Versoening: Hoe ons misluk het

Toekomsberaad-Ernst-Roets

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Reint Dykema.

Net soos demokrasie en rassisme, is die woord “versoening” in Suid-Afrika tot ’n gonswoord gereduseer. Hoewel dit soms met opregte bedoelings gebruik word, het die regerende ANC in Suid-Afrika daarin geslaag om sy eie (politieke) inhoud aan die konsep te gee. Daarom is dit ook ’n gedagte wat nie meer opwinding skep onder dié van ons wat nie die ANC se politieke agenda ondersteun nie.

Hoe versoening moet werk

David Androff, professor in maatskaplike welsyn, het tereg gesê dat die idee van versoening net so gewild is as wat dit onduidelik is. McEvoy en McConnachie wys daarop dat die woord versoening vir baie mense ’n “dirty word” is, juis omdat verskillende individue (of gemeenskappe) verskillend daardeur geraak word. Prof. Sandra Walklate, voorsitter van Eleanor Rathbone se afdeling vir sosiologie, verduidelik dat die term ingewikkeld, veelsydig en multidimensioneel is – ’n konsep wat nie vereenvoudig kan word nie.

Indien ons die woord losmaak van sy politieke bagasie, is daar ’n paar elementêre vertrekpunte wat vermeld moet word. In die eerste plek kan ware versoening nooit in die afwesigheid van ware geregtigheid geskied nie – en ek gebruik die woord “ware” omdat die konsep hier gestroop moet word van hierdie of daardie organisasie se definisie van geregtigheid. In die tweede plek kan versoening nie van die waarheid losgemaak word nie. Enige poging om versoening te bevorder sonder om dit op die reine waarheid te baseer, sal kunsmatig wees en uiteindelik verbrokkel.

Suid-Afrika se foute

Suid-Afrika is egter ’n uitstekende gevallestudie vir enige nasie wat versoening tussen gemeenskappe wil bewerkstellig, aangesien Suid-Afrika bykans al die foute in die boek gemaak het.

Die ANC, maar Nelson Mandela in besonder, word oor die wêreld heen geprys vir hulle pleidooi vir versoening gedurende die vroeë 1990’s. Hierdie lofprysing word soms aangevoer asof die ANC en Mandela se pleidooi ten koste van hulleself was. So dwaas was die ANC, wat homself herhaaldelik as ’n meester van politieke strategie bewys het, egter nie. ’n Wekroep vir versoening was strategies in die ANC se belang. Deur vir versoening te pleit, het die ANC in die eerste plek die morele hoë grond gewen en sy politieke aansien en steun oor die wêreld heen versterk. In die tweede plek het die ANC se wekroep dat witmense “vergewe” moet word die wêreld se aandag nog meer op die gruweldade van witmense geplaas, weg van die ANC se eie gruweldade.

Die voorsitter van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK), Desmond Tutu, het self erken dat pogings om versoening in Suid-Afrika te bewerkstellig, klaaglik misluk het. Daar is myns insiens drie redes hiervoor. In die eerste plek is die konsep polities gekleur. Tweedens is dit gebaseer op ’n werklikheidsbeskouing wat so vereenvoudig was dat dit geheel en al van nuanse gestroop is. Derdens is die proses gemanipuleer om bepaalde uitkomste te bevorder, ten koste van die waarheid.

As ons oor versoening in Suid-Afrika praat, behoort ons nie net na die WVK te kyk nie, maar ook na die onderhandelings van 1990 tot 1994 en die politieke beleid wat op die WVK gevolg het. Op elkeen van hierdie terreine was daar probleme. Ek lig enkele voorbeelde uit:

  • Ingevolge die akte van verstandhouding wat tussen FW de Klerk en Mandela gesluit is, is alle politieke gevangenes vrygelaat, ongeag hulle gruweldade. Die ANC het daarop aangedring dat gevangenes wat vir die sogenaamde halssnoermoorde skuldig bevind is, ook politieke gevangenes is en by implikasie die ANC se politieke stryd bevorder het. Die slagoffers is in die proses van geregtigheid gestroop.
  • Tutu, wat as voorsitter van die WVK opgetree het, het homself voor die proses openlik by die ANC en sy filiaal, die United Democratic Front (UDF), geskaar en kon gevolglik nie objektief uitsprake lewer nie.
  • Gedurende die WVK is daar ’n oordrewe fokus geplaas op die foute van almal wat nie deel van die ANC was nie, terwyl die ANC se eie gruweldade ernstig onderspeel is. In ’n gevolgtrekking het die WVK byvoorbeeld verklaar dat die Inkatha-leier, Mangosuthu Buthelezi (die ANC se dekade lange vyand), die grootste oortreder in die aanloop tot 1994 was. Dit, in weerwil van ’n gebrek aan getuienis dat Buthelezi geweld aangehits het en ’n stortvloed van getuienis dat die ANC dit wel gedoen het.
  • Toneelspelery was ook prominent regdeur die proses, met WVK-amptenare wat in trane uitgebars het as ANC-gesindes van hulle pyn vertel het en nie dieselfde emosie getoon het wanneer diegene wat nie in die ANC se goeie boekies was nie, moes getuig. In hierdie verband het die media ook ’n groot rol gespeel. Joernaliste het tydens sekere persone se getuienis in trane uitgebars en in ander gevalle hardop gelag.

