Verwag nóg misdaad

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Deur Jeannette Gnade

Die land moet hom voorberei op ʼn feller wordende misdaadvlaag in die aanloop tot die ANC se leierskapskonferensie in Desember. Politieke moorde begin nou al om die toneel in KwaZulu-Natal te oorheers – te meer nog nadat die Inkatha Vryheidsparty die tussenverkiesings in 14 van die 17 wyke in Nqutu, oos van Dundee, ingepalm het.

Nqutu is ʼn skrale 54 km van Nkandla. Die ANC sal nie dié vernedering in sy eie hartland maklik vergewe nie. Die nasionale voorsitter van die IVP het later gesê die party het nie veldtogte gevoer met staatsbronne en groot beloftes oor dienslewering nie, die mense het bloot op grond van vertroue gestem.

Die Black First Land First-beweging (BLF) wat die eerste keer aan ’n groot munisipale verkiesing deelgeneem het, het liederlik in die stof gebyt.

Die groot misdaadaanslag sal egter nie net tot die politiek beperk wees nie. Gewone misdaad gaan waarskynlik ook skerp toeneem. Die land beleef elke keer as daar ʼn politieke krisis is – soos wat gereeld rondom die persoon van pres. Jacob Zuma gebeur – dat geweldsmisdade skielik opvlam. Dit is asof daar ʼn riemtelegram onder misdadigers rondgaan dat hulle nou moet toeslaan want die paradys se hekke is besig om toe te gaan.

Selfs die gehardste misdadiger besef dat hy ná Zuma se vertrek strenger vasgevat gaan word. Die beheerstelsels onder sy bewind het jaar ná jaar minder geword en die polisiebegroting moes al hoe meer plek inruim vir sy persoonlike beskerming – asook dié van ʼn paar uitgesoektes soos sy gewese eggenote en die heraangestelde Eskom-baas. Staatsveiligheid is meer bekommerd oor die sogenaamde onsigbare inval van buite as interne landsveiligheid en misdadigers buit dadelik die nuwe gapings uit om te moor en te roof.

Dan is daar nog die kwessie van respek. Hoe meer die president en die regering van oneerlikheid en ʼn saamheulery met geldsugtige individue beskuldig word, hoe meer voel misdadigers geregverdig om hulle eie pad van bloed en verwoesting te loop. Hoekom sal hulle skielik ʼn gewete ontwikkel as hul leiers nie ʼn duit omgee nie? Niemand – so redeneer hulle – hou meer by die Queensberry-reëls nie. Waarom sal hulle?

Dié bokskode het op alle terreine van toepassing geword omdat dit so absoluut etiek-gebonde is. Ongelukkig het die woord “etiek” uit Suid-Afrika se woordeskat verdwyn. Mense word vir ʼn skrale vyf rand vermoor en daar is geen respek vir ander se eiendom nie. Die Zuma-regering stel telkens die voorbeeld – as grondherverdeling te stadig vorder kry die wit grondeienaar of sy voorsate die skuld. Radikale ekonomiese transformasie beteken in al 11 landstale blykbaar net een ding en dit is vat wat jy nie op ʼn ander manier kan kry nie. Dit beteken ook om die stemme van naïewe landsburgers te steel sodat die ANC nog ʼn klompie jare op die vet van die land kan leef.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eish ·

Amen, goeie stukkie skryfwerk met uitstekende logiese gevolgtrekkings. Mag ons Gnadiglik dit nie aan ons en ons geliefdes se lewens ervaar nie.

John ·

En nou is ons ook weer in ‘n resessie. Van die tyd van ou liewe Oom Jan is gesteel, groente en vee en… Dit gaan ook nie stop na Desember nie want die bevolking gaan nie halfveer nie. Inteendeel. Om 27% verhoging in kragtariewe binne die afsienbare tyd te betaal sal groot druk plaas op werkverskaffers en huiswerkers wat werkloosheid sal verhoog. Die arme siel wat die barmhartige Samaritaan gehelp het moes ook deurloop. Misdaad is nie in SA ontwerp nie, maar ons probeer beslis alle rekords breek. Dis seker….

Boontjie ·

Ons moet net eenvoudig langer leef, die anc as te ware oorleef. Wanneer hulle alles verwoes het en op mekaar gedraai het en uitgemoor het kan ons weer uit ons skuilings kom en die land weer opbou. Ongelukkig ry ons roekeloos, lewe ongesond, beskerm ons self nie genoegsaam nie en word dus uitgemoor. Teen die tyd dat die anc val gaan daar net ‘n handjie vol van ons oor wees.

al ·

Ons morele kompas vervaag al hoe meer – dis net weereens ñ teken dat hoe langer die regerende party regeer, hoe meer gaan ons apaties raak en verval.
Die NUK luister nie eens na invloedryke kerkleiers nie.
Ai Here seën ons land en sy mense, bring ñ positiewe verandering binne elkeen van ons mense.
Ek wens ons het ñ president gehad wat sê: Lets make South Africa great again!

Anoniem ·

Ek wens ons het ‘n president gehad wat vra: “Wat wil die Here hê moet ek doen?”

Philip ·

Anoniem ….die duiwel is in beheer van julle regering….die Here sal nie inmeng nie want hy word nie toegelaat om in te meng nie…
Philip in NZ

Oom Koos ·

Oom FW het belowe daars genoeg wigte en teenwigte . Probleem is die sinker is net eenvoudig te swaar om die gewone , visse , uit te lig !!

Boerseun ·

De Klerk het absoluut vere gevoel vir sy volk, het net aan sy eie sak en broek gedink … die “wigte eb teenwigte” was net propaganda om sy volk gerus te stel en hul ogies te verblind sodat hulle “Ja” sou stem vir sy onderhandelingsoorgawe aan die kommuniste!

Veritas ·

Die kruks van die saak is doodeenvoudig dat demokrasie nog nooit in Suid-Afrika gewerk het nie en ook nooit sal nie. Afrikalande hou gereeld verkiesing, wat ookal die rede daarvoor. Meesal is dit na ‘n bloedige, uitgerekte burgeroorlog waar die toegang en beheer van die staatskas, die eerste prys in die konflik is. Nog ‘n rede is die stamverhoudings. Wanneer daar koalisies aan bewind kom, neem dit nie lank voordat die onderlinge geskille en verskille, die kunsmatige vrede verwoes nie. Die Afrikaan lewe nog soos 2000 jaar gelede. Die Stamhoof of -kaptein is die alleenheerser en sy woord is wet. Dit gebeur dus dikwels dat konflik tussen stamme opvlam wanneer daar verskille tussen die Stamleiers ontstaan. Voordat daar nie begrip vir dié stelsel is en binne dié raamwerk regeer word nie, sal daar nooit vrede in Afrika, ‘n vaste land só groot dat al die ander kontinente daarin kan pas nie, wees nie.

Theresa ·

Waar. Jou laaste sin het my laat glimlag – al is die oorsprong van dié sêding eintlik pateties!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.