VF Plus saal verdagte perd op

Peter Marais, dr. Pieter Groenewald, dr. Corné Mulder en Erika Botha-Rossouw. Foto: VF Plus

Die Vryheidsfront Plus het nou ‘n vreemde perd opgesaal in sy keuse as premierskandidaat in die Wes-Kaap – een wat al in amper elke denkbare stal gestaan het.

Peter Marais (70) het in 1984 NP-lid van PW Botha se driekamerparlement geword en was sedertdien lid van die Nuwe Nasionale Party, die Demokratiese Alliansie (waarvan hy burgemeester en ‘n paar maande lank die premier was), die New Labour Party en Cope. Hy was ook al, en is dalk steeds, ‘n raadgewer vir die Onafhanklike burgerregteorganisasie (Icosa). As premier is hy in 2002 deur die DA-leier Tony Leon in die pad gesteek.

Hy was as Wes-Kaapse premier vir korrupsie en seksuele teistering aangekla, maar is in die hooggeregshof onskuldig bevind. Die DA-leier Tony Leon het hom nogtans as premier afgedank.

Hy het in 2013 die Bruin Bemagtiging Beweging (BBB) [sic] gestig en hom begin beywer vir ‘n einde aan diskriminasie teen bruin mense, iets waaroor hy steeds baie sterk voel.

“Die bruin mense het nie ‘n geloofwaardige stem wat sy saak op die hoogste vlakke kan stel nie en Afrikaans is op sy sterfbed. ‘Ons mense’ kan nie werk of Afrikaanse skole vir hul kinders kry nie, en miljoene mense kom die land binne,” het hy gesê. Hy is ook, soos die VF+, verbind tot Christelike waardes.

Marais sê sy gesprekke met die VF+ het al in 2014 begin en die prosedures om as premierskandidaat benoem te word, is afgehandel.

Mees ervare kandidaat

Pieter Groenewald, leier van die VF+, sê geen ander opposisieparty het ‘n meer ervare premierskandidaat nie. Sy party veg vir die beskerming van minderheidsregte “wat minderhede teen die tirannie van die meerderheid moet beskerm.” Hy sien regstellende aksie is ‘n voorbeeld van diskriminasie teen wit en bruin.

Die VF+ is van mening dat dit die soort beleid is waarmee hy onder die DA se meerderheid van 60% kan maai. Die DA is juis landwyd op die agtervoet nadat Mmusi Myeni die leierskap by Helen Zille oorgeneem het. Zille is seker die naaste wat ‘n politikus aan onkreukbaar kan kom – sy het die Wes-Kaap by die ANC afgeneem en hom omskep in die land se topprovinsie – maar is opgeoffer ter wille van die soeke na meer swart steun.

Die VF+ het vier van die 400 setels in die nasionale parlement, maar kon in die laaste provinsiale verkiesing net 11 587 stemme trek en het dubbel soveel nodig om ‘n setel in die Wes-Kaapse wetgewer te kry.

Groenewald sê marknavorsing dui daarop dat ‘n groot aantal Wes-Kaapse kiesers onseker is vir wie hulle moet stem, en dis húlle waarop die VF+ hom toespits.

Corné Mulder, die VF+ se Wes-Kaapse leier, sê sy party wil die ANC of ‘n ANC-EFF-koalisie sowel as ‘n suiwer DA-regering voorkom.

Intussen het Patricia de Lille, gewese DA-burgemeester, se Good-party, wat tot groot mate op bruin kiesers gemik is, ook op die toneel verskyn. Dit gaan dit vir die VF+ net moeiliker maak om die nodige steun te bekom.

Wes-Kaapse afstigting

Marais het in ‘n onlangse toespraak gesê jy kan die Afrikaners vir alles uitskel, maar jy kan nie sê hulle het niks gebou nie.

“Yskor, Denel, skole, hospitale, technikons en universiteite is gebou deur Afrikaners wat as regs beskou word. En alles wat gebreek is, het hulle nie gebreek nie.”

