Vir moedertaal en vaderland

Afrikaner

Argieffoto.

Deur Monica Mynhardt

Die geskiedenis het ’n geneigdheid om homself te herhaal. So staan ons as Afrikaners weer voor ’n groot vraagstuk en uitdaging rakende ons toekoms, taal en kultuur. Ons identiteit, geskiedenis en bestaansreg word verwerp en ons geweier. Mense voel kwaad, moedeloos en verlore.

Dit is egter nie die eerste keer wat ons met ’n uitdagende werklikheid gekonfronteer word nie. Ons histories onstuitbare gees van selfopgelegde vryspraak van wanhoop is kenmerkend van ons mense – dit is nie eie aan ons aard om verlammend in moedeloosheid te bly nie. Dit gaan moeilik wees om ons geskiedenis en toekoms te bewaar. Indien ons egter weet waar ons vandaan kom, waar ons is en waarheen ons op pad is, sal ons slaag.

Weet waar ons vandaan kom

Dis belangrik om te weet uit watter verlede ons ’n toekoms wil bou. Om ons land en mense se geskiedenis werklik te verstaan, sal twee dinge tot gevolg hê: perspektief en hoop.

Ons geskiedenis is deurtrek van vreedsame interaksies, spanning en konflik tussen ’n klomp groepe. Ons bevind onsself ongelukkig in ’n tyd waar eensydige weergawes van geskiedkundige gebeurtenisse aangewend word as politieke wapens. Die werklikheid is egter dat geen enkele groep slégs rein of slégs boos was of is nie – die Afrikaner inkluis.

In Oktober 1836 het die Slag van Vegkop plaasgevind. Die Voortrekkers wat in daardie stadium uit die Kaap noord begin trek het, is deur Mzilikazi as bedreiging gesien vir sy Matabele-heerskappy. Voorts het hy met tussen 4 000 en 6 000 Ndebele-impi’s ’n aanval op sowat 40 Voortrekkers, waaronder sewe seuns was, geloods. Wonderbaarlik het die Voortrekkers die veldslag gewen en aanval oorleef. Hulle het omtrent 5 000 beeste en tussen 41 000 en 50 000 bokke en skape aan die Matabele afgestaan. Gevolglik het hulle hulp na die suide gaan soek.

Die Barolong-opperhoof, Moroka, het aan die Voortrekkers trekosse en koeie voorsien en ook ’n alliansie gevorm. Met Mzilikazi as gemeenskaplike vyand het hierdie twee groepe in Januarie 1837, tesame met die Griekwas, Khoi-San en die Batlokwa-stam, ’n aanval op die Matabeles van stapel gestuur. In hierdie slag van Mosega het dié groepe saamgestaan en Mzilikazi verder noord verdryf.

Groepekonflik in ons land is en was aansienlik meer genuanseerd as die bose wit teenoor homogene swart narratief wat dikwels voorgehou word – dít is die perspektief wat geskiedenis bied.

Die realiteite wat ons vandag in die gesig staar, lyk ook dikwels onoorkombaar. Die Afrikaner het egter al herhaaldelik, ten spyte van enorme onwaarskynlikhede, geseëvier. Ons het skynbaar onmoontlike militêre oorwinnings behaal – ’n klein groepie Afrikaners teenoor die mag van die Britse Empaaier. Ons het ’n volwaardige taal en kultuur opgebou ten spyte van verwerping. Ons het uit armoede en ellende opgestaan deur onsself te help.

Die Afrikaner het ten spyte van álles, iets merkwaardigs in Afrika uitgebou en behou – dít is die hoop wat geskiedenis bied.

Weet waar ons is

Ten einde ’n beter werklikheid vir onsself te bou, moet ons eers die huidige een verstaan.

Suid-Afrika is so te sê ’n mislukte staat. In byna elke aspek wat ’n staat moet funksioneer, doen ons s’n nie. Die verval van die staatsdiens spreek van ’n organisasie wat in wese nie weet hoe om te regeer nie – ’n vryheidsbeweging wat homself wil voordoen as bevoegde regering. Die verval van Eskom getuig hiervan.

Eskom was eens op ’n tyd ’n wêreldleier op sy gebied, totdat rassetransformasie die enigste doelwit geword het. Oor die afgelope dekade het Eskom se omset met sowat 322% gegroei, maar sy opwekkingskapasiteit met slegs 26%. Politieke magspel en rasbeheptheid wat skaamteloos voorrang bo bevoegdheid en uitsette geniet, kom Eskom en álle Suid-Afrikaners nou baie duur te staan.

Die regerende party se kommunistiese grondslag is besig om ons land te verwoes. Ekonomiese vooruitgang is onmoontlik met ’n massiewe regering, inmenging in die privaat sektor en ’n onversadigbare groep staatsafhanklikes.

