Vlugtelinge in Duitsland – eenvoudige oplossing maar moeilik uitvoerbaar

vlugtelinge

Argieffoto van vlugtelinge Foto: picture-alliance/dpa/S. Hoppe

Dit was verlede week– om presies te wees, op Woensdag, 31 Augustus – presies ʼn jaar gelede dat bondskanselier Angela Merkel ʼn sinsnede geuiter het wat haar moontlik vir die res van haar lewe gaan agtervolg. Wir schaffen es (vry vertaal: “Ons sál slaag”), het sy op ʼn perskonferensie in Berlyn gesê.

Die konteks was belangrik. Dit het gegaan oor die opvang van die honderdduisende vlugtelinge uit die Midde-Ooste wat oor Europa gespoel en meestal in Duitsland te lande gekom het.

Wat destyds besluit moes word, is of Duitsland vlugtelinge spesifiek uit die oorloggeteisterde Sirië moes ontvang of nie. Die mense was kragtens die volkereg geregtig op politieke asiel en wat Merkel gesê het, was in dié opsig suiwer.

Dit was ook bedoel om moreel suiwer te wees. Merkel is ʼn predikantsdogter wat diep deur die idee van Christelike naasteliefde deurdronge is. Sy het ook ʼn goeie historiese besef en weet hoe Nazi-Duitsland voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog juis agtereenvolgende golwe van miljoene vlugtelinge veroorsaak het.

Deur die Siriërs te aanvaar, het sy gereken, kan sy op ʼn praktiese manier demonstreer dat sy aan die hoof van ʼn volkome nuwe, moreel hoogstaande Duitsland staan wat dinge nou anders doen.

Maar helaas is die pad na die hel dikwels met goeie bedoelings geplavei. Merkel het die gebroke praktyk in twee opsigte gruwelik onderskat.

Ten eerste: Sy het spesifiek die Siriese vlugtelinge in gedagte gehad toe sy die woorde geuiter het. Maar regoor die Midde-Ooste en Noord-Afrika het mense iets anders gehóór: Kom na Duitsland!

En massas mense het uit Afganistan, Irak, Egipte, Libië, Algerië en Marokko via Turkye oor die Egeïese See na Griekeland gestroom en van daar na Duitsland. Die massas het hul paspoorte weggesmyt en voorgegee hulle is Siriërs.

In die chaos was die noukeurige ondersoek wat normaalweg op asielaanvrae volg, onmoontlik. Enige Jan Rap en sy maat het in die pad geval. Uiteindelik het meer as 1,1 miljoen mense die land binnegestroom.

Merkel se tweede fout was ʼn oorskatting van die breë Duitse samelewing se vermoë om die tsoenami te hanteer. Aanvanklik is die vlugtelinge met letterlike applous by die stasies verwelkom, maar toe die vloedgolf aanhou sonder enige teken dat dit end kry, het die gevoelens van gasvryheid en simpatie begin opdroog.

Gewelddadige regse ekstremiste het die verste gegaan deur geboue waarin die vlugtelinge gehuisves is, aan die brand te steek. Maar ook onder gematigdes het die steun vir Merkel se beleid beduidend afgeneem.

Gaan Duitsland nog Duitsland bly? was baie se kommer. ʼn Vrees wat, objektief gesien, oordrewe is, want hulle vorm nie meer as 5% van die 80 miljoen inwoners nie.

Maar persepsies is ʼn moeilike ding. En dus het die steun vir die regs-populistiese Alternative für Deutschland (AfD) aansienlik gegroei.

Luidens peilings sou die party tans sowat 12% van die stemme trek as daar nou ʼn algemene verkiesing is. En in die ooste van die land, die ou Oos-Duitsland waar die demokrasie nog nie so diep gewortel is nie, is die AfD-steun nog veel hoër. In Sondag se deelstaat-verkiesing in Mecklenburg-Vorpommern kan die AfD dalk, volgens peilings, die tweede grootste party word ná die Sosiaal-Demokrate en voor Merkel se eie Christen-Demokrate.

