Volk-staatbetoog vir 2014

Carel2

Carel Boshoff

Geagte mede-Afrikaner

Vanuit Orania hoop ons dat hierdie skrywe u, uitgerus en versterk, gereed vir die eise van ’n nuwe jaar, bereik. Ons vra u aandag vir die onderstaande gedagtes omdat dit vir ons, deels as individuele Afrikaners, maar veral as lede van ’n volk, of nasionale kultuurgemeenskap, van belang is om daaroor te besin. Sake word hieronder meer oorsigtelik eerder as gedetailleerd behandel en word as aanleiding tot gesprek en agtergrond tot besluite wat u gedurende die jaar mag neem, aangebied.

Verduideliking

In demokratiese state is dit gebruiklik dat die staatshoof jaarliks, gewoonlik by die Parlementsopening, ’n “state of the nation”-toespraak lewer. Ook in Suid-Afrika word dit gedoen. Daarin word die stand van sake vir die staat en sy burgers, sowel as voortspruitende uitdagings en prioriteite as’t ware namens die nasie aan die besluitnemers gestel en word die politieke toon vir die jaar aangegee.

As Afrikaners beskik ons al vir ’n geruime tyd nie meer oor ’n staat wat aan ons besondere belange en strewes uitdrukking gee nie en ontbeer ons gevolglik ook die geleentheid om op so ’n manier sy stand en status in oënskou te neem en antwoorde daarop te probeer gee. In hierdie geval is dit nie die behandeling van die “staat van die nasie” nie, maar die “staat van die volk”, die “volk-staat” in ’n ander sin as wat die woord meestal gebruik word, wat ter sprake is.

In Orania lê ons die grondslag van ’n Afrikanergebied waarin ons, onder Gods hand, oor ons eie lot en toekoms kan beskik en nie na vreemde heersers hoef op te sien nie. Aan die hand daarvan neem ek as president van die Orania Beweging aan die begin van 2014 die vrymoedigheid en verantwoordelikheid om ’n volk-staatbetoog, nie by wyse van ’n rede voor ’n parlemet nie, maar as ’n ope brief aan Afrikanerbesluitnemers te rig.

Daarmee word nie voorgegee om die plek van ’n staatshoof in te neem nie, maar om ’n lewensnoodsaaklike behandeling van die stand en status van ons volk, die uitdagings waarvoor ons te staan kom en ons antwoorde daarop, aan te bied. Die besluitnemers wat ons in die oog het, is natuurlik die lede van ons Beweging se Burgerraad, maar net so die besture van ander Afrikanerorganisasies en selfs individuele Afrikaners wat op die vooraand van lotsbestemmende besluite staan.

Die Orania Beweging hoop dat hierdie inisiatief deelname en besinning sal uitlok en selfs tot meer soortgelyke standpuntinnames aanleiding sal gee.

Teen die agtergrond van 2013

Die jaar 2013 het afgesluit met die allesoorheersende dood, begrafnis en huldiging van die vader van die nuwe Suid-Afrika, mnr. Nelson Mandela. Wat hier belangrik is, is nie die meriete van die manier waarop ’n gewone sterfling verhef is tot iemand wat hyself kwalik sou herken nie, maar die feit dat ’n era in Suid-Afrika se geskiedenis daarmee simbolies afgesluit is.

Dat dit nie tot die grootskaalse geweld en wanorde gelei het wat baie mense gevrees het nie, is natuurlik rede tot dankbaarheid. Ons moet ons oë egter nie sluit vir die verhoogde risiko van ons mense wat verspreid en weerloos oor Suid-Afrika gevestig is, beide in landelike en stedelike gebiede, nie. Afrikaners bly ’n sigbare, weerlose en voorheen bevoorregte minderheid in ’n toenemend vyandige omgewing en moet dringend aan ’n omvattende strategie vir volhoubare beveiliging en oorlewing aandag gee.

