Volkereg: Die problematiese streep

nuremburg

Die beskuldigdes tydens die Neurenberg-hofsaak. Foto: En.wikipedia.org

Dit is 30 September 1946, vandeesweek 70 jaar gelede. ʼn Doodse stilte heers in die hofsaal in Neurenberg, waar 24 gewese Nazi-leiers tereg staan weens oorlogsmisdade.

In die beskuldigdebank sit die gespanne aangeklaagdes. Dan lees die regters (uit Amerika, die Sowjetunie, Frankryk en Brittanje) die bevindings en vonnisse voor. Dit duur tot diep die volgende dag.

Die een ná die ander kom dit. Altesame 12 hoor: Skuldig. En die straf: “Death by hanging.”

Nog sewe word skuldig bevind en kry gevangenisstraf wat wissel van 10 jaar tot lewenslank. Drie word onskuldig bevind en vrygelaat.

Adolf Hitler se vertroueling en hoof van die Luftwaffe, Hermann Göring, stap asvaal na sy sel en val op sy bed neer. “Dood,” sê hy vir dr. G.M. Gilbert, die sielkundige wat hom inwag. Hy gryp ʼn boek, probeer lees, kry dit nie reg nie.

Later vertel Gilbert: “Sy oë was vogtig en hy het gehyg in ʼn poging om ʼn emosionele ineenstorting te keer.”

“Los my alleen,” sê hy in ʼn haperende stem vir Gilbert.

Dis die laaste woorde wat iemand hom hoor sê. Die volgende oggend tref ʼn bewaarder hom dood in sy bed aan. Met ʼn sianiedpil wat hy êrens gekry het – tot vandag is die bron onbekend – het hy selfmoord gepleeg en die laksman voorgespring.

Joachim von Ribbentrop, Hitler se minister van buitelandse sake, dwaal verbysterd in sy sel rond. “Dood. Dood!” roep hy uit. “Nou sal ek nie in staat wees om my pragtige memoires te skryf nie! Tsk tsk. Soveel haat!”

Gebroke gaan hy sit en staar in die niet.

Veldm. Wilhelm Keitel, hoof van die Duitse Oberkommando der Wehrmacht (OKW), staan stokstyf op aandag in sy sel. “Dood deur opgehang te word! Ek het gedink ek sou dít ten minste gespaar word.”

En kol.genl. Alfred Jodl, hoof van staf van die OKW, is ewe geskok. Nie soseer oor die doodstraf nie – “goed, iémand moet verantwoordelikheid aanvaar, maar dít … Dít het ek nie verdien nie.”

Die doodstraf word in die vroeë oggendure van 16 Oktober voltrek. Die een ná die ander word die skuldiges opgehang.

Dis verby. Maar is dit? Nie alleen het die Tweede Wêreldoorlog ʼn gapende wond in die Europese psige veroorsaak waarvan die litteken vandag steeds te sien is nie; die regspleging het gesorg vir ʼn debat wat nooit werklik opgehou het nie.

Eintlik was die Neurenberg-verhore ʼn kompromis. Aan die een kant het Josef Stalin gemeen die saak is eenvoudig: Plaas die Nazi-leiers voor ʼn vuurpeloton en kry klaar. Andersyds het die Britte en Amerikaners gemeen dis nodig dat die wêreld uitvoerig aan die Nazi’s se gruwelike misdade blootgestel word sodat dit nooit weer gebeur nie.

Uiteindelik is op vier aanklagte ooreengekom:

  • Sameswering om oorlog te voer;
  • Die beplanning en voer van ʼn aggressiewe oorlog;
  • Oorlogsmisdade (in stryd met die Geneefse Konvensie); en
  • Misdade teen die mensdom (die massamoord op die Jode).

Dit was van die begin af omstrede. In alle Westerse regstelsels is daar ʼn reël wat uit die Romeinse reg oorgeneem is, wat lui: “Nullum crimen, nulla poena sine lege” (letterlik: “Geen misdaad, geen straf sonder ʼn wet nie”). Met ander woorde, ʼn misdaad (en die gepaardgaande straf) kan slegs bestaan as daar ʼn wet is wat oortree is.

In Neurenberg is dié “wet” egter met terugwerkende krag in werking gestel. In die jare 1939-’45 was dit kragtens die volkereg (soos vasgelê in die destydse weergawe van die Geneefse Konvensie) geen oortreding om ʼn oorlog te beplan of te voer nie. Oorlogsmisdade het in teorie bestaan, maar daar was geen jurisprudensie om jou op te baseer nie. En misdade teen die mensdom was ʼn nuwe kategorie wat spesiaal vir die verhore geskep is.

Dit beteken, streng gesproke, die Neurenberg-verhore was onwettig volgens die destyds geldende reg.

Daarby moes die seëvierende Geallieerdes katvoet loop, want hul eie hande was ver van skoon. Die grootskaalse lugaanvalle op Duitse en Japanse stede het honderdduisende burgerlike lewens geëis en sou deesdae as oorlogsmisdade beskou word. Britse en Amerikaanse troepe het, net soos die Duitsers, dikwels krygsgevangenes gefussileer. En veral die Russe het Duitse vroue in 1945 massaal verkrag in die gebiede wat hulle verower het.