Trouens, die helfte van die Duitsers meen Merkel moet maar aanstaande jaar aftree wanneer die volgende algemene verkiesing plaasvind.

Die stroom het weliswaar sterk afgeneem. Saam met Merkel se bemoeienis het die Europese Unie ʼn ooreenkoms met Turkye gesluit om die onbeheerde oorgang oor die Egeïese See te keer.

Maar die migrasie het nie opgehou nie. Honderde vlugtelinge kom steeds weekliks op die Griekse eilande aan (wat weliswaar nie dieselfde is as die tienduisende per dag van ʼn jaar gelede nie, maar tog).

Hulle hoop nou op in Griekeland. Die lande noord van Griekeland, waardeur die vlugtelinge moet beweeg om in die vleispotte van Noord- en Wes-Europa aan te kom – Macedonië, Serwië, Kroasië, Slowenië, Oostenryk en Hongarye – laat haas geen enkele vlugteling uit die Midde-Ooste deur nie.

Bowendien begin ʼn tweede roete drukker word. Dit is vanaf die chaotiese Libië oor die Middellandse See na die Italiaanse eilande, Lampedusa en Sicilië.

Luidens berigte moet die vlugtelinge duisende betaal aan gewetenlose mensesmokkelaars wat hulle in lekkende bootjies laat klim, met net genoeg brandstof om die Libiese gebiedswaters te verlaat. Hulle weet die Europese skepe wat die omgewing patrolleer, sal die drenkelinge oppik en na Italië of Griekeland neem.

En agter die oplaaiende hernieude golf wag ʼn veel groter een. In ʼn verslag maak die Berlynse Instituut vir Bevolking en Ontwikkeling gewag van ʼn “kruitvat voor die poorte van Europa”.

In die 19 lande van die Midde-Ooste en Noord-Afrika – tussen Iran en Marokko – leef 370 miljoen mense wat vinnig vermeerder. Elke jaar kom 5 miljoen jonges op die arbeidsmark by, van wie net 40% werk kry.

As Afrika bygetel word, praat ons van 1,3 miljard mense en teen 2050 kan dit 2,7 miljard wees. Volgens skattings wil tot 600 miljoen van hulle na die Eerste Wêreld uitwyk.

Dit is getalle wat die huidige golf na ʼn vulletjie laat lyk.

Op kort termyn is daar ʼn goeie kans dat die EU-ooreenkoms met Turkye in die stof gaan byt. Die gespanne betrekkinge tussen Europa en Turkye kan maklik daartoe lei dat die Turke die ooreenkoms verbreek en dan begin alles weer van voor af.

Let wel, dis nie deel – soos sommige meen – van ʼn bose Moslem-komplot om die Weste te verower nie. Dis ʼn regstreekse gevolg van armoede, onderontwikkeldheid, korrupsie en oorlogsgeweld.

Dis maklik om Merkel die skuld van alles te gee. Maar sy het gereageer op ʼn bevolkingsverskuiwing wat by wyse van spreke eenvoudig alles voor hom platgevee het. Dis soos om ʼn damwal te bou sodat ʼn rivier kan ophou vloei. Dit kan ʼn tyd lank slaag, dan vloei die water eenvoudig oor die wal.

Die oplossing is ewe eenvoudig as wat dit moeilik uitvoerbaar is: Die burgeroorlog in Sirië moet deur ʼn politieke oplossing gestop word en die Midde-Ooste en Afrika moet welvarend genoeg word sodat sy miljoene tuis bly.

Maar hoe? Suid-Afrika ervaar met die honderdduisende – waarskynlik miljoene – vreemde Afrikane in die land hoe kompleks só ʼn saak kan wees.

