Verslaaf aan slawerny, maar geroep om te stry

Deur Kosie Henning

Kosie Henning en sy gesin.

As ’n jong predikant het ek die besondere voorreg om elke Sondag vanaf ons gemeente se preekstoel te kan preek. So gou as wat ons mag begin eredienste hou het, het ons. Ons is elke Sondag baie min in die kerk – ongeveer 15 lidmate. Maar die vreugde om in die vreemdste omstandighede bymekaar te kom en die Here te kan dien, is oorweldigend. Sondag vir Sondag het ek die taak om hierdie paar skapies op te roep tot bekering, maar bo alles, om hulle te vertroos met die wonder van die evangelie.

Maar ongelukkig as ek van die preekstoel se trappies afklim, in my kar klim en huis toe ry, moet ek myself vinnig inhou om nie bitter te raak teenoor die onreg in ons eie land nie. Daar is meer slaggate in Harrismith as pad, die hoeveelheid hawelose mense word by die dag meer. Soos ek by die huis stop en ek kyk na my boodskappe, sien ek daar was nog ’n inbraak vanoggend.

Ons almal ken hierdie gevoel van bitterheid teenoor ons eens mooi land. Mens wil nie eens die nuusmedia lees nie, want jy is net bang jy lees van nóg ’n hardwerkende boer wat vermoor is, of nóg ’n suksesvolle en eerlike besigheid wat ten gronde gaan as gevolg van drakoniese regulasies, of nóg politiese uitsprake van staatsleiers wat ander die skuld gee vir hul korrupte vergrype.

As ons kyk na die Afrikaner, dan voel mens soos die volk Israel in Egipte – ons voel of ons in slawerny is, maar in ons eie land. Ons voel dalk soos die volk Israel in ballingskap: alles wat ons eie volk opgerig het word voor ons oë afgebreek. Ons word egter nie weggevoer na ’n ander land nie, ons bly hier en sien dat dit gebeur.

Alhoewel ons graag wil dink dit is net die Afrikaner, is dit tog nie. Elke volk in hierdie land word deur die onreg van ’n korrupte owerheid op sy knieë gebring. En ongelukkig kom ons as inwoners nie meer die onreg agter nie. Ek, as jong Afrikaner, is so gewoond aan die ellende dat ek al afgestomp is vir die onreg wat teenoor my en my naaste en medeburgers in hierdie land gepleeg word.

Die vraag wat ons aan onsself moet stel: Hoekom laat ons die onreg toe? Hoekom word die onreg nie teengestaan nie? Ja, daar is organisasies wat wonderlike werk doen, maar hulle is in die minderheid; daar is persone wat opstaan en hulle stem dik maak, maar hulle is in die minderheid. Hoekom tree die gemiddelde Afrikaner nie op teen die onreg wat plaasvind nie? Hoekom kies meeste om eerder uit die land te vlug? Hoekom kla ons, maar doen min? Hoekom is ons mede-Suid-Afrikaners van ander volkere tevrede met die haglike omstandighede waarin hulle bly?

Die Christene in Suid-Afrika moet die vraag nog skerper vra: Hoekom bly ons blind vir onreg wat gepleeg word? Dit gaan nie oor menseregte nie, dit gaan oor die onreg wat teenoor die reg van God gepleeg word. Die Christen word voorgesê hoe hy die Enigste Heer moet aanbid in sy kerk en hy sê niks.

En nog meer: Wanneer ons toegelaat word om te aanbid in die kerk, is die kerke leeg. Gesonde belydende Christene in gebiede waar Covid-19-getalle laag is, daag nie op om Sondag hul Here Jesus te loof en te prys nie – hulle gaan staan egter in die lang rye by Tops. Ons as Christene het gewoond geword aan ’n nuwe normaal, nie ’n “Covid-19-normaal” nie, maar ’n normaal waar reg verkeerd is en verkeerd, reg is. Ons praat al hoe minder oor dit wat verkeerd is in ons huis, tussen vriende, in die media, selfs in ons kerke.

