Vertrouenskrisis in Weste: Hupstoot vir regse populisme

europa-met-vlae-pinterest

Foto: Playbuzz/Pinterest.com

Soos sake nóú staan, en gebaseer op die meningspeilings – let op dié belangrike voorbehoude – kan ’n mens twee voorspellings waag oor die drie belangrike verkiesings wat vanjaar in Europa plaasvind: in Nederland (oor iets meer as twee weke), in Frankryk (in twee rondes, einde April en begin Mei) en in Duitsland (begin September).

Die eerste is dat die regse populiste, gemeet aan hul vertonings in die vorige verkiesings, gaan vorder. Ten tweede dat hulle nie naastenby naby aan ’n deurbraak is nie. Trouens, spesifiek in Nederland en Duitsland, het hulle, gemeet aan die hoogtepunt wat in die peilings gemeet is, teruggesak.

Soos sake dus táns staan, wil dit nie lyk of pres. Donald Trump se “oorwinning” in die VSA in Europa herhaal gaan word nie. (Die woord oorwinning word in aanhalingstekens geplaas omdat hy natuurlik byna drie miljoen minder stemme as sy teenstander behaal het. Maar goed, hy is die wettig aangewese president en basta.)

’n Politieke analis se taak is drieërlei: (a) Vertel wát gebeur, (b) wáárom dit gebeur, en (c) welke gevolge dit kan hê.

Die eerste het ek hierbo gedoen. Kom ons konsentreer op die tweede.

Ons begin by ’n historiese analogie, naamlik die twee prototipes van alle regse populiste, Benito Mussolini en Adolf Hitler. En asseblief, voordat hier nou weer ’n storm oor my kop losbars, ek probeer die huidige regse populiste nie met Mussolini en Hitler gelykstel nie; ek gebruik hulle om ’n verklaring vir die huidige steun van die regses te probeer vind.

Mussolini en Hitler se opkoms het verskille getoon, maar ook twee gemeenskaplike faktore.

Ten eerste het albei die reëel bestaande gevoelens van vernederde nasionalisme aangegryp en aangevuur. In sowel Italië as Duitsland het die uitslag van die Eerste Wêreldoorlog ’n gevoel van veronregting gelaat – Italië omdat die land nie voldoende by sy lidmaatskap van die seëvierende Geallieerde kamp gebaat het nie, en Duitsland vanweë die vernedering van die Vrede van Versailles.

Die tweede was ekonomies. In albei lande het die ekonomiese agteruitgang van onderskeidelik die vroeë jare twintig (Italië) en die Depressie ’n paar jaar later (Duitsland) miljoene mense in nypende armoede gejaag, in ’n situasie waar hul moeisaam opgeboude bestaansekerheid weggekalwe is en waar hulle soms letterlik nie wis of hulle saans ’n bord kos sou hê nie.

Veral die Duitse verkiesingsuitslae van die twintigerjare vertel ’n interessante verhaal. In die verkiesing van Mei 1927 het Hitler se Nazi’s slegs 2,6% van die stemme gekry. In September 1930, ná die ekonomiese ineenstorting, het dit opgeskiet na 18,25% en in Julie 1932 tot 37,27%.

Die punt is dat die kapitalistiese stelsel van destyds miljoene mense volgens hul eie gevoel gruwelik in die steek gelaat het. Sommige het weliswaar hul heil by die linkse partye gesoek, maar méér het agter Hitler se beloftes van ’n paradys aangeloop.

Ons weet almal hoe daardie paradys binne enkele jare in die grootste hel in die geskiedenis omgeskep is, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Historici het uitvoerig ondersoek gedoen na die steun vir die Nazi’s onder die Duitse bevolking in die tyd voor Hitler se bewindsoorname in Januarie 1933. Hul gevolgtrekkings is interessant.

Saamgevat kom dit daarop neer dat die volgende kategorieë kiesers oorverteenwoordig was onder die Nazi-stemmers: Die werkersklas, die laer middestand, jonges, mans, protestante en plattelanders. Dit was hoofsaaklik die mense wat die meeste onder die ekonomiese krisis gely het.