Hier kom waarskynlik nog gróót ellende.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Dissselboom ·

Mev Merkel lyk origens na ‘n stewige leier en landsbestuurder, maar het nou weer daardie duur les geleer wat die Europeërs (en die Amerikaners en Australiërs ook) maar net nie wil leer nie: jy moet van Afrika wees om hierdie soort dinge te verstaan van massas wat stroom na waar dit lekker is om te woon, maar ‘n hebsugtige verbruikende lewenswyse het wat vir die Europeërs buite hulle denkraamwerk is. Europeërs dink iemand gaan dankbaar wees vir die uitkoms – as jy van Afrika is, dan weet jy van beter. Wonder tog of daar nie al Europeërs is wat in stilte begin erken hulle moes dalk nie so in Suid-Afrika se kompleksiteite ingemeng het deur ANC- en rewolusionêre ondersteuning te gegee het nie?

Chrisjan ·

Dit is nie moslem komplot nie, maar wel ‘n NWO komplot wat deur die geldmagte ondersteun word.
Die slinkse radikale moslems gebruik wel die geleentheid om hul oortuigings te versprei en grondgebied uit te brei, min wetend dat hulle pionne is wat teikens op hul rue vasmaak. Miskien weet hulle dit en gee nie om nie?
Die punt is, die NWO kan slegs totale mag en beheer oorneem wanneer daar chaos is. Die maklikste om dit te doen is met oorlog. Oorlog begin hulle deur groepe saam te dwing en dan konflik te saai. Wit teen swart, moslem teen christen, ens. Dan finansier hulle altwee kante en ons weet, jy is die slaaf van die een wat jy geld skuld.

JC ·

Dit is nie moslem komplot nie, maar wel ‘n NWO komplot wat deur die geldmagte ondersteun word.
Die slinkse radikale moslems gebruik wel die geleentheid om hul oortuigings te versprei en grondgebied uit te brei, min wetend dat hulle pionne is wat teikens op hul rue vasmaak. Miskien weet hulle dit en gee nie om nie?
Die punt is, die NWO kan slegs totale mag en beheer oorneem wanneer daar chaos is. Die maklikste om dit te doen is met oorlog. Oorlog begin hulle deur groepe saam te dwing en dan konflik te saai. Wit teen swart, moslem teen christen, ens. Dan finansier hulle altwee kante en ons weet, jy is die slaaf van die een wat jy geld skuld.

Leopold Scholtz ·

Beste JC, interessant dat jy en Chrisjan woordeliks identiese kommentaar lewer. Ek wil liefs nie gis oor die redes daarvoor nie. Wat ek wel wil vra, is: Jy maak nogal drastiese uitsprake. Wil jy die bewyse daarvoor met ons deel, asseblief? En dan wens ek jou ‘n aangename week toe!

Victor ·

Laat ek raai, die NWO gaan ‘n microchip kom inplant in ons koppe ook?

Nico K ·

Ek dink ook Leopold het ‘n baie goeie stuk geskryf en ek stem met alles saam. Ek wil net vir Disselboom daarop wys dat ons Afrikaners self ons misgis het met Afrika. Dit bewys deurdat die meerderheid liberales, wat hard geveg het vir swart stemreg, (en daardeur ‘n logiese swart regering) nou baie onsteld is met daardie swart regering. Van die blankes wat die ANC gesteun het voor 1994, is daar min in die ANC oor.

JC ·

Mnr Scholtz
Maroela het nou en dan ‘n probleem met Chrisjan, dan probeer ek JC, Gert, Van Wyk of ‘n paar ander.
Dit is nie so eenvoudig om die bewyse te lewer nie, dit is tog immers ‘n komplot wat se potensiaal direk afhang van die geheim. Hoe langer die teiken vat om te besef hy is die teiken hoe meer kwesbaar is hy.
Die vlugtelinge in Duitsland is niks ander as ‘n geweldlose inval nie. Hulle sal aanspraak maak op menseregte en met die steun van die liberaliste later hul eie regte bo die van die bevolking stel. Dit veroorsaak dat die bevolking in opstand kom. Eers teen die vlugtelinge, soos ons reeds kan sien en later selfs teen hul eie regering. ‘n Resep vir oorlog.

