Vir wie regeer die ANC?

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

In die jongste meningspeilings deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) verskil die algemene bevolking – swart, bruin, Asiër en wit – nogal aansienlik van die regeringsbesluite rakende ras.

Dit laat ‘n mens wonder in watter mate die ANC, die EFF en die ander swart toonaangewende politieke kommentators en meningsvormers en beleidmakers die wense van die meerderheid van die bevolking uitstraal.

Een van die talle diskriminerende beleide van die ANC gaan oor die kwotastelsels, ook in sport. Persentasies swart mense – ook met die definisie van “etnies swart” – word voorgeskryf. Vir die Springbokke wat vir die Wêreldbeker gekies word, moet 50% van die 31 spelers swart wees. In krieket is dit ook 50% en in franchise-krieket nog strenger.

In die (bankrot) Westelike Provinsie is nou besluit dat tussen 20% en 25% van sy Cravenweek rugbyspelers nie uit voormalige Mode C-skole mag kom nie. ‘n Mens moet dit sien teen die agtergrond dat dit juis die gewese Model C-skole is wat beurse aan belowende swart en bruin spelers toeken en hulle ontwikkel tot op die vlak waar hulle op verdienste kan kwalifiseer!

In die jongste meningspeilings deur die SAIRV verskil alle rasse van die regering oor die rol van kwotas:

Moet sportspanne net op meriete verkies word?

JA, sê 83% van die ondervraagdes. Die onderskeie persentasies van die Ja-stemmers is swart 82%, bruin 81%, Asiërs 75 en wit 96%.

Hier moet bygesê word dat sulke meningspeilings – soos met verkiesings – nogal baie betroubaar is met ‘n foutsyfer in die omgewing van 3% weerskante toe.

Wie dink jy moet in betrekkings aangestel word?

Hier is nogal verbasend min steun vir mense wat net op kleur aangestel moet word.

  • Op verdienste en met spesiale opleiding vir agtergeblewenes: Die totaal ja’s van 58% word soos volg verdeel: Swart 55%, bruin 67%, Asiër 69% en wit 68%.
  • Vir baie jare net swartes: Totaal 10%. Swart 13%, bruin 0%, Asiër 6% en wit 1%.
  • Alle aanstellings net op verdienste en sonder opleiding: Totaal 22%. Swart 20%, bruin 31%, Asiër 31% en wit 28%.

‘n Regeringsbeleid wat op hierdie peiling berus, sal waarskynlik baie help met die bekamping van wanfunksionerende munisipaliteite (amper twee derdes van 257) en die talle departemente soos die SAL, SAUK, Eskom, water, gesondheid en talle ander wat met miljarde rand se reddingspogings aan die gang gehou moet word weens die korrupsie van die mense wat die beheer voer. Daar ís nog kundigheid in die land wat nie reeds in die buiteland sit nie. (Hierdie totaal word tot op een miljoen mense geskat!)

Kader Asmal se nalatenskap in onderwys

Daar is ook gereeld stemme wat opgaan teen die feit dat daar te veel wit en te min swart onderwysers is, op skool en tersiêre gebied. Een van die belangrikste redes vir hierdie gegewe is die feit dat Kader Asmal in die middel 1990’s besluit het om onderwyskolleges ook vir swart mense te sluit.

Een van die min intelligente stellings wat Jacob Zuma gemaak het, gaan ironies genoeg hieroor toe hy in 2008 met die IVP saamgestem het dat dit ‘n dom besluit was:

“Asmal is ‘n man wat glo hy weet alles. Wat hy gedoen het, is erger as wat die apartheidsregering aan ons onderwysstelsel gedoen het,” het hy in 2008 in ‘n helder oomblik van sy presidentskap gesê.

Wie moet jou kind se onderwysers wees?

  • Dieselfde ras as ek
    Totaal 15%. Swart 18%, bruin 5%, Asiër 6%, wit 7%.
  • Solank dit goeie onderwys is.
    Totaal 84%. Swart 81%, bruin 95%, Asiër 94%, wit 92%.

Sal beter opleiding en meer werk die ongelykheid tussen rasse laat verdwyn?

In totaal stem 76% van die respondente saam: Swart 74%, bruin 84%, Asiër 75%, wit 86%. Dit lyk dus of opleiding ‘n groot rol in gelykstelling kan meebring. Ongelukkig lyk dit of die regering magteloos staan teen die vernietigende mag van die vakbond Sadou (Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysunie), waarvan twee derdes van die land se onderwysers lid is.

Was jy al ooit aan die ontvangkant van rassisme?