Marais is ook ten gunste daarvan dat die Wes-Kaap met sy meerderheid bruin bevolking van die res van die land moet afstig.

Die Cape Party beywer hom sedert sy stigting hiervoor en het ook die steun van die nuutgestigte Gatvol Capetonian-party, wat registrasie geweier is.

Daar is ook baie wit mense wat deel in hierdie onhaalbare droom, en die stryd tussen bruin en swart is vir baie van die Kaapse onluste verantwoordelik, maar word nie in die hoofstroommedia so gerapporteer nie. Daar was wel ‘n onlangse berig dat bruin kiesers wat met die DA ontevrede is ook nie in die EFF tuis voel nie en die rug in groot getalle op hom draai. Hul nuwe tuiste sal straks die Good Party wees.

Die jongste OVK-syfers toon dat 285 partye vir die nasionale verkiesing geregistreer het. Hulle moet nog ‘n deposito van R200 000 elk (R45 000 vir die provinsiale wetgewers) betaal en die getal sal waarskynlik aansienlik krimp. Daar is 26,7 miljoen mense op die kiesersrol, van wie 1,19 miljoen nuut geregistreer is.

Die VF+ het natuurlik bestaansreg,  maar sy jongste stap dui op blatante opportunisme. Mmusi Maimane en die verdeeldheid in die party het baie stemme vir die DA verloor. Dis nie stemme wat die VF+ met sy bruin premierskandidaat gaan kry nie, ook nie van bruin mense nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

waarheid1 ·

Nou kan ek vir niemand stem nie want hierdie ouens was my laaste hoop en toe bring hulle nou hierdie perd in die stal en woeps daar gaan my stem – by die hek uit!

Judge Dredd ·

Ai tog, met bruin kiesers se steun kan VF+ die meerderheid steun kry in Wes-Kaap en Afstigting van res van land en behoud van Afrikaans en kultuur moontlik.

Wat mense moet besef is dat die minderhede moet begin saamstaan – anders gaan alles waarvoor hul lief is van hul weggeneem word.

Nie die ANC,EFF of DA is vir minderhede – hulle vry almal agter die swart vote aan.

Volgens my is daar slegs 2 moontlikhede oor vir minderhede – VF+ of Cope.

Thinus Erasmus ·

Org net twee punte: wie anders en samewerking is dringend nodig.
Dit is interressant dat diegene wat nie hou van samewerking tussen wit en bruin wel dit so half noem of impliseer, en ek verstaan hul standpunt en respekteer dit. Ek het ook nie van die idee van die 3 kamer parlement gehou nie, maar nie oor die saamwerk ding nie, maar bloot omdat die die proses aan rol gesit het van vandag se 1man 1stem gemors.
Maar in die Kaap is ‘n groot konsentrasie bruin mense en saam met die wit Afrikaners het hul ook ‘n vryheids strewe wat vir albei nou dringender is as ooit. En voeg daarby die eerste nasie redenasie (die wit Afrikaner het ook sy oorsprong ook vanuit die Kaap) is dit juis die tyd en plek vir die twee groepe om nou kragte saam te gooi, hetsy koalisie of samesmelting van politieke partye.
Maar wat ek nie verstaan is dat diegene – soos Org, wat nie van die persoon hou nie, geen alternatiewe voorstel nie, WIE ANDERS?
Ek is ver van die Kaap af, en ek ken nie die politiek daar nie, maar wie is klakkeloos en skoon van karakter wat die VF+ en sy mense goedgesind en eens is?

John ·

So ‘n onderdagte keuse gee ‘n aanduiding van die Pieter Party + se dogmatiek. Nog Pietertjies wat parlement toe wil gaan, steek die hande op. Die party stel nie belang in die res van die volk nie. Lekker sitplekke met groot salarisse… Pieter Marais soek bloot net nog ‘n dom groep wat ‘n kassie vir hom bied om vanaf droog te maak. Hy wil gou die leier van die futlose groepie word wat die Kaap se vlakte as grondjie wil he.

nico k ·

Ek verstaan die VF se doel. Hulle probeer bewys dat hulle nie ‘n rassistiese “slegs blankes” party is nie. Maar of dit gaan werk weet ek nie. Ek kan nie sien dat hulle enige bruin stemme sal trek nie.

