Verslag oor ‘n DA-kongres

'n Kieser van Mitchellsplein in Kaapstad wys haar ondersteuning aan die DA

Hierdie ruimte is nie bedoel vir politieke propaganda nie. Maar verskoon my dié enkele keer as ek iets vertel oor ‘n DA-kongres – met name die afgelope Saterdag (21 April) s’n in Potchefstroom, waar die Demokratiese Alliansie van Noordwes byeen gekom het.

Miskien net eers iets persoonliks: ek wanhoop dikwels aan hierdie land se toekoms, as raadslid beleef ek die onbeholpenheid en onbevoegdheid van ‘n ANC-administrasie van naderby. Ek ken al die foute en probleme. En laasweek moes ek R2 000 opdok vir ‘n band wat in die slag gebly het omdat die Vrystaatse paaiedepartement nie slaggate regmaak nie.

Maar omdat ek nie net wil kla nie, is ek deel van die Solidariteit-beweging. Dit maak my opgewonde om die vooruitgang en dryfkrag te sien van Solidariteit en al sy inisiatiewe. As Afrikaner is ek voluit deel van hierdie selfhelpaksie.

Op ‘n ander vlak gooi ek my gewig in by die DA. Daar is geen teenstrydigheid nie. Ek is immers ook lidmaat van ‘n kerk, dra as rugby-ondersteuner ‘n T-hemp van die Haaie en koop by ‘n winkel wat maandeliks iets aan my teruggee omdat ek hul kaart in my beursie het.

So het ek dan Saterdag my DA-hoed opgehad (darem net by wyse van spreke). As DA-lid van ‘n stadsraad was ek ‘n stemgeregtigde afgevaardigde by die kongres waar ‘n leierskapstryd op die spits gedryf is. Ek was meer as tien jaar laas op ‘n DA-kongres, in 1999, as ek reg onthou. In daardie stadium het ek as voorsitter waargeneem. Daar was geen strukture nie en almal wat wou kom, was welkom. Teenwoordiges het by tafels in die skoolsaal gesit. Almal wit. Saterdag se konferensie was totaal anders. Daar was, as ek reg gekyk het, meer afgevaardigdes van kleur as blankes. Daar is gesing en ‘n bietjie gedans. Dit was raserig! Die saal was volgepak.

Helen Zille het haar deel bygedra deur voluit (in ‘n swart taal) te sing en het toe ‘n briljante toespraak (in Afrikaans en Engels) gelewer waarin sy onder meer ‘n tragiese verhaal uit Noordwes vertel het van kinders wat letterlik van die dors omgekom het. Sy het ons herinner aan die taak voorhande. Om te sorg vir die armes en die magteloses. Oor groei is ons bly, maar daar’s nie plek vir selftevredenheid nie; daar’s werk wat wag. Die (swart) nasionale woordvoerder van die party het ‘n netjiese toespraak gehou, onderbreek deur sang wat hy ingesit het en wat die DA’s wat dit ken dadelik by ingeval het. (Ons wittes sal maar moet leer…) Toe die verkiesings kom, is dit met sorg (ook in Tswana) verduidelik en ordelik afgehandel.

Die aankondiging van die wenners was iets om te beleef. Eers is die nuwe (swart) voorsitter aangekondig; toe die (gekleurde) onderleier. Dieselfde uitbundige gejuig het die aankondiging begroet dat (die wit) Chris Hattingh herkies is as leier.

Die enigste relevansie van kleur was dat dit duidelik geen rol gespeel het nie.

Waar kleur so ‘n onnodige, verdelende plek in ‘n ANC-oorheerde openbare lewe speel, was dit roerend om te sien dit hoef nie so te wees nie. Dit moet nie so wees nie. Dit kan anders.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Mike ·

Johannes hoe is jy deel van solidariteit se selfhelp aksie, waar pas jy in by die aksie? Johannes ek dink nie dit is verskoonbaar om Maroela Media as propoganda blad vir die DA te gebruik nie. As Solidariteit daarmee akkoord gaan sal ek eerder dan nie weer die blad besoek nie. Die DA moet verafrikaniseer om die SA bevolking te weerspieel. Gaan dit dan nog dieselfde party wees oor vyf jaar? Daar word alreeds gesoebat dat Helen Zille tog maar moet aanbly en die redes is eintlik voor die hand liggend.

