Vier hoekstene vir gemeenskapsuniversiteite

Deur Alwyn Swanepoel

Argieffoto: Pixabay

Hierdie artikel is die eerste in ʼn reeks van vier artikels oor gemeenskapsuniversiteite wat weekliks op Maroela Media gepubliseer word.

“Wat het die private en welgestelde Princeton Universiteit gemeen met die openbare en minder ryk Truman State University in Missouri? Wat deel die Chinese Universiteit van Hongkong met die Universiteit van Mississippi in die Amerikaanse Suide en die Universiteit van Sydney in Australië? Hoe is die nuwe Jacobs Universiteit in Bremen, Duitsland, soortgelyk aan die Murray State University in Kentucky en die Nasionale Universiteit van Singapoer? En wat verbind hulle almal met Oxford, Cambridge, Harvard en Yale? Elkeen van hierdie instellings het, saam met baie ander regoor die wêreld, ‘n interne stelsel van residensiële kolleges gestig, beplan dit, of brei daarvolgens uit: permanente, dwarsdeursnee, fakulteitsgeleide gemeenskappe wat die voordele van ‘n klein kollege in die omgewing van ‘n groot universiteit bied.”

So begin die bekendstelling van die webwerf, The Collegiate Way.[1] Dit gaan vir dr. Robert O’Hara, wat hierdie webwerf bedryf, om ’n baie spesifieke plan vir die verlewendiging van die universiteitslewe. Wanneer die plan in oënskou geneem word, is dit duidelik dat dit in lyn met is met die ideale van ’n alternatiewe moderniteit wat onder baie van ons mense voorgestaan word. Ook hier word daar gepoog om die gemeenskapslewe aan universiteite vanuit die tradisie kreatief te rehabiliteer. Die bedoeling is egter nie om net maar een model naas ʼn ander voor te hou nie, maar eerder om die deure en vensters op die moontlikhede van gemeenskapsuniversiteite as sodanig oop te maak.

In die kern van die gedagte van ’n gemeenskapsuniversiteit, só lyk dit met die eerste oogopslag as jy Wikipedia kan glo, is daar twee groot modelle wat ons aandag vra.[2] Daar is enersyds die universiteit met residensiële kolleges waar die sentrale universiteit verantwoordelik is vir die klasse en die residensiële kolleges wel sommige klasse mag aanbied. Die kolleges funksioneer dan eerstens as residensiële gemeenskappe, maar tog met die verskil dat die inwoners ook daar onder die toesig van en in gemeenskap met akademiese dosente is. Andersyds is daar federale universiteite waar die sentrale universiteit administratiewe en somtyds eksamineringspligte het en die kolleges wel residensiële eenhede mag hê, maar primêr gerig is op klasgee. Daar is sekerlik ook moontlikhede tussenin, maar as inleidende aptytwekker fokus ons hier op die kollegiale weg en op residensiële kolleges soos gegee deur die genoemde webwerf. Die doel is om eers konkreet te raak voordat ons later ook meer filosofies raak. In hierdie inleidende ondersoek word daar aan die hand van veral twee denkers, Robert O’ Hara en David C. Schindler, hieraan aandag gegee. Let daarop dat hierdie reeks artikels oorwegend maar net ’n vertaling (dikwels baie direk) en vertolking (soms minder direk) van hulle gedagtes is. Ons fokus in hierdie reeks aan die hand van genoemde persone hier op drie aspekte van die verwerkliking van alternatiewe gemeenskapsuniversiteite:

  • Hoekstene
  • Bouplanne
  • Fondamente

In hierdie eerste aflewering word gefokus op die hoekstene wat noodsaaklik is vir ’n gemeenskapsuniversiteit. Wat hier as hoekstene behandel word, noem O’Hara eerder fondamente vir die verlewendiging van ’n gemeenskapsuniversiteit, maar vanweë ’n bepaalde aksentverskil word die woord ‘fondament’ gereserveer vir ’n latere aanvulling en daarom word hier van hoekstene gepraat. O’Hara noem vier hoekstene van die gemeenskapsbenadering: Desentralisasie, akademiese leierskap, sosiale stabiliteit, en egte diversiteit.

