Vir die ANC en sy bondgenote is werkloosheid die doel

Deur dr Eugene Brink

Eugene Brink. (Foto: AfriForum)

Ek het skaars RW Johnson se snydende stuk oor die ANC se verergering van ongelykheid op PoliticsWeb gelees toe die nuutste sarsie skokkende statistiek oor werkloosheid bekendgemaak word. Vir dié wat nie opgemerk het nie: Die werkloosheidskoers het ’n nuwe rekordhoogte van 34,4% volgens die eng definisie bereik, of 44,4% volgens die uitgebreide definisie (wat ’n meer bruikbare definisie is omdat dit ook ontmoedigde werksoekers insluit).

Afhangend van hoe jy dit beskou het Suid-Afrika nou ten minste een van die hoogste werkloosheidskoerse ter wêreld – moontlik selfs die hoogste. Daar is geen twyfel daaraan dat die ANC se beleide grootliks tot dié probleem bygedra het nie, maar ek wil graag ’n ander vraag vra: Was dit by verstek, of was dit beplan? Met ander woorde, was dit met opset gedoen, of is dit bloot maar ’n newe-effek van die regerende party se sosialistiese (hoewel skynbaar jammerhartige) planne? Ek voer aan dat dit doelbewus was: Eerstens om lojaal aan sy sosialistiese aard te bly, maar ook omdat dié beleide en die gevolge daarvan ’n politieke uitweg is – hoewel dit oor die lang termyn geensins voordelig vir die land is nie.

’n Mens kry geen spoor daarvan dat hulle werkloosheid in enige woord of daad goedkeur nie. Inteendeel, hulle vaar heftig en onverbiddelik teen werkloosheid, armoede en ongelykheid uit. Maar, soos wat Johnson uitwys, word ongelykheid bloot deur hul rasgebaseerde en ander beleide vererger. Hulle volhard met dié beleide ten spyte van oorweldigende bewyse dat dit eenvoudig nie werk nie. Dit gee aanleiding tot die vermoede dat hul gestelde en ware doelwitte ten opsigte van dié belangrike kwessies verskil.

’n Doktorale student het onlangs ’n onderhoud oor die impak van die suikerbelasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW) met my gevoer. Een van haar vrae het oor die impak op (on)gelykheid gehandel. In my antwoord het ek aangevoer dat hierdie belastings die armes en klein ondernemings disproporsioneel swaar tref – en nie eintlik die groter korporasies nie – terwyl die regering die vrugte daarvan pluk. Meer nog: Hul gestelde doelwit, naamlik om vetsug deur middel van suikerbelasting te beveg, mag moontlik die verkope van suikerhoudende drankies laat afneem, maar dit beveg nie vetsug nie omdat mense eenvoudig ander maniere soek om suiker in te neem. Groot korporasies gee bloot dié bykomende kostes aan hul oorblywende kliënte deur en skep nuwe produkte.

Dit is veral waar vir arm mense wat suiker vir sowel energie as genot benodig. Hulle bestee ’n oneweredige gedeelte van hul skamele inkomste aan verbruiksgoedere soos eet- en drinkgoed. Boonop voel hulle die impak van ’n (weliswaar klein) toename in BTW meer nypend vergeleke met die middelklas en veral die rykes, wat meer van hul toenemend groter inkomste belê, in verhouding minder verbruiksgoedere koop en ’n weelderiger leefwyse het.

Die armes is ook geheel aan die staat verpand weens hul afhanklikheid van welsynstoelae. Ongeveer 21 miljoen mense – meer as ’n derde van die bevolking – is van een of ander toelaag afhanklik om die pot aan die kook te hou.

So, waarom sou ’n regering dan volhou met beleide en ’n ideologie wat hul kiesers verarm en teen hul eie gestelde doelwitte indruis? Die enigste logiese antwoord is dat hierdie plae nie net nié deur die drieparty-alliansie betreur of met erns hanteer word nie, maar dat dit die doelwit geword het.

Om die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners arm, ongeletterd (of halfgeletterd), afhanklik van die regering en sonder enige waardigheid te hou, dien ’n paar heel voordelige politieke oogmerke. Mense wat onder dié omstandighede gebuk gaan, vra nie vrae nie en weet nie eens dat hulle verpand en bedrieg word nie. En ná 27 jaar van ANC-heerskappy het dit steeds ’n paar geskikte sondebokke en regverdigings: wit mense, apartheid, die sakesektor, Covid-19, staatskaping en selfs die Guptas. Alles buiten die ANC se voortslepende, skadelike beleide wat onder empatie verskuil word. In ruil hiervoor beloon die armes die ANC met hul stemme in ritualistiese verkiesings.

