Voel jy die las van die ANC se belastingskuld?

(Argieffoto)

Elke maand sien ons hoe ʼn deel van ons salarisse afgetrek word vir inkomstebelasting. Op pad werk toe moet ons tussen die slaggate, by verkeersligte wat af is as gevolg van beurtkrag, talle bedelaars in die oë kyk. Het jy al ooit gevoel jy wil jou maandelikse belastinglas op ʼn kartonbord skryf en dit teen die karruit druk, met die woorde: “Ek het reeds soveel weggegee die maand, gaan vra asseblief vir die ANC.”

Ek voel nou meer as ooit so! Bo en behalwe die feit dat ek voel ek gooi maandeliks my geld in die water, het die ANC nóg meer geld vir hulle plunder-fonds gekry op ʼn oneerlike wyse. Ek praat hier van R102 miljoen se fondse. Dit is die regerende party se onbetaalde belastingskuld wat die Gautengse hooggeregshof in Desember 2021 deur ʼn siviele uitspraak van die balju gevra het om te belas.

Die ANC het vir jare 346 personeellede, in diens by Luthuli Huis, se werknemerbelasting, werloosheidsversekeringsfonds (WVF) en die vaardigheidsontwikkelingsheffing van hul salarisse verhaal sonder om ʼn sent daarvan aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te betaal. Waar is daai geld heen?

Soos die stoom uit my en jou ore wil kom, het die stof onder AfriForum se voete gewaai… Die burgerregteorganisasie het op 28 Maart ʼn Paia-aansoek ingedien by SAID om onder meer die belastingrekords en -opgawes van die ANC sedert 1994 te eis.

Ek weet nie van jou nie, maar ek sal dit baie graag wil sien. Pule Mabe, die ANC se nasionale woordvoerder, het juis op sy eNCA-onderhoud van 29 Maart beklemtoon dat die geld wat die SAID insamel die ANC in staat stel om dienste aan Suid-Afrikaners te lewer en daarom sal die ANC dit getrou betaal. Dan is daar mos niks om weg te steek nie, reg?

Ongelukkig weet ek en jy van beter. Ons neem al jare waar hoe die ANC homself skuldig maak aan wanbesteding, korrupsie en ander euwels. Ons bloed het onlangs weer gekook toe dit bekend geword het dat die ANC ʼn skandelike R50 miljoen aan Kuba sou skenk vir “voedselsekuriteit,” as AfriForum nie ʼn interdik teen die skenking gekry het nie. Al hoe meer dorpe raak al gewoond daaraan dat dit net AfriForum-lede is wat slaggate kan regmaak, terwyl die wel-betaalde munisipaliteitslede net in hul kantore sit.

Met ander woorde – ons moet al hoe meer belasting betaal én al hoe meer doen wat die staat faal om te doen.

As jy hiermee kan vereenselwig is jy waarskynlik deel van die skrale 5% (3 miljoen) Suid-Afrikaners wat verantwoordelik is vir meer as 97% van alle persoonlike inkomstebelasting. Dit is skokkende syfers.

1 April 2022 het seker by jou ook verbygegaan sonder ʼn Aprilgek-grappie? Ek hoor die mense sê dit is omdat Suid-Afrikaners nie meer geskok kan word deur belaglike nuusgebeure nie, siende dat ons dit elke dag ervaar. Ek en jy kan egter nie toelaat dat die wandade van die ANC ongesiens verbygaan nie.

Die bedelaars langs die pad is nie ongesien nie. Ek sien hulle elke dag raak. My hart is seer en my kop is besig met soveel somme oor hoe die ANC, met Suid-Afrika as een van die mees belaste lande, ons belastinggeld beter kan aanwend.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marisa ·

Ek wil elke liewe maand slange vang as ek my salaris advies kry en sien hoeveel belasting ek betaal vir boggerol diens!!!

Kobus ·

Probleem is dat die wat nie belasting betaal nie weer vir ‘n hopelose regering stem

Manie ·

Nog ‘n goeie rede waarom daar ‘n algehele belasting boikot teen die regering behoort te wees. Sonder lopende inkomste is hulle hande afgekap, kan die toelaes aan “our people” nie betaal word nie en sal hulle baie vinnig teen die regering (ANC) draai. Burgerlike ongehoorsaamheid op ‘n beskaafde manier, sonder om af te breek en vernietig is ‘n magtige stuk gereedskap.

koos ·

Op ‘n ander nuusgroep is daar ‘n persoon genaamd “Sensei”. Die persoon reken die Amerikaanse weermag neem nie mense op met ‘n IK van laer as 80 nie want hulle is ‘n gevaar vir die ander soldate en daarby is hulle ook onopleibaar. In SA is dit egter die majority voter……. en dis hoe cANCer in die stoel bly. Zuma is reg, hierdie Godsverlate land sal so bly totdat Jesus terugkom.

Christa ·

Sodra die staat geld kort vir een of ander ondeurdagte projek, dan word die belasting verhoog of ñ splinternuwe heffing word summier by iets gevoeg. Die staat wil mos bloed uit n klip tap, hulle beursies is dik gestop terwyl die werkersklas en mense op die straat krepeer van ellende. Hulle maak beloftes aan die mense vir toelae, wat weer iewers verhaal moet word. ñ Bose kringloop. Verby is die dae dat mens kan beplan vir ñ vakansie…dit is nou van die hand na die mond. En as jy een van die gelukkiges is, kan jy spaar vir n naweek wegbreek. Maar die meerderheid sukkel om kop bo water te hou, om siel en liggaam aan mekaar te hou.

Hercules ·

ek lewer liefs geen kommentaar nie, netnou is ek innie pekel en versoek die MRK dat ek R500 000-00 moet betaal en publieke omverskoning vra #tsekanc

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.