Verslag oor aardverhitting ‘kode rooi vir die mensdom’

(Foto: AMOS GUMULIRA/AFP)

As die wêreld nie hiérvoor skrik nie, sal hy waarskynlik nie vir énigiets skrik nie.

Waarna hier verwys word, is die klimaatverslag wat die Verenigde Nasies se klimaat-ondersoekgroep – bekend as die IPCC – pas gepubliseer het. Die verslag bevat ’n aantal ontstellende vooruitsigte oor die verwarming van ons planeet wat nog tot reusagtige probleme kan lei.

Kom ons kyk eers kortliks na die agtergrond. Die IPCC is in 1988 opgerig om wetenskaplike kennis en insig rakende ’n veranderende klimaat te skep en akademici se werk daaroor te koördineer.

In 2015 het 197 lande die Parys-akkoord gesluit. Daarmee het die wêreld homself verplig om die gemiddelde temperatuurstyging in die aarde se atmosfeer tot ʼn maksimum van 2 grade Celsius (verkieslik 1,5 grade) te beperk, in vergelyking met voor-industriële temperature.

Om dit reg te kry moes die hoofoorsaak van die klimaatsverwarming – die uitstoot van kweekhuisgasse deur industrieë en moderne vervoermiddels (motors, vliegtuie, skepe) – aangepak word. Dis egter makliker gesê as gedaan, want dit is juis dáárdie industrieë en vervoermiddels wat verantwoordelik is vir ekonomiese vooruitgang, welvaart en miljoene werksgeleenthede.

Die Parys-akkoord is nietemin deur feitlik die hele wêreld – in teorie altans – aanvaar. Die enigste uitsondering was Donald Trump, Amerika se vorige president, wat sy land op 4 November 2020 aan die akkoord onttrek het.

Trump, ’n bekende ontkenner van mensgemaakte klimaatsverandering, se argument was dat die ooreenkoms die Amerikaanse ekonomie benadeel. Hy het onder meer beweer dat die idee van aardverwarming deur China ontwerp is om die mededingendheid van die Amerikaanse nywerheidswese te ondermyn.

Ná hom het sy opvolger, Joe Biden, Amerika weer tot die akkoord laat toetree.

Die IPCC-verslag bou op die Parys-akkoord voort. Maar, so sê die verslag, die doelstelling om die atmosfeer se temperatuurstyging tot 1,5 grade te beperk, is waarskynlik al klaar buite bereik.

Sedert 1850 het die gemiddelde globale temperatuur reeds met 1,1 grade gestyg. Die uitstoot van kweekhuisgasse, “wat sonder twyfel deur menslike aktiwiteite veroorsaak is”, is die belangrikste oorsaak.

Selfs al word die uitstoot van kweekhuisgasse aansienlik beperk, kan die gemiddelde temperatuur teen 2040 steeds met 1,5 grade (vergeleke met ’n eeu tevore) styg, en selfs met 1,6 grade teen 2060. Dit is moontlik dat dit daarna kan stabiliseer.

In die ergste geval (wat dus nie seker is nie) kan die temperatuur teen die einde van dié eeu selfs met 4,5 grade styg. Die gevolge sal katastrofies wees: Oorstromings op plekke, droogtes en woestynvorming op ander plekke, digbevolkte streke wat skaars mense kan huisves met gevolglike grootskaalse migrasie, ernstige voedseltekorte, laagliggende streke (kusstede en eilande) wat deur die see verswelg word, ensovoorts.

As dié scenario bewaarheid word, kan die poolkappe smelt en die ysgrond (permafrost) van streke soos Siberië en Noord-Kanada verdwyn. Dit kan weer op sy beurt allerlei gasse in die atmosfeer loslaat, wat die proses nog verder kan versnel.

António Guterres, die VN se sekretaris-generaal, het vandeesweek die verslag “kode rooi vir die mensdom” genoem.

Altesaam 234 wetenskaplikes van regoor die wêreld het aan die verslag help skryf. Hulle het drie jaar daaraan gewerk en onder meer 14 000 wetenskaplike studies in hul verslag verwerk.

Om die gevolgtrekkings, soos sommige ongelowiges doen, aan “histerie” en “paniek” toe te skryf, is om jou kop in die sand te steek. Dis swaargewigte wat wéét waarvan hulle praat – nie groen malletjies nie.

