Verward oor plaaslike handel in renosterhoring? Ek was ook!

Bonné-de-bod-op-OR-Tambo

Bonné De Bod en die Valke by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg tydens die inhegtenisneming van ʼn Chinese burger wat aangekeer is met drie renosterhorings. Die RhODIS (Renoster DNS-databasis) het hierdie horings positief verbind met gestroopte renosters in die iMfolozi-natuurreservaat in KwaZulu-Natal. Die misdaadtoneel was uitermatig wreed, met ʼn baie getraumatiseerde renosterwesie wat nou in die sorg van die staat is. Foto: Verskaf.

In die wêreld van renosterstropery voel dit soms of ek ʼn oudisie aflê vir die rol van ʼn speurder in NCIS. ʼn Groot deel van my tyd word in beslag geneem om te ontrafel wie die rolspelers is in die renosterbedryf, soos ek dit noem. Asook wie doen wat om hierdie ingewikkelde nasionale prioriteitsmisdaad te beveg.

Aan die einde van elke jaar probeer ek sin maak van alles deur ʼn meningstuk te skryf waar ek my ervarings van die voorste linies deel. Maar 2017 is gekaap deur ʼn uitgerekte regsgeding rondom die sogenaamde “silver bullet” of “final bullet”, afhangende met wie jy in hierdie komplekse renosterwêreld daaroor praat: plaaslike handeldryf in renosterhoring.

Wat jy ook al gelees, gehoor of gekyk het oor renosters die afgelope jaar, het als gedraai rondom plaaslike handeldryf. Die hoofstroom media het bitter min berig oor die ander aspekte van die pogings op die grond. En selfs ek fokus hierdie jaar se meningstuk daarop. Maar ten spyte van al die dekking, bly dit ʼn tameletjie om te verstaan. Een groep in die renosterstryd glo dat dit die wilde renoster van uitwissing sal red, terwyl die ander weer glo dat dit presies die teenoorgestelde uitwerking sal hê en tot ʼn ongekende slagting van die spesie in die natuur sal lei, wat weer hulle bestaan net in dieretuine of op privaat renosterplase sal verseker. Ek is seker jy deel my liefde en passie vir hierdie grys reuse, dit is bowenal ons natuurlike erfenis wat hier ter sprake is. So as jy ’n paar minute kan afstaan, sal ek probeer om dit deeltjie vir deeltjie en so eenvoudig moontlik uiteen te sit.

Ongelukkig, soos in die “Sound of Music”, om ʼn duidelike prentjie te skets moet ons reg by die begin begin:

  • Internasionale handel in renosterhoring is in 1977 deur CITES verbied (die bangmaakwoord in hoofletters is basies ʼn ooreenkoms op papier tussen regerings om te verseker dat die handeldryf in diere en plante nie hulle oorlewing bedreig nie);
  • Suid-Afrika gaan voort om die plaaslike handeldryf in renosterhoring toe te laat ná die CITES-verbod, maar geen renosterhoring mag oor ons land se grense beweeg nie;
  • Asiatiese burgers koop renosterhoring in Suid-Afrika in die vroeë 2000’s en voer dit onwettig uit die land uit;
  • In Februarie 2009 plaas die Suid-Afrikaanse regering ʼn moratorium op die plaaslike handeldryf in renosterhoring in ʼn poging om hierdie onwettige aksies stop te sit;
  • Renosterboer Johan Kruger gaan in 2012 hof toe om die verbod op te hef met die wêreld se grootste privaat renostereienaar John Hume wat in 2015 ook tot die hofstryd toe tree;
  • Die tweemanskap behaal ʼn oorwinning en in November 2015 hef die hooggeregshof die verbod op met onmiddellike en daaropvolgende effek (“daaropvolgende” het ʼn invloed op sindikaatsake wat tans voor die hof is, wat in effek die aanklagte teen beskuldigdes laat daal);
  • Die minister van omgewingsake, dr. Edna Molewa, beveg die opheffing van die verbod en appelleer, maar die hooggeregshof wys dit van die hand. Sy wend haar tot die appèlhof, maar word in Mei 2016 ook daar die deur gewys. Haar laaste poging is in die grondwetlike hof in Junie 2016;
  • Die grondwetlike hof wys die poging in April 2017 van die hand en dit word weer wettig om in Suid-Afrika met renosterhoring handel te dryf;
  • Konsepwetgewing vir die plaaslike handeldryf in renosterhoring word in Februarie 2017 deur die departement van omgewingsake vir openbare kommentaar gepubliseer;
  • Suid-Afrika se eerste aanlyn renosterhoringveiling vind in Augustus 2017* plaas.

En dit is basies waar ons onsself in hierdie stadium bevind.

Die aanlyn veiling was die eerste van sy soort en het wêreldwyd die verbeelding aangegryp, ook van diereregte-aktiviste wat die webwerf binnegedring het, en dit vir ʼn paar uur ontwrig het. Daar was selfs bespiegeling van diegene wat teen handel gekant is, dat die toename in beslagleggings op renosterhoring by die OR Tambo Internasionale Lughawe toegeskryf kan word aan die wettiging van plaaslike handel.

Alhoewel die departement van omgewingsake vroeër die jaar konsepwetgewing vir plaaslike handel gepubliseer het en selfs die permit vir die aanlyn veiling uitgereik het, was daar ʼn vertraging in die oorhandiging van die permit aan die eienaar van al die horings wat te koop was – niemand anders nie as John Hume, die renosterboer wat hom by Johan Kruger se hofsaak aangesluit het en daarin geslaag het om die verbod opgehef te kry. Soos mnr. Hume vir my gesê het, die departement het “botweg geweier” om die permit vir die veiling te oorhandig, en hy is terug hof toe waar sy regspan die permit op die Sondag voor die aanlyn veiling gekry het.