As mnr. Mandela sy oorwinning oor die politieke orde waarin Afrikaners ’n oorheersende rol gespeel het, op ’n versoenende wyse toegeëien het, beteken dit nie dat al sy ondersteuners dié benadering vandag nog deel nie. Dit is toenemend duidelik dat dit sy opvolgers, veral in die laer ordes van die breë swart politieke beweging, die betreklik gunstige posisie waarin dit Afrikaners gelaat het, dikwels met afguns en wrewel vervul.

Een beskrywing van die nuwe klem op die grondkwessie in Suid-Afrika is byvoorbeeld dat arm swart Suid-Afrikaners geen rede sien waarom die land aan hulle behoort, maar nie die grond nie. Dit geld baie gou ook vir ander vorme van rykdom wat ingevolge die Vryheidshandves in algemene besit behoort te wees, maar in werklikheid net in die hande van ’n nuwe swart elite oorgegaan het.

Die swart menigte vir wie sake die afgelope 20 jaar nie verbeter het nie, sal eerder die “ryk wit elite” as hulle leiers daarvoor verwyt, en die persepsie van wit bevoorregting sal deur die nuwe elite eerder versterk word as om dit in realistiese perspektief te stel. Lae ekonomiese groei, Suid-Afrika se verswakkende geldeenheid en die opkoms van ’n jong en gefrustreerde kieserskorps, is van die faktore wat spanning kan verhoog.

Daarteenoor is die Orania Beweging se waarneming dat 2013 onder Afrikaners in die teken van groter realisme oor Suid-Afrika as tuiste vir ons volk gestaan het. Ons mense is toenemend bewus van die tekortkomings wat die Suid-Afrikaanse staat kenmerk, maar veral van die feit dat ons onder sulke omstandighede al minder ons heil van dié staat moet verwag. Inteendeel, die sin vir selfstandigheid waarvoor ons ons al só lank beywer, is besig om oor ’n breë front inslag te vind en moet bevorder word.

Vooruitsigte vir 2014

Die jaar 2014 sal polities gesproke na verwagting deur die nasionale en provinsiale verkiesings oorheers word. Hierbo is verwys na die opkoms van ’n gefrustreerde swart jeug wat hulle stem reeds gedeeltelik gaan laat hoor. Tydens die volgende verkiesings (2019) sal dit nog meer so wees. Onder sulke omstandighede mag die verlies van steun deur die ANC dalk minder gunstig wees as wat dit met die eerste oogopslag lyk omdat die leemte deur sosialistiese ekstremiste en nabootsers van die ANC gevul gaan word. Dit sal die ANC ook aan sy radikale wortels herinner.Stembus2

Die Orania Beweging was in die verlede, en is nog steeds van mening dat sy lede hul Suid-Afrikaanse stemreg moet gebruik om ons selfbeskikkingstrewe op die Suid-Afrikaanse politieke forums te bevorder. Ons moedig Afrikaners dus nie net aan om aan die verkiesings deel te neem nie, maar om dit met ons vryheidstrewe in gedagte te doen.

’n Klein minderheid se impak op die steun van dominante partye in ’n vreemde bedeling is klein en laat ‘n mens maklik verydel voel, maar die proporsionele stelsel maak dit moontlik om met betreklik min kiesers doelgerigte verteenwoordigers met ’n spesifieke mandaat tot die parlement en provinsiale wetgewers te verkies. Met die oog daarop kan ’n mens sê dat elke bietjie help.

Wat egter sedert 1994 vir Afrikaners na ’n redelik tegemoetkomende politieke omgewing gelyk het, kan gedurende 2014 aansienlik onvriendeliker word. Die Orania Beweging het iets daarvan ervaar toe ons reaksie op mnr. Mandela se dood heel billik deur ’n joernalis opgesom is as “with dry eyes and due respect” en dit ’n stroom van rassistiese haatpos uit jong swart geledere op die sosiale media tot gevolg gehad het.