Nou vat ons die verhaal ’n stap verder. As ek Trump se belangrikste raadgewer, Steve Bannon, reg verstaan, meen hy die moderne nieu-liberale kapitalisme dra die kiem van sy ondergang in homself om. Daar het ’n yslike kloof tussen dié wat het en dié wat nié het nie, ontstaan, met die gevolg dat talle mense vervreem van die moderne stelsel voel.

Dat Trump hom in verlede jaar se verkiesingsveldtog sterk gerig het op diegene wat deur die krisis van 2008 en later getref is, is dus geen toevalligheid nie. Nes Hitler en Mussolini het hy die Amerikaanse nasionalisme en ekonomiese onsekerheid uitgebuit, soos uitgangspeilings (“exit polls”) verlede jaar aangedui het.

(Nogmaals, ek wil daarmee nie te kenne gee dat Trump ’n Fascis of ’n Nazi is nie. Daar is ook groot verskille.)

Nou lees ek in die jongste uitgawe van die Britse nuustydskrif The Economist van ’n Franse peiling waarvolgens slegs 8% van die kiesers met ’n universiteitsgraad in 2014 vir Marine le Pen se Front National (FN) gestem het. Daarteenoor het 41% van diegene sonder matriek dit gedoen.

Luidens die peiling word mans, plattelanders en werkers in vervallende nywerheidstede onder die FN-stemmers oorverteenwoordig. Min of meer soortgelyke uitslae sien ’n mens in spesifiek die Duitse peilings, ofskoon dit in Nederland weer anders is.

Wat wys dat Bannon, regs-ekstremisties ofte nie, die vertrouenskrisis in die Weste, veral in Amerika, akkuraat geïdentifiseer het. Daar is veral vier elemente aan die saak.

Ten eerste identifiseer verreweg die meeste mense met hul eie nasiestaat (naas streekpatriotisme) as die basiese bousteen van die samelewing. In Europa sien die meeste mense wel die waarde in van ’n oorkoepelende organisasie soos die Europese Unie, maar nie as vervanging van hul eie land en identiteit nie.

Tweedens, wat hiermee saamhang, is die instroom van vreemdelinge wat moeilik (of glad nie) integreerbaar is nie.

Die derde is dat ’n groeiende groep ekonomies uitsak. Die “roesgordel” in die Amerikaanse Middeweste en die Ruhr-gebied in Duitsland is met hul verdwynende ouderwetse fabrieke as ’t ware die kanarie in die myn, wat die verwoestende uitwerking hiervan op menselewens wys.

’n Mens vra jou af of daar regtig ’n alternatief is vir dié – in die woorde van die ekonoom Joseph Schumpeter – “kreatiewe vernietiging”, maar intussen is die uitwerking daarvan dat dit ’n vertrouensbreuk tussen die slagoffers en die gevestigde orde skep. En dis in dié breuk dat regse populiste met beloftes van ’n paradys kom.

Ten vierde word die vertrouensbreuk vererger deur die gedrag van die elite, wat met nouliks bedekte minagting na die gewone mense kyk. Hillary Clinton het die tippie van die sluier gelig met haar dom verwysing na die Trump-aanhangers as “a basketful of deplorables”.

Verskeie studies dui daarop dat, terwyl steeds meer mense swaar trek, die rykstes toenemend swelg in obsene weelde. (Dat Trump een van dié rykstes is en byna net sulke rykes in sy regering aangestel het, is ’n ironiese feit wat vermelding verdien.)

Ek herhaal wat ek by ’n vorige geleentheid geskryf het: Die grootste vyande van die kapitalisme is die groot kapitaliste.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Jan Jooste ·

Ek gaan akkoord met die algemene strekking van die artikel, buiten die tapering van Hitler as regs.

Sy party was dan die Nasionaal-SOSIALISTE party? Verder het hy voor die WO2 geheime ooreenkomste met die kommuniste gehad om wapentuig in Rusland te toets. Hy was dus op baie vriendskaplike voet met hulle. Sien die boek “Leftism: From de Sade and Marx to Hitler and Marcuse”.

