Vlugtelinge: Ons almal se verantwoordelikheid

Vlugtelinge van Libië. Foto: AP Photo/Emilio Morenatti

Deur Christine Botha: regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Op Woensdag 20 Junie 2018, Wêrelddag vir Vlugtelinge, word daar internasionaal hulde gebring aan mense wat uiterse omstandighede aandurf op vlug van hul geboortelande weens oorlog, geweld en gruwelike menseregteskendings.

Op dié dag herinner die Verenigde Nasies (VN) ons daaraan dat lande ’n verpligting het om hulp te verleen aan vlugtelinge kragtens die Konvensie met betrekking tot die Status van Vlugtelinge van 1951. Dit moet gesien word, nie as ’n gemeenskaplike las nie, maar as ’n gemeenskaplike globale verantwoordelikheid gebaseer op ons gedeelde menslikheid, sowel as internasionale regsverpligtinge.

Suid-Afrika het die VN-konvensie bekragtig en deel dus ook dié verantwoordelikheid. Die Wet op Vlugtelinge van 1998 skryf die wyse voor waarop asielsoekers aansoek kan doen om vlugtelingstatus te bekom in Suid-Afrika en beklemtoon veral die VN-konvensie beginsel van “non-refoulment”.

Dié beginsel behels dat lande wat die VN-konvensie bekragtig het, nie vlugtelinge sal terugstuur na lande waar hul vryheid en lewe bedreig word as gevolg van hul “ras, geloof, nasionaliteit, verbintenis met ’n spesifieke groep of weens hul politiese opinienie. Nietemin, blyk dit dat die toekenning van vlugtelingstatus in Suid-Afrika baie omstredenheid veroorsaak, en dat die asielaansoekproses al vir jare gedompel is in korrupsie en bedrog. Hierdie probleem moes dringend aandag kry en in Desember 2017 het die president die Wysigingswet op Vlugtelinge (Vlugtelingwet) van 2017 onderteken, wat maatreëls uiteensit om korrupsie en bedrog te bekamp. Dié wet het tot op hede nog nie in werking getree nie.

Die asielaansoekproses moet nie in isolasie gesien word nie. In Suid-Afrika word die beweging van mense in en uit die land, benewens die Vlugtelingwet ook deur die Wet op Immigrasie (Immigrasiewet) van 2002 gereguleer. Volgens die departement van binnelandse sake se 2016/17-jaarverslag, is daar by Suid-Afrika se 72 aankomshawens 40 miljoen aankomste per jaar aangeteken. Aankomshawens is ook die eerste punt waar asielsoekers met ons land se administrasiesisteem te doen kry, en waarna hulle na ’n vlugtelingontvangskantoor verwys word om aansoek te doen om asiel in Suid-Afrika. Grensbestuur speel derhalwe ’n belangrike rol in Suid-Afrika se asielaansoekproses.

Teen hierdie agtergrond is dit juis van belang om die omstrede Border Management Authority Bill (BMA-wetsontwerp), wat tans voor die parlement dien, van nader te beskou. Die BMA-wetsontwerp is, ten spyte van ernstige besware, is in Junie 2017 deur die parlement se Nasionale Vergadering goedgekeur en dien tans voor die Parlement se Nasionale Raad van Provinsies (NRVP). Indien die NRVP dit sou goedkeur, moet die president dit slegs onderteken.

Die BMA-wetsontwerp se doelwit is om grensbestuur – wat tans deur verskeie  departemente, soos die departement van gesondheid, binnelandse sake en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uitgeoefen word – te integreer onder ’n enkele gesag. Die BMA-wetsontwerp bring die sogenaamde Grensbestuurgesag tot stand, in Engels bekend as die Border Management Authority (BMA). Die hoof van hierdie liggaam sal aan die minister van binnelandse sake rapporteer.

Die BMA word in taamlike vae terme in die Wetsontwerp beskryf as ’n “gewapende organisasie” kragtens artikel 199(3) van die Grondwet wat die “uitsluitlike” reg het om grenswetstoepassingsfunksies binne die grenswetstoepassingsgebied en by die aankomshawens uit te oefen. Die grenswetstoepassingsgebied word in die wetsontwerp basies beskryf as ’n afstand van 10 km vanaf ’n landgrens of maritieme grens. Dus het ons te doen met ’n veiligheidsliggaam wat aan die minister van binnelandse sake rapporteer. Die BMA se funksies behels ook die fasilitering en bestuur van mense en goedere by die punte en, kommerwekkend, ook die fasilitering van die invordering van belasting by die aankomshawens en binne die grenswetstoepassingsgebied.