Hoewel ons nie met die verwagting van ’n enkele, kataklismiese “nag van die lang messe” werk nie, is ons bekommerd dat soveel van ons mense die slagoffers van haatmisdaad word. Elke nag waarop mense aangeval word, op hulle plase of in dorpe en stede, is ’n “nag van die lang messe” in die kleine. Ons is bekommerd dat Afrikaners dié gebeure nie in die lig van politieke wedywering beskou nie en daarom bloot individueel of in die kleiner kring benader.

Maar selfs as ‘n mens die fisiese bedreiging waaronder ons mense leef buite rekening laat, kan verwag word dat die verhoogde verwagtings en verhitte retoriek wat met die verkiesings gepaard sal gaan, die speelveld met betrekking tot die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing sal verskuif. Grond en die landboubedryf, mynbouregte en die mynbedryf, die industriële en korporatiewe sektore sal almal die toenemende druk daarvan voel, selfs al is dit eerder eienaarskap as werklike breëbasis swart bemagtiging waaroor dit gaan.

Die punt is dat die eksterne omgewing vir Afrikaners moeiliker eerder as makliker sal word en dat dit net groter eise aan ons sin vir selfstandigheid sal stel. Meer Afrikaners sal sekerlik oorweeg om Suid-Afrika te verlaat en ’n blote beroep op hulle lojaliteit aan die Suid-Afrikaanse staat sal al minder gewig dra.

Ons strategiese fokus vir 2014

Teen die agtergrond van die volk-staat wat hierbo geskets is, is die Orania Beweging van oordeel dat ons ’n drieledige strategie moet volg, nie net gedurende 2014 nie, maar ook in die jare wat nog kom. Hoewel dit baie kortliks aangemeld word, sal u besef dat dit in elke geval ’n mondvol is wat ter sprake gebring word.

Die eerste deel van die strategie is dat die Orania Beweging ’n sterker uitwaartse aksie moet loods. Ervaring het ons geleer dat ‘n mens nie steun vir Orania kan forseer nie, maar dat mens tegelyk nie kan swyg oor ’n saak wat jou so na aan die hart lê nie. Ondersteuning vir ons saak kan baie vorme aanneem en bestaan nie net uit diegene wat hulle in die Oraniagebied hervestig nie.Carel3

Belangrik soos vestiging mag wees, is die uitbreiding van ons lidmaatskap en ondersteuningsbasis, asook die groei van instellings soos die Helpsaamfonds en die Groeifonds, albei filiale van die Orania Beweging, voorwaardes vir ons toekomstige sukses. Lede en ondersteuners kan ons help om plaaslike bekendstellingsgeleenthede aan te bied en mede-Afrikaners te betrek.

Die tweede deel van ons strategie is dat ’n verspreide en kwesbare minderheidsbevolking met ’n gevestigde sin vir selfstandigheid die volgende eenvoudige stap moet oorweeg. Dit is naamlik konsentrasie. Selfs ’n minderheid wat gekonsentreerd woon en daardeur beheer oor sy eie instellings uitoefen sonder om daarvoor van ’n onvriendelike of vyandige staat afhanklik te wees, kan tot ’n hoë mate oor sy eie toekoms beskik.

Op ’n wêreldwye skaal is selfs ‘n groot volk ’n minderheid, maar is dit sy onbetwiste beheer oor ’n eie gebied wat van hom iets groot eerder as iets klein maak. Dieselfde geld vir middelslag- en klein volke, ook vir die Afrikaner. Daarom moet Afrikaners hulle nie teen die huidige Orania en sy beperkings vasstaar nie, maar by ’n verbeeldingryke uitbou daarvan betrokke raak. Klein soos hy is, toon Orania reeds watter krag daar in konsentrasie lê. Dink net wat ons met tien maal of honderd maal sy huidige bevolking en gebied kan vermag!