Leopold Scholtz ·

Beste Jan, jy het natuurlik ‘n sekere punt beet. Dis die rede waarom ek in die verlede al geskryf het die eintlike teenstelling is nie soseer tussen links en regs nie, maar tussen gematig en ekstremisties. Jy kan die lyn tussen links en regs nie as reguit sien nie, maar soos ‘n hoefyster, waar die twee ekstreme naby aan mekaar kom. Lekker dag vir jou!

Pietman ·

Die skrywer verwys altyd na regses as “populisties”. Populisties verwys na beloftes wat nie nagekom kan word nie of wat verregaande is. Die Nazi’s en ongeskooldes word ook altyd verbind met die regses in die skrywer se artikels. Hitler was ‘n nasionalis maar belangrik ook ‘n sosialis. Die linkses het vandag baie meer ooreenkomste met die Nazi’s. Hulle is sosialisties, hulle duld geen verskil in opinie nie ( kyk maar na die barbaarse optrede van anti-Trump optogte), is konstant besig met massa propaganda en glo eerder in gelyke uitkomste as in gelyke geleenthede. Merkel en Hitler was albei Time se “man of the year” in 2015 en 1938. Die duitsers het destyds ‘n mal leier gesteun en hulle maak vandag dieselfde fout, danksy massa propaganda deur die Media, Hollywood en Akademici. Hitler het Duitsland amper heeltemal verwoes maar Merkel gaan die land heeltemal en verewig verwoes. Dis jammer die skrywer is reeds so oud want oor so 30 jaar sal Europa onder Moslem bestuur val, en Leopoldt gaan self nie die gevolge van sy huidige politieke opinies beleef nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Pietman, ek sien jy kan die toekoms vir 100% akkuraat voorspel. Wat myself betref, ek soek maar in die donker met ‘n flou kersliggie na die toekoms. Maar geniet jou onfeilbare kennis!

Nico K ·

Ek weet nie of ek nou heeltemal van die wa af is nie, maar hoe lyk dit vir my of daar ‘n ooreenkoms is tussen regse partye in Europa, die Nazi’s en Fasciste en die ANC in SA! Almal is teen die kapitaliste gekant en almal se steun lê onder die armes en die laer geletterdes. (Ek weet nie mooi hoekom die een klomp links en die ander klomp regs genoem word nie, maar nou ja.) Terwyl ons in SA eintlik erg ten gunste van kapitalisme baklei. (In die ou dae het ons regering egter baie sosialistiese kenmerke getoon. Dalk afkomstig van die arm blanke dae?) Dit is waar Karel Marx ook maar vandaan kom. Daar was in die 1800’s ook baie groot verskil tussen armes en rykes.

Gerhard ·

Die vierde deel van’n politieke analis se taak natuurlik is om objektief te wees wat ongelukkig nie van die spesifieke berig gesê kan word nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Gerhard, antwoord nou eerlik: Wat beskou jy as objektief? Jy sien, baie mense definieer objektief as “‘n beskouing wat met myne ooreenstem”. Dan: Watter van my feite is foutief? En waar is my logika gebrekkig? Om so ‘n verdwaalde verwyt die wereld in te gooi help die gesprek nie eintlik nie. En ek wil graag met jou gesels.

Gerhard ·

Beste Leopold, objektief in my mening is bloot dat daar meer feite en opinies weergegee word as bloot die van een of twee kommentators of navorsers of wie ook al in ‘n artikel. Geensins trek ek jou oordeel of feite in twyfel nie en ek kon beslis meer moete gedoen het om my punt beter deur te gee. Dankie ook vir jou insig en mening maar ek voel bloot daat daar veel meer in die saak steek as om bloot die met ‘n bepaalde politieke oortuiging as populisties of wat ook al af te maak.