Die antwoord op hoekom ons die onreg toelaat en deel word van die onreg, is eenvoudig. Ons hou daarvan. Ons is verslaaf aan ons slawerny. Hoekom was die volk Israel 400 jaar in Egipte sonder om al lankal uit te trek? Want hulle was gemaklik met die bietjie kos wat hulle wel gekry het. Dit is die algemene probleem met die mens, ons hou daarvan om deur onreg en sonde onderdruk te word. Een van die beste voorbeelde hiervan uit die Bybel is Rigters 15 waar 3 000 man van die volk vir Simson vermaan omdat hy optree teenoor die onreg van hul vyande – hulle gaan sover as om hom oor te lewer in die hand van die Filistyne.

Die gebeurtenis in die geskiedenis waar hierdie verslawing die duidelikste na te vore kom, is die mens wat die Seun van God (wat gekom het om die volk van hul sondes te kom verlos) oorgee om gekruisig te word en skree dat ’n misdadiger losgelaat word. Hoekom kruisig die mens die Seun van God? Want hy is ’n bedreiging vir my sondes. As ek Hom volg, moet ek my sondes en slawerny en gemak opgee.

Ja, hierdie verslawing aan onreg en sonde spoel oor na vandag. Ons laat die onreg van Suid-Afrika toe, want ons hou daarvan. Verstaan my reg. Nie een van ons laat die onreg toe omdat ons doelbewus dink dat dit lekker is nie – die meeste van die Afrikaners vandag beleef besondere moeilike omstandighede wat my hart breek en niemand wil in hierdie omstandighede wees nie.

Maar ons het egter, sonder dat ons dit besef, gemaklik begin word met baie van die onreg wat plaasvind. Baie Afrikaanse besigheidsmanne maak nie hul rug styf teen swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie, want hulle is bang hulle verloor besigheid van die staat. Baie gaan nie kerk toe nie, want die sitkamer is gemakliker. Ons eie sporthelde buig die knieg voor ’n goddelose organisasie sodat hulle guns kan kry in die oë van politici. Baie (wat nog vol salarisse kry) betaal nie meer skoolfonds aan skole met hardwerkende onderwysers met gesinne nie… So kan ons aanhou om daaglikse voorbeelde op te noem. Die realiteit is, ons het verslaaf geraak aan ons slawerny.

Wat is die oplossing? Ons moet begin stry teen die onreg. Op baie wyses gebeur dit deur die Here se genade al klaar. Organisasies probeer hul bes om op ’n hoë morele wyse die stryd te stry. Die boere begin weerstand bied teen plaasaanvalle. Gemeenskappe begin saamstaan en buurtwagte in hul honderde word opgestel, plaaslike inwoners poog selfs om self hul dorpe skoon en netjies te hou.

Maar ons mag nie as individue terugsit en dink dat die onreg vir my deur ander gestry gaan word nie.

Om die swaard te neem en oorlog te maak uit haat gaan nie werk nie – ons kan nie onreg met onreg bestry nie. Ons kan en mag nie stry uit haat, frustrasie en woede nie. Ons moet egter bekeer na Christus wat ons ware geregtigheid is. In Hom is ons alleen vry van die onreg, want Hy is sonder sonde, Hy het sonde nie geken nie. In Hom is ons vry – vir ewig.

Beteken dit dat Christene nou spesiale menseregte moet hê? Nee, dit beteken dat Christene alle onreg wat plaasvind, moet meet teen die geregtigheid van Christus. Elke stukkie onreg gaan teen Christus in en daarom moet ons gehoorsaam teenoor die Here, vry in Christus, die onreg bestry.