Die eerste hoeksteen: Desentralisasie

O’Hara gaan uit van die lokalistiese standpunt en gesegde dat alle politiek plaaslik is, en dat dié argument nie net vir die politieke sfeer geld nie, maar ook vir opvoeding: indien dit nie plaaslik is nie, is dit geneig tot mislukking. Ware opvoeding van intellek en karakter is aangewese op persoonlike kontak tussen dosent en student oor die lang termyn en by meer geleenthede as net klasontmoetings. O’Hara wys daarop dat universiteite hierdie fundamentele beginsel vergeet het toe die universiteite in Amerika in die 1960’s gesneeubal en toenemend gesentraliseer en geburokratiseer het. Hy verwoord dit treffend:

“’n Universiteit met wolkekrabber-koshuise, groot, onpersoonlike eetsale en sentrale inligtingskantore waar studente elke semester vir vyftien minute moet aanmeld om hul roosters te laat nagaan, kan onmoontlik die volgehoue, plaaslike, persoonlike kontak bied wat noodsaaklik is vir egte opleiding – ongeag hoeveel slagspreuke oor ‘studentgesentreerdheid’ en ‘omgeekultuur’ die kampus se openbarebetrekkinge-personeel uitdink. Die slagspreuke is kunsmatige foefies en die studente weet dit. ”

Die oplossing wat O’Hara aanbied, is kleiner, gedesentraliseerde gemeenskapsuniversiteite wat die effek van opvoedkundige massifikasie teenwerk deur studente en dosente van alle akademiese dissiplines by mekaar te bring in hegte sosiale gemeenskappe. Hy erken dat dit natuurlik nie ’n nuwe idee is nie, maar inderwaarheid een van die oudste idees in universiteitsopleiding, en dat dit deel uitmaak van die organisatoriese struktuur van Oxford en Cambridge. O’Hara is van mening dat residensiële kolleges uit ʼn maksimum van 400 mense moet bestaan om te verseker dat elke student as ʼn individu geken word. Binne hierdie kleiner gemeenskappe bly studente kenbaar en verantwoordbaar. Die klem is dus hier op die terme kollege en kollegiaal, wat daarom in sommige streke van die wêreld ook huise (let wel, nie koshuise nie) genoem word en wat die gedagte aan intieme gemeenskap van lede binne ’n huislike opset suggereer.

Desentralisering kan dus nie net in die politiek nie, maar ook in die universiteitswese ’n belangrike verskil maak. Dit is selfs moontlik om ’n groot gemeenskapsuniversiteit van huisgemeenskappe te hê, op voorwaarde dat dit duidelik gedesentraliseerd funksioneer.

Die tweede hoeksteen: Akademiese leierskap

In die afgelope halfeeu het die gesentraliseerde universiteit die oorsig oor die kampuslewe vanaf die akademiese fakulteit grootliks oorhandig aan voltydse residensiële organiseerders. Omdat hierdie organiseerders nie intiem met die akademiese strukture van die universiteit verweef was nie, was dit nie vir hulle moontlik om betekenisvolle opvoedkundige ruimtes vir studente te skep nie – hoe goed hul bedoelings ook al was. Om dit in die taal van kritiek teen die modernisme om te sit: Dit het die skeiding tussen wat ín die klas en óm die klas gebeur aangehelp en ’n dualisme tussen klas en koshuis tot gevolg gehad. Sulke koshuise kon nie genoegsaam ’n spesifiek opvoedkundige omgewing vir die studente skep nie, om dat hulle in vele opsigte afgesny was van die akademiese strukture. ’n Bipolêre, nie-geïntegreerde lewenswyse is dus gestimuleer wat tipies is van die modernisme. Op hierdie wyse, sê O’Hara, het koshuise in sy bekende wêreld inkomstebronne geword net soos parkeerareas en muntmasjiene, en hierdie diep strukturele defekte het die studente ontneem van werklik diepgaande en gereelde kontak met leermeesters in ’n vrugbare en diverse akademiese omgewing.

Volgens O’Hara kan die gemeenskapsmodel wat hy voorstel, hierdie skade begin herstel deur die bestuur van die kampuslewe te laat terugkeer na die akademiese fakulteit. Dit impliseer natuurlik ook finansiële aanmoediging vir diegene wat aanvaar dat hul akademiese roeping werklik gemeenskapsbetrokkenheid insluit. Die funksies wat nou deur departemente vir studentesake en koshuislewe hanteer word, behoort dus ingedeel te word by die fakulteitslede wat intiem betrokke is by residensiële kolleges. Dis belangrik dat studentelewe en -behuising hanteer word as akademiese funksies van ’n universiteit en nie as besigheidsfunksies nie. Residensiële kolleges as akademiese gemeenskappe wat deur fakulteite gelei word, word dus bewustelik gevorm en voortdurend gekultiveer om dag en nag, week na week en jaar na jaar aan hul lede ’n wye verskeidenheid informele opvoedkundige geleenthede te voorsien. Die oogmerk is om seker te maak dat studente se formele leerervaring in die klas geïntegreer word met hul lewe daarbuite, asook omgekeerd.