TDW ·

Kom ek sê vir jou hoekom het trump gewen. Trump praat reguit sonder die politiek korrekte spraak wat elke ander politikus gebruik. Dis ‘n “breath of fresh air”

fritz breitenbach ·

ek wonder of leopold ook verkeerd is soos met trump waar hy ook gese het hy het nie n kans om te wen nie .europa met sy nuwe moslums kan dalk die mense se stremmery ver ander

Leopold Scholtz ·

Beste Fritz, wanneer het ek geskryf Trump “het nie ‘n kans om te wen nie”? Ek het op grond van die meningspeilings gemeen Clinton se kans om te wen is groter as Trump s’n. Wel, sy het byna 3 miljoen meer stemme gekry. Ek laat dit aan jou oor om te besluit hoe verkeerd ek was.

Hennie ·

Leopoldt, Die lesers van jou gereelde rubrieke uit die globalistiese wereld, sien ‘n eienaardige teenstrydigheid:
Aan die een kant: Jou ondersteunig vir die Afrkiaanse taal en kultuur -en jou selfs positiewe uitlatings oor Solidariteit – en – selfs Orania.
Aan die anderkant: Jou openlike weersin in alle konserwatiewe denkrigtings (volgens jou verregse populiste) in Europa en die VSA.
Jy behoort tog te weet dat die sosialistiese en links-liberale partye uit daardie geweste nog altyd aktiewe en finansi-ele ondersteuners van terroriste organisasies in Afrika was, en dus vere gevoel het vir die Afrikaanse mense se taal, kultuur en selfs hulle bestaan.
Hoe het ons dit met jou?

Leopold Scholtz ·

Beste Hennie, ek het nie ‘n saak met die steun in die verlede van sosialistiese en linkse partye in Europa vir die ANC nie. Ek was destyds daarteen gekant en is dit steeds. Maar dis verby. As jy wil weet waar ek myself tans op die politieke spektrum plaas, is dit as liberale konserwatief (of as jy dit verkies, as konserwatiewe liberaal). Bowenal, ek is militant gematig. Nie links nie en ook nie regs nie, maar dwars. Allereers Christen, dan Afrikaner en Suid-Afrikaner, dan Stormer-ondersteuner!

Frans C ·

As ‘n mens oor politieke wendings skryf moet jy in die eerste plek statistieke in die regte perspektief aan die lesers voorlê.Jy kan dus nie sê dat President Trump die populere stem verloor het nie,sonder om te sê hoekom nie.

Clinton het reuse oorwinnings in veral California behaal waar sy 61,5 van die stemme verower het teen oor President Trump se 31.5% ( 8 753 788 teenoor 4 483 810 dus met
‘n meerderheid van 4 269 978)

Die teenkanting in die liberale staat teen President Trump is so groot dat daar tans ‘n petisie die rondte doen om die staat af te stig van die ander state.

Word die staat buite rekening gelaat het President Trump die populêre stem met 1.4 miljoen stemme gewen. Kyk ‘n mens na die samestelling van die staat se bevolking is dit duidelik waarom daar in massa teen President Trump gestem is.

Die verhouding tussen manlik en vroulik is ongeveer 50-50. Die bevolking is ongeveer 37.5
miljoen waarvan 38.4 blank is, 39 % ‘Hispanic’ 13% ‘Asian’ 5.7% swart,veelrassig 2.8% en i.1% ander wat ‘American Indians’ insluit.

Gegewe President Trump se veelbesproke immigrasiebeleid en Clinton se vroulike aanhangers is dit redelik duidelik waar om Clinton so’n reuse oorwinnig daar behaal het.

Mens hoef nie verregs te wees om behoudend te wees nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Frans, jou statistieke is akkuraat. Maar die implikasie van jou boodskap is dat die mense van Kaliforni”e (die korrekte Afrikaanse benaming) minder regte het as die res van die Amerikaners, en dat hul stemme minder werd is as die res. Dit kan tog nie reg wees nie, of hoe? Maar dankie vir die bydrae.

Stephan ·

Ek dink dis n billike beoordeling van sake. Miskien moet ons net meer geraffinieerde handvatsels kry as die maklike uitweg van regs en links. Die lewe bestaan immers nie net uit twee kategoriee nie. Leopold jy is n skrywer met jare se ondervinding…… bedink bietjie terme wat beter beslag gee aan die ryke verskeidenheid van geldige sienings.

