Versoening onder Afrikaanssprekendes verg bydraes

‘n Deurlopende tema in my aktiwiteite is die strewe na versoening in die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap. Ons het om soveel redes (politiek, ekonomies, kultureel) uit mekaar uit beweeg en dit is tyd om te probeer om die gapings tussen ons te oorbrug. In hierdie verband speel die strewes en aktiwiteite van die Afrikaanse Taalraad (ATR), waarvan ek die huidige voorsitter is, ’n kardinale rol omdat die ATR ten doel het om in die uiteenlopende organisatoriese opset van die Afrikaanse gemeenskap die organisasies by mekaar uit te bring en wel deur middel van die koördinering van die aktiwiteite van die betrokke Afrikaanse organisasies. Op hierdie wyse wil ons seker maak dat onnodige oorvleueling en duplisering uitgeskakel word en dat die (weliswaar beperkte) beskikbare fondse in die Afrikaanse gemeenskap op die beste moontlike wyse gebruik word tot almal se voordeel.

Die Afrikaanse Taalraad

Ten einde vas te stel wie doen wat in die georganiseerde Afrikaanse gemeenskapslewe het die ATR reeds in 2004 ’n taaloudit (oftewel ’n bestekopname) gedoen om die nodige inligting te rig sodat dit ons aksies kan rig.  Hieruit het ons reeds geleer uit hoevele hoeke Afrikaans benader word deur haar sprekers. Dit is aan die een kant ’n aanduiding van hoe goed ons georganiseerd is, maar ook hoe ver ons nog uitmekaar is omdat daar min aktiewe organisasies is wat hulle toespits op byvoorbeeld die bruin Afrikaanse gemeenskap. Ons het dus nog werk voor om seker te maak dat dit wat ons vir Afrikaans beskikbaar het, so wyd as moontlik gedeel word.

Hoe doen ons dit? Gewoon deur te luister en te help daar waar die nood die grootste is. So dikwels word ons Afrikaanse aktiwiteit gerig deur mense van ons eie ras en ons deel nie graag oor die ras- en kultuurgrense nie. Ons sal hierdie grense in die belang van Afrikaans moet oorbrug. Ek het onlangs opgetree op ’n klein dorpie in die Noordwes-Provinsie en die aanwesiges uitgedaag om betrokke te raak in hulle plaaslike gemeenskap deur byvoorbeeld fondse vir geletterdheidsbevordering in te samel en beurse beskikbaar te stel vir enige Afrikaanssprekende kind wat graag wil studeer. Of dit sal realiseer, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat ons ons gemaksgrense sal moet oorsteek en in Afrikaans moet uitreik na die volle Afrikaanse gemeenskap en dan met hulle ons kundigheid en waar nodig ons fondse moet deel. Op hierdie wyse breek ons dalk ’n spiraal van armoede en gee ons hoop op die toekoms.

Die ATR het in Maart vanjaar ’n besoek afgelê aan Genadendal in die Overberg en daar het die ouers ons gevra om seker te maak dat hulle Afrikaanssprekende kinders ook billike kanse kry om te kan leer sodat hulle ’n nuwe toekoms kan skep. Die ATR is tans met ’n regsproses hieroor besig omdat ons glo van die beursskemas diskrimineer teen Afrikaanse kinders. Ons hoop op ’n positiewe uitkoms van die regsproses. As ons suksesvol is, gee ons hierdeur hoop aan ’n deel van ons voorheen uitgesluite Afrikaanse gemeenskap.

Dit is wat ek doen deur my betrokkenheid by die ATR en ander Afrikaanse organisasies. Wat doen jy om sake te help regstel? ’n Mens kán pannekoek of koek verkoop vir Afrikaans, jy kán dans vir Afrikaans – daar is ’n magdom moontlikhede om fondse in te samel. Daarmee kan die ATR die nood in die Afrikaanse gemeenskap help verlig. Ons hoor graag van jou en jou unieke bydrae.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Anoniem ·

Hoe verskil die bogenoemde aktiwiteite van die ATR van dit wat die ATKV en die FAK reeds doen? 

Kom dit nie juis neer op duplisering nie?

Dalk kan die ATR meer daarop fokus om ‘n skakel tussen die ATKV (wat namens die Bruin Afrikaanse gemeenskap optree), die FAK (wat namens Afrikaners optree) en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe te wees en om bietjie lewe in hierdie grondwetlike kommissie te blaas?

Arnoldus ·

Die ATR speel na my mening ‘n belangrike simboliese rol om Afrikaanssprekendes oor alle grense heen met mekaar te laat praat- in Afrikaans! Terselfdertyd moet nie te veel prakties van die ATR verwag word nie, want dis nie die liggaam se rol nie, en is nie daarvoor gerat nie. Die liggaam bestaan bestaan hoofsaaklik uit akacemici en soortgelyke groepe wat nie eerstens op praktiese projekte gerig is nie. Hierdie is nie kritiek nie, dis ‘n noodsaaklike rol om die AFRIKAANSE GESPREK AAN DIE GANG TE HOU! Daar is in die verlede te min met mekaar gepraat.

Maar ek het ‘n paar bekommernisse oor die ATR. Die eerste is dat hulle bloot op taalregte fokus, en nie op die regte van taalgroepe nie. Daar is ‘n reuse kwalitatiewe verskil tussen die twee. Taalkundiges kan ‘n groot rol in die eerste deel speel, maar by die tweede belangriker deel is meer uitvoerende mense nodig.

My tweede bekommernis is wat (as ek dit reg herhaal) Prof Giliomee gese het, naamlik dat dit nog te vroeg is om van ‘n Afrikaanse Taalgemeenskap te praat, oa omdat ons die bindingskrag van Taal oorskat het. Miskien kan Maroela hom vra om dit beter te verduidelik.

Laastens maak ons land se Grondwet voorsiening vir geloofs-, taal en kultuurgroepe, en is Ebert miskien reg met sy voorstel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.