Vlaminge en Wale in België dryf verder uit mekaar

Die Belgiese vlag wapper oor die stad van Gent. Foto: Pixabay

Kiesers in België het verlede jaar op 26 Mei reeds na die stembus gegaan in ’n verkiesing om nuwe verteenwoordigers vir sowel die streekregerings in, onder meer, Vlaandere, Wallonië en Brussel, as vir die federale en Europese parlemente te verkies. Terwyl daar sowat ’n jaar gelede reeds koalisieregerings in die drie gewestes van België gevorm is, was onderhandelinge vir ’n federale regering tot dusver baie taai. Nou, byna 450 dae sedert die verkiesing, lyk dit asof politieke partye wat letterlik niks met mekaar in gemeen het nie, weens die koronapandemie gedwing kan word om ’n wankelrige federale regering te vorm.

’n Interessante federale staatsmodel is oor die afgelope paar dekades in België ontwikkel. Die ingewikkelde stelsel van die verspreiding van magte en verpligtinge tussen die land se drie taalgemeenskappe, drie gewestes en die federale regering is deur ses staatshervormings sedert 1970 help vorm. Ná die verkiesing van 2010 het dit 541 dae vir politieke partye uit Vlaandere en Wallonië geneem om uiteindelik ’n koalisieregering te kon vorm.

Oor die afgelope twee weke het dit aan die lig gekom dat die grootste party in Vlaandere, die regse Nieuw-Vlaamse Alliantie (N-VA), bereid is om met die grootste party van Wallonië, die Sosialistiese Party, saam te werk om ’n federale regering te vorm. Hulle sal die twee liberale partye van die twee gewestes by die koalisie moet insluit om ’n meerderheid in die Belgiese parlement te kry.

Die Markplein in Brugge, België. (Foto: Virginia Mayo, AP)

Die twee grootste partye van Vlaandere en Wallonië is wêrelde van mekaar verwyder. Die N-VA in Vlaandere is polities regs en nasionalisties en minstens ten gunste van nog ’n groter afwenteling van mag weg van die federale regering na die gewestes en in hul geval spesifiek die Vlaamse regering. Die N-VA is ook ekonomies ver verwyder van die PS-party in Wallonië se sosialistiese politiek. Verder is PS ’n ware linkse party wat eerder ten gunste van groter eenheid in België is.

Die twee partye se verskille vergestalt natuurlik ook die groot verskille tussen Vlaandere en Wallonië. Terwyl Vlaandere Nederlandstalig is en Wallonië Franstalig, is die twee gewestes ook polities en ekonomies heelwat van mekaar verwyderd. Tydens verlede jaar se verkiesing is meer as 50% van die stemme in Vlaandere aan regse partye uitgebring. Sowat 45% van kiesers het vir die N-VA en die nog regser Vlaams Belang gestem, twee partye wat ten gunste is van onafhanklikheid vir Vlaandere of ten minste nog heelwat meer magte vir die Vlaamse regering.

In Wallonië is die oorgrote meerderheid van kiesers egter links. Dié Franssprekende geweste het ’n lang tradisie van linkse en sosialistiese politiek. Die een groot krapperigheid tussen Vlaandere en Wallonië hou dan ook juis verband met die finansiering van die verskillende vlakke van regering. Terwyl daar ’n federale regering in Brussel is, is daar ook twee ander vlakke van regering. Die een vlak van regering deel België in taalgemeenskappe op en funksies soos onderwys, kultuur en welsyn word deur taalgemeenskappe hanteer. Dan is daar ook drie gewestes naamlik Vlaandere, Wallonië en Brussel waarin regeringsfunksies soos ekonomiese sake, arbeid en infrastruktuur val. In Vlaandere word die regeringsfunksies van die taalgemeenskap en die geweste in een Vlaamse parlement saamgevoeg. In Wallonië en Brussel is hierdie funksies geskei.

Belgiese vegvliegtuie maak van rooi, geel en swart rookbaniere gebruik om die lug met België se nasionale kleure te “verf”, tydens die Belgiese Nasionale Dag in Brussels.
Foto: AP Photo/Geert Vanden Wijngaert/wire.africannewsagency.com

Die Belgiese federale regering is hoofsaaklik verantwoordelik vir die land se verdediging, regspraak en die instandhouding van die maatskaplike veiligheidsnet. ’n Funksie soos buitelandse sake word deur die federale regering en gewestes gedeel met Vlaandere wat in verskeie lande naas die Belgiese ambassade ook sy eie diplomatieke kantore het.

Die grootste uitdaging in België is die Finansieringswet van 1989 waarvolgens die gewestes se bydraes tot staatsfinansies bepaal word. Daarvolgens dra Vlaandere ’n onbillike groot deel staatsfinansiering in België by net omdat Vlaandere meer welvarend is. Die Vlaminge is natuurlik vinnig om te sê dat hulle meer produktief en meer spaarsamig as die Walloniërs is. Die Vlaamse regering werk ook beter met sy geld. Reeds in 1995 het die sosialiste in Wallonië gevra dat die Finansieringswet vir tien jaar tot 2005 verleng moes word sodat die spandabelrige Wallonië sy finansies in orde kon kry. Dit het nooit gebeur nie.

Volgens ’n studie van die IÉSEG School of Management in Parys word daar jaarliks €6,4 miljard Vlaamse belastinggeld na Wallonië en Brussel oorgedra. Dit beteken dat elke Vlaming jaarliks €986 tot die Franstalige suide van België bydra. Die grootste rede hiervoor is verskil in afhanklikheid van staatshulp tussen Vlaandere en Wallonië. Werkloosheid in Wallonië is meestal dubbel die werkloosheid in Vlaandere. Wale is ook baie meer afhanklik van staatsdienste soos mediese en maatskaplike sorg wat meebring dat daar jaarliks meer belastinggeld van die ryker noordelike Vlaandere na die suidelike Wallonië vloei.