Leopold Scholtz ·

Beste Stephan, sien my antwoord op Jan Jooste hierbo. Maar ek stem saam, links en regs is op hul beste onbevredigende kategoriee. Ons sal moet dink hieroor.

Rupert Ashford ·

Mmm, lyk my die Sensuur Nazi’s het my eerste pennevruggie in die stof laat byt…:-) So kom ons peobeer weer:
1.) Aangaande die menigspeilings: Ons het met Brexit en met Trump se “oorwinning” (soos jy dit beskryf) gesien dat mense uit vrees vir viktimisering nie altyd die volle waarheid praat nie, behalwe wanneer hulle in die privaatheid van die stembus is, so kom ons kyk wat gebeur. Sien die sg “shy tories” in die UK verkiesing, en ook Brexit en Trump.
2.) Trump se “oorwinning”: Laat staan maar die aanhalingstekens. Volgens die reels van die Amerikaanse Presidentsverkiesing het hy “fair n square” gewen. Dit laat jou soos ‘n suur verloorder lyk.
3.) Is mans, plattelanders en werkers van vervallende nywerheidstede “minderwaardige” stemmers? Is hulle “deplorables”? Hoekom moet ‘n ophef gemaak word van hulle stempatrone en gese word ander kandidate het ‘n “woman problem”? Wat maak vroustemme meer belangrik as ander groepe sin?
4.) Hoekom verwys jy na “ouderwetse myne en fabrieke” in die sg roesgordels wanneer daardie “ouderwetse” nywerhede nie verdwyn nie, maar net geskuif word Indie en China toe? Feit is elke ekonomie moet die hele spektrum dek want nie almal kan slim mense soos joernaliste, sosioloe, call centre werkers , toerisme gidse ens wees nie. Mens het blouboordjie industriee ook nodig. As die globalisme en “groen ekonomie” hierdie mense versaak is daar iets fout en het die mense (deplorables) die reg om ander antwoorde te soek.

Verwonderd ·

Dankie vir die insig gewende artikel. Dit is wel duidelik: of Europa regs of links stem, hulle op die rand van totale verlies van hulle volksedentiteit staan agv Afrika se onvermoë om na sy eie burgers om te sien. Tragies om te sien hoe dekoloniesasie, Afrikane terug jaag in die arms van die “koloniseerders”. Afrika wil nie opgehef word nie, maar onderhou word. Die toekomstige leiers van Afrika het geen wil, om te werk vir wat hulle het nie, maar soek ‘n behoeftigheids toelaag van die skuld gevoelens van sagte westerse moonthede. Ongelukkig leer die natuur ons, dat as iets swak voorkom dit ‘n maklike teiken is. Met onbeperkte imigrasie is die jakals in die hennehok. Met humanisme wat gedy in die Weste, sal Afrika elke laaste sent en stukkie brood uit hulle monde steel. Die Afrika leiers sorg nie dat hulle mense produktief is nie, maar besteel en manipuleer hulle eie gemeenskappe met Komunistiese retroriek, terwyl die weste hulle koffers moet vul met noodhulp, en lenings wat in der ewigheid nooit terug betaal sal word nie. ‘n Mens kan kyk na Zim, wat nou weer noodfondse van die weste bedel, omdat daar oorstromings was.

HEVW ·

Ons kan die komende verkiesings in Europa uit verskillende hoeke beredeneer, maar met al die faktore wat n rol speel ingesluit die liberale media wat massa inligting verdraai en selfs verswyg en hul geloofwaardiheid wat sneuwel is die uitkoms meer voorspelbaar as twyfelagtig.

