[Video] Feiteblad: Demokrasie in Afrika het misluk

ernst-roets-afrika-demokrasie

‘n Skermskoot uit die video.

Robert Mugabe het uitgetree, en die wêreld vier fees. Jacob Zuma nader die einde van sy termyn, en die wêreld vier fees. “Laat demokrasie heers!” word daar in die strate gedreunsing. Natuurlik moet ons ons verheug oor die nuus dat Mugabe geforseer is om uit te tree en moet ons ons verheug wanneer daardie tyd vir Jacob Zuma aanbreek, maar ons moet nie enige illusies hê oor die vooruitsigte vir demokrasie in Afrika nie…

Wat beteken demokrasie dan nou eintlik? Francis Fukuyama het tereg gesê dat daar omtrent soveel omskrywings vir demokrasie is as wat daar prokureurs is. Soos ons weet, is die term afgelei van die Griekse woorde demos en kratos, wat “mense” en “heers” beteken. Maar demokrasie kom nie bloot daarop neer dat die meerderheid kan heers op watter manier hulle ook al wil nie.

Byvoorbeeld, indien die meerderheidsparty sou besluit dat vrouens van hul stemreg ontneem moet word, of dat die opposisieparty verban moet word, sou dit demokraties wees? Nee. Dit sou ’n meerderheidsbestel wees, nie demokrasie nie: ’n Verskil wat menigte demokraties-verkose Afrika-leiers oënskynlik nie verstaan nie.

Dit is iets wat selfs die president van Afrika se vlagskip vir demokrasie – Suid-Afrika – nie verstaan nie. Dít blyk duidelik uit hierdie uitlating van Jacob Zuma in die parlement: “Ons het meer regte omdat ons die meerderheid is. Julle het minder regte omdat julle die minderheid is. Uiteraard is dít hoe demokrasie werk.”

Nee, meneer die president, dit is nié hoe demokrasie werk nie. Die verskil tussen demokrasie en ʼn meerderheidsbestel lê in aanspreeklikheid, die handhawing van die wet en veral die beskerming van minderheidsregte.

Maar in Afrika het ons herhaaldelik gesien dat demokraties-verkose leiers nie hierdie verskil verstaan nie en baie van hulle, Robert Mugabe en Jacob Zuma ingesluit, is glad nie demokrate nie maar eerder vermomde magshonger diktators wat die nosie “demokrasie” gebruik om daardie mag te bekom.

En dít is die probleem met demokrasie: Dit maak nie voorsiening vir behoorlike beskerming teen vermomde diktators nie. Dit is hoekom George Orwell, die outeur van Animal Farm, geskryf het dat:

“In die geval van ’n woord soos demokrasie is daar nie net geen ooreengekome verklaring nie – maar enige poging om by só ʼn verklaring uit te kom, kry ook teëkanting vanuit alle oorde. Daar word amper universeel gevoel dat wanneer ons ’n land demokraties noem, ons dit loof: Gevolglik eis die verdedigers van elke soort regime dat dit ’n demokrasie is en vrees dat hulle sal moet ophou om die woord te gebruik sou dit aan een enkele betekenis gekoppel word. Woorde van hierdie aard word dikwels op ’n slaafse, oneerlike wyse gebruik. Dit wil sê, die persoon wat dit gebruik, het sy eie persoonlike verklaring, maar laat sy gehoor toe om te dink hy bedoel iets heel anders.”

In sy kenmerkende digterstaal lig filosoof Edmund Burke die probleem van demokrasie soos volg uit:

“’n Geslepe man het bekend geword, die mense het die mag in hul hande gehad, en hulle het ’n beduidende aandeel van hul mag aan hul gunsteling oorgedra; en die enigste gebruik wat hy van hierdie mag gemaak het, was om diegene wat dit aan hom gegee het in slawerny te dompel.”

En ons het presies hierdie probleem in die praktyk gesien, veral in Afrika. Dit is hoekom Samuel Huntington sê dat politici in nie-Westerse samelewings nie verkiesings wen deur te wys hoe Westers hulle is nie.

Ons het, byvoorbeeld, gesien wat tydens demokratisering in Rwanda gebeur het. In 1994, onderwyl Nelson Mandela as die demokraties-verkose president van Suid-Afrika ingehuldig word, het die Hutu-meerderheid ’n rampspoedige volksmoord van stapel gestuur waartydens meer as 800 000 lede van die Tutsi-minderheid vermoor is. Vandag is dit alombekend dat die voorbereiding vir hierdie volksmoord in 1990 begin het en dat daar in verskeie vergaderings deur Hutu-leiers genoem is dat ’n volksmoord die enigste oplossing vir Rwanda se probleme sal wees.

