VN op 75: Mislukking van belangrikste supranasionale instelling van ons tyd?

Verenigde Nasies (Foto: AP Photo/Mary Altaffer)

Die Verenigde Nasies (VN) is vanjaar 75 en as dit nie vir die Covid-19-pandemie was nie, sou regeringsleiers van reg oor die wêreld die afgelope week in New York tydens die jaarlikse Algemene Vergadering van die VN vergader het.

Vanjaar se algemene vergadering, wat veronderstel was om ʼn viering van die VN se prestasies van die afgelope 75 jaar te wees, is afgeskaal tot ʼn virtuele vergadering waar wêreldleiers meestal vooraf-opgeneemde boodskappe kon lewer en waar debatvoering dus nie moontlik was nie.

Die Covid-19-pandemie het die afgelope paar maande die VN se mislukking om sy basiese doelwitte te bereik, duidelik ontbloot. Die VN is op drie belangrike doelwitte gevestig, naamlik wêreldwye vrede, die bevordering van menseregte en die ontwikkeling van agtergeblewe lande en streke.

Die VN was veronderstel om sy doelwitte te bereik deur onder meer vriendskaplike verhoudinge tussen lidlande te bevorder en projekte aan te pak wat vrede, beter menseregte en oplossings vir probleme soos gesondheidskrisisse, armoede, werkloosheid en die onderdrukking van minderhede bevorder.

Die VN se Veiligheidsraad, die magtigste struktuur in die organisasie, bereik reeds vir jare nie veel nie omdat elke lid ʼn vetoreg het. Die vetoreg verhoed dat, waar nodig, die instelling standpunt teen veral menseregtevergrype kan inneem. Elke lid van die Veiligheidsraad tree uit eie nasionale belang en nie uit die algemene belang op nie. Dit beteken dat belangrike resolusies wat voor die Veiligheidsraad dien gereeld deur ʼn enkele lidland geveto word.

Die Koreaanse Oorlog en die Golfoorlog was wel twee gevalle waar die Verenigde Nasies ʼn belangrike rol gespeel het om partye bymekaar uit te bring ten einde die optrede van ʼn militêre aggressor te stuit. Die VN se Veiligheidsraad het sedert die einde van die Golfoorlog egter nie weer daarin geslaag om ʼn gekoördineerde poging aan te wend om teen ʼn aggressor op te tree nie.

In die laat 1990’s is multilaterale militêre samewerking in die Balkan en in die eerste paar jaar van die 21ste eeu in die Midde-Ooste deur eensydige optrede, wat in nasionale belang was, vervang. Een van die VN se grootste mislukkings was die volksmoord in 1994 in Rwanda. Met proaktiewe optrede kon die volksmoord voorkom gewees het en word daar vandag allerweë aanvaar dat die VN nie vinnig genoeg opgetree het nie.

Die afgelope dekade was daar oorloë in plekke soos Sirië, Libië, Jemen en Irak waar lande eie belange probeer bevorder het en die VN geen sinvolle rol kon speel om vrede te bewerkstellig nie. Die VN was ook totaal onbevoeg om ʼn oplossing vir die konflik in die Oekraïne te vind.

In elkeen van hierdie oorloë en konfliksituasies het sommige lande saam, of selfs op hul eie opgetree om onderhandelinge te fasiliteer. In die Oekraïne was dit byvoorbeeld Duitsland wat die leiding geneem het om in onderhandelinge met Rusland te tree. In Sirië was Rusland se betrokkenheid ʼn belangrike drywer tot die afname in konflik, hoewel die oorlog daar steeds nie heeltemal verby is nie.

Instellings van die VN soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Internasionale Arbeidsorganisasie is die afgelope ruk toenemend as onbekwaam, partydig en in sommige lande selfs as irrelevant bewys. Multilaterale oplossings vir globale uitdagings is die afgelope paar jaar grootliks vervang deur bilaterale en selfs eensydige optrede. Die immigrasiekrisis van 2015 in Europa en die Covid-19-pandemie vanjaar het dit bevestig.

Ten spyte van al die mislukte pogings van die VN om oplossings vir globale uitdagings en oorloë te vind, verwag niemand dat dié organisasie binnekort van rigting gaan verander nie. Enkele van die wêreld se magtigste lande beheer steeds die Veiligheidsraad en sal nie maklik nuwe toetreders op die Veiligheidsraad toelaat of vetoreg aan hulle gee nie.

Terwyl spanning tussen die VSA en China toeneem, kan die spanning tussen China en Indië, verskeie konfliksituasies in die Midde-Ooste, Turkse aggressie in die ooste van die Middellandse See, die aktiwiteite van terreurgroepe in Noord-Afrika en die Midde-Ooste nie geïgnoreer word nie.

Wat in praktyk besig is om te gebeur, is dat alternatiewe instellings, samewerkingsooreenkomste tussen lande en streeksgroeperinge wel die ruimte vul om, waar moontlik, samewerking tussen lande te bewerkstellig om oplossings vir konfliksituasies te vind en antwoorde op van die wêreld se belangrikste kwelvrae te vind.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Ek het jare terug al my vertroue in die VN verloor. En hul relevansie gaan steeds daal.

Jaco

in Rwanda is 1 miljoen swart mense deur 1 miljoen ander swart mense vermoor. alles binne 1 maand. Die VN het niks gedoen nie. Vreemd… Dieselfde VN was dan so hewig teen die ou SA se apartheidsbeleid. Dieselfde VN sal seker ook stilbly wanneer dinge regtig warm en ongemaklik raak vir die wit minderheid in SA.

Tomas

Doe zoo voort Jaco. Goeie artikel!

Therese

Met ‘n 2020 begroting van $3, 073,830,500 moet die VN dié duurste, mees nuttelose versameling pratende koppe ooit wees.
As die WHO se aanwys van oorlede Mugabe as “goodwill ambassador” nie oë oopgemaak het vir die algemene onbevoegdheid wat heers nie, behoort Covid-19 dit reg te kry.
Tedros en China se ondeursigtige konkelry kry egter alreeds nie die ernstige aandag wat dit verdien nie.
Die VN en die wêreld wil maar net nie leer nie.

Lian

Nee wat ; die Die VN het meer hartseer veroorsaak as wat dit iets positiefs bygedra het. Dis ‘n organisasie gekaap deurdie supermoondhede en hul politiek van die dag.