As ek die stryd wil begin stry, waar begin ek? By my Christelike lewe. Die Here leer ons in Romeine 6 dat wanneer ons vry is van die sonde, vry van die slawerny, ons vir Hom diensbaar kan wees. Dit het ’n baie groter vrug as net vrede in Suid-Afrika. Dit is ’n vrug tot heiligmaking en eindelik die ewige lewe. Die sonde maak dood, maar God maak lewendig.

Hoe vreemd dit mag klink, die stryd teen onreg begin by my persoonlike verhouding met die Here. Die verandering van die gemeenskap, begin by die verandering van die hart. Die stryd begin om tyd af te sonder vir die Here; die stryd begin om as pa of ma elke aand my kinders van die Here te leer en saam met hulle tot die Here te sing; die stryd begin om Hom te gaan dien in die erediens elke Sondag en onsself te voed deur Skrifgetroue prediking. Die stryd begin om eers vir Christus na te jaag!

Soos die Here Sy kinders leer: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.” – Efesiërs 6: 12-13

Wanneer ons groei in die geloof, dan gaan my liefde vir die wêreld begin krimp, wanneer my kennis van die Here verdiep, gaan ek nie meer die onreg wat teen Hom ingaan, kan verduur nie. Eers as ek en my huisgesin waarlik die Here ken en dien, sal ek die stryd wat ek stry, verstaan en dan sal ek weet hoekom ek stry en hoe om te stry.

Ons stry teen die onreg omdat ons Christus wil volg. Hy is beter as al die dinge waarvan ons slawe is, daarom wil ons Hom volg. As ons Christus waarlik ken, haat ek as Christen-Afrikaner die sondes van my mede-Afrikaners; ek haat die onreg teenoor my medegelowiges uit ander volkere. As ek Christus ken, haat ek die gemak van my eie sitkamer en ek hardloop na Hom… ek verkondig Hom en ek verheerlik Hom.

Ons bou in hierdie land nie as slawe van rassisme en gemak nie, maar as vry Christene wat die onreg wat teen ons Here gepleeg word, nie kan verduur nie. Ons stry op God se manier: Ons laat ons nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. Daarom moet ons Christene deel word van die stryd teen onreg, ons moet begin om dié wat reeds stry, te ondersteun. Ons moet begin om mekaar op te roep om die onreg raak te sien en te ywer dat Christus se geregtigheid geskied.

Ons stryd moet in die openbaar duidelik sigbaar wees. Die wyses hoe die onreg in die openbaar gestry kan word, verskil van gemeenskap tot gemeenskap en daaroor is al baie geskryf deur verskeie persone en organisasies, daarom wil ek my nie oor die praktiese uitlaat nie.

Hoekom stry ons, bou en bly ons in hierdie land? Want dit is waar ons geroep is om Christus te verheerlik. Ek los al die dinge waarvan ek ’n slaaf is en volg Christus, al is dit bitter moeilik, al kry ek baie teenstand, maar ek doen dit, want Hy is beter. Hy is My Heer. Hy is die Seun van God.

  • Kosie Henning is ʼn predikant by die Gereformeerde Kerk Harrismith.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Ja, en dominee, die dominees kan maar by hulself begin. Dominee skryf nou eers na maande onder die pesjuk en die res van die dominees sit knus by die huis. Die kerklokke lui nie eens nie en die kerkhorlosie is heel uit tyd. Tjoepstil is ons dominees. Te bang die haan op die kerktorings kraai vir hulle.

Leon ·

Dominee, dit is maklik. Ons het motorwagte tydens die Sondag erediens om ons motors veilig te hou. Kyk na die duisende Afrikaners wat Sondag vir Sondag rondry en sport gaan speel en kyk. Dam toe gaan met bote en waterponies. Wat tydens eredienste gaan inkopies doen. Hulle het ‘n nuwe god. Hulle stel nie meer belang in die ware God nie.Solank as wat hulle GOD uit hulle lewe het sal ons swaar kry. Die dag as hulle wakker skrik en ons wit Afrikaners weer tot GOD terugkeer sal die wiel weer bo kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.