Die blankes wat nou die DA bestuur kan onmoontlik aanbly in die party as hulle eie beleid RA en BEE is. Wat bly dan oor, die DA sal moet aanpas by die meerderheid se norme en waardes, by die meerderheidsbesluit waar dit natuurlik is dat bevolkingsgroepe hulle eie mense aangestel wil he. Selfbeskikking wat deur Solidariteit ondersteun word en waarvan jy deel is soos jy sê, is nie deel van die DA se beleid nie, hulle verwerp selfbeskikking, hoe bring jy die kloutjie by die oor?

Die DA is nie so onskuldig soos hulle wil voorgee nie en die Midvaal korrupsie skandaal is nog onopgelos. Kom ons misbruik nie Maroela Media om sekere politieke partye direk te bevorder nie want dit sal die verdeeldheid in ons volksgeledere net verder aanhelp.

Quintin Diederichs ·

Ja-nee kyk Michael… ek dink ook nie dat Solidariteit se media inisiatief die plek is vir party politiek nie. Hierdie artikel is ‘n goedkoop stukkie DA propaganda deur ‘n man wat duidelik bewys dat mens, bo en behalwe ordentlike diefwering, ook ‘n gesplete persoonlikheid nodig het om in die Nuwe Suid-Afrika te oorleef :)

Piet le Roux ·

Mike, die keuse vir die plasing was myne – wel wetende dat die artikel duidelik vir die DA voorspraak maak. Daar is baie ondersteuners van die Solidariteit-beweging wat ook die DA ondersteun en in hierdie sin is dit ‘n baie sinvolle oefening om te kyk na die betekenis van hierdie situasie en die veronderstellings wat dit voorafgaan.

Tot dusver het rolspelers uit beide die DA en die VF+ op Maroela kommentaar gelewer.

Hierdie is ‘n gulde geleentheid om die komplikasies, wat jy (Mike) asook Quintin sien, uit te spel – en as julle onversoenbaarheid sien dit te motiveer.

Indien jy (of enige ander leser) sou wou, stuur gerus vir my ‘n repliek, wat op die kwessie ter sprake ingaan, deur na [email protected].

Quintin Diederichs ·

Piet, daar is ‘n hengse verskil tussen ‘n objektiewe verslag wat handel oor ‘n DA kongres (waarmee niemand ‘n probleem sou he nie) en ‘n blatante DA propaganda oefening, of soos prof. Dup eerder sou se: maneuvreringsmodel…

Solidariteit se ledetal is Afrikaner-dominant en laat daar geen twyfel wees nie – julle doen wonderlike dinge vir Afrikaners.

Afrikaners is ‘n minderheid binne die DA. Hierdie party doen net mooi niks vir die behoud en die bemagtiging van die Afrikanerdom nie.

‘n Eenvoudige voorbeeld wat die onversoenbaarheid tussen Solidariteit en die DA beklemtoon: Soli se burgerregte beweging stry teen straatnaamverandering wat deur o.a. die DA voorgestaan word. Hoe nou?? Wat van rasstellende aksie? Wat van verengelsing van tradisioneel Afrikaanse skole en universiteite? Wat van selfbeskikking? Die lys van voorbeelde wat die onversoenbaarheid tussen die ideale van die Solidariteit-beweging en die DA beklemtoon is nie veel korter as wat Soli en die ANC s’n sou wees nie.

Dan kom die ouens met stellings soos “80% van alle Afrikaners stem DA” terwyl ons almal goed weet dat as 50% van alle Afrikaners bo die ouderdom van 18 enigsins gaan stem, dit ‘n optimistiese skatting sal wees.

Ek is nie ‘n lid van die VF+ nie. Ek glo dat hierdie party ook nie toegelaat moet word om propaganda te maak op ‘n forum wat veronderstel is om neutraal te wees nie. Dit saai net tweespalt.

Nietemin, julle huis – julle reels!

Piet le Roux ·

Forums is nie neutraal nie, ook nie Die Groot Debat nie – sien ons redaksionele beleid. As die forum neutraal was sou ons juis enigiets moes toelaat.

Gewone partypolitieke bemarking is nie op Die Groot Debat welkom nie. Prof. Froneman se skrywe is wél welkom; nie omdat dit voorspraak vir die DA maak nie, maar eerder ‘n waardevolle aanknopingspunt bied – oor die versoenbaarheid van partypolitieke en buitepartypolitieke betrokkenheid – wat ons lesers duidelik reeds relevant vind en aangryp.