Judge Dredd ·

Party mense glo ook dat Solidariteit net wit lede het.
Jy en die ander wat so glo is verkeerd.

Reinhardt ·

Lanklaas so pot snert gelees. Hierdie is n uitstekende stap vir die VF+. Wie op aarde kan nie met Peter Marais se toespraak saamstem nie? Hulle staan vir minderhede, vir Afrikaans, en vir geregtigheid. Die kleur van jou vel is irrelevant.

As jy skuif van een maatskappy na n ander beteken dit nie jys n verraaier nie, dit beteken eenvoudig n ander maatskappy het vir jou n beter geleentheid gebied. Die beleide van al die partye waarby hy al betrokke was is eenders. Almal het n mate van klassieke liberalisme.

Reinhardt ·

Presies. Maar velkleur is steeds belangrik vir sekeres…

Therese van Schalkwyk ·

Natúúrlik het die Vryheidsfront Plus ‘n waagstuk aangegaan met Peter Marais, en dieselfde geld ook vir mnr. Marais.
Groeiende swart nasionalisme in Suid-Afrika, en die algemene politieke chaos, noodsaak egter hierdie soort samewerking en wie nie waag nie, wen nie.
Die negatiewe reaksie wat die verrassende skuif ontlok, is teleurstellend.
Alle voorspoed en sterkte word die betrokke partye toegewens!

Heinrich ·

Ek sekondeer! Sovêr klink dit alles na die regte geluide wat gemaak word. Solank almal kop hou, hande tuis hou, en net professioneel optree hou ek van hierdie idee.

Andre ·

Natuurlik is n onafhanklike weskaap moontlik, dit gaan nie n maklike pad wees nie maar niks keer hulle om dit af te dwing nie, regdeur die geskiedenis gebeur onafhanklikheid.

Wessel ·

Nie in ‘n miljoen jaar nie, die WesKaap is net té strategies vir die res van die land, die beste wat daar ooit kan gebeur is wat hulle tans het, en dit is politieke beheer oor die provinsie.

Jerry ·

Waarmee die VF nou besig is, moes reeds in 2014 plaasgevind het. Om alle minderheidsgroepe te betrek is die rigting wat ingeslaan moet word ten einde polities relevant te bly en bestaansreg te verseker. Dit raak onmoontlik om die ANC se revolusionere aanslag met n enkele rasgedrewe agenda te stuit. Dit gaan n volskaalse teen revolusionere aanslag van wit, swart, bruin en indier verg om die wit, swart, bruin en indier revolusioneres te stuit! Die ANC is nie oppad tronk toe nie, die ANC is oppad om te nasionaliseer en n gekombineerde poging mag dalk net die doepa wees wat benodig word om Suid Afrikaners en die buiteland teen die ANC gedraai te kry! Die multi rassegroepe wat afgespeel word teen die Afrikaner kan gestop word en omgedraai word, mits Afrikaners nou hulle verskille by le en die rigting wat die VF inslaan, steun. Daar is nie meer plek vir regse rassisme op hierdie trein nie, slegs konserwatisme met nuwe innoverende idees. Sit regse rassisme weg in die geraamtekas en maak seker dat julle nie hierdie trein verpas nie!

humor ·

Die regte antwoord. Deur dekades en meer was die Afrikaner gebrekkig in die insig en dwars hardkoppig om saam te snoer en n bedingensmag te vorm. Nou word beweeg na anderkleuriges om hierdie ideaal te verwesnlik. Binne een party kan ek nog steeds my eiendomlike kultuur, taal tradisie en christenskap handhaaf. Ek word nie daarvan beroof nie, Ek kan my nog steeds as Afrikaner self verwesenlik.

