Vicki Momberg: Denkpolisie en gedagteklopjagte

Vicki Momberg. Foto: ANA.

In sy boek 1984 beskryf George Orwell ʼn somber toekoms waarin ʼn oppermagtige regering volledige beheer oor sy burgers uitoefen. In die toekoms is die departement wat seker maak burgers dink “reg”, die Departement van Waarheid. Die Departement van Waarheid is ongenaakbaar en mense wat “verkeerd” dink, word vervolg deur middel van die denkpolisie. Enige aksie of woord wat daarop dui dat jy “verkeerd” dink het gelei tot mense wat geheimsinnig verdwyn.

Vandag het die denkpolisie in Suid-Afrika toegeslaan.

Vicki Momberg is tot twee jaar tronkstraf gevonnis vir verkeerd dink. Verstaan mooi, ek stem geensins met Mev. Momberg saam nie, ek vind haar gedagtes en taalgebruik onaanvaarbaar en deel nie haar sentimente nie. Ek wil wel nie haar denkpolisie wees nie. Daar moet plek wees in die stryd om idees vir alle idees, goeies en slegtes. Waarmee ek fundamenteel verskil, is die beginsel dat jy tronkstraf opgelê kan word vir verkeerd dink.

My vermoede is dat die regter edel bedoelings het, ons is almal immers dit eens dat rassisme uitgeroei moet word. Tog – soos alle edel bedoelings wat hemel op aarde wil skep, lei dit tot hel op aarde. Wanneer regerings die mag het om mense vir “verkeerde” denke te vervolg, skep dit ʼn ongelooflike gevaarlike presedent. Karl Marx het geskryf dat die idees van die regerende klas noodwendig die regerende idees van die samelewing word.

Hierdie uitspraak gee die regering die mag om te bepaal watter denke is “reg” en watter “verkeerd”. Onder sosialistiese regerings vind jy altyd ʼn verskrikte burgery wat konstant op eiers loop. Die robuuste debat, wat nodig is vir die stryd rondom idees, word totaal ingeperk. Omdat die regering bepaal wie dink “reg” en wie dink “verkeerd”, lei dit tot ongelooflike dubbele standaarde. Met selektiewe toepassing van wette kan die regering die objektiwiteit van die regbank omseil.

Ons sien dit reeds in Suid-Afrika uitspeel in die growwe dubbele standaarde wat gevolg word wanneer dit kom by rassisme.

Luvuyo Menziwa, ʼn EFF-studenteraadslid op UP, het in 2016 gesê dat hy ʼn AK-47 of Bazooka kort sodat hy die “regte” ding kan doen en hierdie “duiwelbesete” wit mense dood kan maak. In Maart 2018 bevind die gelykheidshof hom skuldig en beveel dat hy gemeenskapsdiens moet doen en amptelik om verskoning moet vra. Luvuyo Menziwa kry nie twee jaar tronkstraf nie.

Velaphi Khumalo, ʼn staatsamptenaar verbonde aan die Gautengse departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning, spreek in 2016 sy behoefte uit om Suid-Afrika te “suiwer” van wit mense. Hy voer aan dat daar met wit mense gehandel moet word soos wat Hitler met die Jode gehandel het. Khumalo is geskors met vol betaling en toe ʼn finale geskrewe waarskuwing gegee. Velaphi Khumalo kry nie twee jaar tronkstraf nie.

Majoor M.V. Mohlala, ʼn offisier in die Suid-Afrikaanse Weermag, het in reaksie op ʼn plaasmoord gewens die aanvallers het die slagoffer se oë en tong uitgesteek. Dit sou wees sodat die wit slagoffer sy swart moordenaars kon sien, en dan met daardie nagmerrie na sy graf toe kon gaan. Die SAW het Mohlala slegs ʼn waarskuwing van toekomstige tugoptrede gegee, geen sprake van twee jaar tronkstraf nie.

Julius Malema het homself al herhaaldelik skuldig gemaak aan haatspraak. Ten spyte van die feit dat hy al skuldig bevind is aan haatspraak is Malema nog op vrye voet, trouens hy is die leier van die derde grootste politieke party. In Maart 2018 het hy gesê dat hulle die “keel van witheid gaan afsny” met verwysing na Athol Trollip, DA-burgemeester van Port Elizabeth. Hy het daarna verder uitgevaar en dit duidelik gemaak dat Trollip slegs geteiken word omdat hy wit is, en dat dit vir Malema lekker is om ʼn wit man te kan seermaak. Sy straf vir hierdie uitsprake is dat president Cyril Ramaphosa gesê het hy sal hom met ope arms terug in die ANC ontvang. Malema se rassisme word beloon en implisiet verwelkom. Julius Malema word beslis nie tot twee jaar tronkstraf gevonnis nie.