Mike ·

Piet om dit nou ‘n “waardevolle aanknopingspunt” te noem is bloot moedswillig. Daar is volgens my nie veel verskil tussen voorspraak maak en bekmarking nie ek dink dit is een en dieselfde. Die afrikaner stem DA bloot uit vrees dat die ANC die grondwet gaan verander wat hulle in elk geval gaan doen. Die DA volg ‘n bangmaak taktiek om blanke steun te werf.

Hoe versoen jy Solidariteit se “eie instellings” beleid met die DA se “open society” beleid? Wie gaan aan die einde van die dag weer soos met die ou NP ontnugter wees? Wie lieg vir wie binne Solidariteit en die DA? Dit is vrae wat niemand wil antwoord nie want dit mag dalk hulle beursies raak aan die einde van die dag.

Ek vra vir jou Piet hoekom moet die afrikaner ‘n organisasie betaal vir sy alledaagse bestaan en burgerregte, dit wat die staat hom regtens moet verskaf? Gaan dit dalk hier om hou die afrikaner binne die DA/ANC “melting pot” want dit verskaf werk aan die wat hom bangmaak en die wat hom wil red?

Daar is net een permanente oplossing om te ontkom aan die blywende konflik tussen die onopgevoede swart massas wat SA daagliks binnestroom, en dit is selfbeskikking. Leiersposisies binne die DA is nie permanent nie en ook nie net vir die blanke minderheid binne die party nie.

As die DA sy norme en waardes oorboord gooi soos wat hy alreeds begin doen om aan te pas by sy meerderheid lede waarnatoe hardloop julle dan Piet? Oorsee soos wat meeste NP ondersteuners gedoen het na 1994 om te ontkom aan hulle maaksel?

Piet le Roux ·

Jy neem nou sekere dinge aan, Mike, in plaas van om die sake ter tafel te hanteer.

Jy skryf: “As die DA sy norme en waardes oorboord gooi soos wat hy alreeds begin doen om aan te pas by sy meerderheid lede waarnatoe hardloop julle dan Piet?” Dit, terwyl ek nêrens my steun vir die DA uitspreek nie; en dit ook nie ter sake is nie – terwyl ek jou en Quintin se kommentaar, in soverre dit repliek lewer op prof. Froneman se standpunte, juis verwelkom.

Louis du Plessis ·

Johannes ~
 
VEELVOUDIGE IDENTITEITE
 
1  Jy skets die opwindende Noordweskongres van die DA en meld jou band met Solidariteit.  Mooi!  Ek is self ‘n kaartlid van die DA en van ander instellings soos AfriForum en die Oraniabeweging.  Ek dra egter ongelukkig nie ‘n rugbyhemp van die Haaie soos jy nie, maar van die Stormers.  Vergewe my maar.  Onthou ek het op ‘n druiweplaas groot geword.
 
2  In Kagiso en Munsieville moes ek inderdaad léér om te toi-toi.  En vir ons twee wat mekaar in bevelsinformasiekringe raakgeloop het, sal jy besef:  dit was nie altyd maklik nie.  Die opruiende swart liedere het egter gouer gegaan, want ek vang hulle op my sel op en luister oor en oor.  Ek moet bely:  ek sal liewer Die lied van jong Suid-Afrika sing!  Maar hoe gaan ons dit vir Thabo leer?
 
3  In die partypolitiek móét ons die DA, waarvoor meer as tagtig persent Afrikaners tans stem, saam met uiteenlopende ander DA-lede versterk.  Uit eenheid krag!  Dis inderdaad tot groter voordeel van ons selfuitlewing, ook as Afrikaners, om ‘n doeltreffende DA aan bewind te hê, soos in die Wes-Kaap, as ‘n korrupte ANC landwyd.
 
4  Jou keuses van veeldimensionaliteit – vir uiteenlopende tale en kulture – weerspieël ‘n hoë vlak van sofistikasie en opvoeding.  Om veldslae in uiteenlopende oorlogsteaters te wen, moet ons inderdaad verskillende dienswapens, taktiek en maneuvreringsmodelle integreer tot buigsame veggroepe.  Soos genl Louis Botha gedoen het in sy skitterende oorwinning met die Slag van Colenso op 13 tot 15 Desember 1899.  Dis die krag van veelvoudige identiteite. 
 
