Verset teen Kaapse onafhanklikheid is ‘n risiko vir die DA

Deur Phil Craig

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

DA-leier John Steenhuisen het met Maroela Media gesels oor Kaapse onafhanklikheid asook sy frustrasies dat die onafhanklikheidsbeweging uitdagend is eerder as om die DA te steun in hul strewe na meer afwenteling van magte na provinsies.

Ek wil namens die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) amptelik op Steenhuisen se uitlatings reageer.

Laat ons eerstens gemeenskaplike grond vind. Ons stem saam met die DA dat die sentralisering van mag in ‘n nasionale ANC-regering ‘n ramp vir Suid-Afrika was en die inwoners van die Wes-Kaap nie gespaar is nie. Ons is nie gekant teen die maatreëls wat die DA probeer instel om provinsiale magte te vermeerder nie, ons ondersteun hulle en het baie van hul pogings in die openbaar aangeprys.

Ons stem ook saam dat die DA in die algemeen hulself goed van hul taak gekwyt het in hul regering van die Wes-Kaap en dat dit weerspieël word in sowel vergelykende provinsiale statistieke as in die stemgedrag van die Wes-Kaapse kiesers.

Buiten dit, blyk daar ‘n verskil te wees tussen die politieke realiteite van die onafhanklikheidsbeweging en hoe dit deur die DA-leier waargeneem word. Om dit onomwonde te stel: Steenhuisen wil sy brood aan albei kante gebotter hê.

Die artikel self getuig van die feit dat die DA die onafhanklikheidsbeweging ernstig opneem en bewus is daarvan dat dit ‘n wesenlike bedreiging inhou vir hul volslae provinsiale meerderheid in die Wes-Kaap.

Die CIAG het in Augustus 2020 ‘n peiling laat doen en in dié peiling is bevind dat 53% van die DA-kiesers in die Wes-Kaap ten gunste is van afstigting en 64% ten gunste is van ‘n referendum oor onafhanklikheid. Dit het ook bevind dat indien die DA onafhanklikheid sou teëstaan, hulle inderdaad hul meerderheid sou verloor, aangesien ‘n aansienlike aantal DA-kiesers gesê het dat hulle in so ‘n geval vir ‘n ander party sou stem.

Om die toedrag van sake interessanter te maak, het die Wes-Kaapse DA in November 2020 besluit om die referendumwetgewing reg te stel. Wat reken jy wil die meerderheid DA-lede wat die mosie gesteun het, hê?

Dit is natuurlik heeltemal logies vir die inwoners van die Wes-Kaap om onafhanklikheid te wil hê. Die meerderheid van hulle het nog nooit vir die ANC gestem nie, maar tog gesien dat die ANC telkens verkies word as die nasionale regering tydens elke verkiesing, ongeag. Daardie regering dwing dan beleid op hulle af waarmee hulle nie eens saamstem nie, onder meer diskriminasie op grond van ras teen die meerderheid van hulle. Dit maak nie saak hoe baie Wes-Kaapse kiesers die regering haat nie; hulle kan hulle eenvoudig nie uitstem nie. Nie nou nie, en ook nie in die afsienbare toekoms nie. Kortom, hulle het nie funksionele demokrasie nie.

Die groot ironie hier is dat die enigste manier waarop ‘n DA-kieser ‘n nasionale DA-regering kan kry, in ‘n onafhanklike Kaap is. Soos een politikus bitter aan my gesê het: “In die Wes-Kaap, selfs as hulle wou, kan die DA nie eens vir jou ‘n sigaret of ‘n bier kry nie.”

Twee versoeke – debat en demokrasie

Phil Craig.

Die CIAG is nie polities naïef nie. Gevolglik het hulle nog nooit die DA gevra om Kaapse onafhanklikheid in die openbaar te steun nie. Ons het die DA nog slegs op twee punte gedruk.

Eerstens het ons hulle gevra om die debat oor onafhanklikheid openlik binne hul eie party te laat plaasvind. ‘n Paar maande gelede het hulle ons die versekering gegee dat hulle die debat binne die Wes-Kaapse partystrukture aktief sou inisieer, maar hulle het nooit aan die belofte gevolg gegee nie. DA-LP’s rapporteer dat hulle steeds nie vryelik daaroor kan praat nie.

Tweedens het ons hulle gevra om in te stem om die demokratiese wense van die mense van die Wes-Kaap te respekteer, wat dit ook al mag wees. Hulle wou nie hierdie versekering gee nie.

