Watter lesse hou rampspoedige Vlug 752 na die Oekraïne vir die debat oor kernwapenverspreiding in?
Kortom, baie. Ná etlike dae van ontkenning, het die Irannese regering op 11 Januarie 2020 eindelik erken dat dié rampspoedige vlug deur ʼn Irannese grond-lug-projektiel van ʼn Russies vervaardigde SA-15-lugverdedigingstelsel – en nie meganiese probleme nie – veroorsaak is. Die Irannese regering voer nou plegtig aan dat ʼn menslike fout die beslissende faktor in die rampspoedige vlug was.
Hiervolgens was Iran ʼn Amerikaanse wraakaanval te wagte ná eersgenoemde se aanval op die al-Asad-lugmagbasis waar Amerikaners en ander koalisiemagte gehuisves word met die gevolg dat Irannese lugverdedigingstelsels op ʼn hoë gereedheidsvlak geplaas is. In dié gespanne situasie, meen genl. Amir Ali Hajizadeh, lugruimbevelvoerder van die Irannese Rewolusionêre Wag, het ʼn menslike fout tot gevolg gehad dat die Oekraïense Boeing 737 verkeerdelik as ʼn Amerikaanse missiel geïdentifiseer is.
Dié ramp, wat tot die dood van 176 mense gelei het, het bepaalde implikasies vir die debat oor kernwapenverspreiding.
Kernoptimiste argumenteer dat die teenwoordigheid van kernwapens in enige gegewe konfliksituasie strydende partye beteuel. Voorts noem hulle dat die historiese rekord daarop wys dat kernwapenstate nog nooit hul kernwapens teen mekaar gebruik het nie en dat kernwapenstate konflikte oplos sonder enige groot lewensverlies. Kernpessimiste, op hul beurt, wys daarop dat die afwesigheid van kernoorlog of grootskaalse oorlogvoering tussen kernwapenstate nie deur enige eienskappe verwant aan kernwapens veroorsaak word nie; eerder, die wêreld is die tragedie van kernoorlog gespaar weens blote geluk. Kernoorlog, meen kernpessimiste, is altyd ʼn beduidende bedreiging, veral gegewe die feit dat ʼn menslike fout nooit buite rekening gelaat kan word nie.
Watter raakpunte kan ons tussen Vlug 752 en die kernwapendebat identifiseer?
Hoewel dié tragedie weliswaar nie teen die agtergrond van ʼn konfliksituasie tussen kernwapenstate afspeel nie (die Amerikaners het menigte kernwapens; die Irannese, hierteenoor, nul), bied die afvuur van die Irannese grond-lug-projektiel een vername les wat die kamp van die kernpessimiste al vir ʼn geruime tyd aanvoer en wat hul pessimisme oor kernwapenverspreiding staaf. Dié les is een wat waarskynlik nie nuut is nie, maar dikwels gerieflik deur kernoptimiste vergeet word: die mens is gebrekkig, maak foute, tree op binne ʼn eng begrensde konteks, en sien dikwels wat hy/sy wil sien. Kortom, die mens tree nie altyd rasioneel op nie en veral nie in oomblikke van hoë spanning nie. Die aanname dat regeringshoofde rasioneel optree – ʼn aanname wat dikwels nou verweef met die argumente van kernoptimiste is – is bloot dít: ʼn aanname, een sonder ʼn voldoende empiriese grondslag.
Teen dié agtergrond wys kernpessimiste reeds sedert die begin van die kernera dat ʼn kerntragedie weens ʼn menslike fout op hande is. Vlug 752 wys op die moontlikheid van ʼn menslike fout in situasies van onsekerheid en spanning met groot lewensverlies die uiteinde.