Om te sê, soos iemand vandeesweek gedoen het, dat die kommer oor mensgemaakte klimaatverandering nie deur wetenskaplike navorsing gesteun word nie, is feitelik verkeerd. Jy sal op baie vaste grond moet staan om die 234 wetenskaplikes se bevindings af te skryf.

’n Aspek wat in die verslag aandag kry, is die rol wat die vinnige toename in die wêreldbevolking speel. Kortpad gevat kom dit daarop neer dat die aarde nie sy huidige bevolking kan dra nie.

Die dringendheid van die verslag word in die uiterste weersomstandighede wat die wêreld tans op talle plekke ondervind, weerspieël. Yslike vure in Kalifornië, die weste van Kanada, die gebiede om die Middellandse See en in Oos-Siberië het al tienduisende hektaar bosse in vlamme verteer; selfs stede soos Athene word bedreig. Oorstromings het die suide van Nederland, die ooste van België en die weste van Duitsland geteister en miljarde se skade aangerig.

Nou wys wetenskaplikes daarop dat ’n mens versigtig moet wees om die huidige, uiterste weersomstandighede summier aan klimaatverwarming te koppel. Die “weer” is nie noodwendig dieselfde as “klimaat” nie. Dis waarom sommige oningeligte mense ’n koue dag, week of selfs maand as “bewys” teen klimaatsverwarming sal aangryp.

Eers wanneer jy weersverandering oor jare heen kan waarneem en kwantifiseer, kan jy dit aan klimaatsverandering koppel. Wat egter soos ʼn paal bo water staan, is dat die verwarming van die aarde se temperatuur nie meer ontken kan word nie.

Terselfdertyd is dit waar dat Westerse ekonomieë, veral dié in Amerika en dan ook in Europa, reeds goed op pad is om hul verpligtings ingevolge die Parys-akkoord na te kom. Die grootste boosdoeners is tans China, Indië en – as jy sy beskeie rol in die wêreldekonomie in ag neem – Afrika.

Berigte in Europese koerante lui juis dat die Chinese media skaars aandag aan die IPCC-verslag gegee het. Dit ondanks die feit dat dié land verantwoordelik is vir ’n goeie derde van al die kweekhuisgasse wat die atmosfeer ingepomp word.

China besit byvoorbeeld meer as die helfte (sowat ’n duisend) van die aarde se steenkoolkragsentrales. Dít is een van die grootste faktore waarop die land se skouspelagtige ekonomiese groei (’n groeikoers van 8,5% word vanjaar verwag) gebaseer is.

Tog het die Chinese regering vandeesweek laat weet hy sien geen rede om sy klimaatbeleid te hersien nie.

As die wetenskaplikes reg het met hul gevolgtrekking dat kweekhuisgasse die groot oorsaak vir die klimaatverandering is, sal die mensdom sekere aanpassings móét maak. Industrieë sal “skoon” moet word om veel minder gasse te genereer. Binnebrandenjins vir motors sal met elektriese aandrywing vervang moet word. As “skoon” vliegtuie nie taamlik vinnig ontwerp word nie, sal vliegverkeer aan bande gelê moet word – noem maar op!

Dit gaan nog gróót rusies, ook tussen lande, veroorsaak. As die mensdom egter duursaam wil oorleef, sal hy nie soos wat dit tans gebeur, kan voortgaan nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johann ·

Glo nie mens hoef nou al te skrik vir die inligting nie. Dit moet in gedagte gehou word dat seker 99% van die persone wat die besluite neem sonder enige vaardigheid sit, almal is net polities magtig. Geskiedenis het gewys dat politiek selde ‘n praktiese bydrae kan maak of ‘n probleem kon oplos anders as om ‘n belasting op die probleem te hef. Wanneer alles prakties vergaan het, sal die regte persone na vore tree en die probleempie oplos.

Drikus ·

Die mens produseer ‘n klein persentasie CO2 in die atmosfeer, meeste kom van vulkane, diere, die see en natuurlike prosesse. CO2 is ‘n natuurlike gas wat gebruik word in foto sintese.
The Great Global Warming Swindle – Full Documentary HD op youtube – verduidelik baie meer van die detail. Die mense is NIE die oorsaak van Global Warming nie, die mens is nie ‘n PARASIET nie, die mens is die rede vir die skepping, en is aangestel om dit te bestuur.

VaalDonkie ·

Dis net nog ‘n verskoning om vir die VN meer mag oor die nasies te gee. Selfde met COVID. Miskien is beide so gevaarlik soos hulle beweer, miskien nie. Ieder geval sit die ouens by die WGO en by die VN en lekkerkry oor hulle nou meer gesag het oor ons lewens.

