Vertrou Zimbabwiese vlugtelinge

kalf-bees-plaas-landbou

Foto: Pixabay.com

Sedert die jaar 2000 het byna viermiljoen Zimbabwiërs uit hul eie land gevlug op soek na ekonomiese hoop en ’n beter toekoms. Hierdie viermiljoen vlugtelinge is byna een kwart van die totale bevolking wat geglo het dat die land nie meer bewoonbaar is nie en wat aan die kortste end van ’n ingrypende staatsbeleid getrek het.

Die verhaal van Zimbabwe se ekonomiese ineenstorting is alombekend. Weens grondgrype, radikale ekonomiese transformasie en ’n omslagtige burokrasie het Zimbabwe se ekonomie vir alle praktiese doeleindes tot niet gegaan.

Daar is geen groter waarskuwing teen hierdie drie hoofoorsake van ekonomiese stagnasie as die miljoene Zimbabwiërs wat juis weens dit gevlug het nie. Die handboek oor hoe om ’n land se ekonomie te vernietig, kan stap vir stap vertel word deur Zimbabwe se geskiedenis te volg.

Dekades nadat die vlugtelinge heenkome in lande soos Suid-Afrika, Brittanje, Botswana en Australië gaan soek het, is ons eie regering besig om met die vuur wat Zimbabwe tot as verbrand het, te speel. Miljoene mense wat lewende getuies is van die effek van grondonteiening en radikale ekonomiese transformasie word eenvoudig nie deur ons regering geglo nie.

Op die spesifieke onderwerp van grondonteiening sonder vergoeding poog die EFF ten minste om ons gerus te stel. Volgens die EFF se sekretaris-generaal, Godrich Gardee, kan grondonteiening in Suid-Afrika nie vergelyk word met die mislukte pogings in Zimbabwe nie, omdat grondonteiening in Suid-Afrika wettig en grondwetlik gaan plaasvind. Volgens Gardee gaan grondonteiening deur ’n proses en wetgewing ingestel word en dus hoef ons nie bekommerd te wees nie.

Moet Gardee werklik daaraan herinner word dat net omdat iets wettig ingestel word, dit nie die onvermydelike nagevolge van die beleid vermy nie? Nazi-Duitsland se fascistiese en verwoestende beleide is ook regmatig deur wetgewing ingestel. Net soos met Nazi-Duitsland se beleide is Suid-Afrikaanse grondonteiening sonder vergoeding rampspoedig weens dit wat dit bereik en is die onbereikbare sukses daarvan nie onderworpe aan hoe dit geïmplementeer word nie.

Die miljoene Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika bly nadat hulle juis van radikale ekonomiese transformasie en grondonteiening gevlug het, getuig dat hierdie beleide inherent sleg is, ongeag of wetgewing dit voorskryf of nie. Om nie na die miljoene Zimbabwiërs in Suid-Afrika as voorbeeld te luister nie, sou wees soos vir die VSA en Brittanje om nie na die miljoene vlugtelinge van Nazi-Duitsland te geluister het nie, maar om eerder die fascistiese beleide wat vanaf gevlug word, met ywer aan te geneem het.

Dit verag alle logika en helder denke dat sommige leiers, met die ondergang van Zimbabwe, ‘n nasie met geen geldeenheid, ‘n dalende ekonomie, daaglikse werksvernietiging en ’n niebestaande gesondheidsorgstelsel, kies om dieselfde weg tot vernietiging te neem as wat die diktatoriale Robert Mugabe met sy eens bloeiende nasie geneem het. Dit is selfs meer verbasend dat die miljoene mense wat vandag saam met ons leef, nie as oortuigende voorbeeld vir ons huidige politici dien nie.

Die oortuigende voorbeelde en verhale van die euwels van grondonteiening en radikale ekonomiese transformasie behoort enige regdenkende te oortuig om die idees te laat vaar. Die bewyse is eenvoudig te groot en te veel om te ignoreer. Om dus teen hierdie bewyse steeds voort te gaan, spreek boekdele dat nie een van hierdie beleide vir opregte redes nagestreef word nie, maar eerder vir persoonlike magsvergryping.

Vra maar net vir die vlugtelinge van Zimbabwe wat nie een van die 340 onteiende plase ontvang het nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jerry ·

Suid Afrika is nie Zimbabwe nie en CR is nie Mugabe nie. Om n vergelyking te tref tussen die twee is blatante negatiewe verdagmakery. Dit sou in die kol gewees het sou Zupta steeds aan die bewind gewees het, maar hy en sy lojaliste is nie. Dit is nou die gematigde CR met intensies vir vrede en voorspoed. Grondhervorming wat op die regte manier gedoen word en wat geen persoon of die ekonomie skaad nie is die intensie van CR. Moet dit nie ondermyn nie. Help om dit reg te laat uitwerk vir almal se onthalwe. Die Afrikaner moes Zupta ondermyn het en hom gestop het, maar die Afrikaner het nie, CR het wel. Nou is daar n geleentheid om op n goeie manier die regte ding reg te doen, maar die Afrikaner ondermyn die goeie intensies van CR net soos die Zuptas en EFF ook alles ondermyn. Samewerking met CR kan die Zuptas en EFF verslaan.