Nadat ’n Cosatu-segspersoon oor die redelik groot toename in werkloosheid gevra is, het hy met somberheid meegedeel dat te veel leerders nie met skool klaarmaak nie en dat te veel leerders hul skoolloopbaan voltooi sonder dat hulle behoorlik kan lees en skryf. Dit is waar, maar wie se skuld is dit? Een van hul lid-unies, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU), het swart skoolonderwys eiehandig vernietig deur lae produktiwiteit en militante, onredelike standpunte oor vergoeding en voordele – met bitter min ontsag vir die leerders wat hierdeur geraak is.

Voorts staan Cosatu die onderrig van entrepreneurskap voor as ’n oënskynlike wonderkuur vir die werkloosheidskrisis. Deur die sakesektor te demoniseer en alles in hul mag te doen – in pas met die ANC en SAKP as hul vennote – om kapitalisme en entrepreneurskap te ondermyn, is dit kettery en absurd om die onderrig van entrepreneurskap voor te stel. Voordat leerders van entrepreneurskap geleer kan word, moet hulle eers geleer word om te lees, te skryf, en basiese wiskunde te doen. Om dít te kan doen, moet SADOU en sy lede rustiger word, wakker word of heeltemal verdwyn. Maar dan weer, is treurige onderrig inderdaad die vyand wat Cosatu en die ANC dit uitmaak om te wees? Swak onderrig en gedwee skares het hulle tot dusver in die stoele gehou en ten spyte van die verwoesting wat dit in die land saai, blyk dit hulle belange na wense te dien.

Hoewel ek entrepreneurskap ondersteun en koester, is dit nie ’n massa-oplossing vir Suid-Afrika in die kort tot medium termyn nie. Die meeste mense in Suid-Afrika sal ’n onderneming in die grond in bestuur en weinig sal die nodige finansiering en opleiding ontvang om dit suksesvol te kan doen. Baie mense wil eenvoudig nie sake-eienaars wees nie weens die spanning en teëspoed wat daarmee gepaardgaan.

Wat ons regtig benodig, is dat die aansporing om te werk weer opvlam, en dat werk (enige werk!) op groot skaal geskep word. Die huidige groep sake-eienaars is beter geposisioneer as die meeste openbare skole of die regering om hul werknemers en selfs die gemeenskappe waarin hulle werksaam is van entrepreneurskap te leer. Dit gaan egter tyd neem om enige vrugte af te werp – selfs dekades. Die beste tyd om te begin was gister, maar die tweede beste tyd is vandag. Slegs dán sal ’n nuwe entrepreneursklas verrys – mits hulle van minimum vergoeding, militante unies, hoë belasting en versmorende arbeidsbeleide bevry is.

Daar sal altyd ’n beduidende maatskaplike staat in Suid-Afrika wees. ’n Ander onteenseglike voorvereiste vir groei in werksgeleenthede is om sommige van die toelae te besnoei en mense gevolglik aan te spoor om te werk – veral die jeug. Vergeet vir eers van ongelykheid en fokus daarop om mense aan die werk en aan die leer te kry. ’n Maatskaplike toelae is geen plaasvervanger vir werk nie – in elk geval nie permanent nie. ’n Toelae moedig passiwiteit en ’n gebrek aan ambisie aan, terwyl ’n werk waardigheid, selfwaarde en sin in die hand werk.

Die keuse is duidelik: Die ANC kan uiteindelik skynbaar goedaardige maar uiteindelik skadelike beleide en hoë werkloosheid hê, of realistiese maar minder polities voordelige beleide en meer werksgeleenthede – maar nie albei nie.

  • Dr Brink is die strategiese adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ghoen

Netso, dr. Brink: “1 + 1 was nog altyd 2.” Daarom is 33% staatsafhanklikes + die voorgestelde Nasionale Gesondheids Versekerings stelsel + die voorgestelde Staatsbeheerde Pensioenfonds + Pogings om Grond te Onteien sonder vergoedig + Minimum Lone + Onsinnige inperkings + Kaderontplooiing + Rasgedrewe voorgeskrewe indiensnemingsbeleide + Nimmereindigende blaam van apartheid + Heldeverering van terrosiste wat mense met buitebande verbrand het = Sosialisme.

Aikie

Indien mens na die eenvoudigste beleid kyk, maak dit sin vir die ANC om soveel moontlik mense in die arbeidsmark te kry. Dan is daar mos nog net soveel meer wat belasting betaal om die soustrein aan die lewe te hou. Maar nee, hulle onhandigheid maak dat selfs die lewe in Suid-Afrika nie hernubaar is nie.