Pieter ·

Rede vir Covid en die inspuitings. Laat daal die mensgetalle. Nou kom seker klimaat grendeltyd.

Jedi Knight ·

Die maklikste aanpassing is tog sekerlik net om minder kinders te kry. Te veel mense heg te veel waarde aan n nageslag. “Either way” ek is aan die anderkant van 50, so dit klink nie na n “my” probleem nie. En aangesien ek genadiglik nie kinders het nie, pla dit my nog minder.

Elinette ·

Dieselfde hier. Ek is 50+, het nie kinders nie (dankie tog!) en ek glo dat dié probleem darem nie in my leeftyd sal gebeur nie.

Logies ·

Triljoene dollars word belowe om die probleem op te los. Modellering wys egter dat met die huidige oplossings slegs .001C verbetering gesien sal word oor die volgende dekade, dus geld in die toilet. Ver beter oplossing sou wees om die triljoene te spandeer aan opheffing en aanpassing van die mensdom, wat oor die lang duur ver beter gevolge sal hê. Neem in ag dat: groenhuisgasse plantegroei bevoordeel, dus beter oeste. Hoë r temperatuur lei tot baie minder lewensverlies agv. koue toestande, wat by verre meer lewens eis as warm toestande. Brande wêreldwyd het drasties afgeneem oor die laaste eeu agv beter bestuurspraktyke. So is daar baie meer data wat gerieflikheidshalwe verswyg word om die katastrofe-leuen te verdoesel. Kry gerus Bjorn Lomborg se boek “False Alarm”, wat nie klimaatverandering ontken nie, maar werklike feite weergee, met realistiese oplossings.

Wicus ·

Ongeag wat almal dink, my waarneming wys tog ‘n geleidelike verandering. Ons het nie meer behoorlike winters nie, ja, daar was so twee weke koue, maar ek is redelik “getan”, en, die jaar het ons nie eers lente gehad nie, dit was “winter”, toe somer. Ons Wilgerbome en my Krismisroos het al in Julie gebot. My waarneming dui ‘n duidelike klimaatsverandering aan, ons vat naweke die langpad hier van 4:00 af, vro-er jare was jy behoorlik gepantser, deesdae nie meer so erg nie, ja, dis wel soms koud. As kind was ek gewoond aan dik yslae op ons suipkrippe (ek moes die ys gaan breek), dis selde dat ek deesdae so-iets sien.

Dalk is die mens nie die grootste oorsaak nie, maar tog ‘n bydraer, die laaste strooitjie. Ons mag dalk die feite afmaak as versinsels, maar ek sal graag die gesprek oor 5 jaar wil volg, dis nou as ons nog almal hier is.

Bevolkingsaanwas, dis nou ‘n ander storie, vir my lyk dit of die verkeerde mense aanwas. Tog het ons ook aanwas nodig anders beteken jou pensioenfon

Elinette ·

Wicus, kom kuier so bietjie hier in Worcester. Veral ná die komende naweek, dan gaan jy uitvind wat koue regtig is. Ja, ek weet, dié dorp is nie die koudste in die land nie, maar as daai kapok eers so daar op Matroosberg lê ………… dan knikker dié ou tannie se knieë van die koud kry en haar tande kletter in haar mond ….

Jack ·

Die vraag is nie of daar klimaatsverandering is of nie. Klimaat is in elk geval nie konstant nie, ons kry dreër en natter jare, koer en warmer jare ens nog oor al die eeue heen. Die groot vraag is of dit deur menslike optrede veroorsaak word. En as mens die meerderheid kan kry om te aanvaar dat die mens die oorsaak daarvan is endie mense dan goed skrik op die lyf jaag oor die moontlike gevolge, dan het regerings ‘n magtige hefboom om menslike gedrag te manipuleer. GROOT GROOT geld kan gemaak word.
Die veldtog teen beweerde mensegemaak klimaatsverandering het nie eintlik meer iets te make met die ondewerp self nie, maar ‘n industrie geword wat aan duisende mense ‘n inkomste verskaf ten koste van honderde duisende mense.

Die klimaat ” scaremongers” kan nie eers voorspel wanneer ons eerste lente reëns gaan val nie maar hulle weet tot op die millimeter hoeveel die seevlak in 2050 gaan styg as ons nie nou almal dadelik oorslaan na perdekarre nie. Belaglik.