Dié misdade is onder die tapyt ingevee.

Tog, die Nazi’s se misdade was van só ʼn reusagtige en monsteragtige aard dat iéts gedoen moes word. Êrens moes ʼn streep getrek word wat duidelikheid vir die toekoms sou verskaf.

Daardie streep, hoe problematies ook al, ís getrek. En op daardie fondament is die moderne volkereg insake oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom gebou.

Daarom is ʼn internasionale strafhof in Den Haag in die lewe geroep wat die massamoorde en -verkragtings in byvoorbeeld die gewese Joego-Slawië, die Soedan, Rwanda en elders kon hanteer. Dít sodat diktators kan weet dat hulle hul dag in die hof kan verwag as hulle die moderne oorlogsreg oortree.

Nietemin is daar steeds leemtes in hoe dinge tans gebeur. Diegene wat aangekla word, is kleintjies. Groot moondhede soos Amerika, Rusland en China kom skotvry daarvan af.

ʼn Mens kan sekerlik daaroor debatteer, maar daar is ʼn saak voor uit te maak dat China hom in die Koreaanse Oorlog in die vroeë vyftigs aan oorlogsmisdade skuldig gemaak het. Dat Amerika oorlogsmisdade in Viëtnam (soos ook Noord-Viëtnam), Irak en Afganistan gepleeg het. Dat dieselfde geld vir die Sowjet-Unie in die 1980s in Afganistan en tans vir Rusland in Sirië.

Die siniese magspolitieke ewewig voorkom egter dat die volkereg konsekwent toegepas word.

Nog ʼn omstrede saak is dat die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies apartheid in 1974 tot misdaad teen die mensdom verklaar het. Waardeur apartheid by implikasie met die massamoord op die Jode gelyk gestel is.

Dat die meeste Westerse demokrasieë daartéén gestem en die kommunistiese en Derdewêreldse diktature daarvóór, sê alles oor die politieke agenda hieragter.

Tog, wat die wêreld tans het, al is dit hopeloos onvolkome en selfs skynheilig, is beter as heeltemal niks. Tans bestaan daar darem ʼn jurisprudensie waarop teruggeval word. Maar veel is dit nie.

Welkom in die internasionale politiek!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wicus

Ja, dis beter as niks. Het Duitsland egter die atoombom suksesvol ontwikkel het die Amerikaners, Engelse en Russe in die beskuldige bank gestaan en die muishonde geword. My siniese siening, niks is regverdig in die wêreld nie, die wenner is bloot reg en vat als. Apartheid ‘n sonde teen die mensdom? Die ‘sonde’, rykdom en sukses van blank SA was die sonde. Die huidige regime het net gesmag na ‘n maklike manier van rykdom, Ongeveer 1976 het ek as snuiter teen ‘n liberale en slim oom geredeneer dat Zim gaan verval, sy standpunt, die wêreld sal dit nie toelaat nie!… Lees meer »

Chris du Plessis

Die stukkie skrywe klink nogal soos iets wat veronderstel is om internasionale reg en Afrikaners se reg op selfbeskikking wat ook daarin gefundeer word, af te maak as niks seggend. Is dit dalk die stem van die FW de Klerk, Naspers klub wat ek hier hoor, die een wat Afrikaner nasionalisme te alle koste wil onderdruk? Internasionale reg is baie sterk. So sterk dat twee volke onafhanklik kon raak omdat hulle die voorgeskrewe internasionale regsbeginsels gevolg het en onafhanklik kon raak ten spyte van hul eenheid state wat dit ten alle koste probeer verhoed het. Ek verwys na Kosovo en… Lees meer »

Therese van Schalkwyk

Baie insiggewende artikel. “Welkom in die internasionale politiek!” Dit kan ‘n mens wraggies weer sê. Hier is dus die verklaring oor hóé die Engelse kon wegkom met hul onmenslike vergrype teen vrou en kind in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boere Oorlog. Die bepaling van die Geneefse Konvensie, dat dit geen oortreding is om ‘n oorlog te beplan en uit te voer nie, was Brittanje se ‘redding’. Op 21 Januarie 1901 skryf Alfred Milner aan Richard Haldane: “Lae tipes diere-organismes sal beserings oorleef wat ingewikkelder organismes onmiddellik sal dood, … maar dit neem tyd. Voorlopig spartel die deurgekapte reste baie kragtig… Lees meer »

Vaalseun

Dankie, Leopold. In Des 1934 het Jan Smuts tydens ‘n toespraak voor die Royal Inst of Int Affairs gewaarsku dat die minderwaardigheidskompleks van die Duiters na die Vrede van Versailles besig is om die siel van die Duitsers te vergiftig. Hy het beklemtoon dat Duitsland se Versailles status ‘n klad teen die gewete van Europa is, en ‘n gevaar vir toekomstige vrede. So, wie moes eintlik ook in die beskuldigde bank by Neurenberg gewees het …?

Theuns

Leopold ek is net so verbaas soos jy oor Chris se kommentaar. Ek het jou skrywe weer gaan lees en kan wragtig nie sien hoe bring hy die kloutjie by die oor nie? Die man is verward of hy wil jou maar net omkrap en ‘n negatiewe reaksie ontlok en hom dan daarin verlustig! Hou aan skryf! Groete