Verstaan ons die prys van onteiening sonder vergoeding?

(Argieffoto: pixabay)

Daar is steeds ’n groot mate van onkunde onder Suid-Afrikaners oor wat die onteieningswetsontwerp behels en die impak daarvan, veral op die langtermyn.

Twee prosesse het gelyktydig plaasgevind, naamlik waar die ad hoc-komitee in die parlement voorstelle moes maak oor die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet ten einde voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding. Dan was daar ook die proses om ’n nuwe onteieningswet daar te stel waarbinne die voorstel ook voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding.

Ofskoon die publiek nie meer aan die portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur kommentaar kan lewer oor die onteieningswet of aan die ad hoc-komitee rakende Artikel 25 oor moontlike wysigings van die Grondwet nie, moet alle Suid-Afrikaners steeds oor die gevolge van die wysigings aan hierdie artikel bewus wees.

Inwoners van die land moet weet dit is nie net ’n landbouprobleem nie; dit is ’n Suid-Afrika-probleem.

Bates word nie tot grond alleen beperk nie. Om dié rede mag niemand in Suid-Afrika gerus wees met die voorgestelde veranderinge nie. Dit gaan hier oor die beginsel van privaatbesitreg wat in sy wese aangetas word. Die privaatsektor moet groei. Ons land het dit dringend vir ekonomiese groei, vir werkskepping en om armoede te kan aanspreek nodig.

Buitelandse beleggings, wat van kardinale belang is vir ekonomiese groei, gaan nog moeiliker bekombaar wees. Wie gaan in ’n land belê waar dit in die Grondwet staan dat die regering bates kan vat sonder om daarvoor te betaal?

Vir TLU SA is dit van groot belang hoe om by ekonomiese groei uit te kom. Suid-Afrika se sosio-ekonomiese probleme is dringend en groot en as ons nie by ekonomiese groei uitkom nie, sal ons dit nie kan oplos nie.

As ons oor ekonomiese groei praat, verwys ons na verskeie faktore. Daar moet vertroue wees. Vertroue in die besigheid en in die staatsomgewing. Werkers moet opgelei wees. Die gebruik van tegnologie moet omarm word. Dan is daar privaatbesitreg, lae belasting- en inflasiekoerse, behoorlike kompetisie in die ekonomie, ’n deursigtige fiskale en monetêre beleid, ’n gees van besparing en gemotiveerde werkers.

Dan is daar die belangrikheid van vaste beleggings. Sonder genoegsame kapitaal kan nie een van die nodige aspekte aangespreek word nie. Kredietwaardigheid in die internasionale arena is uiters belangrik en hier is Suid-Afrika reeds in ʼn slegte posisie met afgradering. Die daarstel van ’n behoorlike infrastruktuur, goeie kommunikasie, lae rentekoers en die vrye mark maak ook deel uit van dié prentjie.

In Suid-Afrika is die groot uitdaging dat die regering vertroue afbreek deur verkeerde dinge te doen.

Die regering het twee groot take. Dit moet die veiligheid van die land se inwoners waarborg en ’n omgewing skep waarbinne die ekonomie kan gedy. Ongelukkig is nie een van dié twee aspekte tans in Suid-Afrika van toepassing nie.

Suid-Afrika posisioneer homself tans op die Afrika-mark van mislukkings. Ons sal in die annale opgeteken word as net nóg ’n mislukte Afrika-staat met grootskaalse armoede en werkloosheid.

Mense het nodig om vir iets te leef.

Mense wil meer leer, meer weet, meer doen en dan begin ons by die voorvereistes van ekonomiese groei. Ons praat van gemotiveerde, opgeleide werkers wat tegnologie benut. Om dit egter reg te kry, moet ons werkers in diens neem, maar werkloosheid neem toe. Die ANC-beleid skep dus baie groot probleme en dit gaan net groter en meer word.

Die realiteit van onteiening sonder vergoeding is dat dit hoegenaamd nie oorweeg mag word nie.

Wanneer daar oor beleid en beleidsverandering gepraat word, moet daar na die faktore van ekonomiese groei gekyk word, want as dit nie plaasvind nie gaan ons ’n prys betaal wat té groot en té hoog is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Verstaan ons hoe Afrika werk? Om te werk word ongelukkig gesien as onderdrukkend – baie hou van rus, bedel en verniet kry. Sosialisme – iemand anders het gewerk vir iets en besit iets daarom moet hulle dit met my deel – is my reg. Daar word heelhartig saamgestem met onteiening, want dit pas die massas wat niks besit nie en geen vooruitsig het om dit self te verander nie; daarom is daar wetgewing in SA wat die massas steeds moet ‘beskerm’ teen minderheidsgroepe. So is dié wat die implikasie van onteiening verstaan ook in die minderheid en DIT is wat moet verstaan word. Ekonomiese groei, investering en werkskepping is vreemde begrippe vir die arm en ontevrede massas – die leë beloftes wat op die rug van onteiening sonder vergoeding ry, klink baie beter. Voeg die populistiese en opswepende uitsprake van politici by die kookpot wat die ‘haves and have nots’ teen mekaar afspeel en alle logika waai by die deur uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.