[Video] Feiteblad: Malema se ekonomie

ernst-roets-malema-ekonomie

Ernst Roets praat oor die waarde van die Zimbabwiese geldeenheid. (‘n Skermskoot uit die video.)

Ekonomiese vryheid, soos verkondig deur ’n klomp sjampanjedrinkende, rooikepsdraende rassiste wat hulself “ekonomiese vryheidsvegters” noem, is sekerlik die grootste politiese misleiding van ons tyd.

“Ekonomiese vryheid in ons leeftyd,” dreunsing Julius Malema terwyl hy op nasionalisme, aggressiewe beheer en die skrap van eiendomsreg aandring.

“Ons word geïnspireer deur die ekonomiese beleide van kamerade Hugo Chavez van Venezuela en Robert Mugabe van Zimbabwe,” sê hulle en noem dat hulle die oplossing vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme het. Ekonomiese vryheid sal bewerkstellig word as die EFF aan bewind kom, sê hulle.

Wat het egter in dié lande gebeur? Kom ons kyk gerus.

Reg van die begin af en sedert die EFF gestig is, het sy leiers aangevoer dat die mense van Suid-Afrika ryk gaan word as die EFF aan bewind kom. Dit sal bewerkstellig word deur middel van radikale ekonomiese beleide soos dié wat in Zimbabwe en Venezuela in werking gestel is.

Wel, ek dink dit hang af van wat jou definisie van rykdom is. Tydens ’n onlangse besoek aan Zimbabwe het ek ’n versameling Zimbabwiese note in die hande gekry wat in 2009 gedruk is voordat dié geldeenheid geskrap is. Ek is inderdaad ’n skatryk man, want nou dra ek, in die Zimbabwiese geldeenheid, die volgende met my saam:

  • ’n Z$1 miljard-noot;
  • ’n Z$5 miljard-noot;
  • ’n Z$10 miljard-noot;
  • ’n Z$20 miljard-noot;
  • ’n Z$50 miljard-noot; en
  • ’n Z$20 biljoen-noot.

Dis egter nie al nie. Die Zimbabwiese regering het uiteindelik ’n Z$100 biljoen-noot gedruk. Die probleem lê egter in die waarde van dié note, waarby ons binnekort kom.

“President Hugo Chavez… was in staat om Venezuela in ’n tydperk in te lei waartydens die rykdom van Venezuela na die eienaarskap van die mense as geheel teruggegee is,” sê Malema, wat sowel Mugabe en Chavez in 2010 besoek en as ’n geïnspireerde mens teruggekeer het.

Malema en die EFF-leierskap het ook by herhaling gesê dat hulle deur Mugabe se beleide geïnspireer word en beplan om dieselfde in Suid-Afrika te doen. “As Zimbabwe grond neem, maar die ander lande naby Zimbabwe nie grond neem nie, sal die grond-struggle nie slaag nie. Hulle sal bloot Zimbabwe vir Suid-Afrika verlaat, soos hulle gedoen het, en ons hier kom irriteer.”

Die doel is natuurlik om die rykdom onder die mense te herverdeel, soos hulle sê. Dit, só glo hulle, sal skynbaar gedoen word deur die ekonomiese beleide van die wêreld se swakste ekonomieë hiér in werking te stel.

Zimbabwe

In 2000 het die Mugabe-regime ’n radikale ekonomiese transformasieproses begin volg waartydens plase in wit besit gewelddadig afgeneem en herverdeel is – meestal aan lede van die regerende party. Produksie het op die meeste plase tot stilstand gekom. Toe ek onlangs van noord na suid deur Zimbabwe reis, kon ek nie een werkende kommersiële plaas teëkom nie.

Naas nasionalisering is aggressiewe staatsbeheer van die arbeidsmark in werking gestel, insluitend hoë belastings en die hoë subsidiëring van staatsondernemings. Die uitkoms was, heel voorspelbaar, die algehele vernietiging van die Zimbabwiese ekonomie en ’n enorme uitstroming van mense. Zimbabwe het teen 2008 ’n 231%-piekinflasie in die gesig gestaar.

Bankrotskap onder entrepreneurs het die hoogte ingeskiet en 80% van die bevolking leef nou onder die broodlyn. Werkloosheid het tot 95% in 2009 geklim – amptelik die wêreld se swakste ekonomie.