5  Dankie vir ‘n besielende verslag.

Quintin Diederichs ·

M-m-m-m-Móét ek vir die DA stem?

Wat gaan jy aan my doen as ek nie wil nie?

Dis nou vir jou ‘n uiters demokratiese stelling deur ‘n lid van die DEMOKRATIESE Alliansie. O wee…

Mike ·

Louis du Plessis
Besielende woorde inderdaad maar in die praktyk nutteloos. Meer as tagtig persent van die afrikaner het ook voor 1994 vir die NP/DA gestem en vandag sit na raming meer as ‘n miljoen in die buiteland, weggehardloop vir hulle eie maaksel. ‘n Swart DA leier in die toekoms lyk nie baie rooskleurig nie as jy na die gesoebat aan Helen Zille luister om tog net nog ‘n rukkie aan te bly.

Om jou as afrikaner uit te leef in ‘n wereld vol vreemdelinge sommige met haat in hul harte sal in die toekoms nog moeilikker raak. Dan sal jou keuse van veeldimensionaliteit vir vele tale en kulture jou niks help nie want die massas sal jou kennis ignoreer en jou hulpkrete smoor. Die beste wapen om die aanval van die hensoppers en die joiners nou af te weer is met selfbeskikking. Van veelvoudige identiteite se suksesse kan ons sommer lees in die Skewe Beeld van ‘n paar dae gelede. “SANW kan SA nie beskerm”

Quintin Diederichs ·

Prof. Froneman! Dit lyk vir my dat julle ouens by die DA iets wonderliks aan die gang het daar in Potch. Seriaaas!!

Ek wonder maar net… wat sou gebeur het as u by die vergadering per ongeluk u Afrikaner-hoed opgesit het i.p.v. u DA-hoed en spontaan die 4de verse van Die Stem begin sing het. Sou mev. Zille, die voorsitter, onderleier en nasionale woordvoerder daarvan hou – veral waar u sou sing: “op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou, skenk ook ons die krag o Here, om te handhaaf en te hou” en “dat die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly – knegte van die Allerhoogste, teen die hele wereld VRY”?

Soos u self erken, die Afrikaners by die DA sal maar die lirieke van die ander kulture se liedere moet begin leer want hulle gaan beslis nie bv. FAK liedjies saam met u begin sing nie.

Oor een ding is ek wel met u eens prof.: kleur speel geen rol nie. Maar wat van kultuur en geloof? Ek is, nes u, ‘n Christen Afrikaner en sien geensins dat die DA ons geloof en kultuur bemagtig nie… die teendeel is immers waar. In jul poging om meer swart stemme te lok kan julle nie bybly om die erfenis wat ons voorvaders vir ons nagelaat het te verkwis nie (straatname, skole, universiteite ens.).

Die DA het so min plek vir ‘n Afrikaner wat sy geloof en kultuur wil bemagtig en sy vryheid wil herstel as wat die ANC vir hom het – hoekom sal ek dan vir die DA stem as julle in praktyk net ‘n afgewaterde en bietjie witter weergawe van die ANC is?

Gerhard Kotze ·

Quintin en Mike

Ek stem staam aangaande die bogenoemde.

Quintin, dit wil egter lyk of DA-stemmers n oorverteenwoordige faktor is as lede van Solidariteit indien die volgende in ag geneem word.

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/So-gaan-Solidariteit-se-lede-stem-20110507

Hoe verduidelik n mens dit teen die agtergrond dat jy van mening is dat net ongeveer 50% Afrikaner DA stem. Die 2 here met die “teenstrydighede” hierbo van die da. Dit was nie reg om die lede se steun uit te blaker nie. Die sal egter selfs meer gekant wees as die ANC teen Orania.

Herman Giliomee, die bekende liberale historikus, skryf ironies genoeg die volgende aangaande die teenstrydigheid van n groot groep Afrikaners:

“In 1883 is n kongres op Richmond gehou om die almagnasie van die bond en die BBV te bekragtigbekragtig………………Die kongres het entoesiasties sy lojaliteit teenoor die Britse ryk betuig. Oom Daantjie van den Heever, hart en siel van die bond in die oostelike distrikte, het hom self as n “vaderlandsliewende Hollandse Afrikaner” bestempel, maar bygevoeg dat hy die persoon wat oneerbiedig teenoor die Britse vlag is in die kop sal skiet.” (Giliomee H. , Die Afrikaners: n Biografie, 2de uitgawe, Tafelberg 2004)

Quintin Diederichs ·

Gerhard – ek het gese dat AS soveel as 50% van alle Afrikaners bo die ouderdom van 18 gaan stem, dit ‘n optimistiese skatting sal wees. Uiters baie Afrikaners stem glad nie. M.a.w. dis feitlik foutief om te se dat “meer as 80% van Afrikaners vir die DA stem”.