Met ’n noukeurige lees van die Wetsontwerp, is daar verskeie gevaartekens. Die BMA-wetsontwerp se beoogde jurisdiksie ondergrawe die gevestigde magte van die SAID met betrekking tot die heffing, invordering en administrasie van belasting. Die nasionale tesourie het benadruk dat die administrasie van belasting nie geskei kan word van invordering nie en die Davis Belastingkomitee (DBK) het duidelik gemaan dat die BMA nie enige magte van die SAID kan oorneem nie. Verder ondergrawe die BMA-wetsontwerp die grondwetlike magte van die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD), met die verwysing na die uitsluitlike reg van BMA-beamptes om grenswetstoepassingsfunksies uit te oefen binne die grenswetstoepassingsgebied en aankomshawens. Die SAPD se grondwetlike mandaat om die Wet toe te pas, misdaad te bekamp en te voorkom in die hele Republiek kan nie uitgesluit word nie.

Die BMA-wetsontwerp maak ook geen verwysing na die Immigrasiewet of die Vlugtelingwet nie. Daar is geen duidelikheid of die BMA-beamptes wetstoepassing in kragtens die Immigrasiewet of die Vlugtelingwet gaan uitvoer nie. Die BMA-wetsontwerp ken ook wye magte aan BMA-beamptes toe ten opsigte van deursoeking, beslaglegging en inhegtenisneming met of sonder ’n lasbrief, sonder om hierin enige verwysing na die Strafproseswet van 1977 te maak. Sulke wye magte kan maklik misbruik word teen asielsoekers en dit is hoogs onwaarskynlik dat hulle BMA-beamptes se magte in die desperate omstandighede sal bevraagteken.

Regsonsekerheid en onduidelike wetgewing skep die ideale geleentheid vir korrupsie en bedrog. Die BMA-wetsontwerp skep dus nie net onsekerheid oor belastingadministrasie en wetstoepassing nie, maar ken ook oormatige magte aan BMA-beamptes toe. Wêrelddag vir Vlugtelinge dien as ’n belangrike herinnering dat ons die skep van wetgewing met groot omsigtigheid moet volg om sodoende te verseker dat dit uiting gee aan die oppergesag van die Reg en die Handves van Regte.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerseun

Die staat fee sy agterstewe af aan die VN so wie gee om. Verder is die VN net besorg as die “sufferers” nie blank is. Dan as jy n vlugteling is hoekam 20 duisende km ver gaan in stede om na die buurlande, wat in my opinie die mense binne in dieselfde streek behoort te akkomodeer. O ek het vergeet, min van die “economic migrants” (soos die uit libie) is in die waarheid vlugtelinge. As jy kyk na mense regte skendings, soos jy se, dan behoort elke Afrikaner ook vlugteling status te kry. Net jammer jou globaliste vriende Trudeau hou… Lees meer »

B

Beginselpunt vir bespreking, moet daar meer regte en voorregte aan vugtelinge verleen / toegeken word as wat landsburgers self geniet?

Johanna Botha

Die goeie mense het hulle ontvang en kinders in die skool gesit ….nie lank nie toe kla die ouers oor die simbole soos kruise in die gange ….die skool het dit wragtie verwyder …..dan neem verkragting en andermisdaade ook toe …..

Danie

Ek het nie ‘n probleem om ‘n vlugteling te help wat van gevaar af wegvlug waaroor die persoon geen beheer oor het nie. Maar dan is dit om my voorwaardes. Voorwaardes met my land se tradisies en lewenswyse as die middelpunt.

Mense wat vlug omdat hulle nie die gevolge van hulle swak besluite wil dra nie voel ek vere voor. Jy is in beheer van die keuse. Maak die regte keuse sodat die gevolge jou pas. Moenie ‘n lafaards wees nie.

J van Rensburg

ń Vlugteling is slegs ń vlugteling waneer hy van sy huidige land af vlug, na die naaste veilge land. Byvoorbeeld Syrië na Turkeye. Die oomblik wat jy as vlugteling van Turkeye wil skuif na Frankryk of Duitsland of enige ander plek is jy ń ń ekonomiese migrant. So dis ń bollie argument om van die Congo af Suid-Afrika toe te kom met ń vlugteling argument