Oor rassisme wat op persoonlike vlak beleef word, is die verskille tussen groepe die kleinste in die opname.

  • Totaal 42%. Swart 36%, bruin 70%, Asiër 56%. wit 42%.

Ramaphosa se staatsrede slaan elke bal mis

Hoewel verstommend baie Afrikaanse meningsvormers die president ‘n 7 vir sy staatsrede gegee het, het hy net 2,5 van dr. Pieter Groenewald van die VF Plus gekry. Die meerderheid Engelse kommentators het hom selfs ‘n laer punt gegee.

Die ANC se rampokkerbende het net selfverryking en naakte mag nagestreef en die resultaat is ‘n land wat moreel en geldelik bankrot is. En tog het Ramaphosa gestalte gegee aan drome oor ‘n superstad en supertreine waarvoor nog duisende miljarde rand – en die nodige kundigheid! – êrens vandaan moet kom.

China het talle superstede gebou, maar die Chinese is hardwerkend en produktief. En baie van hierdie stede staan leeg omdat daar nie werksgeleenthede is waar hulle geleë is nie, Dis nog een van Ramaphosa se drome: Werksgeleenthede vir 2 miljoen mense.

Dit raak by die dag duideliker dat ons met ‘n magtelose president sit wat uitgelewer is aan visepresident David Mabuza en sekretaris-generaal Ace Magashule, wat tussen hulle gekonkel het om mense soos Faith Muthambi, Mosebenzi Zwane, Bongani Bongo en Tina Joemat-Pettersson die voorsitters van belangrike portefeuljekomitees in te smokkel.

As daar nie so maklik toegegee was aan politieke swart bemagtiging nie en as daar enigiets tereg gekom het van die “wigte en teenwigte”, kon die meningspeilings in 2019 dalk effens anders gelyk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ChrisE ·

Die opskrif van die skrywe is reeds verwarrend. Die ANC regeer nie, in Engelse terme sal ek dit so stel, die ANC “rule” en “govern” beslis nie. Om effektief te regeer het jy kundigheid, diplomasie en onpartydigheid nodig. Jy het mense nodig wat in diens van die bevolking staan en nie andersom nie. Jy het mense nodig wat geen bagasie het en in die verlede leef nie. Die ANC sal in dag des lewens nooit in die land “govern” nie, want die land behoort nie aan die ANC nie. Die regime word deur ‘n nie politieke party manipuleer. Die ANC is ‘n bevrydingsorganisasie.

Andreas ·

Lees mens vandag die laaste paragraaf van hierdie skrywe tesame met die artikel deur Pierre Massyn oor Verwoerd en Tsafendas, maak dit mens werklik morbied om te besef die land kon nou soveel anders daar uitgesien het as dit nie daarvoor was nie.

Andreas ·

Hallo Maroela, Ek sien nou hierdie berig hier onder op Netwerk24:
“Laat taksbetalers politieke partye finansier – Mogoeng:-
Belastingbetalers moet dalk politieke partye finansier, het hoofregter Mogoeng Mogoeng Vrydagoggend gesê.”
Het julle dalk meer besonderhede??!!

Jimmy ·

Netwerk 24 dra fopnuus. Moet jou nie aan die ouens steur nie.

Andreas ·

Jimmy, ek het die skakel na die video onder Herman Toerien se rubriek geplaas, gaan beloer daar gerus hoe ongedurig hy met die land is. Hy het dit oor die kiesstelsel, rasisme, en wat nog.

lewies ·

Dis belaglik om vir Pieter Groenewald net 2,5 te gee. Die kern van sy toespraak bevat die waarheid, wat vandag gehaat word, omdat mense diegene aanstel wat se net dit wat hulle graag wil hoor.

Andreas ·

Wat verstommend is as mens na die statistiek kyk, is dat die ANC regering nie na die inwoners van die land luister nie, hulle is dronk van hul eie ideologie wat hulle aan hul volgelinge opdring en voel ‘n veer vir die res. Daar is mos heelparty hoogs geloofwaardige instansies wat statistiese gegewens vir hulle beskikbaar kan stel wat hulle as hulpmiddel kan inspan om die land te help bestuur, soos enige goeie besigheid van gebruik maak.

Maar nee, hulle vertel hulle het ‘n mandaat van hul kiesers gekry en dit is waaraan hulle gaan uitvoering gee. Nou wil ek weet watter mandaat het hulle by die stembus gekry? Die ondersteuners juig die ANC by die byeenkomste toe, maak nie wat aan hulle vertel word nie. Die ondersteuners stem in alle geval vir die ANC of hulle dan nou korrup is al dan nie, ook al sou hulle die land die grond in bestuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.