Die Duitsers het n probleem, hulle voel onveilig in hul eie dorpe en huise, die winkels het nie meer pepersproei of skokstokke vir selfverdediging nie en die regering het burgers aangeraai om kos en water vooraad vir 10 dae op te berg.
Die Europeers is besig om hul geld te spandeer om die krisis te hanteer, dit gaan ‘n finansiele krisis tot gevolg he.
Nou sit hulle met George Soros en kie, wat die Europese inval openlik steun en finansieel ondersteun. Sodra die tyd ryp is swaai hulle om en ondersteun weer die Europeers. Presies dieselfde as wat die Rothchilds, Rockefellars en Warburgs met Hitler en later Churchill gedoen het.

Leopold Scholtz ·

Beste JC, ek verstaan oor die dubbele naam. Ek sou tog ‘n vriendelike versoek wil rig: Ek verkies om te weet met wie ek praat, pleks van met iemand wat sy gesig agter ‘n virtuele sluier wegsteek. Amper soos ‘n vrou in Saoedi-Arabië (nou is my tong in die kies!) Maar dis natuurlik jou eie keuse. Jy lewer nog steeds geen bewyse nie. Die Engelse sê “extraordinary claims need extraordinary proof”, en dis ook waar hier. In alle vriendelikheid, ek kan niks maak met jou opmerking dat dit alles geheim is nie. As dit geheim is, kan jy immers ook niks daarvan weet nie, of wat praat ek alles? Groetnis.

Sarie ·

Het jy al die boeke van Douglas Reed gelees. Hulle is op die internet beskikbaar. Insanity fair -daar is ook en oor Suidelike Afrika Siege of Southern Africa Interessant dit handel ook oor die bewe rings wat jy maak

chrisp ·

Leopold.
Ek verstaan JC se probleem omrede ek dieselfde ervaar.
Indien ek of ons,ons regte naam verskaf wat is die nut? Hoe sien jy ons nou ewe skielik nie meer deur ‘n sluier nie dalk moet ons ‘n foto aanheg met adres en tel no?

Verder is jou mening oor Merkel ook slegs jou mening.
Hoe weet jy die volgende? Of die bewyse daarvan dan. Jy weet mos “extraordinary claims need extraordinary proof”
Wat sy bedoel het.
“Was ook bedoel om moreel suiwer te wees”.
Wat sy gereken het om Siriers te aanvaar.
Dat sy spesifiek Siriese vlugtelinge in gedagte gehad ens?

Ek kan nie anders as om grootliks met JC saam te stem nie . Wanneer die meeste van die “vlugtelinge” jong mans is(volgens van die berigte ek woon nie daar nie) en jy kan die probleem nie raaksien nie is jy of dom of jy het ander planne.
Tyd sal leer net soos dit hier in Die NSA duidelik is en nog steeds word wat baie mense sonder enige bewyse gese het gaan gebeur as die ANC aan bewind gaan kom.
Maar nou ja wanneer die bewyse diesulkes in die oe kyk is dit te laat en sal baie mense met hull lewe boet.Lg se ek ook sonder enige bewyse.
Dit is net uiters jammer dat logika ontbreek en die uiteinde daarvan word dan grootliks vergeet of doodgeswyg.

Merkur ·

Dit lyk wel of die bevolkings-ontploffing en –strome ’n wêreldwye verskynsel en probleem is maar Europa kan die meeste immigrantstrome afkeer net soos Australië dit doen. Jy moet net die politiese wilskrag hê. Australië het vir Europa logistiese en fisiese hulp aangebied maar dit is as „morally reprehensible“ van die hand gewys. Dit sou onder andere die lekkende bootjies en skipbreukelinge onmiddelik terugbring aan die Noord-Afrikaanse kus nadat hulle mediese versorging gekry het.
As ’n mens nie bereid is om sterker maatreëls teen die vlugtelingsgolwe te tref nie, voer jy presies dit in waarvoor die vlugtelinge oorspronklik gevlug is. En die oorsprongslande gaan nooit hulle probleme self opslos as hul oorbevolking met emigrasie tydelik afneem nie.