Tekens dat ons misluk het

Die versoeningsproses in Suid-Afrika verkry ook beter konteks wanneer die optrede van bepaalde sleutelpersone na afloop van die proses geëvalueer word. Ek lig enkele voorbeelde uit:

  • Na afloop van die proses het die NP se hoofonderhandelaar “teen” die ANC, Roelf Meyer, by die ANC aangesluit.
  • Die ANC se hoofonderhandelaar, Cyril Ramaphosa, het ’n skare ANC-ondersteuners gewaarsku dat die “Boere” sal terugkom as hulle nie voortgaan om vir die ANC te stem nie – klaarblyklik om hulle te onderdruk.
  • Desmond Tutu, wat ’n leidende rol in versoening moes speel, het jare later voorgestel dat witmense meer belasting moet betaal as swartmense, omdat hulle wit is.
  • Thabo Mbeki, wat gedurende die onderhandelings as die ANC se goue seun bestempel is, het later aan ’n biograaf erken dat die ANC gedurende die onderhandelings nie heeltemal eerlik was ten opsigte van sy aspirasies om minderheidsgroepe se regte te beskerm nie.
  • Die ANC het in sy eie beleidsdokumente verklaar dat die oorwinning met die 1994-verkiesing slegs as ’n “beach head” (tydelike oorwinning) beskou kan word en dat die staatsmag wat in die proses verkry is, nou gebruik kan word om die samelewing fundamenteel te verander, ongeag die beloftes wat gedurende die onderhandelings vir ’n nuwe Suid-Afrika gemaak is. Die ANC se getroue alliansievennoot, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP), se definisie van hierdie fundamentele verandering is ’n daadwerklike verskuiwing weg van die vrye mark, na kommunisme.

Dit is dus duidelik dat die wekroep wat daar gedurende die 1990’s vir versoening en nasiebou was, van inhoud gestroop is. Die ANC se pleidooi vir versoening was nog nooit veel meer nie as ’n strategie om sy morele aansien te versterk, sonder om werklik inhoud aan die konsep te heg. Die idee van versoening in Suid-Afrika was nog altyd retories en simbolies, maar hol en betekenisloos.

Die grootste fout: ’n Hiërargie van erkenning

Die Suid-Afrikaanse regering het verder ’n wesenlike fout begaan in sy pogings tot versoening, naamlik deur met ’n hiërargie van erkenning te werk. Oormatige erkenning word tot vandag toe gegee aan slagoffers wat hulle in die ANC se kamp bevind het, terwyl slagoffers wat buite die ANC se kamp was, in die duister gelaat word. Dink maar aan die jaarlikse erkenning van die Boipatong-massamoord, waar ANC-ondersteuners vermoor is, teenoor die regering se absolute stilswye oor die Shell House-massamoord, waar die ANC die moorde gepleeg het. ’n Ander voorbeeld is die ANC se pleidooi dat “aanstootlike” plekname soos Kerkstraat verander moet word, terwyl Amanzimtoti se hoofstraat van Kingsway se naam verander is na Andrew Zondo-straat (Zondo het in 1985 ’n bom in ’n winkelsentrum in Amanzimtoti geplant en só vyf onskuldige mense vermoor).

Versoening word nie bewerkstellig deur ’n paar towerwoorde by ’n towerfunksie te sê nie. Dit is ook nie ’n simboliese gebeurtenis soos die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 wat versoening bewerkstellig nie. As dit nie met opregte bedoelings en ’n gebalanseerde proses bevorder word nie, of as ingewikkelde werklikhede tot sensasionele kortverhaaltjies gereduseer word, is die proses gedoem om te misluk.

Versoening het nog nie in Suid-Afrika plaasgevind nie en die skuld kan slegs geplaas word op diegene wat vir die proses verantwoordelik was.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann Marx ·

My Pa het altyd gesê: “Ontnugtering…is die wreedste leermeester!”

By die Johannesburg se Dieretuin is daar ‘n uitstalling van ‘n Leeu en ‘n Lammetjie in dieselfde hok, met die opskrif: “ANC Versoening”. Toe die mense die kurator vra HOE hulle dit regkry om so ‘n uitstalling te hê was sy antwoord “Maklik, ons gooi net elke oggend ‘n vars lammetjie in die hok!!”

Sarie ·

Goeie uiteensetting van die gebeure. Wat ook nog bygevoeg kan word is soos Dr Anthea Jeffrey aangedui het dat baie van die getuies by die WVK hoorse getuies was wat nie eersterangse ervarings van die apartheidsgebeure gehad het nie.

Peet J ·

Aangesien versoening die afgelope 25 jaar nie kon realiseer nie is dit werklik nog van belang om daarop te konsentreer. Is dit nie beter om te strewe na beter verhoudings tussen die Afrikaner en die swartes nie. Indien die Afrikaner eers oor grond beskik wat aan hom toegesê is dan bestaan die moontlikheid dat hy tweeledig sal kan voortbestaan.

Millie ·

Ek sê nog al die jare dat hulle Versoeningsdag na Verdraagsaamheidsdag toe moet verander want hoe kan jy met iemand versoen as jy hom nie eens kan verdra nie? Verdraagsaamheid help dat jy iemand anders eers leer ken. en dan dalk, kan versoening plaasvind

DMC de Koker ·

Versoeningsdag is in elk geval geloftedag. En vir baie van ons sal dit altyd dit bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.