Of dit as gevolg van amnestie ingedien is of weens ‘n ander rede, dit toon steeds ernstige misdadigheid onder die polisie, aangesien dit vir een polisielid onmoontlik sou wees om dit sonder hulp van binne die polisie te doen.

In ’n onlangse onderhoud van Jacques Broodryk van AfriForum met dr. Chris de Kock, misdaadstatistiek-ontleder, is daar uitgewys dat die mees prominente vuurwapens wat in die gereelde transitorooftogte in Suid-Afrika gebruik word, almal R4- en R5-aanvalsgewere is wat albei as outomaties geklassifiseer word en albei deur die staat uitgereik word. Dit beteken dat daar iewers en êrens goed georganiseerde geweldsmisdadigers op een of ander manier toegang tot militêre gewere het om hierdie misdade te kan pleeg. Dit mag wees dat dit gesteel is, maar daar was hoeveel gevalle waar vuurwapens deur wetstoepassers verhuur of aan misdadigers verkoop is.

Dr. De Kock het voortgegaan om verskeie van die sogenaamde statistieke bloot te stel wat Cele gebruik het om sy bewerings – dat misdaad sal verminder deur wettig gewapende Suid-Afrikaanse burgers te ontwapen – te staaf. Min of geen van die statistieke wat Cele gebruik het, kon tot dusver bevestig word nie.

Wat geslagsgebaseerde geweld betref, is die einste stelsel (PCem) wat, onder meer, forensiese bewyse stoor, al byna ‘n jaar buite werking as gevolg van wanbetaling en geskille met die diensverskaffer. Dit beteken dat byna 200 000 strafregtelike sake nietig verklaar kan word as gevolg van die staat se nalatigheid. Duisende verkragters en ander misdadigers kan vrygelaat word – dit, terwyl president Cyril Ramaphosa verklaar het dat Suid-Afrika voor ‘n tweede pandemie, naamlik geslagsgebaseerde geweld, te staan ​​gekom het.

Daar word jaarliks ​​ongeveer 40 000 verkragtings in Suid-Afrika aangemeld. Verkragtings en misdade van seksuele aard word egter verreweg nie genoeg gerapporteer nie. In ‘n groot meerderheid van gevalle is huishoudelike geweld die katalisator vir hierdie misdade. Stel jou aan die ander kant voor hoe bemagtigend dit kan wees om vuurwapenopleiding en -bewapening aan wetsgehoorsame vroue in Suid-Afrika aan te bied? Die bordjies sal onmiddellik verhang word en die speelveld gelyk gemaak word.

In baie gevalle blyk dit dat die gemiddelde burgers wat wettige toegang tot vuurwapens het, dikwels meer bekwaam is om vuurwapens te hanteer as baie wetstoepassingsbeamptes. Dit is duidelik dat vuurwapenopleiding die sleutel is; dit bevoordeel nie net ‘n wettig gewapende burger ten opsigte van sy of haar veiligheid nie, maar maak ook van hom of haar ‘n aanwins ten opsigte van nasionale veiligheid.

Ek wil Gideon Joubert uit Paratus aanhaal (vry vertaal): “Om dinge te vererger, het minister Cele die vermetelheid om na hierdie voorstelle te verwys as nodig om die sogenaamde ‘verspreiding van vuurwapens’ te beperk om sodoende ‘n veiliger samelewing te skep. Nogtans het die SAPD onder toesig van minister Cele nie hul eie Vuurwapenpermitstelsel (FPS) in stand gehou nie, wat daartoe gelei het dat 500 000 polisievuurwapens sedert Junie verlede jaar nie opgespoor is nie. Gedurende die eerste drie maande van 2021 het altesaam 84 SAPD-vuurwapens in Gauteng alleen verlore geraak of is gesteel. Die Suid-Afrikaanse polisiediens verloor ongeveer agt keer meer vuurwapens per capita as Suid-Afrikaanse burgers.”

Die SAPD het ook nie ‘n beroepspolisiebeampte as ‘n nasionale polisiekommissaris gehad sedert George Fivaz en die huidige generaal Sithole nie. Selebi het gespesialiseerde eenhede en kommando’s ontbind, generaal Phiyega het haarself ‘n medalje vir tien jaar diens toegeken sonder dat sy tien jaar gedien het, en generaal Phahlane is verwyder weens meer korrupsie… en so gaan die korrupsie voort.

‘n Nasionale kommissaris van die SAPD moet eerstens ‘n beroepslid wees, ‘n onberispelike diensgeskiedenis hê en slegs op meriete aangestel word. Politieke verbintenis of -invloed mag hoegenaamd geen rol speel nie. Sedert die tyd dat Fikile Mbalula die minister van polisie was, blyk dit dat die funksie van die minister van polisie – ‘n politieke aanstelling – dié van ‘n nasionale kommissaris geword het. Sedertdien het nasionale kommissarisse toenemend stiller geword met politici wat met die media baklei en ander wat in opstand is oor twyfelagtige optredes deur die blou uniforms óf diegene in beheer.

