Verwronge geregtigheid kan nooit versoening meebring

Argieffoto

Deur Christoff van Wyk

Een van die plakkate wat onlangs voor die hof in Coligny rondgeswaai is waar twee wit mans aangekla word van die moord op ’n 16-jarige swart seun lui: “Justice before reconciliation”. Die slagspreuk dra water, maar die vraag is wat behels hierdie geregtigheid, want dit hou die sleutel tot die ontsluiting van meeste van die rassespanning in Suid-Afrika.

Die ANC, EFF en verskeie ander politici en meningsvormers is gedurig besig om hul ondersteuners daaraan te herinner dat hulle te na gekom is. Dit is, volgens hulle, om hierdie rede dat beleide soos swart ekonomiese bemagtiging, grondonteiening sonder vergoeding en regstellende aksie nodig is om geregtigheid te herstel. Die redenasie volg dan verder dat versoening eers werklik moontlik sal wees sodra hierdie vergrype van die verlede reggestel is. Dit word ook as rede aangevoer waarom versoening en eenheid tussen rassegroepe in Suid-Afrika misluk omrede die geregtigheid wat nodig is, nie realiseer nie. Daar word ook sterk klem gelê op hierdie sentiment in retoriek deur organisasies soos die Instituut vir Geregtigheid en Versoening. Samantha Kambule skryf vroeër vanjaar op dié organisasie se webblad:

“Despite this jump to illusive unity, black South Africans continue to bear the brunt of poverty, unemployment and inequality compared to white South Africans – all effects of 350 years of oppression and dehumanisation.”

Hiervolgens kan versoening dus eers werklik plaasvind as wit mense in Suid-Afrika voor stok gekry is en daar boetedoening plaasgevind het vir die verlede. Dit laat ʼn mens onwillekeurig die vraag vra wat nou weer die doel van die Waarheid-en versoeningskommissie van destyds was. Daar is egter verskeie probleme met boetedoening as voorwaarde vir geregtigheid aangesien dit lyk asof die proses waardeur hierdie geregtigheid in Suid-Afrika verkry moet word, ontaard het in ʼn institusionele heksejag. Onder die vaandel van geregtigheid word daar talle ongeregtighede gepleeg waarvan sommige selfs misdadig is.

Die verwronge beeld van geregtigheid wat tans seëvier, is besig om presies die teenoorgestelde uitwerking te hê en die ongeregtighede wat tans plaasvind teenoor, onder andere, wit mense, word eenvoudig geregverdig omdat dit kwansuis nodig is vir die proses van versoening.

Een van die grootste probleme hiermee is dat baie wit mense meegevoer is deur hierdie skeefgetrekte definisie van geregtigheid wat weer veroorsaak dat hulle skuldgevoelens begin ervaar. Een van die belangrikste redes vir hierdie gebrek aan perspektief, is natuurlik mense se onkunde aangaande die feite oor Suid-Afrika se geskiedenis. Om ʼn skuldgevoel te hê, beteken nie dat jy skuldig is aan ʼn oortreding nie. Daar is ʼn verskil tussen die objektiewe en subjektiewe siening van skuld.

Geen redelike mens wil sy landgenoot en buurman in ellende sien nie, want die feit bly staan dat ons almal, op watter wyse ook al, interafhanklik van mekaar is. As dit dus sleg gaan met my buurman, gaan dit net ʼn kwessie van tyd wees voor dit my ook raak. Maar, as ek deur ʼn derde party oortuig word van ongeregverdigde skuldgevoelens oor my buurman se ellende, dan verkry daardie derde party mag oor my om my te manipuleer soos hy wil.

Dit het lankal reeds in Suid-Afrika gebeur, maar dit wil tog voorkom of blankes besig is om ʼn sekere versadigingspunt hiervoor te bereik. Die gevaar wat egter weer hierin lê, is dat ware, objektiewe skuld geïgnoreer kan word en die plig om verantwoordelikheid te neem vir ons dade en die gevolge daarvan, versuim word.

Geregtigheid behels regverdige behandeling, van almal deur almal. En alhoewel dit eenvoudig klink, word dit ʼn baie moeilike situasie as jou voortbestaan in gedrang kom. NP van Wyk Louw het meer as dertig jaar gelede die hoop uitgespreek dat Afrikaners “die regte ding” sou doen – wat dit ook al behels – en dat die moontlike krisis wat dit teweeg sou bring, ʼn nuwe volk sou laat herbore word wat “jonk” en “skeppend” is. Sy veelbesproke woorde dat hy liewer sou ondergaan as om in ongeregtigheid te bly voortbestaan, was in ʼn sekere sin die leuse van die politieke oorgang in Suid-Afrika. Maar, hy sou nooit bedoel het dat een ongeregtigheid vir ʼn ander moes verruil word nie.

Die idee van geregtigheid wat tans in Suid-Afrika aan die orde van die dag is, is dat wit mense hul welvaart en enige voorsprong wat hulle mag hê, moet prysgee. Dit is ʼn stiksienige idee wat absoluut gepolitiseer is en gebruik word om steeds die wit bevolking aandadig te hou vir alles wat skeefloop in Suid-Afrika. En dít is besig om Suid-Afrika se toekoms in gedrang te bring.