Merkur ·

Oor die Duitsers se gevoel of vrees om vreemd in hulle eie land te wees will ek graag iets sê.
Baie mense begin aan die amtelike statistiek te twyfel dat slegs 5 % van die bevolking uit Islamiese immigrante bestaan of agtergrond het.
Amtelik is ook, dat die Islamiese bevolking homself verdubbel het in die laaste 20 jaar, sonder om die vlugtelinge van die laaste 3 jaar by te tel, terwyl die Duitse bevolking krimp.

http://www.bpb.de/nachschlagen/zahlen-und-fakten/soziale-situation-in-deutschland/61646/migrationshintergrund-i

Die heel meeste Duitse vrouens begin eers nadat hulle 30 jaar oud is een of twee kinders te kry terwyl vrouens van Islamiese immigrante reeds na ouderdom 19, drie of vier kinders kry.
In 2009 het 30 % van die kinders in Duitsland onder ses jaar ’n immigrasie agtergrond gehad.

http://de.statista.com/statistik/daten/studie/151625/umfrage/kinder-mit-migrationshintergrund/

Merkur ·

Iets waarmee die imheemse bevolking aanhoudend gekonfronteer word ist die spesiale behandeling wat baie Islamiese mense verlang. Soos bv varksvleis in cafeterias te verbied of die Christelike kruise wat uit openbare geboue verwyder word op hul aandrang.
Nog ’n voorbeeld is die gebedsrondes van honderde moslem mans in die openbaar op strate of pleine.

Islamiese immigrante verkyn in ’n beduidend oorgrote mate in die kriminaal statistiek alhoewel hulle net 5 % (of 10+ % ?) van die bevolking uitmaak. In sommige Duitse geregshowe word ook die Sharia gepraktiseer daardeur dat die kulturele agtergrond van Islamiese aangeklagdes gekonsidireer word wat die straf versag.

Volgens my is dit irrasioneel en weërsprekend van Wes Europese politici en -mainstream media om vir die Duitse en Europese bevolking te beskuldig, irrasionele vrese te hê.

Leopold Scholtz ·

Beste Merkur, in alle redelikheid, die artikel sê bloot dat ‘n vyfde van die Duitse bevolking ‘n “Migrationshintergrund” het – letterlik ‘n “migrasie-agtergrond”. Die woord word wyd gedefiniseer, as almal wat buite die Duitse grense gebore is (dus byvoorbeeld ook elders in die EU) of van wie een of albei ouers in die buiteland gebore is. Dit sê nie die mense is almal Moslems nie. Dis wel waar dat die Duitsers se geboortekoers drasties laag is, iets wat mense daar al jare lank bekommer en wat baie aandag in die media trek. Die Duitsers is baie presies met hul statistieke. Daar is geen rede om dit te betwyfel nie. Groetnis.

Koos ·

Duitsland behoort een van die dae nie meer aan die duitsers nie maar aan die libiers en somaliers en dan is die duitsers wreemdelinge in hulle eie land.

Koos Roets ·

Laat mens dink aan die boek Le Camp des Saints ( 1973 ) deurJean Raspail. Profeties nogal. Feite oorbodig, nie waar nie?