Die CIAG vereenselwig hulself nie met enige spesifieke politieke party nie. Inteendeel, ons is ‘n niepartydige enkelkwessie organisasie wat steun van reg oor die politieke spektrum trek. Ons mandaat is om Kaapse onafhanklikheid te lewer en, om die waarheid te sê, as die party van die provinsiale regering en die party vir wie die meerderheid van ons ondersteuners stem, behoort die DA potensieel ons grootste bondgenoot te wees. Vir ons om aktief teen die DA veldtog te voer, sal die laaste uitweg wees, maar ons kan tog net die kaarte speel wat aan ons uitgedeel word.

Steenhuisen verwys na die dreigement van die veldtog teen die DA om hulle onder 50% te bring ten einde ‘n referendum oor onafhanklikheid af te dwing. Dit is inderdaad ‘n dreigement wat ons voorwaardelik gemaak het, hoewel privaat aan hulle eerder as in die openbaar, maar in die onthulling daarvan vertel Steenhuisen net die helfte van die verhaal.

Daar is net drie posisies wat die DA oor Kaapse onafhanklikheid kan handhaaf. Hulle is of ten gunste daarvan, of staan neutraal daaroor, of hulle is daarteen.

Die CIAG het dit aan die DA duidelik gemaak dat hulle hulself direk tussen ons organisasie en ons doelwitte sou plaas, sou hulle onafhanklikheid teenstaan. Onder sulke omstandighede sou ons geen ander keuse hê as om deur hulle te gaan nie en dit sou noodwendig beteken om werk te maak daarvan om hulle onder 50% in die Wes-Kaap te bring.

Aan die ander kant, sou die DA neutraal bly oor die kwessie en die debat laat ontvou, terwyl ons instem om die demokratiese wense van die Wes-Kaapse kiesers te respekteer, kan ons ‘n pad saam loop om te veg vir meer magte vir die Wes-Kaap. ‘n Sterk en lewendige onafhanklikheidsbeweging sal die DA se hand slegs versterk.

Vestiging van die DA se standpunt oor onafhanklikheid

(Foto: Facebook)

Wat is die DA se standpunt dan? Wel, hier is die probleem: dit hang totaal af van met wie jy praat.

Amptelik, maar nie in die openbaar nie, is ons meegedeel dat die DA in beginsel nie teen Kaapse onafhanklikheid gekant is nie. Dit sou beslis versterk word deur die trant van Steenhuisen se onderhoud.

Twee dae tevore het Alan Winde egter in die openbaar gesê dat hy teen onafhanklikheid gekant is en dat hy ook teen die hou van ʼn referendum is. Hy het selfs so ver gegaan as om aan te dui dat DA-kiesers wat onafhanklikheid steun, vir die Kaapse Party (Cape Party) moet stem: presies die aksies waarteen sy eie partyleier argumenteer. Twee maande voor dit het die provinsiale party aan wie hy rapporteer, besluit om die referendumwetgewing reg te stel.

Aan watter kant wil die DA dan hul brood gebotter hê? As die DA inderdaad neutraal staan ten opsigte van onafhanklikheid, en in beginsel nie daarteen gekant is nie, moet hul dit onomwonde sê. Inisieer of laat ten minste toe dat die onafhanklikheidsdebat binne die DA-strukture afspeel en gee die Wes-Kapenaars die versekering dat die DA hul demokratiese wense sal respekteer deur ‘n referendum uit te roep indien daar voldoende steun daarvoor is. Laat weet dan asseblief die premier.

As die DA nie bereid is om onafhanklikheid op ‘n sinvolle manier te bespreek nie en hul nie bereid is om ‘n referendum uit te roep nie, ongeag wat die Wes-Kaapse mense wil hê, is hulle teen onafhanklikheid, wat ook al hulle sê, en moet hulle aanvaar dat daardie mense wat sterk in die idee glo, insluitend die CIAG, gaan stem vir ‘n party wat dit wel steun.

Dit is ook belangrik om te besef dat federalisme en onafhanklikheid nie dieselfde ding is nie. Federalisme is ‘n kompromie wat die ANC steeds in beheer van die ekonomiese beleid sal laat. Dit is in elk geval hoogs onwaarskynlik dat die DA federalisme kan lewer. In baie opsigte is dit meer gevra as onafhanklikheid. Federalisme vereis instemming van die ANC en EFF, terwyl onafhanklikheid op die ou einde eerder internasionale steun benodig. Wat is meer waarskynlik?

Waarom sou die DA-leier dan dink dat die belofte om meer federale outonomie te probeer bekom, sy party ‘n vrypas sou koop vir sy onwilligheid om die magte wat hy reeds grondwetlik het, te gebruik?  Magte wat die Wes-Kaapse kiesers aan hulle toevertrou het? Magte wat letterlik die Wes-Kaap sou kon red: die mag om ‘n referendum van die mense uit te roep?