Die geskiedenis van die kernera wys op verskeie voorvalle waar ʼn menslike fout byna tot ʼn per abuis kernoorlog of ʼn kernontploffing gelei het, selfs in situasies van lae spanning of die afwesigheid van konflik. Die Amerikaanse term vir voorvalle waarin ernstige kernongelukke (weens menslike en/of meganiese foute) byna plaasgevind het, is “broken arrow”. Luidens die Amerikaanse regering bestaan daar 32 amptelike gevalle waar ʼn kernongeluk byna plaasgevind het, maar in werklikheid is daar veel meer voorvalle (sommige kenners meen dat daar duisende sulke gevalle is).
Ek noem slegs twee, veral dié waarin ʼn menslike fout byna tot kernoorlog gelei het. Op 9 November 1979 word die Amerikaanse Landsveiligheidsraadgewer, Zbigniew Brzezinski, om 03:00 deur sy assistent wakkergemaak, met die verontrustende nuus dat die vroeëwaarskuwingstelsel van die Noord-Amerikaanse Lugruimverdedigingsbevel aandui dat 2 200 missiele van die Sowjetunie spoedig op weg na die Verenigde State van Amerika (VSA) is. Een minuut – ek herhaal, slegs een minuut – voor Brzezinski vir president Jimmy Carter sou bel om ʼn onmiddellike kernaanval op die Sowjetunie aan te beveel, word dit duidelik dat ʼn programmatuurprobleem ʼn valse waarskuwingsein veroorsaak het. Dat die programmatuurprobleem deel uitmaak van die amperse kernoorlog is natuurlik waar, maar is hoegenaamd nie die enigste probleem nie.
Soortgelyke gevalle van valse waarskuwingseine het reeds vroeër in die kernera na vore gekom, met die belofte dat amptenare in die toekoms meer bewus sou wees van tegnologiese foutwerking en uit vorige foute sal leer. Vir Brzezinski, soortgelyk aan ander amptenare in soortgelyke situasies, het blindelingse vertroue in die akkuraatheid van vroeëwaarskuwingsisteme byna tot ʼn kernramp gelei.
Die tweede voorval is eweneens angswekkend. Op 29 Augustus 2007 vertrek ʼn Amerikaanse B-52-bomwerper vanaf die Minot Lugmagbasis in Noord-Dakota op weg na Louisiana. Die opdrag is eenvoudig, te wete, om 12 kruismissiele na ʼn wapenbegraafplaas te vervoer. Sonder om die missiele noukeurig te ondersoek, vertrek die bomwerper na sy bestemming met ses van die 12 kruismissiele gewapen met kernplofkoppe. Ná 36 uur – en sonder enige van die vereiste veiligheidsmaatreëls vir die vervoer van kernwapens in werking – het dié feit eers aan die lig gekom.
Die lewensverlies van Vlug 757 is betreurenswaardig. In dié situasie, sowel as soveel ander in die tragedie wat die internasionale politiek uitmaak, is die mens (en menslike foute) dikwels die oorsaak. ʼn Menslike fout in ʼn konfliksituasie tussen twee of meer kernstate sal die dodetal aansienlik verhoog en sal, in die ware sin van die woord, ʼn tragedie wees. Dit is juis dié harde werklikheid wat kernpessimiste dryf om te verhoed dat meer state (en, veral, Iran) tot die kernwapenklub toetree. In der waarheid, die wete dat die afvuur van ʼn Irannese grond-lug-projektiel weens ʼn menslike fout ontstaan het, skep meer twyfel dat die vrede tussen kernwapenstate nie vir altyd kan hou nie.
Dit is onmoontlik om ‘n missiel met ‘n vliegtuig te identifiseer. Vliegtuie is toegerus met ‘n stelsel wat IFF, “Identification Friend or Foe”, genoem word.
In kort, ‘n serkere numeriese kode word aan die vliegtuig toegeken en word gekoppel aan die vlugplan. Daar kan ook van tyd tot tyd deur lugverkerkeerleiers instruksies aan vlieëniers gegee word om die kode te verander. Wanneer ‘n radar sein oor die vliegtuig gaan, word die IFF transponder geaktiveer en stuur dit die kode na die radar operateur . Diè sien die kode verskyn op sy radar skerm en weet hy watter vliegtuig dit is. Siviele en militêre vliegtuie se kodes verskil en kan die ook uit mekaar geken word.
