Vertrouenskrisis in Weste: Hupstoot vir regse populisme

europa-met-vlae-pinterest

Foto: Playbuzz/Pinterest.com

Soos sake nóú staan, en gebaseer op die meningspeilings – let op dié belangrike voorbehoude – kan ’n mens twee voorspellings waag oor die drie belangrike verkiesings wat vanjaar in Europa plaasvind: in Nederland (oor iets meer as twee weke), in Frankryk (in twee rondes, einde April en begin Mei) en in Duitsland (begin September).

Die eerste is dat die regse populiste, gemeet aan hul vertonings in die vorige verkiesings, gaan vorder. Ten tweede dat hulle nie naastenby naby aan ’n deurbraak is nie. Trouens, spesifiek in Nederland en Duitsland, het hulle, gemeet aan die hoogtepunt wat in die peilings gemeet is, teruggesak.

Soos sake dus táns staan, wil dit nie lyk of pres. Donald Trump se “oorwinning” in die VSA in Europa herhaal gaan word nie. (Die woord oorwinning word in aanhalingstekens geplaas omdat hy natuurlik byna drie miljoen minder stemme as sy teenstander behaal het. Maar goed, hy is die wettig aangewese president en basta.)

’n Politieke analis se taak is drieërlei: (a) Vertel wát gebeur, (b) wáárom dit gebeur, en (c) welke gevolge dit kan hê.

Die eerste het ek hierbo gedoen. Kom ons konsentreer op die tweede.

Ons begin by ’n historiese analogie, naamlik die twee prototipes van alle regse populiste, Benito Mussolini en Adolf Hitler. En asseblief, voordat hier nou weer ’n storm oor my kop losbars, ek probeer die huidige regse populiste nie met Mussolini en Hitler gelykstel nie; ek gebruik hulle om ’n verklaring vir die huidige steun van die regses te probeer vind.

Mussolini en Hitler se opkoms het verskille getoon, maar ook twee gemeenskaplike faktore.

Ten eerste het albei die reëel bestaande gevoelens van vernederde nasionalisme aangegryp en aangevuur. In sowel Italië as Duitsland het die uitslag van die Eerste Wêreldoorlog ’n gevoel van veronregting gelaat – Italië omdat die land nie voldoende by sy lidmaatskap van die seëvierende Geallieerde kamp gebaat het nie, en Duitsland vanweë die vernedering van die Vrede van Versailles.

Die tweede was ekonomies. In albei lande het die ekonomiese agteruitgang van onderskeidelik die vroeë jare twintig (Italië) en die Depressie ’n paar jaar later (Duitsland) miljoene mense in nypende armoede gejaag, in ’n situasie waar hul moeisaam opgeboude bestaansekerheid weggekalwe is en waar hulle soms letterlik nie wis of hulle saans ’n bord kos sou hê nie.

Veral die Duitse verkiesingsuitslae van die twintigerjare vertel ’n interessante verhaal. In die verkiesing van Mei 1927 het Hitler se Nazi’s slegs 2,6% van die stemme gekry. In September 1930, ná die ekonomiese ineenstorting, het dit opgeskiet na 18,25% en in Julie 1932 tot 37,27%.

Die punt is dat die kapitalistiese stelsel van destyds miljoene mense volgens hul eie gevoel gruwelik in die steek gelaat het. Sommige het weliswaar hul heil by die linkse partye gesoek, maar méér het agter Hitler se beloftes van ’n paradys aangeloop.

Ons weet almal hoe daardie paradys binne enkele jare in die grootste hel in die geskiedenis omgeskep is, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Historici het uitvoerig ondersoek gedoen na die steun vir die Nazi’s onder die Duitse bevolking in die tyd voor Hitler se bewindsoorname in Januarie 1933. Hul gevolgtrekkings is interessant.

Saamgevat kom dit daarop neer dat die volgende kategorieë kiesers oorverteenwoordig was onder die Nazi-stemmers: Die werkersklas, die laer middestand, jonges, mans, protestante en plattelanders. Dit was hoofsaaklik die mense wat die meeste onder die ekonomiese krisis gely het.

Nou vat ons die verhaal ’n stap verder. As ek Trump se belangrikste raadgewer, Steve Bannon, reg verstaan, meen hy die moderne nieu-liberale kapitalisme dra die kiem van sy ondergang in homself om. Daar het ’n yslike kloof tussen dié wat het en dié wat nié het nie, ontstaan, met die gevolg dat talle mense vervreem van die moderne stelsel voel.

Dat Trump hom in verlede jaar se verkiesingsveldtog sterk gerig het op diegene wat deur die krisis van 2008 en later getref is, is dus geen toevalligheid nie. Nes Hitler en Mussolini het hy die Amerikaanse nasionalisme en ekonomiese onsekerheid uitgebuit, soos uitgangspeilings (“exit polls”) verlede jaar aangedui het.