Steenhuisen noem Quebec en hoe hulle steeds nie onafhanklikheid het nie. Mag ek hom daaraan herinner, soos met Skotland, hulle het ‘n referendum gekry, hulle het eenvoudig gestem om te bly. Dit is al waarvoor ons ook vra.

  • Phil Craig is ‘n gesinsman, ‘n reeksentrepreneur en medestigter van die Cape Independence Advocacy Group. Hy beywer hom vir die skepping van die Kaap van Goeie Hoop, ‘n Eerste Wêreldland aan die suidpunt van Afrika wat vryheid, veiligheid en welvaart bring vir almal wat daar woon, ongeag hul ras, godsdiens en kultuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Heinrich ·

Probleem met die DA is dat hulle gereëld hulle deuntjie verander oor verskeie sake, dit maak dit moeilik om peil te trek. Hulle deuntjie het elke keer verander wanneer nuwe leiers aangestel word. Wat ook hulle antwoord is, dit kan oor ‘n paar jaar (of solank as wat die leiers in hulle posisies bly) weer amptelik verander om by die nuwe denkrigting binne die party aan te sluit. Ons het gesien watter tweespalk daar binne die party was met die verkiesing van Steenhuizen.

quartus ·

Ek dink Steunhuisen is maar net bekommerd oor sy eie voortbestaan.

Kokerboom ·

Dis ‘n geloofwaardige idee! MAAR wees verseker die ANC regime sal daarteen skop met ALLES in hul vermoeë. Die hele Ooskaap sit al in die Weskaap. Verder kan ANC ook nie verdra dat iets werk!
Baie sterkte..ek ondersteun gedagte

Jedi Knight ·

Eerstens, net ‘n klein tegniese regstelling.
In 1992 het 69% indirek vir ‘n ANC regering gestem.
Ja, jy kan probeer om om dit te redeneer, deur te sê ‘n JA stem was ‘n stem teen apartheid.
Ongeag hoe jy dit benader, die uiteinde is vandag dieselfde.

Tweedens, persoonlike mag (en die finansiële voordele daaraan verbonde) beteken vir die meerderheid politici (links, middel, regs) meer as die wense van hul kiesers. As jy regtig lank en ver soek, mag jy DALK een kry wat anders is. Hulle is immers almal beroepspolitici, so hulle kyk eers na hulself en dan na die res. Ek is dus verheug dat CIAG nie saam met enige politikus in die bed spring nie.

Karel Kobus Kruger ·

Ek dink dis net n kwessie van tyd voordat SA heeltemal opbreek. Die ANC raak elke jaar net meer en meer pateties. Nou sal mense sê dat dit nooit sal gebeur nie. In die 60’s en 70’s sou niemand ook gesê het dat die USSR sou opbreek nie. En net soos wat al die sowjet republieke na die val van die USSR eenvoudig onafhanklikheid verklaar het, net so sal verskeie groepe na die val van die ANC/SA ook kan maak wat hulle wil sonder dat hulle deur n regering se weermag/polisie gekeer kan word.

Boerkind ·

Enige iets om net weg te kom van die rassistiese, verwoestende ANC… As ek moet kies tussen DA en Onafhanklike Kaap sal dit sonder om te blik of te bloos Onafhanklike Kaap wees… Die DA staan onder die beheer van die ANC. Breek weg of gaan weg!!

Dirk Mostert ·

Winde is die vlieg in die salf. Soos met die oordadige getoets wat die ANC ammunisie gegee het.

annie ·

Miskien moet ons besin oor waaroor die hele afskeidingstorie gaan. Die Kaap loop redelik ok teenoor die res van die land met die DA wat al sy aandag op die een provinsie konsentreer en ou ryk wittes koer langs die soutwaters weg van die massas. Nou droom elke oom met ‘n droom of diegene wat pledges gemaak het met San of Khoi of wat in die nuwe parlement (dit sal nog gebou moet word of die ou een afgerokkel moet word) gaan gloei. Geld, geld, geld gaan nodig wees vir die massiewe aksie. Droom voort broers…

Natasha ·

Enige iemand met ‘n gesonde verstand sal vir enige party stem wat hulle kan verlos van die korrupte regering. Dit kan werk!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die groot vraag is: “Is Suid-Afrika voldoende ekonomies wêreld kompeteerbaar om volhoubaar voldoende buitelandse valuta op ‘n wins basis eerlik te verdien vir ‘n voorspoedige regverdige vredevolle toekoms vir al sy burgers?”

Is die ANC in staat om Suid-Afrika te lei tot voldoende ekonomiese wêreld kompeteerbaarheid of nie? Indien nie, sal werkloosheid, armoede, kriminaliteit, sosiale onrus en magsvergrype toeneem. Dit mag die deur open vir afstigting of ‘n verwerping van die ANC deur die kieserskorps.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.