Voordat die Zimbabwiese dollar afgeskaf is, het die meeste algemene arbeiders onder Z$200 miljard per maand verdien; dis ongeveer 60 Amerikaanse sent. ’n Verpleegkundige se salaris was minder as die helfte van ’n gaskoeldrank se prys. Uiteindelik was Z$100 biljoen slegs 40 Amerikaanse sent werd – nie eens genoeg om ’n buskaartjie mee te koop nie – wat beteken dat die Zimbabwiese dollars in my beursie om en by 10 sent werd is.

’n 2014-verslag deur die Africa Progress Panel het bevind dat dit 190 jaar sou neem om dié land se BBP per capita te verdubbel as die land met sy huidige planne vir hernude ekonomiese groei sou voortgaan.

Klink dit vir jou soos ekonomiese vryheid? Dit is presies dieselfde soort ekonomiese vryheid waarvoor Julius Malema en die EFF hulself beywer.

Venezuela

Kom ons kyk na Venezuela, ’n land wat bestendige ekonomiese groei getoon het tot die 1980’s, toe oliepryse in duie gestort het. Inflasie was reeds skerp aan die toeneem toe Hugo Chavez in 1999 oorgeneem het; teen daardie tyd was Venezuela steeds die rykste land in Latyns-Amerika, meestal te danke aan hul enorme olievoorrade. Dit was egter aan die verander toe Chavez ’n “sosialistiese revolusie” belowe.

Chaves het met aggressiewe beheer, prysbeheer, onteiening van landbougrond en industrieë, en ’n hele klomp ander goed begin wat Julius Malema as inspirerende idees sou beskryf.

Die gevolge? ’n Skerp styging in die prys van alle algemene goedere, insluitend water en kos. Die aantal mense wat onder die broodlyn leef, het na 82% opskiet en inflasie staan tans op ’n inspirerende 720%.

Daar is tans mense in Venezuela wat honde en ander doodgeryde diere eet omdat hulle niks anders het om te eet nie. Die sosialistiese revolusie in Venezuela het nou ’n punt bereik waar mense letterlik mekaar eet bloot om te kan oorleef.

Dit is die direkte gevolg van dié tipe beleide wat deur die EFF verkondig word. Die beweging staan aggressiewe beheer, nasionalisme, die onteiening van eiendom sonder vergoeding en ander Mugabiaanse en Chaveziaanse idees openlik voor. Die party is ook duidelik dat dié beleide een van staatseienaarskap is, nie privaat eienaarskap nie – nie eens vir swart mense nie.

Zimbabwe en Venezuela word gereeld onder die wêreld se swakste ekonomieë getel en is reeds aangedui as lande waarin die minste hoeveelheid – ja, jy raai reg – ekonomiese vryheid bestaan, juis weens beleide wat ons sogenaamde ekonomiese vryheidsvegters graag wil navolg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ampie ·

Natuurlik is die skrywer korrek. Ongelukkig is “aggressiewe radikale ekonomiese transformasie” ‘n realiteit. Of dit nou Malema, mevrou Zuma of buffelboer Cyril is. Dis net ‘n kwessie van tyd. En daar is bitter min wat die “racist white priviledged” daaraan kan doen.

Danie ·

Johanna, google translate kan help met daardie takie. Gebruik dit gerus.

Jordaan ·

Ek stem saam, dit help min om net vir die kerkgangers te preek, die inligting moet die kiesers wat vir die EFF stem, bereik.

Frikkie Geld en huis ·

En Malema het glo onlangs graad gevang??? Beslis nie in ekonomie nie.

John ·

Geen vertaling in watter taal ook gaan die inploffing wat wag, keer nie. Zuma vry weer na Malema en hy sal sekerlik ‘n toppos aangebied word. Ons land was so gelukkig om selde deur groot natuurrampe getref te word… Nou wil die ANC dit mensgemaak doen… Die dwaashede van Zim en elders wil hulle herhaal… Hang selfvernietigingsmeganismes om die heupe van sekere mense vir as ek nie kan kry wat nie myne is nie, blaas ek alles en almal op of weg?

RB ·

Dit probleem is ongelukkig nie die feite nie. Almal het dieselfde feite. Malema was self in Zimbabwe, en wil dit nogsteeds nastreef. Die interpretasie van die feite verskil dus hemelsbreed.