Al die vertragings het daarin geslaag om die aanlyn veiling te ontspoor met slegs ʼn handjievol kopers wat geregistreer het en daar is steeds onsekerheid oor die paar horings wat verkoop is, wat mnr. Hume ontstoke het: “Die afgelope jaar was ʼn skeidingsjaar waar die departement van omgewingsake sy regstryd verloor het om die plaaslike handel in renosterhoring te stop, maar dit het ook duidelik gewys dat hulle steeds die regsproses kan interpreteer, manipuleer en frustreer, tot so ʼn mate dat dit die aanslag op my renosters laat voortduur.”

Ek het die departement om kommentaar genader en is ingelig dat die antwoorde op my vrae by die ministerie is vir goedkeuring, maar ten spyte van herhaaldelike oproepe, boodskappe en e-posse, wag ek steeds. Dit moet ek erken is ongewoon, die departement het nog altyd op my versoeke gereageer.

John Hume se manier van renosterhorings opveil is een manier om dit te verkoop, maar dit kom duidelik met sy eie uitdagings. Ek word vertel dat die rede vir die vertraging van die departement se kant af gekom het omdat daar onsekerheid bestaan oor wanneer die oordrag van eienaarskap plaasvind. Met die rol as proefkonyn vir ander voorstanders van handeldryf (die private renostereienaars wat ten gunste van handeldryf is), is die skep van ʼn handelstak die manier vorentoe, volgens Pelham Jones, die voorsitter van die Vereniging vir Private Renostereienaars (PROA).

Met hierdie model sal private renostereienaars hulle horings aan die organisasie oorhandig deur middel van ʼn handelstak of gesentraliseerde verkooporganisasie. Die horings sal by ʼn sentrale stoorfasiliteit gehou word totdat ʼn transaksie beklink is, wat natuurlik die nodige permitte van die departement van omgewingsake insluit. Sodra die koper die wettige eienaar word, word alle koste van die veilige berging van die horing of die vervoer daarvan aan hom oorgedra (natuurlik nog nie oor die landsgrense heen nie**).

Ek het onderhoude met verskeie gebruikers van renosterhoring in Asië gevoer waar daar ʼn konstante aanvraag vir die produk is, maar die plaaslike handeldryf kan natuurlik nie Suid-Afrikaanse horings by die onwettige gebruikers in die Ooste kry nie, omdat internasionale handeldryf in renosterhoring steeds onwettig is.

En net om dit duidelik te maak, die regering het nog nie aangedui of hy wel die groot aantal opgehoopte renosterhoring vir die plaaslike mark beskikbaar gaan stel of selfs by PROA se handelstak gaan aansluit nie. Maar by die CITES-vergadering in 2013 in Bangkok is daar bespiegel dat China Suid-Afrika se voorkeur handelsvennoot kan wees as internasionale handel toegelaat word. En by verlede jaar se CITES-konferensie hier in Sandton, het die minister van omgewingsake my en verskeie ander joernaliste laat verstaan dat daar ʼn goeie kans is dat Suid-Afrika by die volgende CITES in 2019 ʼn voorstel ter tafel gaan lê vir die hervatting van die internasionale handeldryf in renosterhoring. Maar die private renostereienaars*** met wie ek regdeur die jaar gepraat het, is vol vertroue dat daar ʼn plaaslike mark is, en dat hulle selfs regstreeks deur Asiese kopers hier in Suid-Afrika genader is.

Maar soos met alles sal net tyd leer of daar wel ʼn plaaslike mark vir renosterhoring is. Mnr. Jones hou voet by stuk dat PROA se handelstak reg is vir sake doen vanaf 22 Januarie 2018, en so word hulle die volgende proefkonyn vir die regering se toekomstige planne vir handeldryf.

Ek mag dalk nie meer in ’n war wees oor hierdie kwessie nie, en ek hoop jy is ook nie! Maar aan die einde van hierdie deurmekaarspul is daar ʼn dier wat geraak word. Selfs wetenskaplikes is van mening dat die begeerte om met onwettige renosterhoring handel te dryf bevolkingsgetalle beïnvloed****, en nou praat renosterwesie-rehabiliteerders van post-traumatiese stres by die renosterwesies wat stropingsvoorvalle oorleef. Ek hoop dat my meningstuk aan die einde van hierdie jaar minder sal handel oor ingewikkelde renosterpolitiek en meer oor die toekoms van die spesie.

*Alle inligting vir die tydslyn is afkomstig van die departement van omgewingsake. (“The Viability of Legalising Trade in Rhino Horn in South Africa”, gepubliseer in 2014)
**Die konsepwetgewing stel dit dat twee renosterhorings vir persoonlike gebruik uitgevoer mag word, maar dit is nog nie in werking gestel nie en Interpol en CITES sal dit reguleer en beheer sodra die horings Suid-Afrika verlaat.
***Private renostereienaars is verdeeld oor die aangeleentheid. De Bod het met talle eienaars gepraat. Net meer as ʼn derde voel dat wettige handeldryf in enige vorm, skadelik is vir die renosters op die lang duur. Sommige private renostereienaars het aan De Bod gesê dat hulle PROA verlaat het omdat die organisasie nie meer hulle standpunte verteenwoordig nie.
**** “Disruption of Rhino Demography by Poachers May Lead to Population Declines in Kruger National Park, South Africa”, Dr Ferreira, et al.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae