Viktor Orbán – Die laaste Kruisvaarder

Viktor Orbán. Foto:Európai Bizottság/ Végel Dániel/Commons.wikimedia.org

Die Hongaarse eerste minister, Viktor Orbán, kan beskou word as die laaste kruisvaarder wat Europa wil red van kulturele “selfmoord” deur ʼn vloed van Moslem- en Afrika-immigrante. Die enigmatiese Orbán het in Oktober vanjaar gesê die doel van “donker magte” is om van Europa ʼn multikulturele kontinent te maak en dié kontinent van sy Christelike waardes en nasionale identiteit te beroof. Orbán beskryf die “donker magte” in ʼn Star Wars-anologie – en dui aan dat die “Empire” bestaan uit sinistere finansiële magte wat immigrasie gebruik om Europa tot ʼn val te bring.

Orbán is nie bang om die sinistere finansiële magte by naam te noem nie – George Soros, ʼn Hongaars-gebore filantroop en biljoenêr wat reeds jare vanuit die VSA globalisme befonds. Orbán noem Soros die meesterbrein van die gemengde Islamitiese Europa en die poppemeester wat die EU in Brussel beheer.

Orbán se stryd teen Afro-Moslem-immigrasie

Orbán het ʼn punt beet. In 2015 het amper twee miljoen mense, meestal Moslems uit die Midde-Ooste, maar ook Afrikane, na Griekeland en Italië en daarna na Wes-Europa gestroom. Die meeste Moslems van Sirië, Irak en Afganistan het via Serwië deur Hongarye Wes-Europa ingesypel. Orbán bestempel die invloei van meestal manlike immigrante as ʼn Moslem-inval. Die “vlugtelinge” het ʼn enorme krisis vir Europa veroorsaak en tot ekonomiese en maatskaplike probleme gelei, insluitend ʼn toename in misdaad en les bes, terrorisme. Orbán het op groot dele van Hongarye se grens met Serwië  ʼn muur (of eerder ʼn heining) opgerig en in die proses die stroom van immigrante grootliks gekeer. Die EU-lidstate (Europese Unie) het, ten spyte van hewige kritiek teen Orbán, later herbesin oor die invloed van die immigrante en probeer nou om enige verdere massa-immigrasie te verhoed.

Orbán het bekendheid verwerf as teenstander van kommunisme toe hy as jong man in 1989 in ʼn toespraak geëis het dat die Sowjet-unie sy troepe uit Hongarye moet onttrek. Orbán het daarna eerste minister van Hongarye geword vanaf 1998 tot 2002 (hy was slegs 35 toe sy konserwatiewe Fiatal Demokraták Szövetsége – oftewel Fidesz, die Alliansie vir Jong Demokrate) die regering gevorm het. Daarna was hy die leier van die opposisie voor Fidesz in 2010 herkies is en Orbán weer eerste minister geword het. Reeds in sy eerste termyn as eerste minister was Orbán onbeskaamd nasionalisties. Hy het Hongarye deel laat word van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) om hom teen enige toekomstige Russiese aggressie te beskerm en het ʼn “statuswet” aanvaar, wat beskerming, asook onderwys-, gesondheid- en welsynsteun bied aan drie tot vyf miljoen Hongare wat as minderhede in buurlande soos Roemenië, Slowenië en Kroasië woon.

Orbán se kruisvaart is eintlik teen die Westerse liberale staat, want volgens hom moet die staat ʼn nasionale gemeenskap koester eerder as ʼn staat gebaseer op individue. Hy aanvaar ʼn staat moet burgerlike regte hê, maar beskou só ʼn nasiestaat as “illiberal” (nie-liberaal) omdat dit vanuit ʼn Christelike basis nasionale samehorigheid, kulturele eenheid en self-versorging aanmoedig. Met Orbán se versugting na ʼn nie-liberale staat stel Orbán homself uiteraard bloot aan kritiek. Nie-liberale state, volgens ʼn term wat 20 jaar terug deur Fareed Zakaria, ʼn latere CNN-kommentator, uitgedink is, verwys na state wat nominaal demokraties voorkom deur verkiesings ensovoorts, maar in praktyk iets tussen demokraties en outoritêr is en nasionalisme bevorder. Voorbeelde van sulke lande is Rusland, Turkye en Singapoer.

Orbán is weens sy pro-nasionalistiese sieninge ʼn teiken van die linksgesinde media in Europa en aktiviste insluitend Soros, wat die onwettige immigrasie na Europa ondersteun en aanmoedig. Orbán word in menige publikasie aangeval as ʼn “mini-Wladimir Poetin”, ʼn anti-Semiet (weens sy minagting van die Joodse Soros) en (natuurlik) ʼn rassis. Linkse politici in Europa noem hom ook voorspelbaar ʼn “outokraat” en selfs ʼn diktator. Ten spyte van die beskuldiging van anti-Semitisme teenoor Orbán, is die Israelse eerste minister, Benjamin Netanhayu, ʼn goeie vriend en ondersteuner.

Hoewel Orbán redelik gewild is en die meerderheid steun in Hongarye geniet, is daar binnelands ook heelwat opposisie teen sy nasionalistiese agenda, sy skeptisisme teen die EU en die verwerping van die migrasie na Europa. Nietemin is die amptelike opposisie nog meer konserwatief as Fidesz. Die Jobbik party glo in “Hongarye vir die Hongare” en wil graag die EU verlaat. Orbán weier om Hongarye se kwota immigrante in te neem (die EU het besluit Europese state moet elk ʼn bepaalde kwota van die nou meer as twee miljoen immigrante huisves).

Die Visegrád-groep

As sulks beskou Orbán Sentraal-Europa as die laaste ligdraer van klassieke Westerse waardes en beskou hy die liberale, pro-Moslem- en immigrasiebeleid van Wes-Europa as ʼn pad na selfvernietiging. Hongarye is deel van die Visegrád-groep, ʼn groepering wat Sentraal-Europese lande insluit, naamlik Hongarye, die Tsjeggiese Republiek, Slowakye en Pole. Dié groep het almal deesdae pro-nasionalistiese (sentraal-regse) regerings. Hoewel almal sedert 2004 lede is van die EU, is hulle stadig maar seker besig om eerder ʼn drukgroep binne die EU te vorm, grootliks weens hul eenderse sienings oor sekuriteit en immigrasie. Hoewel Hongarye met sy 10 miljoen inwoners eintlik klein en onbelangrik is in ʼn globale konteks, verstaan Orbán dat Visegrád ʼn sterk ekonomiese en politieke blok binne Europa verteenwoordig, met meer as 65 miljoen mense.

Al die Visegrád-lidlande het redelike homogene bevolkings en is hoofsaaklik Christene. Die Visegrád-lede vind aanklank by mekaar oor die immigrante-toestroming in Europa en ʼn pro-nasionalisme, maar ook in terme van samewerking op militêre en ekonomiese gebied. Wes-Europese state het nog altyd ʼn meerwaardige houding jeens hul armer sentrale EU-vennote gehad. Daar is sterk aanduidings dat die konserwatief-regse regering wat onlangs in Oostenryk aan bewind gekom het, dalk eersdaags deel wil word van Visegrád. Dalk kan die groepering ʼn alternatief word teenoor die linksgesinde beleidsrigtings in die EU.

Orbán moes baie kritiek van sy EU-vennote verduur oor sy hardhandige hantering van die Moslem-immigrante-krisis nadat 700 000 in 2015 deur Hongarye na Duitsland gestroom het. Die bou van ʼn 170 km-heining om die immigrante uit te hou was so suksesvol dat byna geen onwettige immigrant Europa tans deur Hongarye betree nie. Nou blyk dit dat selfs die EU-leierskap insien dat die instroming van die onwettige immigrante ʼn reusemislukking was. Die opgang van nasionalistiese politieke bewegings in lande soos Nederland, Frankryk en Duitsland het politici skielik laat herbesin. Die EU-hoof, Jean-Claude Juncker, het aangedui dat die EU reeds maatreëls ingestel het om sy grense beter te bewaak, en immigrante van die Midde-Ooste en Afrika te keer voor hulle hul tuisgebiede verlaat. Ná Orbán basies die roete via Griekeland gesluit het met sy maatreëls, het onwettige immigrante steeds in hul duisende met klein bootjies in Italië geland en op vlugtelingstatus aangedring. Nou maak die EU seker immigrantebote word reeds in Libiese gebiedswater onderskep en teruggestuur.

Boedapest en die Alt-regses

Orbán bepleit dat Europa in twee sones verdeel moet word. ʼn Wes-Europa wat graag ʼn “gemengde” bevolking wil hê, kan dan met graagte immigrante inneem, maar Sentraal-Europa word ʼn “immigrantvrye sone”, wat verkies om eerder as homogene state te leef. Europa se Christen- en nasionale tradisies kan dan hier uitgeleef word. Orbán het vroeër vanjaar in ʼn toespraak gevra dat “regte” vlugtelinge eerder na Hongarye moet emigreer: Duitsers, Nederlanders, Franse, Italianers en ander wat besig is om hul nasionale identiteit te verloor.

In werklikheid het reeds heelwat sulke nasionalistiese “vlugtelinge” na Hongarye, en meer spesifiek die hoofstad, Boedapest, getrek. Nasionaliste van Swede, Brittanje, die VSA, Frankryk en ander het reeds die Westerse liberalisme afgeskud en hul ideologiese tuiste in Hongarye gevind. Hongarye se  koffiewinkels word deesdae besoek deur die sogenaame “Alt-regses” (oftewel ʼn nuwe generasie konserwatiewes), wat Westerse globalisme verwerp en gesprekke aanknoop oor ʼn nuwe wêreldorde, vry van die liberale “Open Society”, soos deur George Soros bepleit. Blykbaar is hul ideologiese vader Alexander Dugin, ʼn bebaarde Rus, meer bekend as “Poetin se eie Raspoetin”. Lesers kan gerus meer lees oor Dugin se interessante (en soms oorlogsugtige) teorieë oor nasiestate en die onvermydelike val van die liberalisme, wat soos fascisme en kommunisme nou sy tyd uitgedien het.

Is dit moontlik dat ʼn leier van ʼn relatiewe klein landjie soos Hongarye die rewolusie teen ʼn kragtige globalistiese en liberale wêreldorde kan lei? Dalk is dit te veel gevra en kan die “nie-liberalisme” van Orbán tot sy val lei, met die hulp van globaliste soos Soros. Nietemin lyk dit of Wes-Europa se fiksasie om multikulturele samelewings te vestig en die nasiestaat in die proses negeer, nuwe lewe en nasionalisme in Sentraal Europa geblaas het. Miskien kan die Visegrád-lande in die afsienbare toekoms ʼn teenpool teen liberalisme in Europa vorm of minstens as ʼn huisvesting vir die etno-nasionaliste dien.

Viktor Orbán, die laaste kruisvaarder, se rol hierin kan nie gering geskat word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

jan_alleman ·

wel hy is reg en meeste europese en skandinawiese mense stem met hom saam , multi-kulti werk net eenvoudig nie , kyk maar na ons land , een groot gemors

Eish ·

Dankie vir die uiters leersame artikel. Naas Vladimir Putin, nog n man van formaat wat nie deur liberalisme rondgewaai word nie.

JC ·

Orban= ‘n Heilige in my opinie.

Soros gaan verloor, hy het onlangs sy laaste 8 miljard Dollar/pond? OP DESPERATE WYSE gestoot in sy “filantropiese organisasies” in.

Dit blyk nie dat sy geld meer effektief is nie, die wereld is nou te wakker, “Ons, die Mense” het nou wakker geword.

Senator Roy Moore gaan Alabama se Trump wees, en President Trump help om sy agenda te bevorder in die Senaat; en daar is ABSOLUUT niks wat Soros daaraan kan doen nie.

Ek vermoed Soros se tantakels strek wyd in Suid-Afrika in; ook dit gaan nie werk nie, en globalisme en internasionalisme moet/gaan wyk voor nasionalisme/ in Afrikaners se geval, DIE GEMEENSKAP.
Trouens, ek bespeur definitief SY INVLOED in die internasionalistiese en/of multikulturele; Afrikaans-ontkennende; beleide wat die “regering” tans POOG om deur te voer, soos in die Wysigingswet op Onderwys(wat nie gaan werk nie!) en die sogenaamde beleid op tuisskool; veral waar die beleid dit stel dat tuisonderrig die kind moet leer of voorberei om ‘n “globale burger” te word of te wees.

JC ·

Bert; dit se omtrent alles wat ons wil weet, van Soros.
Staan sterk, die ideologiese slae gaan toeneem, en ons moet ons weerbaar maak daarvoor.

Merkur ·

JC. Jy is reg. Dit lyk asof die internasionaliste se ideologiese slae sterk gaan toeneem as laaste stuiptrekkings.

JC ·

Bert; dit se omtrent alles wat ons wil weet, van Soros.
Staan sterk, die ideologiese slae gaan toeneem, en ons moet ons weerbaar maak daarvoor.

CJ ·

Baie dankie vir hierdie artikel, Nico! Die huidige opbloei van nasionalisme in Hongarye is maklik om te begryp in die lig van Hongarye se dramatiese geskiedenis. Hulle was deur die eeue in vele lang oorloë gewikkel, dikwels aan die verloorkant. In die meer onlangse verlede bv. die oorlog teen Oostenryk en die Russiese Ryk (1848 tot 1849), wat gelei het tot die Oostenryks-Hongaarse Ryk (vanaf 1867). Tydens beide die die Eerste- en Tweede Wëreldoorloë het hulle aan die (Duitse) verloorkant veral teen Rusland / USSR geveg. Die dramatiese Hongaarse rewolusie van 1956, om die kommunistiese juk af te gooi en uit die Warskouverdrag te tree, het tragies en bloedig vir hulle geëindig met die inval van USSR troepe in die land. Geen wonder dat Hongarye, saam met al die ander lede van die Visegrad groep na die val van die USSR, by NAVO aangesluit het nie. ‘n Duidelike aanduider van hulle vasberadenheid om hulle selfbeskikking te handhaaf, spesifiek ook teen neo-Russiese imperialisme.

Merkur ·

Dankie vir hierdie baie interessante artikel. Europa kan dankbaar wees vir leiers soos Orbán. En hy beskryf die EU in Brussel perfek. Die EU stuur nou die immigrantebote terug Libië toe. Net soos Australië dit doen en presies wat twee en drie jaar gelede eers afgekeur was deur die Soros-en-Washington EU weens „onmenslikheid“. Dit lyk asof die liberaliste se mag meer en meer kwyn.

Het lank gehuiwer of ek hierdie video onder (verkyn in Junie 2017) hier „verlink“, maar ek voel dit moet gesien word. Hierdie jong Franse vrouens is ook deel van die Europese protes kultuur teen die politiek van vernietiging van die Europese volke. En die video is heel vermaaklik.

https://www.youtube.com/watch?v=yFgSRM1ANjU

Therese van Schalkwyk ·

Dankie Merkur! Het die beskaafde protesvideo geniet! Is egter bevrees dit lyk nie of Angela Merkel van plan is om rustig te gaan aftree nie.
Die AfD en ander patriotiese partye sal sterker moet groei, dis al uitweg.

Vreemd hoe nasionalisme ‘n vereiste is wanneer jou land jou nodig het in moeilike tye, maar ‘n vloekwoord is volgens linksgesindes.

Merkur ·

Therese. Dit is vreemd. En dis ook moeilik om te verstaan hoekom gedeeltes van die samelewing, die sogenaamde linkses en groenes, so radikaal ‘n anti-nasionalisme op die res van die bevolking afdwing. Dat dit as politiese “statement” gesien en aanvaar word as die vice-spreker van die Duitse parlement en ander “linkse” en groen politici op straat demonstreer met plakate: “Deutschland, du mieses Stück Scheisse!” en “Deutschland verrecke!” of “Nie wieder Deutschland!”

Op die oomblik kleef Merkel verbete aan die mag maar dit lyk wel of sy gaan oorleef.

Pragtig ·

Pragtige artikel. Ek dring ook aan om my eie kultuur en geloof uit te leef en soros het geen seg daaroor nie.

JC ·

En jy weet nie waarvan jy praat nie, maar dankie vir jou inset!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.