Charles ·

Ons is nie liggelowige en naiewe skapies nie.

Kook daai padda, die stoof is warm! Laat waai-meraai!

Adriaan ·

“The definition of insanity is doing the same thing over and over again and expecting a different result.”

Padda ·

Jerry, oor n jaar of twee praat ons weer. Die enigste verskil tussen zim en sa is dat ons nie net oor die grens gaan kan stap nie, ons is vasgekeer, en wat maak mense as hulle nie kan vlug nie?

Pietman ·

Jerry, daar word gepraat van “onteiening sonder vergoeding” nie ” grondhervorming” nie. Cyril het dit al vele kere beaam. Om eiendom te onteien sonder vergoeding is glad nie gematig nie. Jy praat van die Afrikaner moes Zuma gestop het en die Afrikaner ondermyn Cyril. Die Afrikaner is nie ‘n persoon nie maar bestaan uit miljoene mense met verskillende uitkyke en opinies. Sommiges stel nie eens belang in politiek nie, ander weet niks. Jy kan ons dalk inlig hoe die Afrikaner Zuma moes stop en hoe Cyril ondermyn word. Hoe moet met Cyril saamgewerk word? Moet ons instem dat ons eiendom maar gevat mag word? Is dit samewerking? Wat jy ookal aanbeveel moet jy self ook bereid wees om te doen.

Rupert Ashford ·

Die rede hoekom politici in Suid Afrika hierdie beleide steeds najaag kan in een woord opgesom word: Rassisme.

Aankla ·

Daarvoor gaan die ANC en kie aangekla word, diktators kom nie meer met volksmoord weg nie.

Johanna Botha ·

Ag wat se maar wat jy wil ons gaan aftraande …misdaad is oral en ons is klaar junk !

Jerry ·

Dit is juis die punt Pietman. Die forum kon nie vir Zuma en die Guptas met staatskaping stop nie, hulle kon ook nie die EFF stop met Afrikaans must fall. Nou wil die forum onteiening stop deur hof toe te gaan en al wat gaan gebeur is dat die forum die eerste rondte wen met die ANC wat dan die forum se sukses vat, n paar aanpassings maak en dan behoort die tweede rondte aan die ANC en so gaan dit aangaan totdat die hof in die ANC se guns beslis. Die forum sien n groter prentjie wat wensdenkery is en eenvoudig nie bestaan nie. Die forum weier om lesse te leer en kan net eenvoudig nie aanpas by die situasie nie. Deur saam te werk met CR aan oplossings vir die land en sy probleme kan ons ten minste die uitkoms beinvloed en toesien dat CR ons goed gesind raak en dan kan ons hom makliker by sy woord laat hou. Ons kan die pyne vir almal ligter maak. Buitelandse bewusmaking van plaasmoorde en onteiening het buitelandse investering gekniehalter en die ekonomie verder skade berokken en was en is voortydig en ondermynend.

Biteland ·

Internasionale bewusmaking laat die ANC sidder en bewe want sonder die bonds market kan hulle nie verder skuld maak om stemmers om te koop met sosiale toelaes nie en kan hulle nie vet salarisse trek nie. Laat die bewusmaking transparent voortgaan en moet niks wegsteek nie.

Marthinus Willemse ·

Ek bly in die suide van Johannesburg. Rosettenville is in 1889 deur `n Jood, Leo Rosettenstein en sy seun Albert, gestig. Die sinagoge in Prairiestraat is in 1930 gebou, maar die Jode het almal die gebied verlaat. So ook die meerderheid Afrikaners, Engelse en Angola Portugese. In dieselfde straat is daar tans 14 kerke – Nigeries. Die plaaslike bevolking vertel dis `n front vir prostitusie en dwelmhandel.

Ons familie het `n biltongwinkel vanuit ons motorhuis bedryf. Ons was nogal suksesvol, en ons klante was meestal swartmense. Na so drie jaar het ons dit gesluit, weens misdaad en viktimisering. Zimbabwiërs veral, maar ook Nigeriërs, sal die winkel instap, en aandring dat ons sluit, want, “Afrika behoort aan die swartman, en geen witmens het die reg om `n besigheid te bedryf nie”.

“Waarom gaan jy nie terug na jou plaas toe nie?” vra hulle my.
“Watter plaas?”
“Wel, alle wittes het plase. Alle wittes is skatryk.”
(Toe ek verlede jaar by Capitec in The Glen `n bankrekening wou oopmaak, het hulle geweier, gesê ek is te arm.)

Dit raak `n probleem as jy elke dag hoor hoe sleg wittes is, dat ons geen reg het in Afrika nie, en dat dit meestal kom van Zimbabwiërs wat tussen ons bly. Dit is waarom Rosettenville bekend is vir xenofobiese geweld teen die buitelanders.

Proverb ·

A wise man makes his own decisions;
an ignorant man follows public opinion – Chinese proverb.

Jerry ·

Die onwyses laat toe dat slimjanne hulle opsaal met die bagasie van die verlede – My eie gunsteling aanhaling.

Waarheid ·

Wysemense sal nie hul ore uitleen nié
Passop slimjan vang sy baas
Met permissie ..Nog minder word dié volk opgesaal deur ansisters grille.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.