Verwarming bo Antarktika kan ons somerreënval beïnvloed

Antarktika. Foto: Pixabay.com

Deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia

Die grootste bolugverwarming wat ooit in die geskiedenis in die Suidelike Halfrond gemeet is, het gedurende die laaste week van Augustus 2019 in die stratosfeer sowat 50 kilometer bo Antarktika voorgekom. Hierdie ongewone gebeurtenis, wat bekendstaan as skielike stratosferiese verwarming, het tot gevolg gehad dat lugtemperature bokant die Suidpool oor ʼn periode van slegs drie weke toegeneem van -70°C tot -25°C – ʼn temperatuurtoename van meer as 40°C!

Skielike stratosferiese verwarming word veroorsaak deur ʼn kombinasie van weerpatrone naby die aardoppervlak, en kan tans nie noodwendig aan aardverwarming toegeskryf word nie. Alhoewel hierdie verskynsel algemeen bo die Noordpool voorkom, is dit baie raar in die Suidelike Halfrond. Dit is nog net twee keer in die geskiedenis, gedurende 2002 en 2010, waargeneem. Die 2019-verwarming blyk egter veel sterker te wees as wat gemeet is gedurende dié twee gevalle.

Lugsirkulasie bo Antarktika word oor die algemeen gekenmerk deur ʼn sterk westewindrotasie, wat bekend staan as die Antarktiese polêre vorteks. Hierdie vorteks, wat gedurende wintermaande die sterkste is, verhoed dat koue poollug met die omringende warmer atmosfeer meng. Gedurende skielike stratosferiese verwarming verswak die vorteks aansienlik. Gevolglik word die omringende lugstrome versteur en propageer westewindstelsels, wat in Suid-Afrika gekenmerk word as noordwaartse kouefrontstelsels.

Daar word voorspel dat die noordwaartse uitbreiding van koue westewinde nadelige gevolge kan inhou vir beide Nieu-Seeland en Australië. In Nieu-Seeland is die risiko vir ysige weer gedurende die lentemaande hoog, terwyl die sterker westewinde oor die warm Australiese woestyngebiede die droogtes, wat tans in New South Wales en Queensland voorkom, kan vererger.

Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia. Foto: Verskaf.

Die skielike stratosferiese verwarming oor Antarktika kan ook gevolge vir Suid-Afrika inhou. Die noordwaartse skuif van westewinde kan daartoe aanleiding gee dat die winterstelsels oor ʼn langer tydperk as normaalweg sal voortduur gedurende die vroeë lente- en somermaande. Alhoewel dit beteken dat ʼn verlengde reënseisoen vir die suidelike kusgebiede kan voorkom, voorspel dit niks goeds vir lentereën in die droë binneland van Suid-Afrika nie. Soortgelyk aan toestande in Australië, kan sterker westewinde oor die Suid-Afrikaanse binneland ook aanleiding gee tot droër wintertoestande in die somerreënvalstreek.

Daarbenewens bestaan daar ook die risiko dat warmer tropiese lug, wat suidwaarts beweeg namate die somer naderkom, kan bots met die ongewone koue polêre lug uit die suide. Dit kan sporadiese stormweer veroorsaak, veral in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die moontlikheid van laer temperature en selfs koue dae gedurende Oktober is dan natuurlik ook nie uitgesluit nie. Die invloed van die skielike stratosferiese verwarming op Suid-Afrikaanse weerpatrone sal veral gedurende Oktober gevoel word. Dit sal dan ook oor die grootste gedeelte van die vroeë somermaande voortduur voordat dit teen Desember sal begin verswak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KrokodilBotha ·

So die lente begin eers middel November in die Kaap. En dis waarom sogenaamde kaaskrul belangstel in Groenland. Ja , die aardbol raak moeg vir al die gemors wat ons aanvang. Al die opkomende boere, daar kom goeie reen vir die Oos Kaap en Kzn. Ook bygese ons is maar net n spikkel in die hemelruim. Tyd het aangebreek om die vlieende piering af te stof.

Verstaan nie ·

Dit is dan reeds vuurwarm in die Vrystaat? Lanklaas so ‘n warm lente gehad.

Rubber ·

Nou van wanneer af vind die metings plaas. Hoe weet hulle dis die warmte ooit gemeet. Slim kêrels!

Rupert Ashford ·

Dankie Prof Hannes. Mooi by die feite en moontlike gevolge gehou sonder enige histerie of insinuasies – soos wetenskap bedryf behoort te word. @Rubber – ek hoor jou, maar hy het darem nie “in menseheugenis” gebruik om daardeur te beweer dit is “the worst eva!!!” nie.

Jerry ·

Die mensdom is maar verantwoordelik vir sy eie ellende agv gierigheid wat niks en niemand ontsien nie. Diegene met kennis en wie voortydig genoegsame voorsorg tref word darem meeste van die ellendes gespaar, maar jy kan ook net soveel bewaar totdat die gieriges daarvan uitvind. SA staan reeds op sy laaste bene van bewaring en bo en behalwe vir die bedreiging van aardverwarming en die skade wat dit teweeg gaan bring, staar SA nog n groter bedreiging in die nabye toekoms in die gesig synde, water en lug besoedeling wat agv menslike verswelging en mynbedrywighede wat uitgebrei word na areas waar daar nooit voorheen gemyn was nie, en daar was juis nie gemyn nie, maar bewaar agv die gevare wat die besoedeling vir mense, diere en plante inhou. Kyk n mens verder as SA na die onbeheersde afbrand van woude vir landbougrond, dan begin dit al hoe meer lyk of die mensdom besig is om totaal en al waansinnig te raak. Met globalisering moes die res van die mensdom China se voorbeeld gevolg het en begin het om geboorte beperkings in te stel. Dit is egter nou water onderdeur die brug met die mensdom wat aangehou het om aanwas vir bevolkingsgroei aan te moedig en nou is dit juis oorbevolking wat dreig om die aarde en alles wat daarop is te vernietig, kwansuis in die naam van oorlewing. Bewaring vir oorlewing was stelselmatig deur die wereldleiers van die mensdom, self uitgefaseer en dit alles vir getalle, geld en mag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.