Verder is die regering ook gekant teen die Afrikaner. Hul ras- en regstellingsbeheptheid veronderstel dat wit mense noodwendig tweedeklasburgers in hul eie land is. Ras (eerder as meriete), as primêre oorweging, is besig om ongeregtigheid en agteruitgang in ons land te bewerkstellig. Rassepolitiek is alomteenwoordig – in sport, onderwys, maatskaplike omgewings, die privaat sektor en media.

Die regering sal voortgaan om sy idealistiese 80:9:9:2-kwotastelsel koorsagtig na te jaag, selfs al is dit ten koste van die hele land.

Die goeie nuus is egter dat die regering te onbevoeg is om enige iemand wat hul eie alternatiewe werklikheid wil bou, te keer. Sodoende het onderdrukte groepe die geleentheid om, ten spyte van die regering, kulturele en ekonomiese vooruitgang te verseker.

Weet waarheen ons op pad is

Ten einde weer werklik tuis in Afrika te wees, gaan ons vir onsself ’n toekomsruimte moet bou. Dit is maklik om oor die geskiedenis en die hede te leer. Dit is wel uitdagend om aan die toekoms te bou en slyp. Hoewel moeilik, is hierdie taak besonders lonend. Dit is een wat ’n bestaansreg en -ruimte vir ons nou sal skep en die vryheid om te droom en vooruit te streef in die toekoms.

Om ’n volk se toekoms te beskerm, is daar egter ’n volk nodig. Die sukses hiervan gaan nie verseker word deur enkelinge wat alles self vermag nie. Dit was nog altyd die Afrikaner se lojaliteit aan die gemeenskap en stoerheid van gees wat ons voortbestaan verseker het.

’n Bemoedigende werklikheid is dat die Afrikaner bes moontlik beter georganiseerd is as ooit van tevore. Die instellings en toekomsplanne bestaan reeds – nou moet ons soos een man daaragter verenig. Daar waar die regering verval, ons taal en kultuur ondermyn, moet ons self die leemtes vul.

Die Solidariteit Beweging en ander verwante organisasies is tans besig om te veg vir en te bou aan ’n toekoms vir die Afrikaner.

Politieke inmenging het oor die afgelope dekade Afrikaans, die sogenaamde onderdrukkende en uitsluitende taal, as onderrigmedium uit alle universiteite probeer verwyder. Moedertaalonderrig is deurslaggewend tot die vorming van ’n nasie. Verder is die behoud van sogenaamde hoër funksies van ’n taal krities vir die behoud en groei van die taal self. Die bewaring van Afrikaans as onderrigtaal is ’n ononderhandelbare kwessie. Akademia en Sol-Tech is twee wêreldklas- privaat tersiêre onderriginstansies wat hierdie leemte vul – daar waar die regering ons taal afbreek, bou ons dit self op.

Solidariteit se NetWerk van werk bied die geleentheid vir ekonomies uitgeworpenes om ’n tuiste te vind buite die rassepolitiek van swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

AfriForum se toewyding aan veiligheid verseker dat ons mekaar veilig kan hou, daar waar die regering nie meer kan nie. En die FAK bewaar die geskiedenis en kultuur wat ons deur die eeue met soveel suksesse en nederlae gevorm het.

Vir hierdie boubeweging om te slaag, is ’n hele gemeenskap egter nodig. Een mens hoef nie alles te doen nie, maar almal sal iets moet doen.

Die Afrikaner is baie dinge. Ons is ’n nasie wat, sonder om te skroom, hierdie woeste aarde getem en ons eie gemaak het. Ons is Westerlinge wat vryheid in ’n ongerepte Afrika kom soek het, en ’n nuwe identiteit gevind het. Ons is wild, sterk en innoverend. Ons is halsstarrig en godvresend. Ons is koeksisters en Klipwerf, maar ons is ook soveel meer.

Ons is geharde pioniers wat nog altyd in die aangesig van uitdagings letterlik berge kon versit.

Dit is tyd dat ons dít weer onthou.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert ·

Ek stem saam met alles. Dis net baie hartseer dat ons nou twee keer vir alles betaal, eers deur ons belasting vir ander mense se skole, universiteite, sekuriteit, gesondheid, dienste ens., en dan weer self vir dit alles vir ons self.

humor ·

Met groot waardering. Hierdie woorde moet ons meer hoor in goed georganiseerde feeste en funksies landwyd.