In 1991 word ’n nuwe grondwet in Rwanda aanvaar, wat ’n veelparty-demokrasie – of sal ons sê, ’n vermomming van demokrasie? – in werking stel. Die Rwandese regering word oor die wêreld heen geprys, en dít terwyl hulle vir ’n volksmoord voorberei. Die nasionale radiostasie, Radio-Télévision Libre des Mille Collines (RTLM), word gestig waarop hierdie volksmoord openlik aangemoedig word. Toe hy daaroor deur diplomate uitgevra word, merk die president, Juvénal Habyarimana, sarkasties op dat hy nie die radiostasie kan keer of beheer nie omdat Rwanda nou ’n demokrasie is en dit beteken dat hy vryheid van spraak moet beskerm. Demokrasie in Rwanda is dus as ’n dekmantel gebruik om volksmoord te bevorder.

Toe die bevryder, Robert Mugabe, in 1980 die demokraties-verkose leier van Zimbabwe geword het, het die wêreld gejuig. Hiér is ’n man wat vryheid, nierassisme en die voorspoed van alle Zimbabwiërs sal bevorder. Diegene wat hom gekritiseer het, is daarvan beskuldig dat hulle pessimisties, regs, teenrevolusionêr of selfs rassisties is. Vandag weet ons dat, onder die leiding van Robert Mugabe, Zimbabwe sy geldeenheid moes skrap omdat dié land begin het om ZWR100 miljard-note te druk, wat nie eens genoeg was om ’n Coke mee te koop nie. Dié demokratiese leier het Zimbabwe radikaal getransformeer na een van die wêreld se swakste ekonomieë.

En nou het ons nog nie eens aan Jacob “staatskaper” Zuma, die demokraties-verkose president van Suid-Afrika, geraak nie.

Moet ons die gevolgtrekking maak dat demokrasie ’n bose stelsel is? Geensins nie! Winston Churchill het dit perfek opgesom toe hy gesê het dat:

“Baie vorme van regering is al beproef, en sal beproef word in hierdie wêreld van sonde en ellende. Niemand gee voor dat demokrasie perfek of alwetend is nie. Trouens, dit is al gesê dat demokrasie die swakste vorm van regeer is, buiten al daardie ander vorme wat van tyd tot tyd beproef is…”

Die punt is: Om elke keer wanneer ’n nuwe Afrika-leier ingelei word tot mag as gevolg van een of ander stemproses – of wanneer ’n korrupte persoon verwyder word – daarop aanspraak te maak dat dit ’n oorwinning vir demokrasie is, is kortsigtig en naïef. Soos in die geval met enigiets in die lewe, is dit nie die inset wat gemeet moet word nie, maar die uitkoms. ’n Verkiesing is ’n demokratiese inset; voorspoed moet die uitkoms wees.

Miskien sal ons eendag ’n beter vorm van regering as demokrasie ontdek, maar voor daardie tyd moet ons demokrasie aanslaan vir wat dit is. Die verwydering van Robert Mugabe is nie ’n oorwinning vir demokrasie nie: Dit is ’n bewys dat demokrasie misluk het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann Marx

Dis al baie op hierdie forum so uitgedruk: Afrika demokrasie is ‘n politieke bestel waar die minderheidsgroepe kan deelneem aan hulle eie ondergang, en goed voel daaroor.

HPV

In ‘n eerste wêreld noem mens dit demokrasie. In Afrika of ‘n derde wêreld noem mens dit “domokrasie” met klem op die eerste drie letters.” Domokrasie” beteken, die een wat regeer teen die een wat WIL regeer en later, slegs die een met die wapens sal regeer.

Veritas

Ernst jy maak my dag. Demokrasie is die rede waarom ek nie aan algemene verkiesings deelneem nie. Hoekom, vra ek, moet ek deur al die moeite gaan om vir iemand te stem sodat hy aan my kan voorskryf hoe ek my lewe moet lei? Demokrasie is, volgens my, ‘n onnatuurlike verskynsel. Dit plaas ‘n massa Rooibokke in die posisie om die grootste ram, met die mooiste horings, te kies as heerser van die diereryk. Die arme leeus moet dan maar solank begin leer om weer gras te vreet. Hiervan is die talle Afrika-regeerders ‘n sprekende voorbeeld. Die opsies is natuurlik… Lees meer »

jan_alleman

Amen Ernst jy kon dit nie beter gese het nie

John

Hierdie Afrika-trom is deurgespeel. Ons weet dit en dit was nog altyd. So? Hoe hanteer ons… ons Afrikaners dit verder? Ons toi-toi ook al en dit is nie in ons aard nie. ‘n Nuwe manier van doen vir oorlewing is nodig. Afrika word donkerder en grondonteienining sonder vergoeding word nie onder ‘kaping’ getel nie. Skreeu ten hemele het nog nooit enige effek gehad nie. Die Vader self keur dit af en verkies die stilte van ‘n sagte suising en opregte gebed.. Ons het ‘n nuwe benadering nodig in die tyd wat voorle. Cyril gaan die wereld ‘speel’ om buitelandse guns… Lees meer »