Dis waarskynlik waar dat 80% van die groep Afrikaners wat gaan stem dan vir die DA stem.

Dus, tussen 40 en 50% van alle Afrikaners (bo die ouderdom van 18) stem vir die DA. Ons sal egter nooit weet wat die presiese persentasie is nie, maar ons kan met sekerheid se dat die DA beslis nie 80% van alle Afrikaners se stemme kry nie (jammer prof. du Plessis, maar dis ‘n feit!).

Jou aanhaling uit Giliomee se boek is baie interessant en beslis van toepassing op ons huidige situasie. Die verskil tussen die Afrikaner identiteit en die Suid-Afrikaanse identiteit is hemelsbreed en groei by die dag verder uitmekaar uit. Ek het reeds gekies – ek is ‘n Afrikaner eerste en dan ‘n Suid-Afrikaanse burger tot ons ons Afrikaner Republiek verklaar… dan is ek niks meer van Suid-Afrika nie – hoeraaa!!!

Gerhard Kotze ·

Jammer: Die twee here is egter reg dat die meeste Afrikaners stoere DA’s is (Al is dit nou net om anti-ANC te wees)

Die bogenoemde aanhalings is vandag netso van toepassing tot n sekere mate. Ek het ook verskillende identiteite maar ek het darem nie n gesplete persoonlikheid nie. Hoe kan n mens DA stem en ook Orania ondersteun?

Quintin, gaan kyk n bietjie weer na my skrywes op jou blog. Veral daardie gedeelte oor die beste van 2 werelde…….

On s kan nie toelaat dat “Queen Victoria se Afrikaners”(aldus Giliomee) of is dit nou “Helen Zille se Afrikaners’? hul nek uitsteek en dinge opvoeter nie. Daar is mense wat n bietjie “voetjie-voetjie” en “oulik
probeer wees. Pasop!

Groete

Gerhard Kotze ·

Die (DA) sal egter selfs meer gekant wees as die ANC teen Orania.

Louis du Plessis ·

Dag Vriende ~
 
WATTER SKIP?
 
1          Terwyl die ANC-skip talle ysberge getref het en op pad is om tot op die yskoue en donker bodem van die oseaan te sink, is daar nog net 63 persent Suid-Afrikaners aan boord.  Die res is verdeel tussen ander partypolitieke reddingsboodjies soos die IVP (4%), die NVP (2%) en Cope (2%) en ‘n klompie houtplanke wat in die donker ronddobber, waaronder die grootste is, almal aansienlike kleiner as 1 persent: die ACDP, APC, Minority Front, PAC en UDM.
 
2          Een reddingsboot word egter al hoe groter, naamlik die DA (24% kiesers).  Al sou ons verkies dat daar net gesonde Afrikanermans en seksie Afrikanermeisies op die boot is, sodat ons ‘n gesellige vaart saam kan aanpak, is daar egter ook lede van talle ander rassegroepe en taalgroepe.  Hulle het almal geswem na ‘n partypolitieke tuiste toe.  Vir nie een is die DA volmaak nie.  Inteendeel!  Maar met die haaivinne wat naderkom en die vriesende golwe waarin almal wat hink, vir seker gaan verdink, is die DA-skip die enigste lig in die duisternis.  Of moet die Afrikanerkiesers hulle wend tot die dobberende afval, wat byna almal met toue aan die ANC vas is en op pad is bodem toe?  Kom by, menere!
 
3          Afrikaners staan gereeld voor komplekse en praktiese keuses en, behalwe diegene wat paniekbevange raak, vind die res hulle pad meesterlik deur elke doolhof.  Dis wat die Solidariteitbeweging ons vandag leer.
 
Met agting
 
 

Mike ·

Louis ek wonder net wat gaan Helen Zille met jou Afrikaner selfhelpinstelling soos wat Flip Buys voorgestel het maak op die skip, of het jy klaar alweer vergeet daarvan? Sy kan jou dalk in die see gooi met selfhelpinstelling en al.

