Vestiging van institusionele rassisme in sport is ’n gif

Deur Ronald Peters

Ronald Peters. (Foto: AfriForum)

Die eeue-oue kern van sport was nog altyd meritokrasie, wat die grense van menslike mededinging uitdaag en daarna streef om uitnemendheid te bereik. Die teenstellings van hierdie ideale is politieke inmenging en rassediskriminasie.

In Suid-Afrika, ’n land waar miljoene burgers steeds nie oor basiese opvoedings- of sportgeriewe en afrigters beskik nie, is dit ’n moeilike taak om seker te maak dat ons die beste atlete lewer. Daarom moet ons daarna streef om te verseker dat elke kind toegang tot fasiliteite en goeie afrigting het. Dit is die enigste manier dat die land se talente ten volle ontwikkel kan word.

Met hierdie ideale in gedagte het AfriForum sy mondelinge voorlegging op 3 Augustus 2021 aan Krieket Suid-Afrika (KSA) se paneel vir sosiale geregtigheid en nasiebou (SJN) voorgelê. AfriForum is uitgenooi om voor die paneel te verskyn nadat die organisasie vroeër vanjaar ’n skriftelike voorlegging oor rassekwotas in krieket ingedien het.

In krieket word bogenoemde ideale belemmer deurdat KSA aan druk van die regering toegee, asook aan politieke inmenging deur rassediskriminasie, deur middel van rassekwotas, weer struktureel deel van krieket in Suid-Afrika te maak. Voorstanders van sulke beleide probeer dit versag deur dit “rasseteikens” te noem. Die feit is egter dat ’n maksimum aantal wit spelers en ’n minimum aantal swart spelers vir ’n span nie ’n teiken is nie, maar ’n kwota. Daar is geen manier om verby hierdie feit te kom nie. Diegene wat rassediskriminasie in sport ondersteun, moet ten minste openlik en eerlik daaroor wees.

Kwotas is nie ’n oefening in statistiek nie, maar diep immoreel en beïnvloed die waardigheid van spelers van jongs af tot op senior vlak. AfriForum is oorval deur briewe van ouers oor die trauma wat hul kinders deurgemaak het nadat hulle uit ’n span gelaat is op grond van hul ras (iets waaroor hulle geen beheer het nie) as gevolg van immorele rassekwotas. Hierdie kinders se pyn moenie geïgnoreer word nie; dit kan ook nie ondergeskik gestel word aan ander vorme van diskriminasie nie.

Op professionele vlak belemmer rassekwotas die beroepe van atlete. Die rasse-onenigheid tydens die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2015, nadat Kyle Abbott voor die halfeindstryd uit die Proteaspan weggelaat is omdat hy wit is, het daartoe gelei dat Abbott dit oorweeg het om uit internasionale krieket te tree. Boonop, solank as wat daar ’n rassekwotastelsel bestaan, sal swart spelers nooit die twyfel kan skud wat dit oor hulle werp nie.

In plaas daarvan om die ontwikkelings- en beleggingsroete te neem om skolekrieket in gemeenskappe in nood te verbeter, is die kwotastelsel die maklike uitweg vir die regering: Swart kinders uit elite skole met baie geleenthede word getrek om kwotas te bereik, terwyl dié in die onderontwikkelde skole agtergelaat word.

Die rassekwotastelsel is ook ’n ernstige skending van die reëls en regulasies van die Internasionale Krieketraad (IKR), wat enige vorm van rassediskriminasie in sport (soos ’n kwotastelsel) verbied, asook regeringsinmenging.

AfriForum het nie net voor die SJN-verhoorpaneel verskyn om kritiek te lewer nie. Die organisasie het ’n gedetailleerde sespuntplan vir sportontwikkeling aangebied. In plaas daarvan om ’n immorele en verdelende beleid te aanvaar wat op rasse-profilering en kwotas gebaseer is, moet Suid-Afrikaanse sportbeheerliggame en die regering rolspelers betrek om alternatiewe maniere te vind om die spelersbasis te verbreed deur middel van omvattende ontwikkelingsprogramme.

Werklike en betekenisvolle ontwikkeling behels meer as enkele fotogeleenthede waar krieketspelers getekende krieketballe en T-hemde aan kinders uitdeel. Dit is ’n behoorlik gestruktureerde en befondsde langtermynplan met inkoop van alle belanghebbendes. Sportbeheerliggame kan dit nie alleen doen nie. Burgerlike samelewingsorganisasies en nasionale, provinsiale en plaaslike regering moet ‘n leidende rol in hierdie verband speel.

’n Omvattende sportontwikkelingsprogram moet hoofsaaklik op gebiede fokus waar ’n gebrek aan hulpbronne die blootstelling van jong spelers aan die sport belemmer. Behoefte – en nie ras nie – moet die deurslaggewende faktor vir ingryping wees.