Mense moet begin besef dat die ideale wat verskillende groepe mense nastreef is verskillend. Geen hoeveelheid gesels oor die “feite” gaan dit verander nie. Dit is wel goed om die feite uit te lig, maar dit gaan nie die probleem oplos nie.

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink dis ‘n sinvolle versoek om artikels te vertaal in Engels.

piper ·

malema kan nie so onosel wees om te dink dit gaan werk nie, hy gebruik dit net om die stemme te kry van die massas oningeligte nie selfdenkende arm mense. hy voel vere vir hulle en wil net mag en geld he. sy volgelinge is in vir n groot teleurstelling

Eish ·

Politici gebruik beloftes om mag te bekom, in die Weste, gesofistikeerd en in Afrika, wel, die liedjie wat hul wil hoor. Politici bekleë nou een maal een van daardie ” beroepe” wat imuun is teen verantwoordbaarheid.
Die val in die klas van die volgende:
Weeervoorspeller – 90% van die tyd verkeerd maar behou werk.
Predikante – foute beland in warm water
Dokters – Foutjies word begrawe
Kroekereurs – Foutjies word weggeneem uit gemeenskap.
Evolusie aanhangers – nie n dag se bewyse nie, net teorieë.
Ensovoorts…

Veritas ·

Eish dit is die rede waarom ek sê dat ‘n demokrasie nooit in Afrika sal werk nie. Die idee van ‘n demokrasie is tog om almal gelyk te behandel al is die regering deur die meerderheid verkies. In Afrika word daar op minderhede jaggemaak en in baie gevalle word hulle gestraf omdat hulle durf waag het om die meerderheid, by die stembus, teen te staan. Vrede in Afrika gaan maar ‘n droom bly en die rede daarvoor is die kultuurverskille van die kieserskorps. Die massas sal altyd die kultuur van minderhede minag en alles binne hul vermoë doen om dit teë te gaan. Hier gaan dit nie soseer oor ras nie maar oor dít wat vir een groep aanvaarbaar is en nie vir ‘n ander groep nie. Die land se politieke groeperinge is al meer sigbaar volgens kultuurlyne en so sal dit aanhou totdat die sterkste groep, soos die etniese oorloë in Afrika bewys het, die ander uitgewis het.

Henrietta ·

Die wat dit vertaal wil he… die video is in Engels en feitlik woordeliks wat in die berig staan.

Dra boodskap oor asb ·

Aan die persoon wat die goeie idee oor sokker metafoor afhaal, gee asseblief wel die boodskap deur aan die skrywer wel.

Awie Opperman ·

Dis ‘n baie goeie boodskap en so waar as jy uit die oogpunt van enige regdenkende mens daarna kyk. Die motiewe van politici moet wel ook oorweeg word wanneer hulle ‘n spesifieke beleid aanhang. In die geval van Malema moet ons verstaan dat die voorspoed van die burgers geen gewig dra nie, maar sy eie belange dryf sy agenda. Hoewel Zimbabwe en Venezuela albeit bankrot is, is Mugabe en Chavez beide multi-miljoenêrs. Mugabe het in 2001 ‘n net worth van omtrent $1bn gehad en die Chavez families is omtrent $550m sterk.

JMC ·

Die enigste lande waar mense nie sosialisme en kommunisme wil hê nie, is lande waar dit voorheen geïmplimenteer was. Ons het in elk geval ‘n Marxistiese staat maar dié keer gaan hulle slim te werk. In stede van alles te vat en dit deur onkunde in die grond in te bestuur, laat hulle die privaat sektor toe om voort te bestaan en skep hulle deel met oormatige regulering.

Manne ·

As hierdie feite in baie eenvoudige taal aan die ANC stemmers oorgedra kan word dan sal dit die land red, ek belowe julle.

Claudie leRoux ·

Feite en gevallestudies gaan ons ongelukkig nie help nie. Daar is tans net een dreunsang en dit is dat swartmense ingedoen is deur witmense. Dit gaan nie saak maak wat ons sê of selfs bewys nie, dit gaan nie ophou tot almal op een gelyke vlak is nie. Slegs na eerstehandse ondervinding sal daar dalk oor ‘n paar jaar ‘n besef wees dat so ‘gelyke’ stelsel nie kan werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.