(Nogmaals, ek wil daarmee nie te kenne gee dat Trump ’n Fascis of ’n Nazi is nie. Daar is ook groot verskille.)

Nou lees ek in die jongste uitgawe van die Britse nuustydskrif The Economist van ’n Franse peiling waarvolgens slegs 8% van die kiesers met ’n universiteitsgraad in 2014 vir Marine le Pen se Front National (FN) gestem het. Daarteenoor het 41% van diegene sonder matriek dit gedoen.

Luidens die peiling word mans, plattelanders en werkers in vervallende nywerheidstede onder die FN-stemmers oorverteenwoordig. Min of meer soortgelyke uitslae sien ’n mens in spesifiek die Duitse peilings, ofskoon dit in Nederland weer anders is.

Wat wys dat Bannon, regs-ekstremisties ofte nie, die vertrouenskrisis in die Weste, veral in Amerika, akkuraat geïdentifiseer het. Daar is veral vier elemente aan die saak.

Ten eerste identifiseer verreweg die meeste mense met hul eie nasiestaat (naas streekpatriotisme) as die basiese bousteen van die samelewing. In Europa sien die meeste mense wel die waarde in van ’n oorkoepelende organisasie soos die Europese Unie, maar nie as vervanging van hul eie land en identiteit nie.

Tweedens, wat hiermee saamhang, is die instroom van vreemdelinge wat moeilik (of glad nie) integreerbaar is nie.

Die derde is dat ’n groeiende groep ekonomies uitsak. Die “roesgordel” in die Amerikaanse Middeweste en die Ruhr-gebied in Duitsland is met hul verdwynende ouderwetse fabrieke as ’t ware die kanarie in die myn, wat die verwoestende uitwerking hiervan op menselewens wys.

’n Mens vra jou af of daar regtig ’n alternatief is vir dié – in die woorde van die ekonoom Joseph Schumpeter – “kreatiewe vernietiging”, maar intussen is die uitwerking daarvan dat dit ’n vertrouensbreuk tussen die slagoffers en die gevestigde orde skep. En dis in dié breuk dat regse populiste met beloftes van ’n paradys kom.

Ten vierde word die vertrouensbreuk vererger deur die gedrag van die elite, wat met nouliks bedekte minagting na die gewone mense kyk. Hillary Clinton het die tippie van die sluier gelig met haar dom verwysing na die Trump-aanhangers as “a basketful of deplorables”.

Verskeie studies dui daarop dat, terwyl steeds meer mense swaar trek, die rykstes toenemend swelg in obsene weelde. (Dat Trump een van dié rykstes is en byna net sulke rykes in sy regering aangestel het, is ’n ironiese feit wat vermelding verdien.)

Ek herhaal wat ek by ’n vorige geleentheid geskryf het: Die grootste vyande van die kapitalisme is die groot kapitaliste.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan Jooste

Ek gaan akkoord met die algemene strekking van die artikel, buiten die tapering van Hitler as regs.

Sy party was dan die Nasionaal-SOSIALISTE party? Verder het hy voor die WO2 geheime ooreenkomste met die kommuniste gehad om wapentuig in Rusland te toets. Hy was dus op baie vriendskaplike voet met hulle. Sien die boek “Leftism: From de Sade and Marx to Hitler and Marcuse”.

Pietman

Die skrywer verwys altyd na regses as “populisties”. Populisties verwys na beloftes wat nie nagekom kan word nie of wat verregaande is. Die Nazi’s en ongeskooldes word ook altyd verbind met die regses in die skrywer se artikels. Hitler was ‘n nasionalis maar belangrik ook ‘n sosialis. Die linkses het vandag baie meer ooreenkomste met die Nazi’s. Hulle is sosialisties, hulle duld geen verskil in opinie nie ( kyk maar na die barbaarse optrede van anti-Trump optogte), is konstant besig met massa propaganda en glo eerder in gelyke uitkomste as in gelyke geleenthede. Merkel en Hitler was albei Time se… Lees meer »

Nico K

Ek weet nie of ek nou heeltemal van die wa af is nie, maar hoe lyk dit vir my of daar ‘n ooreenkoms is tussen regse partye in Europa, die Nazi’s en Fasciste en die ANC in SA! Almal is teen die kapitaliste gekant en almal se steun lê onder die armes en die laer geletterdes. (Ek weet nie mooi hoekom die een klomp links en die ander klomp regs genoem word nie, maar nou ja.) Terwyl ons in SA eintlik erg ten gunste van kapitalisme baklei. (In die ou dae het ons regering egter baie sosialistiese kenmerke getoon. Dalk… Lees meer »

Gerhard

Die vierde deel van’n politieke analis se taak natuurlik is om objektief te wees wat ongelukkig nie van die spesifieke berig gesê kan word nie.

TDW

Kom ek sê vir jou hoekom het trump gewen. Trump praat reguit sonder die politiek korrekte spraak wat elke ander politikus gebruik. Dis ‘n “breath of fresh air”