  1. Munisipaliteite moet ’n leidende rol speel om sportgeriewe in gemeenskappe te vestig. Sportbeheerliggame kan nie hierdie verantwoordelikheid aanvaar nie; enige ander instelling ook nie. Die regering kan nie voortdurend sportliggame aanspreeklik hou vir die gebrek aan ontwikkeling as dit sy (die regering) basiese verantwoordelikheid om sportgeriewe aan gemeenskappe te voorsien, vermy nie.
  2. Wanfunksionele skole het ’n nadelige uitwerking op die ontwikkeling van sport. Eerstens moet die departement van onderwys en die departement van sport betrek word, en liggaamlike opvoeding moet weer as skoolvak ingestel word. Tweedens moet meganismes ondersoek word om sport as buitemuurse aktiwiteit by alle skole bekend te stel.
  3. Sterk jeugklubs moet in gebiede gestig word waar leerders geen toegang tot afrigting het nie om sodoende ’n geleentheid te bied vir blootstelling aan sport. Weereens kan sportbeheerliggame nie alleen hierdie verantwoordelikheid aanvaar nie. Die departement van onderwys en die departement van sport moet hierdie pogings finansier. Die departement van onderwys kan ook die betrokkenheid van skole by die jeugklubs koördineer.
  4. Sportbeheerliggame moet afrigting van die hoogste standaard verseker. Die vestiging van fasiliteite en klubs bied geleenthede om jongmense aan sport bloot te stel en te verseker dat hulle afrigting van die hoogste standaard ontvang. Sodra hierdie fasiliteite en klubs gevestig is, kan die sportbeheerliggame afrigters in die omgewing identifiseer en oplei en hulle by sportontwikkeling betrek.
  5. ’n Program wat volhoubare ontwikkeling vestig deur langtermynstrukture en fasiliteite in gemeenskappe wat nog nie gehelp is nie, sal borge lok.
  6. Terwyl sportbeheerliggame interne komitees het wat met die ontwikkelingskwessies handel, moet ’n ontwikkelingskomitee saamgestel word wat rolspelers uit verskillende groepe insluit wat bereid is om ’n bydrae te lewer. Dit kan verteenwoordigers van die sportkode insluit, asook die departement van onderwys en die departement van sport, SALGA, borge en die burgerlike samelewing.

AfriForum Sport se huidige fokus of beginpunt is tweeledig. Eerstens fokus ons daarop om hulpbronne vir ons lede toeganklik te maak deur vennootskappe met sportverskaffers aan te gaan wat hul produkte en dienste teen ’n laer tarief aan ons lede sal bied. Ons wil verskaffers van regoor die land, wat op verskeie sportsoorte fokus, oorreed om by hierdie netwerk aan te sluit. Ons gaan verder ook ’n platform ontwikkel waarop topafrigters aanlyn afrigting aan ons lede kan bied. Dit beteken dat dit nie meer saak maak waar jy jou bevind nie, jy sal steeds toegang tot van die topafrigters in die land hê.

Tweedens fokus ons daarop om sport in gemeenskappe te ondersteun en verder te ontwikkel. Ons almal weet dat sport gemeenskappe saambind en daarom gaan ons geleenthede skep om ’n gesonde gemeenskapslewe deur sport te vestig in gemeenskappe waar AfriForum-lede woon.

Indien en wanneer die fokus van sportontwikkeling in Suid-Afrika in die rigting van AfriForum se sespuntplan vir sportontwikkeling verskuif word en dus weg van politieke agendas, slegs dán sal ons die ware bemagtiging van gemeenskappe en individue kan sien deur middel van sport as voertuig. Sport het die vermoë om gemeenskappe bymekaar te bring, maar politieke betrokkenheid gee sport die vermoë om gemeenskappe uitmekaar te jaag.

  • Ronald Peters is bestuurder van AfriForum Sport.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Hoor hoor!

Puik voorstel – die van sportklubs gebaseer op die model Suid-Amerikaanse lande, dit is die enigste manier om sport in arm gemeenskappe te bevorder.

Chrisp

Kwotas is die kanker in die spansport-ligaam van Suid-Afrika kinders hou op met sport omrede hulle wit is , ek het dit self gesien by baie proewe in krieket en rugby. Die krieketspan van ouds was altyd Engels todat die sport in Afrikaanse skole begin is en nie verwag is dat die SA skolespan en internasionale span soveel Afrikaners moet bevat wat in daai tyd die verhouding tussen die Engels sprekende en Afrikaans sprekendes in % moet weerspieel nie.Die sport is in Afrikaanse skole beoefen en kinders is op meriete gekies en so het die Afrikaanse kinders later vanself deurgekom.… Lees meer »

Jasper

Ons aanvaar die diskriminernde wetgewing en dit is orals teenswoordig in die werksplek, sport,universiteite en die gevolge hiervan is ‘n land wat se rug gebreek is. Die huidige benaadeelde minderhede lei die meeste daaronder en dit is die rede waarom ons ‘n onafhanklike tuisstaat moet kry waar jy op meriete gekies word ongeag kleur of ras dan sal alles in plek val,ekonomie, aansien en trots

Marthinus

Sport was nog altyd polities, en vandag is dit deel van lande se “oorlog” teen mekaar. Keiser Nero het aan die spele deelgeneem, en ‘n hele paar pryse gewen. (Destyds was voordrag van gedigte en liedjies sing deel van die spele.) Die gevoel was dat hy party items gewen het omdat hy keiser van Rome was.
My oorlede broer het vir ‘n maatskappy gewerk wat sport ondersoek het. Een skool het byvoorbeeld geld van SA Rugby gevat en leerlinge Skotland toe gestuur om te gaan leer doedelsak speel. ‘n Ander groep het kano’s gekoop.