John ·

Niemand verwys na die dominerende rol van die VSA en die Verenigde Volke nie. Waar het dit begin? Toe die VSA Sirie geteiken het en die kop van Asad begin eis het. Sirie is beskuldig van chemiese oorlogvoering ens. Hoewel die VSA die dramas in Sirie en omtrekke aanvuur, laat die land nie die vlugtelinge toe nie maar die dom EU. Die VVO is die eintlike vegter vir globalisering met sy hoof uit die oorbevolkte Ooste wat oop hekke vir Oosterlinge (en daarom ook ander) voorstaan. Enige land wat kla oor vreemdelinge in sy poorte word nou afgeskiet. Wat beteken landsgrense as dit nie iemand of selfs die vyand kan uithou nie? Vyande of anderses sonder wapens kan met sielkundige oorlogvoering ‘n magtige stryd ontketen. Die VSA met sy wapens-op-skuld sit soos ‘n bang held tuis en trek net die toutjies of druk knoppies. Onsigbare base se gesigsuitdrukkings word moeilik gelees.

Therese van Schalkwyk ·

Merkur en John (hierbo) slaan die spyker op die kop.

Terloops, die daadwerklike wyse waarop Australië sy grense beskerm, word selfs vanuit hul eie Opposisie-geledere verdoem as “morally reprehensible” … soos Merkur reeds genoem het. Vir hoe lank die huidige regering dit gaan kan volhou, is ‘n ope vraag. In die politiesgedienstige, ruggraatlose Westerse wêreld waarin ons leef, is soewereine landsgrense blykbaar iets uit die bose? Nugter weet wie en wanneer is besluit dís hoe dinge van nou af gedoen sál word of jy is ‘n ekstreemregse populis. Verstommend.

LW: slegs Westerse lande gebruik woorde soos “populism”, “xenophobia”, “integration”, “racial hatred” etc.

Merkur ·

Theresa

Dankie. En ek het gehoop en gedog dat die allermeeste Australiërs nugter (level headed) is. Oënskynlik nie.

Soos ek vir jou en John verstaan, en mee saamstem, kan ’n mens miskien die wêreld vandag opsom as ’n geforseerde globaliseerde wêreld deur ’n imperalistiese VSA skaduwee-regering, gepaard met ’n rugraatlose en skuldig-voelende Westerse wêreld?

Dit lyk of ons reeds begin om ons wêreld hier-en-daar terug te verower. As ons dit regkry om ons self van onodige skuld te bevry, selfvertroue op te bou, en ’n gesonde patriotisme aan te leer, sal dit werk.
(Gaan aan myself werk.)

Daniël Hoffman ·

My vriende in Duitsland (Bremen) sê hulle sal soms op die bus of trem tel hoeveel duitsers daar saam met hulle is – en baie keer is dit sommer minder as 50% (altans dis wat hulle sê, en wat hulle dus voel). Ek dink dit laat vrese ontstaan, net soos in die artikel geskryf, dat die Duitsers self in die minderheid raak (al is hulle nog meer as 80% van die bevolking)…

Hier het SA iets beter reggekry as wat enige europese land al het: Prof Theo Venter het genoem dat SA al letterlik miljoene vlugtelinge uit Zimbabwe (en ander Afrika lande) in ons ekonomie in geabsorbeer het… Ja daar was al die paar gevalle van xenofobie, maar SA sit nie met oorvol vlugteling kampe soos in Europa nie :) So as daar darem nou een ‘good story to tell’ is, kan SA darem sê ons het dié een beter gehanteer… Of wat sê ek?

Disselboom ·

Het nie vlugtelingskampe hier in Suid-Afrika nie, maar wel uitgebreide plakkerskampe. Dis interessant hoedat daar nie gevra of gepraat word oor hoekom dan daar so geweldig baie mense dakloos is en in plakkerskampe is, terwyl daar eens op ‘n tyd in Suid-Afrika tog meestal ‘n dak van ‘n aard vir omtrent almal was. Dis asof ons nou maar aanneem daar het so paar miljoen mense uit die lug gereën sedert 30 – 40 jaar gelede, terwyl die regering eintlik sy plig versuim om die grense te beheer. Dan wonder ons nou hoekom water so skaars word ens.