Verbeel jou, jy stap uit jou selfhelpinstelling uit en buite staan massas vreemdes en toi toi oor jou selfhelpinstelling hulle nie ook wil toelaat nie, julle skip gaan nie lank seil nie Louis hy kantel al klaar gevaarlik.

Mike ·

Piet jy het gese dat jy hierdie skrywe van Prof Froneman hier geplaas het as “aanknopingspunt” oor versoenbare politieke betrokkenheid. Wel Prof Froneman is volgens sy skrywe duidelik ‘n DA ondersteuner. As ons sy politieke aspirasies as vertrekpunt kan gebruik kan ek nie sien hoe ons enige waardevolle gesprekvoering kan hou nie, want hy sit op twee stoele. Dit is my bydrae buite die party politiek.

Maar ek het alreeds gevra hoe versoen jy ‘n “eie instellings” beleid met ‘n open “open society” beleid. Kom ons gebruik dit as vertrekpunt vir die Groot Debat. Party politiek sal onafwendbaar hierby betrek moet word anders sal die gesprek geen waardevolle oplossings bied nie.

H J Bester ·

Help my reg as ek die politieke toneel in Suid-Afrika foutief takseer, maar as Namibiër kan ek op hierdie stadium bykans nie ‘n ander uitweg sien as dat die blankes hul gewig agter die DA ingooi nie. Dit bloot omdat dit DA die tans die enigste party in Suid-Afrika is wat die ANC doeltreffend by die stembus kan aandruf. Die Wes-Kaap het reeds bewys dat sukses behaal kan word.

‘n Oorwegend blanke politieke party bestaan lank reeds nie meer in Namibië nie en gooi die blankes hul gewig op alle regeringsvlakke waarvoor verkiesings plaasvind, agter partye in wat hoofsaaklik swart georiënteerd is. In alle partye word die blankes egter verwelkom vanweë hul kennis en vaardighede en speel dan ook ‘n groot rol daarin. Hierdie betrokkenheid en wisselwerking dra dan ook verder daartoe by dat daar ‘n groot verstaan bestaan vir die sieninge en aspirasies van die blankes.

Dis nie raadsaam dat die blankes hulself isoleer van die polieke en maatskaplike toneel nie maar eerder ‘n rol bly speel terwille van ‘n ordelike en voorspoedige voortbestaan.

Mike ·

HJ Bester kom ek help jou reg. Eerstens kan jy nie Namibie en SA vergelyk nie. Dit is so dat die DA die ANC by die stembus kan aandurf maar jy vervang daardeur net die een klomp narre met ‘n ander klomp narre. Jy moet nie net dink aan die huidige nie maar ook die toekoms. Hellen Zille gaan nie die leier van die DA bly nie, ‘n swart leier met swart norme en waardes moet ‘ by haar oorneem. Die DA moet verswart en verafrikaniseer met al die bykomstighede.

Die belangrikste wat jy hier moet verstaan is dat die afrikaner ‘n volk op sy eie is en steeds geregtig is op selfbeskikking, en dat daar toenemend afrikaners is wat dit begin besef. Die DA inteenstelling daarmee gun die afrikaner nie selfbeskikking nie maar wil hom hou in die chaos wat nou SA oorheers. Hiervan is Solidariteit deel want hulle inkomste kom hoofsaaklik uit die afrikaner gemeenskap, sou hulle dus selfbeskikking ondersteun bestaan die moontlikheid dat hulle ‘n groot deel van hulle inkomste kan verbeur.

Solidariteit wys nie sy openlikke steun aan die DA nie maar hou dit uit die openbare oog sou dit dalk negatiewe reaksie uit afrikaner geledere ontlok. So hier en daar word ‘n geldjie in Orania gestort net om die afrikaner wat besluit het genoeg is genoeg te paai. My probleem met die hele debat is waarom ondersteun Solidariteit ‘n party wat nie eie afrikaner instellings of selfbeskikking voorstaan nie en dit eerder sien as rassisties, maar terselfdertyd afrikaners aanmoedig om “eie instellings” te skep.

Ek weet nie of jy enigsins bewus is van die bestaan van Orania nie. Wel net kortliks, dit word as afrikaner gebied ontwikkel omrede die afrikaner nie belangstel in deelname van ‘n politieke bestel waarin hy geen politieke besluit oor sy toekoms kan neem nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.