Die derde hoeksteen: sosiale stabiliteit

Daar is volgens O’Hara in die VSA nou reeds twee generasies van burokratiese sentralisering en nie-akademiese leierskap wat die sosiale weefsel van universiteite geërodeer het. En volgens hom word hierdie erosie die duidelikste waargeneem in die kampus se residensiële lewe waar alkoholmisbruik en vandalisme toegeneem het, elementêre dissipline nie gehandhaaf word nie, en waar studente gestimuleer word in die sogenaamde keusevryheid van die individu. In hierdie omgewing kry hulle ook feitlik nooit meer te doen met ouer volwassenes nie. Juis daarom het hierdie tipe leefstyl vir baie studente onhoudbaar geword en universiteite het dikwels gefaal om ’n geslag wat oorgelaat is aan hulself, effektief op te hef.

Kleiner, permanente residensiële kolleges onder leierskap van die fakulteite, kan betekenisvolle sosiale stabiliteit aan die kampuslewe teruggee, sê O’Hara. Opvoeders behoort aan studente hierdie basiese sosiale stabiliteit te bied as hulle wil hê studente moet die tipe risiko’s neem wat tot intellektuele stabiliteit lei. Sosiale stabiliteit hou in dat die orde gehandhaaf word, dat geboue en gronde aantreklik en veilig is, en baie belangrik, dat daar ʼn ritme in weeklikse, maandelikse en jaarlikse programme is wat studente laat voel dat hulle deel is van iets groter as hulself; iets wat voor hulle daar was en wat ná hulle steeds sal voortgaan. In ʼn klein residensiële kollege bou die lewe van elke jaar voort op die vorige jaar, en studente en dosente weet dat hulle bydrae tot die kollege blywend is en onthou sal word.

Die vierde hoeksteen: Egte diversiteit

Vir O’Hara is die hedendaagse retoriek oor diversiteit kunsmatig en eenvoudig en kom dit dikwels neer op bloot breë etniese en rasse-kategorieë. En terwyl universiteite hierdie kunsmatige diversiteit aan die een kant bevorder, segregeer hulle dikwels aan die ander kant studente aktief volgens temperament en belangstellings. Hierdeur ontneem hulle studente van die voordele van diep diversiteit op die vlak van individuele talente, passies, en sterk en swak punte. Hierdie segregasie vind dikwels plaas deur die skep van ‘beroepshuise’ –  ’n wetenskapshuis, ’n kunshuis, ’n verpleeghuis, ’n sporthuis, ensovoorts. Dit, sê O’Hara, moedig studente aan om baie tyd deur te bring saam met ander mense wat net soos hulle dink – ʼn opset wat glad nie diversiteit aanmoedig nie.

Egte diversiteit en die diep opvoeding wat deur blootstelling daaraan plaasvind, floreer binne klein residensiële kolleges wat ’n volledige dwarssnit is van die universiteit waarvan hulle deel is. Elke kollege, sê O’Hara, bevat oud en jonk; dit bevat onderwysers en studente, digters en skrywers, dié wat dapper is en dié wat skaam is, die slimmes en die sukkelaars, die sorgeloses en die versigtiges, die rykes en die armes, dié wat meelewend is en dié wat ongevoelig is, die luies en die hardwerkendes, dié wat neuroties is en dié wat vredemakers is, die vulgêres en die verfyndes, die analitici, die ernstiges, en die satirici. Deur al hierdie uiteenlopende karakters week na week, maand na maand en jaar na jaar byeen te bring in die klein, stabiele, akademies vrugbare opset van ’n residensiële kollege, gee jy hulle die geleentheid om te leer, te groei, en te floreer – soveel so dat hul bekers oorloop.

Wanneer ons O’Hara só aanhoor oor die hoekstene van gemeenskapsuniversiteite, is dit duidelik dat daar wel tekens hiervan in Suid-Afrika se universiteitslewe aanwesig was, maar dat dit nie berekend genoeg was nie. Die genoemde hoekstene bied belangrike opskerping om meer doelgerig hieroor te besin vir die toekoms. Gemeenskapsuniversiteite behoort in die teruggaan na die tekenbord, baie meer bewustelik en planmatig hieroor te besin.

In die volgende artikel word daar gefokus op die tweede punt ná hoekstene: Praktiese bouplanne vir gemeenskapsuniversiteite.

  • Alwyn Swanepoel is as professor verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy dien tans ook as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan dieselfde instelling. 

* Hierdie artikel is die eerste in ʼn reeks van vier artikels wat ʼn verwerking is van ʼn voordrag gelewer by ʼn gespreksgeleentheid wat die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) op 30 November 2017 aangebied het. Lede van die APA, Akademia, Aros en die Bo-Karoo-kampus van Orania was betrokke, tesame met enkele dosente van die UP en die UOVS.

[1] The collegiate way: Residential colleges & the renewal of campus life by http://collegiateway.org/

[2] Kyk https://en.wikipedia.org/wiki/Collegiate_university

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.