Voedsel die volgende stryd in die Covid-19-tydperk

Deur dr. Theo de Jager

dr-theo-de-jager-01

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. Foto: Verskaf.

Namate die afsondering van gesinne in hul huise, en die ekonomiese impasse rakende besighede wat gesluit is, sy tol op gemeenskappe en huishoudings begin eis, word die werklikheid van kostekorte in arm gebiede algaande ’n groter bedreiging as die koronavirus self.

In Suid-Afrika is die scenario waar massas armes na kettingwinkels en ander voedselverspreiders in sentrale sakegebiede stroom om te plunder, ’n realistiese een. Anton Rupert het gesê: “Solank hulle honger is, sal ons nie slaap nie!” Op ’n groter skaal geld dit ook vir buurlande wat nie soos Suid-Afrika nasionale voedselsekerheid geniet nie. As die kos in Zimbabwe en Mosambiek opraak, gaan grensdrade nie ʼn verskil maak nie.

Maar Suid-Afrika is nie die enigste land wat in sy strategie teen Covid-19 meer as net die verspreiding van infeksies moet bestuur nie. Dr. David Nabarro, die VN se spesiale gesant in die globale stryd teen die koronavirus, het onlangs gesê die impak daarvan op die wêreld se voedselstelsel kan groter gevolge hê as infeksies. Hy is veral bekommerd oor die twee punte van die voedselkettings: boere en verbruikers.

Boere oor die wêreld heen ondervind probleme om, onder meer, saad, kunsmis, diesel en ander insette op hulle plase te kry, en die vervoer en bestuur van arbeid binne die reëls van fisieke afstand skep uitdagings.

Met restaurante, skole en industriële verbruikers van plaasprodukte wat toe is, asook die afwesigheid van straatsmouse, is die vraag na baie produkte gedemp, wat daartoe lei dat groot volumes melk, hoendervleis en eiers, en selfs groente en vrugte, verlore gaan. Die sensitiewe markstelsels vir bederfbare produkte is dermate so ontwrig dat sommige boerderye (as besighede) nie weer sal kan herstel nie. Boere se kontantvloeikrisis, teen die agtergrond van boerderyskuld, is in baie lande oorweldigend.

Boonop is die logistieke stelsels vir die vervoer van basiese kossoorte – sowel binnelands as tussen lande – dikwels vanweë beperkinge, of vanweë die vertolking van daardie beperkinge deur wetstoepassers, onder buitengewone druk.

Die koopkrag van die armste dele van bevolkings oral oor die wêreld gee in. Dit lei tot honger gesinne te midde van skaarstes vanweë opgaring deur paniekbevange welvarender huishoudings, en die vooruitsig van moontlike werkverliese ná die inperkings gooi petrol op die vuur.

In baie lande het skoolvoedingsprogramme tot stilstand geknars. Oumense in tehuise het spesiale hulp nodig om ’n gebalanseerde dieet te kry, en die inperkings hou hul gesinne van hulle weg. Kontantvloei op huishoudelike vlak het noodwendig implikasies vir die koskas, en kinders en oumense is die kwesbaarste.

Terwyl welsynsorganisasies, burgerlike strukture en landbouverenigings ’n groot rol te speel het om die nood die hoof te bied, is daar gemeenskappe waar sulke gemeenskapsorganisasies nie bestaan nie. Die rol wat Helpende Hand, AfriForum en Solidariteit onder die Afrikanergemeenskap en wyer in Suid-Afrika speel, is ongeëwenaard. Ongelukkig het min ander gemeenskappe die luukse van so ’n doeltreffende selfhelp- en helpmekaarstelsel, en selfs dié beweging is van kontantbydraes uit beperkte bronne afhanklik.

Dit plaas die fokus vierkantig op regerings. Noodmaatreëls se fondasie is noodhulp, en albei is in essensie ’n staatsfunksie. Die volgende stap in die bestuur van die koronakrisis in die ontwikkelende wêreld is waar regerings op die twee punte van die voedselketting spesiale hulp verleen: kosvoorrade in arm gemeenskappe en insette soos saad, kunsmis en diesel aan produsente.

“Dis te duur! Waar moet die geld vandaan kom?” is oraloor die reaksie op ’n groterwordende oproep hiervoor, veral uit die Verenigde Nasies se dampkring. Maar oorweeg ’n slag die koste om dit nie te doen nie!

Die Covid-19-pandemie is ernstig. Die maatreëls om dit te bekamp, moet nougeset nagekom word, maar die raakpunt tussen die bekampingsmaatreëls en die oorlewingsvermoë van gesinne en gemeenskappe moet met meer wysheid bestuur word as wat tot dusver gedoen is. Kos en gesondheid het meer met mekaar te doen as wat die wêreld se politieke leiers in die huidige situasie wil erken, en ons durf nie toelaat dat hulle deur die bome die bos nie sien nie.

Die virus het onverwags en onbestuurbaar die wêreld se reset-knoppie gedruk, en chaos ontketen. Uit die chaos kom geleenthede vir dié wat daarvoor ’n oog het. Die gapings vir hernuwing, herontwerp en herstruktureer is nou wawyd oop. Ek bid dat ons van die landboukant af in die proses twee beginsels in die nuwe normaal gevestig sal kry:

  • Dat in ’n wêreld met genoeg kos om almal te voed (selfs al word 40% daarvan gemors), niemand honger sal gaan slaap nie. Daar is ’n kans dat die Covid-19-krisis ’n wêreld sonder hongerte kan bespoedig.
  • Dat niemand in die voedselstelsel soveel mag sal hê dat hy/hulle enige individu se pad kan versper om deur vlytigheid of vindingrykheid sy volle potensiaal as voedselentrepreneur te laat blom nie.

Daar is per slot van sake net een manier om armoede hok te slaan, en dit is deur welvaart te skep.

Dr. Theo de Jager is president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO), asook direksievoorsitter van die familieboerorganisasie Saai.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
marius

Dit weet ons al lankal . Die virus gaan dit net versnel.