[Video] In die stad van die Reformasie om te praat oor transformasie

Genève-Regstellende-aksie-Johan-Kruger-01

Foto: Verskaf.

Die Verenigde Nasies (VN) se Europese hoofkwartier in Genève is een van die bekendste bakens in dié stad. Die VN se Palais des Nations (Paleis van nasies) word van alle kante afgeneem deur toeriste en besoekers wat die laaste dae van die Europese somer indrink. Kyk jy om jou rond, besef jy dat Genève inderdaad ’n stad van nasies is. Elke paar meter hoor jy ’n ander taal en sien jy iemand wat kennelik van ’n ander land af kom.

’n Ent verder in die ou stad van Genève kry jy die Muur van die Reformasie, opgerig ter herinnering aan ’n paar van die groot reformatore, onder wie Johannes Calvyn. Calvyn het die grootste gedeelte van sy lewe in Genève deurgebring en sy merk is onuitwisbaar op die stad.

Terwyl ons stap, glimlag ek by myself oor die ironie dat ons in ’n stad van die Reformasie is om te praat oor transformasie. Op ’n manier is ons ook op soek na reformasie. Sekerlik nie die reformasie van Calvyn nie, maar dalk op ’n manier ’n soortgelyke proses. Ons doel is om regstellende aksie in Suid- Afrika te reformeer sodat dit in lyn is met die beginsels van die internasionale konvensie vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie.

Ons het vandag die eerste paar van ons vergaderings op die eerste been van ons besoek gehad. Dit was uiters waardevol, insiggewend en beslis suksesvol. Enersyds kon ons binne ’n beperkte tyd daarin slaag om te verduidelik waarom ons sê dat die regering se rassebeleid verkeerd is. Andersyds kon ons verduidelik dat ons met die uitrol van ons VN-strategie juis patrioties is omdat ons wil hê dat die regering regstellende aksie moet hersien en regstel tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

Genève-Regstellende-aksie-Johan-Kruger-02

Foto: Verskaf.

Ons eerste vergadering was met ’n verteenwoordiger van die kantoor van die spesiale rapporteur vir inheemse minderhede. Die gesprek het baie goed verloop en ons kon ons saak aan die hand van ons skaduverslag uiteensit en behoorlik staaf. Ons uiteensetting en verduideliking van die regering se regstelprogram en die uitwerking van die kwotastelsel op minderhede is goed ontvang.

Ons kon ’n belangrike grondslag lê vir toekomstige skakeling met die kantoor van die spesiale rapporteur met die oog daarop om ’n spesiale besoek (feitesending) van die rapporteur aan Suid-Afrika te help fasiliteer. Een belangrike uitkoms van so ’n besoek sal wees dat die rapporteur ’n verslag kan lewer wat die nadelige uitwerking van die ideologie van verteenwoordiging en die regering se regstellendeaksieprogram op inheemse minderhede aan die internasionale gemeenskap blootlê. So ’n verslag kan help om druk op die regering te plaas om sy beleid van regstellende aksie te hersien.

Ons tweede vergadering was met ’n verteenwoordiger van die VN se Menseregtekommissie se afdeling wat fokus op minderhede, gelykheid en nie-diskriminasie. Hierdie gesprek het ons weer skerp onder die indruk gebring dat skakeling met rolspelers binne die VN en die VN se komitee vir die eliminering van rassediskriminasie (CERD) met die doel om ’n netwerk op te bou, baie noodsaaklik is.

Dit was ook belangrik om bevestiging te kon kry dat die uiteensetting en aanslag van ons verslag mooi inpas in die idioom en taal van diegene wat die verslag en sy inhoud gaan beoordeel. Ons kon met hierdie vergadering die grondslag lê vir ’n spesiale versoek aan CERD om deel te neem aan die geleentheid wanneer die regering sy verslag aan CERD in 2016 kom verdedig. Indien ons spesiale versoek slaag, sal dit aan ons die geleentheid gee om fisies en op die gebied van idees teenoor die regering in ’n internasionale forum te staan te kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johan Kruger

Johan Kruger is 'n praktiserende prokureur en hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut en Kommunikasieafdeling.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George Bekker ·

Ons probleme van diskriminasie teen ons as Afrikaners kan nog veel erger raak. Die belangrikste manier om sukses te behaal is om ons stryd te internasionaliseer. Sterkte aan Solidariteit met hulle poging.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.