Jerry ·

Deesdae se skrywers vind dit toenemend nodig om hulle strewe en perspektief te versterk en meer geloofwaardig te laat klink deur goeie stories uit die geskiedenis aan te haal. Die realiteit van die situasie van die Afrikaner van vandag teenoor die realiteit van situasies uit die geskiedenis is egter baie ver verwyderd van mekaar agv ontsettend baie verskillende faktore wat toe n rol gespeel het, teenoor die faktore wat vandag n rol speel. Daarmee saam word die modus operandi van die ANC staat totaal en al verkeerd ontleed as synde n “failed state” agv onbevoegdheid in plaas van die ANC wat doelbewus n swak ekonomiese klimaat skep ten einde die Afrikaner te verarm en weerstand teen verandering wat dit ten doel het om kolonialisme te vernietig, te laat verkrummel. Solidariteit is nie die Voortrekkers uit ons geskiedenis nie en nog minder bestaan die ANC vandag uit net een groep of stam uit die geskiedenis. Solidariteit se bestaansreg is te danke aan die koopkrag van die Afrikaner, n koopkrag wat toenemend onder druk gaan kom omrede die ANC die Afrikaner en belastingbetalers gaan leegmelk vir die ANC. Wanneer die Afrikaner en belastingbetalers leeg gemelk is en brandarm is, dan gaan die ANC die IMF nader vir geld vir die ANC om die ekonomie op te bou vir die ANC. Solidariteit se selfbeskikkingsplan se lewensvatbaarheid kan slegs slaag oor die korttermyn en moontlik dalk nog die medium termyn. Wanneer die Afrikaner wat vir Solidariteit tans dra, verarm, is dit koebaai Meraai!

Definisie van veiligheid ·

Baie goeie artikel en niemand ontneem Afriforum en ander van die erkenning vir ontsaglike hard werk vir Afrikaner behoud nie. Wat mens egter al hoe meer besef is dat Afrikaner lewe hier vir 400 jaar met aaneenlopende geveg gepaard gaan. Dis nie normaal nie. Dit kan ook nie langer onder die mat van “verantwoordelikheid teenoor jou land en wees positief” ingevee word nie. Dis ook nie goed genoeg vir my nageslag nie. Wanneer bereik ons vryheid? Veiligheid? Om verdedigings meganismes in plek te stel omdat mens verwag om aangeval te word is nie veiligheid nie. Definisie van veiligheid: Veiligheid is ‘n staat waarin daar gevoel word dat niks slegs gaan gebeur nie. Dit is dus die afwesigheid van gevaar. Dis die veiligheid wat in normale en beskaafde lande heers of waarna daar minstens gestreef word. Selfs al is dit haalbaar om met massabevondsing te bou, is dit regverdig om te verwag dat Afrikaners 80% in belasting afstaan aan ‘n regering waar hulle as tweede klas burgers behandel word en woorde soos ‘voertsek’ daagliks teenoor hulle gebruik word? Dan ‘voertsek’ ek eerder met my biltongmaker en belasting geldtjies onder die arm na ‘n land waar ek veiligheid en vrede sal ervaar en basta.

Expat ·

Afrikaners is ook pioniers wat die vreemde kan invaar en ‘n sukses daarvan maak. Moenie net sit en wag om afgeslag te word nie, doen iets vir jou eie toekoms man!

John ·

Eintlik was on ons dalk juis te ‘nice’. Die VSA, Australiè en lande in Suid-Amerika het behoorlik geveg vir hul bestaansreg en nie gepoer-poer met sendelinge wat ‘n dubbelspel speel nie. Vandag word ons beskuldig van grootskaalse uitwissing gebou op stories uit verre lande en die vark in die vehaal speel. Apartheid het natuurlikerwys ontwikkel en nie uit ‘n gevoel van meerwaardigheid nie; bloot uit nood op realiteite gebou. Die ANC wil ‘n skynbeeld van die verlede opbou tot waarheid.

Frans C ·

Ek dink as jy beheer oor die volgende prysgegee het,veg jy ‘n verlore stryd,want alle aktiwiteite draai maar om een van die volgende: Grond, arbeid , kapitaal , en onderneming.

Wanneer die staat soos met die ANC die geval is alhoemeer beheer oor dit wil neem en voorskriftelik raak word dit moeiliker vir ondernemings om te funksioneer en neem korrupsie mi toe omdat ondernemings van die staat afhanklik raak vir groot projekte
en alhoemeer hul arbeid moet rig op dit wat die staat verlang,veral waar dit by die opheffing van die sogenaamde ‘agtergeblewenes’ betref.

Ek kan insien dat ‘kapitaal’ in so’n klimaat koue voete kry en beleggers ander wivelde soek met minder voorskriftelikheid oor hoe die belangrike produksiefaktore aangewend en beheer moet word.

Nee wat wat my aanbetref is die ANC in die opsig ‘n volslae mislukking en is hul in die opsig die grootste ramp wat Suid Afrika op die gebied getref het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.