Paul ·

Ek stem 100% saam. En vir diegene wat in die verlede vir die FV Plus gestem het wil ek vra, wat het dan nou in hul beleid of waarvoor hulle staan en die verkiesing gaan veg verander?

En die antwoord is …. niks.

Henk ·

Myns insiens is die beste manierom konsewatiewe denke te beskerm en te dien as die VF+ , ACDP , Cope en die IVF nie net ‘n samewerkings ooreenkoms aangaan nie , maar saamsmelt

Leoni ·

Jy slaan die spyker op die kop, Org. Peter Marais is ‘n politieke verkleurmannetjie wat nie omgee oor politiek nie, maar slegs homself. Ek is regtig teleurgesteld in die VF+ dat hulle hul beginsels van eerlikheid en integriteit verruil het vir “moontlike” stemme. Hulle het nou in dieselfde slaggat as al die ander partye getrap. En nou het ek niemand meer om voor te stem nie.

Thinus Erasmus ·

Leoni miskien het ek te lank redeneer, so ek vra jou kort op die man af: Wie anders sou ‘n beter keuse wees volgens jou?
En Jerry, dit het nie in 2014 gebeur nie – is die venster nou toe, was dit die enigste geleentheid? En tog het jou sentiment jeens VF+ verander, dankie.

DewaldS ·

As dit wat jy van Peter Marais sê die waarheid is, dan is hy mos nou in geselskap waar hy sal tuis voel?

Dries du Toit ·

Neee Leoni. Dit is nie regtig waar dat Marais n verkleurmannetjie is nie. Ek kan met hom saamstem. As hy n buskaartjie koop Kaapstad toe en die busbestuurder besluit halfpad hy gaan nou Joburg toe. Dan klim jy af. Hy het altyd pad gegee as hulle beleid verander

Wynand ·

Org ek weet nie , maar vir my klink dit of die VF+ ‘n goeie strategie het. Hul verkiesing manifes is uit …Afrikaanse minderheids regte, selfbeskikking ens…ten minste weet jy met watter kieser jy te doen het – wit of bruin of wie ookal. Wit mense in die Kaap stem tradisioneel vir DA al is hul nie altyd gelukkig met die party nie vir die rede dat hulle nie die DA wil verswak deur vir kleiner partye te stem nie. Die DA wys egter sy ware kleure en mense begin verstaan wat koalisie politiek beteken. Hoekom nie ook vir die bruin konservatiewe kieser ‘n tuiste gee nie – hoe meer vir die groter gemeenskaplike belange veg hoe beter. As Wes Kapenaar dink ek ons moet hierdie stategie van die VF+ eers ‘n kans gee voordat ons net modder gooi. Jy kan wat ook al van die VF+ sê, ‘n klomp klein partyjies opnoem of grotes soos DA, maar die kans is baie goed dat dit die enigste party of voertuig gaan wees in 2019 en die volgende paar jaar wat op die ou end in die parlement gaan sit en wat spesifiek gaan opkom vir afrikaner regte. Keuse maklik

Anoniem ·

Ai, as Marais net nie so “reputasie” gehad het nie, sou ek gemakliker gevoel het hieroor.

Jerry ·

Thinus, sou dit reeds gebeur het in 2014, sou die vordering wat ons nou gaan sien gebeur, reeds gebeur het! Te veel jare is reeds vermors, maar dit en die redes daarvoor sal ek maar vir eers eerder daar laat. My sentiment teenoor die VF het nie verander nie. Die VF het gestagneer, ek nie! Noudat die stagnasie tydperk verby is, behoort ons darem weer op dieselfde golflengte bymekaar te kan uitkom en ek reken dit geld ook vir baie van my mede Afrikaners. Die VF was soos die verlore seun en dit was net n kwessie van tyd voordat die VF sou terugkeer huistoe!

Thinus Erasmus ·

Ten spyte van jou teenspraak kan ek aflei:
1 Dis te laat maar dit kan nog verskil maak
2 Jou sentiment het nie verander maar jy beleef tog ‘n verlore seun kom huistoe oomblik.
Ek kan met met groot blydskap aanneem jy kyk darem met sagte hart na ons!