Al hierdie voorbeelde is mense in gesagsposisies, wat wesenlik meer invloed het as Vicki Momberg. Dit is dus duidelik dat die dubbele standaard nog erger toegepas word, met regeringsamptenare en ander mense in gesagsposisies wat onaantasbaar is, en lae-vlak burgers wat “verkeerd” dink wat vervolg word.

Jy het die volste reg om kwaad te wees, daar is ʼn onreg gepleeg. Die onreg is nie so seer teen mev. Momberg nie, maar beslis teen elke burger van Suid-Afrika se reg op vryheid van denke en spraak.

Ons durf nie die denkpolisie as normaal aanvaar solank hulle ons vyande uitsorteer nie. Die dubbele standaarde wat reeds toegepas word rondom rassisme in Suid-Afrika, beteken dat dit ʼn kwessie van tyd is voor die denkpolisie aan ons almal se deure klop. Ons durf dit nie toelaat nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Ons is nie ver van die eerste politieke aangehoudenes van die tragiese bedeling nie.

Ampie ·

Na my mening gaan daar nou ‘n nuwe heksejag wees teen enige wit persoon wat ander persone “kwets” – wat dit ook al beteken. Ek vermoet mnr Hermann is reg dat die denkpolisie op ons nekke is: verwag dat mense wat die ou vlag besit toegesluit gaan word, wit mense wat swart mense se bona fides in twyfel trek as rassiste gevonnis kan word en mense wat ‘n goeie woord oor apartheid en kolonialisme te se het toegesluit gaan word.

SA Moordmuseum ·

Hierdie is heksejag en selektiewe toepassing van die reg op sy uiterste. Daar word groot dinge teen ons beplan, daarom moet ons vroegtydig die wereld bewus maak soos om iets soos ‘n apartheidsmuseum of holocaustmuseum voortydig te open, al is dit oorsee of virtueel, sodat die wereld grafies kan sien hoe wreed babas en bejaardes in hierdie land vermoor word. Dit sal groot skokgolwe en bewustheid wereldwyd bring, en kan ons nog red.

DJH ·

Ouma….in rusland en die ooste blok was hulle politieke komissarisse wat enigeen wat n’ vinger gewys het teen die regerende party of hulle lede tov enige normale kritiek, in hegtenis geneem het – die persoon alleen of hulle hele familie – in tronke gestop het, en gemartel het om uit te vind wie hulle nog ken wat ook teen die regerende party sou wou kritiseer of negatiewe dinge sou wou noem of doen…….as hulle nie in aanhouding en onder marteling gesterf het nie was hulle in strafkampe gegooi waar hulle in elk geval sou doodgaan…..die wereld sal nooit iets weer van hulle hoor nie…….soos is 65 miljoen russe wat teen die regerende party was, tussen 1914 en 1950 in rusland en die ooste blok vermoor. Die komissarisse het heeldag rondbeweeg tussen gewone mense om die wat nie soos die regering dink nie uit te lok of uit vang wanneer hulle kritiek lewer teen die regering. MAW as jy sou wou bly lewe in die toekomstige SA leer om net te dink wat jy wil maar hou jou mond……..dis n’ totale ondermyning van enige iemand se Vryheid……dis kommunisties……iets waarnatoe ons op pad is tensy dit NOU GESTUIT WORD!!!!!

bgj van der westhuizen ·

verval verval suid afrika sal nie meer lank bestaan nie

Jerry ·

Indien ek jou reg verstaan mbt die nuwe denkpolisie dan beteken dit dat die denke van selfbeskikking en volkstaat wat jy na strewe en aan die Afrikaner voorhou as synde die enigste oplossing vir die situsie waarin die Afrikaner homself bevind, lynreg staan teenoor die denke van gelykmaking van die ANC magshebbers. Dit beteken dus dat jou selfbeskikking en volkstaat denke verkeerd is in die oe en denke van diegene met die politieke mag en dus taboe is in die huidige en veral toekomstige politieke klimaat. Nou, as dit so is dat ek die nuwe denkpolisie reg ontleed, dan moet jy darem een of ander tyd vir die 450, 000 lede inlig en se of jy voortgaan met die taboe plan of nie en hoe jy beplan om die pad vorentoe te bewandel, inaggenome die bedreiging wat die nuwe denkpolisie inhou vir Afrikaner denke en strewe na selfbeskikking!

Poplap ·

Vicky was mos picky!
As sy maar net haar denke getem het voordat dit soos ‘n leeu by haar mond uitgespring het dan was sy dalk nie nou in die tjoekie nie. Sy is gun tronk toe oor haar denke nie! Sy is tronk tos oor haar dade. Dirk en kie as jy dan sê jy wil nie die ddnk polisie wees nie dan neem ek aan jy wil ook nie die denke van ons mede burgers polisieer nie?
Doen ons almal ‘n guns. Veryws bietjie al hierdie haatspraak sake na die equity court sodat ons kan sien wat gebeur. Talk is cheap but actions buys the freedoms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.