Nee, Iran se verskoning werk nie.
Ek verskil. Die lughawe se radar tel die IFF op. Die passasier vliegtuig en ‘n kern bomwerper lyk vir die vroeë waarskuwing stelsel presies dieselfde. Hy kyk nie na vligtuie nie, hy kyk na sekere vorms en grootte. Die fout wat hulle gemaak het was om onder daardie omstandihede die passassies vliegtuig toe te laat om op te styg en nie die lugamg/weermag in kennis te stel daar is ‘n vliegtuig oppad nie. En, toe vlieg hy net op die verkeerde roete op die koop toe. Geen kommunikasie tussen departemente het dit veroorsaak. Die hoofoorsaak is die VSA se “trigger happy”gedrag.
Eerder die hoogs aangeskrewe terror-bende wat die godsdiensleier voed en kleed en van wapens voorsien. Lees wat het die gepotte generaal als angevang. Moes hy so voortgaan? Lees ook meer oor wat radikale Islam beoog. Ook jou dood. Wie sè Iran het nie ‘n atoomwapen nie? Die vorige ooreenkoms onder leiding van die oujongnooi wat net soene uitgedeel het, was presies dit: klap-soene. As iemand jou afpers met ‘n bom, is dit maar okei? Die ou wat die toneel verfilm het… die vuurpyle 30 sek na mekaar op sateliet waargeneem, is in aanhouding. Iran is een groot rooi vlag… die Bybel verwys daarna.
Die ‘iemand wat jou afpers met ‘n bom’ – jy praat van die VSA? ;-)
Solank as wat diegene met kernwapens toegelaat word om dit te hou en die respek wat daarmee saamgaan geniet, sal ons nie kan verhoed dat meer state tot die kernwapenklub wil en sal toetree nie – die ‘rewards’ is eenvoudig te groot. En ons kan tog nie redeneer dat nuwe state ‘n groter bedreiging inhou nie – feite sê die VSA het kernwapens op ander mense gebruik, maar desondanks het hulle steeds kernwapens? En Israel het ‘n magdom kernwapens maar hulle is aan geen kernwapen-ooreenkoms gebonde nie? Maar kernpessimiste wil eerder graag die olifant-in-die-kamer miskyk en vir die muis in die kamer gaan omdat hulle dink hulle kanse is beter om die muis te kan plattrap?
Nie net dit nie, maar Amerika is ook die enigste nasie wat verarmde (“depleted”) uraanammunisie in sy oorloee gebruik het. Onderwerp Iran – beter sou gewees het om eers ‘n geskiedenisles oor Iran te gegee het (Iran en Amerika was eers groot vriende, wat het toe skeefgeloop – dit word ons nie vertel nie maar ek ken die geskiedenis en dit vrywaar Iran). Ons sal nooit die geskiedenis van Israel hoor nie (die herkouende Sondagskooldominee het nie die vaagste benul nie).
Iran is nie meer die land van koningin Ester in die Bybel nie. Die seun van die afgesette sjah (met wie die VSA vriende was) sè onderhandelinge met die huidige regime wat met brute mag oorgeneem het, is doelloos. Israel het bewyse van ‘n ondergrondse wapenstad. Alle kerke en begraafplase is reeds platgestoot. Meer as 20 000 teèstanders is destyds gedood. Iran verag Irannese wat na die buiteland uitwyk. Hulle is ook geteiken in die onlangse aanval. Die grootse generaal was nie ‘n kenner van paint ball nie.
Troos julle daaraan, ‘n kernoorlog sal ons nie direk raak nie, slegs indirek, menende ons is gelukkig nie in enigiemand se visier nie, daarvoor is ons gelukkig te onbenullig. Selfde met al die ewe onbenullige lande in Suid-Amerika byvoorbeeld.