Dit was nie altyd so gewees nie. Tydens die grootste deel van die negentiende eeu was Vlaandere ’n baie arm streek en heelwat armer as Wallonië. Nadat België in 1830 onafhanklikheid van die Verenigde Nederlande verklaar het, het daar met tye, veral gedurende die laat 1840’s hongersnood in verskeie dele van Vlaandere geheers. Die regeringstaal in België was Frans en die regeringselite was almal Franstaliges. Die Nederlandstalige Vlaminge was meestal verarmde boere met beperkte opleiding.

Die meeste natuurlike hulpbronne in België was ook tot die suidelike Wallonië beperk en daarom het industrialisering eers in Wallonië plaasgevind. Ook gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu is Vlaandere deur swaarkry geraak, veral weens die verwoestende wêreldoorloë.

Die Grand Place in Brussel, België. (Foto: Francisco Seco, AP)

Dit was egter tydens die tweede helfte van die twintigste eeu wat Vlaandere sterk na vore begin tree het, veral soos wat die streek homself sterk rondom ’n taalbeweging begin organiseer het en onderrig in Nederlands op skole en universiteite plaasgevind het. Die Vlaminge se veeltaligheid (die meeste Vlaminge praat Nederlands, Frans en Engels) het die streek se dienstesektor sterk laat uitbrei en die hawens in Antwerpen en Zeebrugge het van Vlaandere ’n belangrike handelsgebied gemaak. Die streek is vandag ook bekend vir sy hoë produktiwiteitsvlakke en uitstekende onderwys en naskoolse opleiding.

Daarteenoor het Wallonië moeilik die oorgang van swaar industrieë na nuwe ekonomiese bedrywe gemaak. Die geografiese uitdaging in België setel egter sterk rondom die hoofstad Brussel. Dié stad word omring deur Vlaandere, maar hoewel Brussel nog ’n eeu gelede ’n Vlaamse stad was, is minder as 20% van die stad se inwoners vandag Nederlandstalig en het Brussel ’n meerderheid Franstalige stad geword.

Nog so onlangs soos na die Tweede Wêreldoorlog was ’n meerderheid van Wale ten gunste van inlywing by Frankryk. Vandag is dit nie meer die geval nie. Ook Vlaandere het kultureel heelwat verskille met Nederland en min Vlaminge sien hereniging met Nederland as hul beste toekomsopsie.

Die realiteit is egter dat Vlaandere en Wallonië min in gemeen het en dat België steeds in die rigting van ’n herskikking beweeg. ’n Sterker unitêre België, soos wat die geval voor 1970 se staatshervorming was, is tans vir die Vlaminge, maar selfs baie Wale nie meer ’n opsie nie. Die huidige opsies is eerder aanpassings aan die huidige federale model, die verskuiwing na ’n konfederale model waarin die nasionale regering min magte behou of natuurlik die opbreek van België in twee afsonderlike state met die vraagstuk oor hoe Brussel en dorpe en stede op of naby die taalgrens hanteer sal word.

‘n Gesondheidsorgwerker toets ‘n pasiënt vir Covid-19 in Antwerpen, België. (Foto: AP Photo/Virginia Mayo)

Die koronapandemie en die tragiese gevolge daarvan in België, het die regeringskrisis in dié land blootgelê. Terwyl België reeds vir meer as 400 dae ’n opsigter-regering het, het die land die hoogste per capita-sterftes weens Covid-19 in die wêreld. Hoewel die sterftes waarskynlik oordryf is omdat baie sterftes waarin geen Covid-19-diagnose gemaak is nie, wel as sterftes weens Covid-19 aangemeld is, is daar ook duidelike uitdagings in hoe die Belgiese regering die krisis hanteer het. Een daarvan is die komplekse aard van mediese dienste en die rol van die onderskeie regeringsvlakke in die hantering van enige pandemie.

Die Vlaminge hoop vir ’n sewende regeringshervorming. Die leier van die grootste Vlaamse partye is almal ten gunste van so ’n staatshervorming. Die N-VA is ten gunste van die ontwikkeling van ’n konfederasie. Daarvolgens sal Vlaandere en Wallonië tot volwaardige state op hul eie ontwikkel, maar sal hulle in ’n konfederasie bly saamwerk op enkele terreine soos verdediging. Die enigste suksesvolle konfederasies uit die geskiedenis was dié in Swede tussen 1291 en 1849 en die Republiek van die Verenigde Nederlande wat van 1581 tot 1795 ’n konfederasie van onafhanklike state was.

Indien daar teen middel September geen nuwe regeringskoalisie in België is nie, sal daar waarskynlik nuwe verkiesings plaasvind. Huidige peilings voorspel dat die N-VA en Vlaams Belang – die twee nasionalistiese Vlaamse partye – in ’n nuwe verkiesing saam 50% van die stemme kan kry. Dit sal nog meer van ’n mandaat aan die Vlaamse onderhandelaars gee. Wat ook al gebeur, is dit duidelik dat Vlaandere en Wallonië verder van mekaar wegdryf en dat ’n versterking van die federasie (met groter magte in die gewestes) dalk die vorming van ’n konfederasie of uiteindelik selfs die uitmekaarspat van die Belgiese staat oor die volgende paar jaar meer waarskynlik is as die versterking van ’n unitêre Belgiese staat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

“In Vlaand’re wieg papawers sag
Tussen kruise, grag op grag … ”

Die naam Vlaandere is só mooi.
Puik artikel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.