Laastens, kan hierdie hele debakel te wyte wees aan paranoia van die regering? Is die regering nie ‘n bietjie bang dat die publiek ‘n mag kan wees om mee rekening te hou nie? Kan openbare ontwapening dalk die eerste stap wees om wetsgehoorsame burgers te neutraliseer, sodat dit vir die regering makliker sal wees om onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid te maak?

Dink daaraan: al sou jy selfs die kans kry om die polisie tydens ‘n misdaadverwante noodgeval te bel, sou hulle nié betyds opdaag nie.

Dit is eintlik so eenvoudig: as jy jouself met ‘n vuurwapen kan verdedig, kan jy jou gesin verdedig; as jy jou gesin kan verdedig, kan jy jou bure verdedig; wanneer bure mekaar verdedig, verdedig hulle hul gemeenskap. In Suid-Afrika hét jy ‘n vuurwapen nodig vir selfverdediging, of jy dit nou wil weet of nie.

Vuurwapeneienaars moet saamstaan om te verseker dat die wettige besit van vuurwapens nooit verander nie en vuurwapenbesit ‘n strafbare oortreding word nie.

Maak seker dat jy die veldtog ondersteun om só te verseker dat burgers in Suid-Afrika wettige vuurwapeneienaars kan word en bly deur jou beswaar teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer deur DearSA in te dien.  

  • Ian Cameron is ‘n onafhanklike kenner van gemeenskapsveiligheid en geweldsmisdaad in Suid-Afrika. Hy is ook die stigter van firearms.co.za en dien op die raad van #SafeCitizen.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris ·

Die regime is onrustig en ongemaklik oor die wapens in privaat besit. Enige onwettige/onbeholpe staat is onrustig sodra die burgery teenstand begin bied. Wanneer die burgery boonop bewapen is, is die vrees onrustighied nog groter.

Persheks Adri ·

Ek stem 100% saam met Chris! Wil egter byvoeg dat hulle bang is vir ons boere, want ons het goed wat hulle soek en wil vat en weet ons gaan terug baklei! Hoed kan hieraan dink en baie vinnig vergeet van die wet! Dit mag eenvoudig nie gebeur nie!!!

Hulle kan ons nie beskerm nie en wil ook nie. Ons kan dit self doen. Wie op dees aarde “verloor” 10 miljoen patrone? Dis verkoop punt nes die wapens wat ingehandig is om nie eers te praat van hulle eie wapens nie! Hulle is pateties verby.

LeonS ·

Baie dankie Ian, dit is voorwaar kommerwekkend! Ons sit met n groot probleem

Stefaan ·

Dit gaan nie gebeur nie omdat die wapen eienaars dit nie gaan toelaat nie ongeag wat die hoed sê

Persheks Adri ·

So voel ons almal! Hoed kan gaan doppies blaas punt.

Schalk ·

En so rol die probleme aan. Dan is daar ook sekere polisie stasies wat slegs 10 mense per dag help? Geen plan om ten minste te probeer op te spoed nie. En die bombastiese houding???? Totaal ongevraag en onnodig.

Tino ·

Dis ook nie ou nuus dat polisie lede op die stelsel kyk watter wapens waar is en deur wie besit word en dan plaas moorde inisieer sodat die wapens verkry kan word om aan stropers te oorhandig nie, Hulle beskerm selfs die oortreders.

Ons kan lekker praat maar ek sukkel om te sien hoe dit gaan beter word.

Chris ·

In die ou dae as jy in die weermag was het die rangstruktuur so gewerk. As jy drie strepe gehad het, kon jy lees en skryf. Twee strepe kon jy lees of skryf. Een streep het jy iemand geken wat kon lees en of skryf. Weet nie wat hul rangsstruktuur tans is nie. (Apologie aan die bekwames)????

Anel ·

Nou wil ek weet hoe word daar aan die begin en einde van ‘n skof parade gestaan? Jy kom met jou vuurwapen wat ongelaai is op parade. Dan kyk die bevelvoerder dat jou magasyn uit jou wapen is en dat daar rondtes in is. Jy teken hoeveel jy in het. Dan laai jy jou wapen. Na skof word die wapen weer ontlaai en jy wys vir die bevelvoerder jou magasyn. Of wat van jaarlikse parade inspeksies? Al jou toerustig word nagegaan. Jou wapen uit mekaar gehaal en skoon op handoek uitgestal met jou amunisie en al jou ander toerusting. En bewaar jou siel as iets kort! Geen wonder alles foeter uit mekaar nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.