Verwagtinge van Suid-Afrika onder ‘n ANC-regering

Voormalige presidente Nelson Mandela en FW de Klerk vier die einde van apartheid

Rhoda Kadalie neem deel aan ons gespreksreeks “1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou”.

1. Wat was jou verwagtinge van ʼn nuwe Suid-Afrika in 1990?

Anders as meeste mense wat groot ideale vir die ANC gekoester het, het ek dit nie gedoen nie, omdat ek die ANC in al sy roekelose glorie in ballingskap sien werk het. Wat in Quattro onder die opperbevel gebeur het, en hul versuim om alle inligting aan die WVK te openbaar, het my gebrek aan vertroue dat hulle anders sou regeer, bevestig. Ek het post-onafhanklikeidslande in Latyns-Amerika, Oos-Europa en Afrika wat Leninistiese/Stalinistiese-modelle gevolg het, bestudeer, en hulle het almal dieselfde paadjie gevolg. Waarom sou die ANC anders wees?

2. Hoe oordeel jy oor wat toe in der waarheid plaasgevind het in die 22 jaar sedert 1990 en 2012?

Vryheidsbewegings gee aanleiding tot swak demokrasieë, aangesien hulle eindelose lojaliteit verwag vir die feit dat hul die “onderdruktes gered” het. Hulle is ondemokraties, en bly deur vriendjieskapitalisme aan die mag. Sedert 1994 het ons gesien hoe die ANC-bewind transformeer tot beheerders van die ekonomie deur Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie – wat tot Regstellende Onaksie geword het – en growwe korrupsie. Terwyl die ANC water, elektrisiteit en geringe behuising aan die voorheen uitgeslote massas verskaf het, bly die gebrek aan gehalte staatsdienslewering en aan verbeterde gesondheidsorg en opleiding, steeds die grootste uitdagings. Die ANC se prioriteite is verkeerd en hulle is meer besorg daaroor om die monopolieë oor Eskom, Transnet, SAA, SABC, Telekommunikasie, Grondhervorming, ens. te beheer, as om te privatiseer waar nodig. Indien die ANC agt wêreldgehalte sokkerstadia binne twee jaar kon bou, dan kan hulle die behuisingsprobleem en die ontwikkeling van plattelandse infrastruktuur aanspreek, hospitale verbeter en skole bou. Polities glo die ANC in gesentraliseerde beheer en om alle magshefbome te besit; gevolglik word die polisie, intelligensie, die regbank en die Artikel 9-instansies almal deur die staat beheer en verloor hulle toenemend hul onafhanklikheid.

3. Wat is vandag jou vooruitsigte vir Suid-Afrika?

Dreigemente om die Grondwet te verander, om grond- en landbouhervorming te beheer, politieke beheer te sentraliseer en die ondergrawing van die Artikel 9-instansies is ʼn aanduiding dat die toekoms nie so rooskleurig mag wees soos meeste graag wil dink nie. Die ANC verloor al hoe meer ondersteuning by die stembusse; dit behaal net-net nie genoegsame steun vir volle meerderheidsbeheer nie; en die opposisie-partye geniet al hoe meer ondersteuning, selfs al is die ANC stadig maar seker besig om die onafhanklikheid van die parlement, die Openbare Beskermer, die Nasionale Vervolgingsgesag, die regbank, die media te erodeer en al is die burgerlike samelewing treurig. Hierdie is die steunpilare van demokrasie en wanneer dit verswak word, sal demokrasie en goeie regering misluk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gemsbok ·

Kort en kragtig.

Puik stuk, dankie daarvoor Rhoda.

Verliese deur die ANC by die stembus, veral in die Wes-Kaap maar ook in ander provinsies is grootliks opgevang deur winste in Kwazulu-Natal.

Dit sal interessant wees om te sien hoe die ANC in ‘n volgende verkiesing aldaar sou vaar, sou hulle besluit om president Zuma te herontplooi.

Ek verwag egter nie groot verliese vir die ANC nie, aangesien sy al-meer populistiese trant vrugbare grond vind om op te val en wanneer daardie oes inkom gaan die werkers te min wees.

H J Bester ·

Die populistiese beleid van die ANC, wat geskoei is op die Leniniste / Stalinistiese modelle, is dieselfde wat grootliks deur Afrika-lande gevolg is – en die uiteinde daarvan was slegs maar net groter armoede van die massas.

Hier in Suid-Afrika slaag die ANC nie daarin om armoede te verlig nie – grootliks vanweë ontoereikende beleid, wanaanwending van fondse en uiters swak dienslewering. Suid-Afrika se relatiewe goed ontwikkelde infrastruktuur en baie hulpbronne, bring egter mee dat baie mense daarby baat en voorspoedig lewe. Die verarmde massas kom al meer in opstand teen die ANC vir hierdie ongelyke verdeling van rykdom en neig dus gevolglik om steun aan ander politieke partye te gee.

Die ANC se hoop om sodanige beheer te kry om die Grondwet te wysig, raak steeds skraler en dus ook sy kanse om groter skade aan te rig – ‘n situasie wat verwelkom word maar ook goed deur die ander politieke partye benut moet word. Steun weg van die ANC moet ten alle koste aangemoedig word.

Gemsbok ·

Ongelukkig is daar nog geen bewyse dat die ANC enige stemme onder die land se armstes verloor nie. Ontnugterde kiesers neig eerder om uit die middelklas te kom.

Alwyn Beetge ·

Weereens n nugtere ontleding van die huidige situasie in Suid Afrika.

Wat meer onstellend is dat die sg “Nasionale Demokratiese Rewolusie” onverpoosd voort gesit word, sonder teenspraak, en dit in n sg demokrasie! Hierdie metode het nie die Grondwet of die Parlement nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.