Logies ·

Onthou die VN het al in 1972 verkondig dat die wêreld binne ‘n dekade op ‘n “katastrofe” afstuur. Dis nou 40 jaar later, en raai-raai, die omstandighede en gemiddelde lewensverwagting van die mensdom het in die tyd drasties verbeter. Armoede het drasties afgeneem. As ek reg onthou het gemiddelde inkomste per kapita met 400% toegeneem. Dus is mense ver meer bemagtig om omstandighede te bowe te kom.

Dink mooi of die baba maak vir gogga bang dalkies groot geld in paar spelers se sakke beteken; hulle wil alte graag hê die wêreld moet uit paniek geld in hul “oplossings” stort. John Kerry, George Soros, Klaus Bauer, en seker nog ‘n handvol ander. Krap maar bietjie dieper.

En ja, hul misbruik met ‘n smile dommetjies soos Klein Greta om hul leuens vleuels te gee. Die groter dommes is die wat dit glo…

Elinette ·

“’n Aspek wat in die verslag aandag kry, is die rol wat die vinnige toename in die wêreldbevolking speel. Kortpad gevat kom dit daarop neer dat die aarde nie sy huidige bevolking kan dra nie” word daar gesê. Dit is beslis so – daar is HOPELOOS te veel mense op aarde, veral as mens kyk na die bevolkingsgetalle van lande soos Indië en sekere Afrika-lande. Daarom – en moet my nie verkwalik as ek dit sê nie; ek sê wat ek sê met alle respek en in empatie met mense wat reeds die virus opgedoen het of dierbares aan dit afgestaan het – is SARS-CoV-2 dalk ‘n bedekte seën. So elke 100 – 120 jaar is dit nodig dat daar ‘n biologiese eliminasie-proses kom, anders is totale hongersnood, ellende ens. ons ALMAL se voorland.

Marthinus W ·

Wladimir Poetin het die afgelope maand in ‘n paar toesprake na aardverwarming verwys; die smelt van die permafrost, veral, is ‘n bekommernis. Op die keersy van die munt: professor Artjom Loekin van die universiteit in Wladiwostok sien hierin ‘n geleentheid. Soos wat die temperatuur in Siberie styg, sal dit meer geskik vir menslike gebruik word, wat beteken dat hulle immigrante daarheen kan lok. Soos wat gebiede te warm word vir menslike werk, kan die “gesmelte” gebiede beskikbaar word vir menslike werk. Kanada en Rusland sal elkeen iets soos 4,2 miljoen vierkante kilometer nuwe grond beskikbaar kan stel.

Vrijburger ·

Ne, kom die ou Afrikaanse spreukwoord weer by my op: “Skoenmaker hou jou by jou lees”. (In Engels ‘Stay in you lane’)

annie ·

Eerstens moet veranderinge in die klimaat oor duisende jare bestudeer word vir enige feite, geneem met ‘n klontjie suiker. Oor een- of tweeduisend jaar terug bekyk was daar al vreemde gebeure op die aarde tov die klimaat: erge droogtes vir jare en vulkaniese uitbarstings wat die lug so besoedel het dat ‘n feitlik ystydperk gevolg het met erger toestande as nou. Waar kom die son in die storie met sy eie fases en bowe alles waar sou die Hand van Bo se Regte en Planne in ons die magtige slim mensdom se teorieë inpas? Maar ons staan op aandag vir Greta (se pa) et al in Swede se ateïstiese towertwak.

Rupert Ashford ·

‘n Paar punte. Eerstens dink ek nie Trump is regtig ‘n “denier” nie, maar hy is wel skepties oor hoe hierdie aangepak word. Tans word van die Westerse lande verwag om basies hulle eie industriee te vernietig en alle vervaardigingsindustrie poste te “offshore” na plekke soos China en Indie deur hierdie “groen” maatreels al strenger toe te pas op plaaslike vlak (want hernubare energie is en bly duurder as fossielbrandstowwe en is ook baie minder doeltreffend as die speelveld regtig gelyk is). Dit terwyl China en Indie basies carte blanche gegee is tot ten minste 2030 in terme van hulle koolstofdioksied vrystellings en daar ook geen waarborge is dat veral China hulle enigsins gaan steur daaraan om dan die maatreels te begin toepas nie. Op grond hiervan het hy die VSA onttrek. Westerlinge, ekstremiste en joernaliste reken blykbaar dit is goed om die probleem net te verplaas na “daar ver” en dan het hulle hulle deel gedoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.