Johan ·

die afrikaner het twee dorings in sy vlees wat politieke vooruitgang benadeel 1) die tipe liberaliste ens wat verkondig dis sleg om afrikaner belange na te strewe en vir sulke partye te stem , 2 ) daai hardkopige tipe afrikaner wat eng, kleingevoelig is, nooit vergewe en daarom nooit buite die gat kan sien wat hy vir homself en andere grawe nie. Politiek (anders as bv kultuur organisasies) is ‘n taktiese spel en soms kry jy vennote vir die groter doel. Tenspyte van die foute, as daar ‘n ander bruin kandidaat is met dieselfde doelstellings, wys hom asb vir ons uit Org. BAIE BELANGRIK die VF+ het nie sy prinsiepe/doelstellings opgegee of verander nie, hy het net meer vennote gekry om vir ‘n goeie doel te baklei (en daarvoor met ons bly wees). As die VF+ hul ideale verander het of nie reeds standvastige leiers gehad het nie, dan kon die doemprofete kla. Die VF+ het nie nou gesê ek moet skielik my blanke afrikaner ideale opoffer nie en netso vir die bruin gemeenskap (maar daar is gemeenskaplike doelstelling en wedersydse respek). Solank die VF+ nie hul manifes verander/prysgee (soos sekere organisasies of DA om stemme te wen), is ek opgewonde oor hierdie vennootskap (met Pieter of as dit nie werk nie met ander leiers in die bruin gemeenskap) – saam het ons groter kans, plaaslik en internasionaal.

dolla ·

Wanneer begin die VF+ in gesprek tree oor selfbeskikking? Doodstil. Teen hierdie tyd moes hulle al lankal die saak in parlement geopper het om die “winde” te toets en elke beskikbare openbare verhoog gebruik on voorbrand te maak. Laat mens wonder of hulle regtig ernstig is oor hul eie doelstellings……

Gert ·

Ek stem nie saam met Org nie. Ek dink hierdie was ‘n goeie besluit.

Ling Su ·

Peter Marais is nie n “verdagte perd nie.” Hy is net “n perd van n ander kleur.”!

Frik Lotz ·

VF Plus is die groeiende alternatief en gaan n verrassing lewer in die verkiesing. DA se rakleeftyd het lankal verstryk en hul dae is getel. VF Plus is enigste party wat onbeskaamd veg vir minderheidsregte en wat werkbare planne het aangaande selfbeskikking.Die logiese keuse om voor te stem is VF Plus.

bollie ·

Watse werkbare planne praat jy van? Ek hoor absoluut geen gesprekke van die VF+ se kant af algaande selfbeskikking nie. Hoekom opper hulle nie hul gedagtes in die parlement en openbare verhore nie?

Koos ·

Ek dink Org spekuleer maar net. Ek dink dis ‘n baie goeie skuif deur die VF+ en Pieter Marais. Daar moet nou net nog geloofwaardige bruin leiers aan boord kom

AMMIE ·

Ek wonder ook vir wie om eintlik te stem en probeer my huiswerk goed doen om sodoende die regte kruisie te trek………….het ons as Christen Afrikaners enige ander keuse. Kan ons nie asseblief saamstaan en in vrede en liefde die regte keuse maak in belang van ons land nie.

Ai MM ·

Ek dink dit is Mmusi Maimane wat die DA leierskap oorgevat het?????

Pieter die Bethlemiet ·

Dit is hoog tyd dat almal wat afrikaans koester en diegene wat afrikaans net soos die ander 10 amptelike tale n regmatige plek gun, saamstaan. Koalisies bied aan almal wat nie vir die DA, ANC, EFF en diesulkes kans sien nie om beduidende medeseggingskap in besluitneming te kry.

Paul ·

LW, hierdie is toe nie ‘n wit perd, ‘n bruin perd, ‘n swart perd of ‘n skimmel perd nie, maar ‘n verdagte perd. Nou op watter perd sal jy klim?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.