Vertroue wêreldwyd al meer daarmee heen

kerslig

Foto: Pixabay.com

Suid-Afrikaners het die afgelope jaar die derde meeste vertroue in die sogenaamde stelsel verloor, aldus die jaarlikse vertrouensbarometer van die Edelmangroep.

Volgens die groep het die mense in die helfte van die lande wat gemeet is, vertroue in die stelsel verloor – met Frankryk waar die meeste verloor is, en Suid-Afrikaners (onder wie 67% vertroue verloor het) in die derde plek.

Dit sal waarskynlik niemand verbaas nie dat Suid-Afrikaners se vertroue in die stelsel, bestaande uit die sakesektor, die regering, die media en nie-regeringsorganisasies, so getuimel het. Dit sou seker nog laer gewees het as die parlementêre sirkus al agter die blad was waar die ANC se koukus teen ’n EFF-voorstel vir grondonteiening sonder vergoeding gestem het, en pres. Jacob Zuma kort daarna self weer ten gunste daarvan gepraat het.

Trouens, byna geen regeringsoptrede boesem meer vertroue in nie, met waarskynlik die pandemonium in semi-staatsinstellings voorop.

Wêreldwyd is daar ook ’n skerp afname in die vertroue in die tradisionele media, met die sosiale media wat ook ’n geloofwaardigheidshou vat, maar aanlyn nuus weer ’n toename in vertroue behaal het.

Suid-Afrika, as heterogene land, sal baie moeilik eenparige menings kan vorm.

Gemeenskapradiostasies soos Pretoria FM ervaar nie die wêreldwye verlies aan lesers of luisteraars vir tradisionele media nie. Met die vertroue in die regering wat onder Afrikaners oënskynlik ’n liederlike knou weg het, beleef ’n nie-regeringsorganisasie soos die Solidariteit Beweging soveel steun dat die rubriekskrywer, Max du Preez, al geskryf het dat Solidariteit ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het. Ook die belastingwaghond, Outa, kry enorm baie steun, al is dit grootliks morele steun. Freedom Under Law en ander gee saam met Solidariteit en AfriForum die regering so ’n rowwe tyd in die howe dat pres. Zuma hom dikwels al bitter teen die howe uitgespreek het wat meerderheidswil frustreer. In die proses trap hy net dieper daarin, want dit beteken hy streef ’n meerderheidstirannie na.

Bitter min Afrikaners het waarskynlik ooit oor ’n breë front veel vertroue in Zuma se kabinet gehad, maar onlangse gebeure het vertroue in veral ’n paar ministers behoorlik onder druk geplaas. En sou daar op 1 April probleme kom met die betaal van welsynstoelaes, gaan die poppe dans.

Die debat vandag in die parlement oor plaasmoorde gee aan partye ’n goeie geleentheid om weer vertroue by veral die Afrikanergemeenskap ’n hupstoot te gee. Dit is bekend dat van die LP’s wat kennis gekry het dat hulle in die debat moet praat, dit baie ernstig opneem en hul navorsing agtermekaar kry. ’n Kommer is hoe om die kwessie te ontras, want sake gaan baie bemoeilik word as dit in ’n rassedebat ontaard, terwyl sekere partye ook intern rassespanning kan opbou.

Ongelukkig is daar reeds soveel sake waarom spanning opbou en vertroue onder druk geplaas word. Dit help ook nie dat Zuma in sy pogings om die mag deur radikalisme te behou en terselfdertyd in die proses in die algemeen in ’n Malema-naprater ontaard het nie.

Bitter harde en volgehoue werk lê voor om genoegsame vertroue te kweek dat die motiewe van groepe onder mekaar bewegingsruimte toelaat.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek kan nie meer kommentaar lewer as wat ek reeds uit die artikel deur Herman Toerien gelees het nie. Veels geluk met jou rubriek, Herman.

Die Politieke Varkerasie Gemeenskap ·

Beste Herman, BAIE dankie vir jou artikels. Die Politieke Varkerasie Gemeenskap waardeer jou insette. Ons het baie meer van jou spesie-soort nodig. Ons moet ons lig laat skyn in hierdie snelveranderende onstuimige en onsekere wêreld en opbouende kreatiewe sout vir die mensdom wees. Ons moet ware fakkeldraers vir reg en geregtgheid wees om in vreedsaamheid saam met ons medemens te lewe. Sela.

Therese van Schalkwyk ·

Uitstekende nuuskommentaar, soos gewoonlik.

‘n Parlementêre- of énige debat oor plaasmoorde is m.i. van nul en gener waarde as die ‘ontrassing’ daarvan ‘n voorwaarde of vereiste is. Die ras van slagoffers en geweldenaars is allesoorheersend.
Feite spreek vanself: slagoffers is hoofsaaklik wit en weerloos; aanvallers is swartes wat in groepe toeslaan.

Indien navorsing korrek is dat 40% slagoffers in plaasaanvalle swart is, is dit verbasend en onverskoonbaar dat dit selde of ooit pertinent in beriggewing genoem word. Dit verander egter geensins die feit dat die geweldsplegers mede-swartmense is nie. Die enkele, betreurenswaardige voorbeelde van wit op swart misdaad is uitsonderings en nié die reël.

Hierdie skokkende aanvalle is, soos almal weet, ook lankal nie beperk tot plase nie, maar gebeur amper daagliks in dorpe en stede. Om ras uit die debat te laat, maak ‘n klug daarvan. Dit paai moontlik die vyandiges in die parlement en die liberale deel van die SA samelewing, maar los allermins die probleem op en sterk bloot die misdadige element in hul kwaad.

Mosiuoa Lekota laat tóg ‘n sprankie hoop ontvlam.

Ekke ·

Dankie Herman. Ek kry so baie inligting by jou en geniet jou skrywe.

Pietman ·

Herman jy reken die debat oor plaasmoorde vandag gaan weer die vertroue in die “stelsel” herstel. My voorspelling is mense gaan net weereens sien waarom debat met sekere tipe mense sinneloos is.

piper ·

d ie plaasmoorde gaan soos n sondagskoolpikniek lyk teenoor die gebeure as 1 april nie die 17 mil. mense betaal nie. dit word n al groter moontlikheid. die hele land sal brand. hierdie is die grootste krisis wat die anc nog ooit beleef het. die ergste is dat zuma steeds die minister steun. in enige westerse demokrasie was albei van hulle in die tronk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.