Dit bring ons by die derde deel van ons noodsaaklike strategie vir die nuwe era wat in 2014 ingelei word, naamlik die noodsaak vir versnelde groei. Orania het vir baie Afrikaners ’n simboliese sentrum geword en meer is besig om dit as sodanig toe te eien. Daarvan spreek byvoorbeeld die troue vroeg vanjaar op Orania van twee jongmense wat in London woon, maar dié groot stap in ’n tuistelike omgewing wou neem. Dit het ’n groot kring van familie en vriende ook na Orania aangetrek en aan Orania ’n plek in hulle gemoed toegeken.

Orania kan egter nie verseker dat die Afrikanervolk in die toekoms sal floreer as hy net ’n simboliese sentrum bly nie. Orania moet ook ’n fisiese sentrum word, en dit sal hy net regkry as daar wesenlike groei plaasvind. Nie net die voorgaande twee punte nie, maar elkeen van ’n veeltal handelinge, groot en klein, moet daarop afgestem wees. Elke belegging en bydrae, elke nuwe besigheid, elke gebou wat verrys, elke gesin wat vestig dra daartoe by – en elke Afrikaner moet hom- en haarself afvra wat hulle kan doen om dit te bevorder.

Slegs as ons saam doen wat ons elkeen apart nie kan regkry nie, sal ons volk gedy en ons elkeen die voordeel daarvan geniet. Dan vind ons wat vryheid beteken, nie vryheid van iets slegs nie, maar vryheid vir iets groots. Dit is ’n roeping wat tot ons elkeen spreek. Ons is immers nie vir onderhorigheid gebore nie!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is die president van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

57 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Hoor, hoor ! Puik status van die Volk uiteensetting en puik strategie vorentoe Carel.

Shannon

Carel ek beaam die moeite wat die Orania beweging aan die dag lê. Ek dink die feit dat julle sin die enigste organisasie is wat daad by woord voeg maak van julle (waarskynlik die enigste) geloofwaardige groep wat aanspraak maak op die leiers rol in die Afrikaner vryheid strewe. Ek het egter twee punte waarmee ek met jou (en ek neem aan, die Orania beweging as sulks) verskil. 1. Godsdienstigheid. Weereens word die Afrikaner vryheid strewe onder die mantel van godsdienstigheid ingetrek in jou State of the Nation toespraak. Stel dit onomwonde Carel. As `n individu nie godsdienstig is nie… Lees meer »

Frik Lotz

n Baie goeie stuk geskryf deur Carel. Daar moet op elke vlak en deur elke organisasie geveg word vir die Afrikaner. Binne die parlement en buiteparlementêr. Die VF Plus is die vaandeldraer van selfbeskikking en minderheidsregte. Laat ons as Afrikaners uitgaan in ons duisende en gaan stem,sodat die VF Plus sterker gemaak kan word. Eendrag maak mag!

Danie

Mnr Frik Lotz,volgens jou is die VF+ die vaandeldraer van minderheidsregte en selfbeskikking,maar hoe moet selfbeskikking presies gebeur.?Ons wag nou al van 1994 vir konkrete voorstelle van jul kant om selfbeskikking te bereik,en ek dink ook nie ons gaan daardie konkrete voorstelle uit julle kry nie,ten minste maak mnr Carel Boshoff konkrete voorstelle,maar die VF+ se retoriek is vaag en so holrug gery,daardie perd kan nie nou meer loop nie.Die VF+ is verby sy vervaldatum,wat wil julle nou eintlik bereik?Julle het in die laaste verkiesing 0.8% van die stemme gekry,dink julle dat julle die keer meer gaan kry?Ek behoort aan… Lees meer »

Danie

Mnr Frik Lotz,wil jy nie asb vir ons se watter konkrete voorstelle die VF+ het oor selfbeskikking nie,aangesien ons nou al van 1994 daarvoor wag.Of geniet die 4 parlementslede hul joppies te veel dat hulle tyd kan afstaan om dit vir ons te se?