Jean ·

Hier is nie vlugelingkampe in SA vir Zimbabwiers en Mosambiekers nie . hulle raak tjop tjop burgers en kry dan werk, en nog ‘n RDP huis ook op die koop toe. Moet jouself nie flous nie . SA sit VOL Afrikane uit die res van Afrika, Nigeriers, Somaliers, Mosambiekers, Angolese, Zimbabiers .. soms staan ons in die bank en hoor hoe mense in ons ry Frans praat, ons het al verskeie kere gevra waar hulle vandaan kom, en ja hulle het bankrekeninge .. en 90% is nog burgers van ons land ook. Gaan kyk hoeveel ‘ vlugtelinge’ werk in ons myne . MET hulle vreemde paspoorte, daar is nie werk vir ‘locals’ nie maar die ‘vlugtelinge’ sit almal in SA met werk .. vreemd maar waar!

gatiep ·

Dis nie voute wat gemaak is nie dit was opsetlik gedoen om van die duitsers se identiteid ontslae te raak.
Europe gaan verander in n moslem land.

Skatymir ·

Merkel het ‘n paar jaar terug die “Kalergi” prys gekry vir haar bydrae tot die plan vir Europa. Gaan kyk gerus wat Richard Coudenhove-Kalergi reeds in 1925 gese het in sy boek “Praktischer Idealismus” oor die toekoms van Europa. Hierdie is ‘n ou plan waarmee hulle stoei om dit uitgevoer te kry. Nou gee hulle aansporings toekennings om dit aan te help. Of hulle slaag of nie hang af van die onkunde van die mense.

Leopold Scholtz ·

Beste Chrisp, ek verstaan nie hoekom iemand wat niks het om weg te steek nie, agter ‘n skuilnaam wegkruip. Maar dis reg so, dis jou keuse. Ek sê openlik wie ek is. Dis my keuse. Jy sê wat ek oor Merkel skryf, is maar net my mening – so asof dit nie veel werd is nie. Ek wil nie arrogant klink nie, maar ek bestudeer die internasionale politiek (met inbegrip van Duitsland) al oor die 40 jaar. Self reken ek ek weet nogal waarvan ek praat, en ek skryf niks wat ek nie kan verifieer nie. Ek is nie slegs ‘n joernalis nie, maar ook ‘n akademikus, en veral akadmici se vereistes vir akkuraatheid en waarheid is hoog. Maar nou ja, jy sal dit waarskynlik met minagting verwerp. En dis jou keuse! Lekker dag.

chrisp ·

Ja Leopold hy is reg ek verwerp dit en die redes.
Ander akademici verskil van jou.
Jy verwag van mense om bewyse te lewer maar doen dit nie self nie. Ons moet jou net glo. Hoekom dan nie net die ander glo nie. Hoekom glo jy dan nie sommer vir JC nie, hy moet jou dan glo?

Baie van ons het geleerde mense geglo in die 90’s daai dae is verby.
Van die lesers en kommentators hier ken ook dalk hul geskiedenis

Ek kruip nie weg nie .As jy wil weet wie ek is ,is jy welkom om my te kontak wanneer jy weer in die RSA is. Laat gerus weet ek sal jou my kontak besonderhede gee. Tot dan skryf ek onder ‘n skuilnaam en dalk meer as een omrede Maroela glad nie my kommentaar op jou volgende artikel plaas nie alhoewel ek eintlik daar heeltemal met jou saamstem.

Lekker dag daar ook.

Leopold Scholtz ·

My bewyse? Gaan lees Merkel se eie toesprake, daar sal jy sien wat haar beweeg. Jy hoef natuurlik nie met haar saam te stem nie; dis iets heeltemal anders. Maar wanneer ek skryf wat Merkel se motiewe is, is dit my bewyse. Nou is dit jou beurt. Van watter akademici praat jy? En waar is jou bewyse? Ek wag met welwillende belangstelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.