Therese van Schalkwyk ·

Tog jammer dat ‘n interessante artikel sowaar afskop met die hoeveelste verwysing na die “popular vote” tydens Trump se wettige verkiesing tot president. Die skrywer het ‘n onverklaarbare beheptheid daarmee aangesien die spesifieke bepalings van die VSA-kiesstelsel breedvoerig deur hom aan lesers verduidelik is vóór die verkiesing. (maar nou ja, ek is seker behep om dit op te merk)

Dat die regse partye in Europa nie naastenby aan ‘n deurbraak is nie, is myns insiens sterk te betreur. Die gevolgtrekking dááruit te maak, is dat die sogenaamde elite in Europa heel tevrede is met die status quo: d.w.s. dit pas die ‘Hillary Clintons’ van Europa o.a. dat die “deplorable basket” al voller raak.

Enige terrein vereis spesiale, unieke persoonlikhede om die bykans onmoontlike te verrig. Die gapende kloof tussen stinkryk en brandarm het tydens vorige presidente se termyne ontstaan en vergróót. Dit is dus geensins “ironies” dat Trump die “rykes in sy regering” gekies het om dinge anders te probeer doen nie. Waarom sou die Amerikaners hul koppe aanhou stamp teen dieselfde muur?

Europeërs moet egter bitter min simpatie vanuit sekere oorde verwag in die toekoms …

Henry ·

Beste Therese
Soos gewoonlik spreek jou kommentaar van veel meer insig as wat…
Voltooi maar die sin na goeddunke.
:-)

Gerhard ·

Ek stem meestal saam, net een probleem. Ek voel die gebruik van die woorde “regse populisme” is misplaas. Eerstens omdat die mense nie regtig as regs beskou kan word nie. Tweedens omdat hulle maar net doen wat hul opponente al vir dekades doen, net op ‘n ander manier.

humor ·

Ek oordeel die stelling dat die regse partye in die komende verkiesing nie naastenby kan wen nie is ietwat grof gestel. nTipiese liberale skoot sommer so in die donkerte. Dit is nie te betwyfel dat die Europese pot aan die prut is nie. Ons moet ons stellings nie grond op peilings van waarnemers wat aan die liberale kant staan nie. Bv in Duitsland is daar dikwels geweldpleging tussen Duitsers en die sg. vlugtelinge wat nooit die pers haal nie. Engeland se uittrede uit die brixit hang steeds in die Europese klimaat. In Oostenryk is ook sterk strome van verandering. In Skoland is daar steeds n drang na onafhanklikheid wat in die vorige referendum deur die liberale spookvoorspellings gekelder is. So ek voorspel in die komende dekades groot oproeringe en veranderinge in Europa hoofsaaklik veroorsaak deur die sg. islamietiese vlugtelinge.

DewaldS ·

Globalisme is seer sekerlik nog meer populisties in wese as nasionalisme? Maar net linkse populisme? Die belofte dat ‘n groter mega-regering (wat nog minder direkte aanspreeklikheid teenoor die individuele belastingsbetaler het) beter waarde vir die belastingbetaler gaan bied?

Nee, wat. Mense se intelligensie word weereens onderskat deur hierdie geskrewe stuk.

Leopold Scholtz ·

Beste nefie Dewald, het ek hoegenaamd na globalisme verwys? Vanwaar, Gehasi? En in elk geval weet ek jy skat my intelligensie op baie na aan nul. Ek verwag nie anders van jou nie.

Leopold Scholtz ·

Vir Gerhard: Dankie vir jou bedaarde reaksie. Met jou kan ‘n mens ten minste ‘n intelligente gesprek voer.

Dave ·

Genade maar party mense kan omtrent gal braak! Ek dink die artikel is n goeie opsomming van die wat, waarom en die gevolge.

Fanie ·

Leopold, die werkersklas word vinniger en harder geraak deur die werklikheid en gevolge van liberale beleidsrigrings as die elite. Dis hoekom hul vinniger by die stembus reageer. Dis wat in SA ook gebeur het, waar bv Afrikaanse myn- en fabriekswerkers baie vroeër die ware aard van die ANC as die elite. Dis wel waar dat hul leiers nie ‘n werkbare alternatief vir die liberale stelsel kon ontwikkel nie. Maar dit neem nie weg dat goedgelowige liberales die pad oopgemaak het vir die linkses nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.