Ware versoening sal nooit deur die afdwing van ʼn verwronge geregtigheid kan plaasvind nie. Dit word as’t ware ʼn gedwonge versoening wat in ieder geval ʼn doodgebore konsep is.

Ware versoening sal slegs deur ware geregtigheid kan geskied en deur regverdige kompromieë. Wit mense wat finansieel in staat is daartoe, sal in alle erns hul sosiale verpligtinge teenoor arm gemeenskappe moet opneem en dit gebeur reeds. Talle suksesvolle programme word reeds deur wit kommersiële boere geïmplementeer waar swart opkomende boere opgelei en ondersteun word. Meeste van hierdie boere erken dat hulle min of geen ondersteuning van die staat ontvang nie. Binne die privaat sektor is daar verder ʼn magdom van ander voorbeelde waar swart mense opgehef word deur, onder meer, indiensopleidingsprogramme.

Soos baie wit mense sal baie swart mense egter ook moet besef dat daar ʼn verwronge idee van geregtigheid aan hulle voorgehou word. Die jongste belofte aan swart mense, is grond en ongekende welvaart. Dit gaan egter nooit realiseer nie en vergrype, soos grondbesetting, sal ʼn rimpeleffek meebring wat eventueel ook swart mense sal benadeel. Pynlike emosies en herinneringe aan apartheid bestaan en kan nooit ontken word nie, maar die slagoffer het ʼn keuse oor hoe hy of sy daardie emosies gaan hanteer. Wraak eindig in selfvernietiging, maar vergifnis maak ʼn mens vry.

Afrikaners is een van weinige volke in die wêreld wat hul politieke mag prysgegee het en terselfdertyd openlik verklaar het dat die strewe na geregtigheid vir almal een van die dryfvere vir sy besluit was.

Ware versoening het nie voorwaardes as alle partye dieselfde doel nastreef nie. Dus beteken “geregtigheid vir almal” ook geregtigheid vir almal – sonder voorwaardes.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

1+1 ·

Waar staan ons nou met die ANC se “Liberation before Education”? Miljarde rande vermors wat vir opheffing gebruik kon word!!!

Willem ·

Gierigheid, populistiese gierigheid laat daardie mense se verwronge versoening na geregtigheid in die hek laat duik.

Eish ·

Afrikaners van hierdie land,
is alger vasgehekel aan n bloedrooi lappie kant.
Ons oë lag nie meer saam,
ons dra ons dood aan andermansblaam!

Die reg het gewyk,
na ons kant, nie gekyk…
Ons taal is geketting in boeie,
Ons geskiedenis, soos ou koeie!

Gee ons liefs net n eie plek,
waar ons kan dans, kerk en werk.
Jul kan ons nie verdra,
dáár sal ons jul geensinds pla…

Jerry ·

Christoff jy het nog baie om te leer en daarom gee ek jou hierdie tip: In SA het die skaal van geregtigheid geswaai in die guns van die verontregtes! Daardie skaal sal geswaai bly totdat die onderdrukker of versoen of die onderdrukte word! Dit is dus beter om te gee en iets te hou as om alles te verloor!

dejager ·

Verlede jaar is ń miljoen babas ge bore in safafrica.Nog ń miljoen verontregtes wat ‘soveel pyn en verontregting van die verlede ‘ gaan gebruik as verskoning om teen my en my mense te diskrimineer.Jerry jy droom as jy dink daar gaan oorbly as jy net gouer versoen.Lees maar die ANC se revolusionêre planne en weet jy kan jou nie uit die effekte van ń springkaanplaag versoen nie.
Jerry jy moet regtig wakker word.

Jerry ·

Dejager, ek staan versoening en weerstand voor en julle staan net weerstand voor. Dit is hoe dit moet wees, n kombinasie en dit is hoe dit is. Ons het n kombinasie van versoening en weerstand nodig, nie net een benadering sal in die situasie uitkoms bied nie. Jy sit tog nie al jou eiers in een mandjie, sorry, trollie nie! As dit jou verwar, dink net hoe verwar dit die ANC. Daarom is dit belangrik dat weerstand versoening ondermyn en visa versa. Dit skep verwarring, maar ook balans. Ek weet dit maak nie vir jou nou sin nie, maar eendag sal dit! Die ANC wil n aanslag teen weerstand loods, maar hulle kan nie n volle aanslag loods nie, want dit sal versoening verongeluk wat vir hulle belangriker is ens. ens. ens. Julle het 500 000 Afrikaners nodig om weerstand te bied terwyl julle selfbeskikking vestig. Ons het net 6 boere nodig om versoening te vestig. Dit laat jou dink, ne!

dejager ·

Jerry jy praat in raaisels terwyl ek hou van reguit praat.Ek hou van baie van dit wat jy nou sê.Meeste mense is moeg vir die versoeningsprojek,waarskynlik omdat dit hand aan hand met die
‘kom ons kyk hoeveel ons van die wiittes kan vat projek’ aangepak word.
Ek is seker nie so slim soos jy nie Jerry maar ek wil graag weet wat die 6 boere, waarmee jy spog ,gaan doen om versoening te bewerkstellig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.